Vinnige feite

  • Daar word beweer dat die oudste observatorium wat instrumente gebruik het om die posisie van planete en sterre te meet, reeds in 150 v.C. op die Rhodes-eiland gebou is! Dit is deur Hipparchus gebou, een van die bekendste sterrekundiges van daardie tyd. 4
  • Thomas Maclear, een van die sterrekundiges aan die Kaapse observatorium, was baie goeie vriende met die bekende ontdekkingsreisiger David Livingstone. Hulle het ’n passie vir die ontdekking van Afrika gedeel en dit was ook hy wat Livingstone gehelp met die akkurate geografiese posisies vir sy waarnemings. 3
  • Daar is van die begin af van die Kaapse observatorium verwag om akkurate tyd te verskaf. Die werknemers het verskillende tegnieke gebruik om die publiek oor die tyd te verwittig. Daar was byvoorbeeld ’n lamp, ’n pistool wat afgeskiet word, ’n kanon en selfs ’n tydbal gebruik. Die sterrekundige David Gill het dit teen 1903 reggekry dat Suid-Afrikaanse horlosies ’n standaardtyd gekry het. Vandag nog is die kanonskoot vanaf Vlaeberg (ook Seinheuwel genoem) in Kaapstad ’n teken van die tyd wat deur die observatorium verskaf is. 3
  • In die sterrekundige Fearon Fallows se tyd het hy niemand gehad om hom te help om die instrumente se uitslae deur te werk nie. Sy vrou, Mary Ann, het hom egter dikwels gehelp en dit was toe ook sý wat ’n komeet in 1830 ontdek het. Sy was dus die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat ’n sterrekundige bydrae gemaak het.
  • Die enigste een van Fallows se draagbare instrumente wat vandag nog gesien kan word, is ’n Dollond-instrument met graveerwerk wat uit 1822 dateer.3 John Dollond was ‘n Britse teleskoopmaker wat die ontdekking van die achromatiese lens in die middel agtiende eeu gepatenteer het.
  • Die Salt-teleskoop het vyf jaar geneem om te bou. Dis met die hulp van Duitsland, Indië, Nieu-Seeland, Pole, Brittanje en Amerika gebou. Die teleskoop is tydens ’n seremonie op 10 November 2005 onthul. 5
  • Sutherland in die Karoo waar die observatorium geleë is, word as die astronomiese hart van Suid-Afrika gesien en is dié plek om na die sterre te kyk. Sy hoogte van 2 000 m bo seespieël, en die baie wolklose nagte sonder lugbesoedeling en stadsliggies, maak dit die ideale plek om sterre te kyk. Ander lande dink ook so, want daar is ook buitelandse teleskope en spanne. 6
  • Die Salt-teleskoopfasiliteit bied ook toere aan.
  • Een van die eerste beelde wat die Salt-teleskoop geneem het, was van 47 Tucanae, ’n sterrestelsel met miljoene sterre wat sowat 15 000 ligjare weg van die aarde is. Die sterre is ongeveer 10 tot 12 miljard jaar oud en van die oudste sterre in die Melkweg. Dit is dus die ideale plek om meer oor sterre se geboorte, lewe en sterfte te leer. 6
  • Het jy geweet dat astrofisici nie in staat is om ongeveer 96% van die heelal te verduidelik nie, veral wat donker materie en energie betref. 6

 

Foto: iStock

Wanneer laas het jy in die aand na die sterre gekyk? Soms is dit maar moeilik om in die stede en dorpe weens al die straatligte na die sterre te kyk, maar as ’n mens dit wel regkry, is dit ’n wonderlike gesig om te aanskou. Die ruimte fassineer die mens al vir eeue lank en steeds is daar nog baie geheime vir ons om te ontdek. Daarom word observatoriums gebou om die sterre en planete beter te bestudeer en meer te verstaan. Wat is ’n observatorium?

Dit is ’n waarnemingsplek met instrumente vir die bestudering van die ruimte. ’n Ander woord vir ’n observatorium is ’n sterrewag. 1

Die Suid-Afrikaanse Sterrekundige Observatorium is reeds in 1820 gestig en is die nasionale sentrum vir optiese (dit beteken lig word versamel) en infrarooisterrekunde in Suid-Afrika. Sy hoofdoel is om navorsing in astronomie en astrofisika te doen deur wêreldklasgeriewe vir wetenskaplikes te bied. Die observatorium is deel van die Nasionale Navorsingstigting. Die hoofkantoor van die observatorium is in Observatory, Kaapstad, en die navorsingstasie met sy groot teleskope is in Sutherland in die Noord-Kaap geleë. 2

Die geskiedenis

As ons meer van ons eie sterrekunde in die verlede wil weet, sal ’n mens baie ver in die verlede moet terugkyk, want ja, daar bly al vir duisende jare mense in Afrika. En daardie eerste inwoners het sekerlik ook die sterre en die beweging van hemelliggame dopgehou.

Moderne astronomie (oftewel sterrekunde) in Suid-Afrika gaan darem nie sover terug in die verlede nie, want dit het eers begin met die skepe wat in die Kaap aangedoen het. Ons Kaap is mos bekend as die Kaap van Storms en dus het daar heelwat skepe op die rotse geloop.

Die seekaarte van toe was nie baie noukeurig nie en navigators (die mense wat moes toesien dat die skepe die regte roetes volg) wou beter kaarte hê.

Daar was nie presiese posisies vir die sterre hier aan die suide nie en nog minder kaarte wat die kuslyn en sy risiko’s (gevare) gewys het. 3

Daarom het daar in 1658 ’n Franse skip by die Kaap aangekom sodat Guy Tachard (ook bekend as Père Tachard) ’n klein, tydelike observatorium kon oprig. Hy en sy assistente het besef dat die meeste van die sterre op hul kaarte nie eens op die gemerkte posisies was nie, terwyl ander sommer heeltemal uitgelaat is. Hy het ook beraam dat Kaapstad eintlik sowat 300 km wes van sy posisie op die kaart was.

Geen wonder dat die arme skepe so gesukkel het om hier uit te kom nie …

Nicolas-Louis de Lacaille was ’n sterrekundige wat in 1751 in die Kaap aangeland het om vir twee jaar die posisies van sterre op te teken. Hy het ’n allemintige taak gehad en die posisies van sowat 9 766 sterre gekarteer (dit beteken dat hy dit op ’n kaart aangedui het). 3

Al hierdie pogings was egter net tydelik en ook nie akkuraat genoeg nie en daarom het die Britte op 20 Oktober 1820 besluit om ’n observatorium in die Kaap op te rig en só is die eerste permanente, moderne observatorium in Afrika op die been gebring. Die man wat vir die taak gekies was, was Fearon Fallows. Hy was ’n briljante jong wiskundige, sterrekundige en selfs predikant. Hy was van die Universiteit van Cambridge in Brittanje en is gekies om Kaap toe te gaan om hierdie sterrewag tot stand te bring. 3

Sommer met Fallows se intrapslag in die Kaap was daar egter probleme. Hulle het hom eers by die verkeerde plek afgelaai en daar is hy toe in Simonstad gestrand sonder ’n manier om al sy sterrekundige instrumente in Kaapstad te kry.

Daar is toe besluit dat hy net daar moes bly en hy het later ’n setlaarshut in Algoabaai gekry.

Hy het vanuit hierdie hut begin om die sterre te bestudeer en sy vroeë waarnemings het gelei tot ’n katalogus van 273 vaste sterre in die 1824-uitgawe van die Philosophical Transactions of the Royal Society.

Dit was nie ’n grap om ’n permanente observatorium te bou nie. Dit het byna ’n jaar gevat om die regte ligging te kry omdat die meeste plekke te veel sand en stof gehad het. Toe hulle uiteindelik die regte plek gekry het, was daar weer ander probleme en selfs die bou van die observatorium het nie glad verloop nie. Daar was ’n gesukkel met werkers, toerusting en materiaal en die slegte paaie het die vervoer van materiale ook verder bemoeilik. Die ligging tussen die Liesbeek- en die Swartrivier was ook uitdagend, want daar was ’n swetterjoel slange. Op een plek met die gepaste naam Slangheuwel, het die werkers in een dag 90 slange doodgemaak!

Die gebou is darem uiteindelik gebou, maar Fallows was oorwerk en uitgeput. Iets wat ook sy gesondheid geknou het. Hy was maar net drie jaar in die gebou voor hy aan skarlakenkoors dood is. Hy is op die perseel begrawe.

Die oorspronklike Georgiaanse gebou is vandag nog die hoofkantoor van die Suid-Afrikaanse Astronomiese Observatorium.

Die eerste sterrekundiges in Suid-Afrika

As ’n mens kyk na wat die eerste sterrekundiges sonder moderne tegnologie bereik het, is dit regtig merkwaardig. Die observatorium het al doerie jare staatmaker-sterrekundiges opgelewer.

Fallows het baie goeie werk gelewer en sy opvolger Thomas Henderson het ’n katalogus van die hoofsterre opgestel wat baie akkuraat was. Wat veral uitsonderlik was, is dat Henderson in daardie tyd wêreldwyd die akkuraatste was met sy berekening van die afstand van die aarde na die maan. 3

Sy grootste prestasie was egter om die eerste waarnemings te maak van hoe die afstand van ’n ster bereken kon word. Hy het byvoorbeeld reeds in 1833 bepaal hoe ver die ster Alpha Centauri is en dit boonop met stokou instrumente van daardie tyd.

Johannesburg Planetarium, Universiteit van Witwatersrand

Thomas Maclear was die derde sterrekundige aan die Kaap en het ’n yslike taak gehad om te verrig. Hy moes tred hou van die getye en magnetiese afwykings. Hy het, onder meer, die Meteorologiese Kommissie begin en die eerste akkurate opmetings in Suid-Afrika gemaak. Hy het ook ontsettend baie astronomiese waarnemings gemaak, wrakke ondersoek, vuurtorings opgerig en op verskeie komitees gedien.

Maclear het selfs tien jaar van sy lewe daaraan toegewy om akkurate geodetiese opmetings te maak. Geodesie is die wetenskap wat te make het met die opmeting van groot dele van die aardoppervlak en wat die vorm en grootte van die aarde bepaal. 1

Maclear se 36 jaar van waarnemings van die sterre, planete en maan was uitstekend. Dit was egter so omvattend, dat daar eers dekades ná sy aftrede genoeg mannekrag was wat kon help om als georden en gepubliseer te kry.

Die sterrekundige David Gill was ná hom in die pos. Hy het die groot komeet van 1882 afgeneem en toe agtergekom dat ’n mens heelwat sterre op die komeetfoto kon eien. Hy het besef dat jy só duisende sterre kon afneem en hy was kort voor lank betrokke by ’n grootskaalse internasionale poging om foto’s van die ruimte te neem. Sy foto’s het die posisies en helderheid van ’n allemintige 454 875 suidelike sterre weergegee. Gill was een van die voorste sterrekundiges van sy tyd. Sy berekenings van die afstand na die son was die standaard vir amper ’n halwe eeu. Hy het ook baie goeie werk oor dubbelsterre en die chemiese samestelling van sterre gedoen.

Die observatorium was teen 1907 die beste een in die Suidelike Halfrond.

Ná Gill het sir Harold Spencer Jones in samewerking met 24 observatoriums in die buiteland gewerk om die afstand na die son te skat deur die posisie van Eros waar te neem. Daar is meer as ’n duisend foto’s van Eros (‘n S-tipe asteroïed) geneem toe hy naby aan die aarde gekom het. Teen 1927 was daar amper 1 miljoen sterreposisies gepubliseer en teen 1950 is ongeveer 150 000 sterrefoto’s jaarliks ontleed.

Twee observatoriums word een

Die huidige observatorium is in 1972 gevorm deur die Kaapse een saam met die Transvaal- observatorium te laat saamsmelt. Die hoofkantoor is in die ou Royal Observatory-geboue in Kaapstad. Die mees moderne teleskope van die twee observatoriums is nou in die Karoo tussen Sutherland en Fraserburg. Die Transvaal-observatorium (ook Unie- en Republikeinse observatorium genoem) was een van die toonaangewendste plekke om dubbelsterre te bestudeer. Hulle het 105 asteroïede ontdek en meer as 100 000 foto’s van Mars geneem. Van laasgenoemde is veranderinge aan sy oppervlak op jaarlikse kaarte aangedui. Hulle het ook ongeveer 8 000 nuwe dubbelsterre ontdek en die ster wat die tweede naaste aan aarde is, Proxima Centauri.

Deur die jare het die observatorium talle prestasies behaal. Sy stelsel oor hoe om sterre se helderheid te bepaal, bly een van die wêreld se akkuraatste.

Ons land se observatorium was ook die eerste om ’n geloofwaardige grootte van Pluto se maan, Charon, te gee asook om die eerste afmetings van die ringe van Uranus te gee. 3

Teleskope

Die observatorium is al sedert 1972 in die Karoo waar daar geen besoedeling en bewolkte seisoene is nie. Navorsing konsentreer op die lewensiklus van sterre, op sterrestelsels, op die Magellaan-wolke en sterrestelsels met swart gate. Die observatorium het juis in 2021 drie super-massiewe gravitasiekolke in drie verskillende sterrestelsels ontdek wat besig is om met mekaar saam te smelt.

Die observatorium het drie hoofteleskope buite Sutherland in die Karoo. Die Groot Teleskoop van Suider-Afrika is die grootste optiese teleskoop in die Suidelike Halfrond en bestaan uit 91 agthoekige spieëls van 1 m elk in deursnee. Die teleskoop is sedert September 2011 in gebruik. Die ander drie teleskope is ook opties, en is die 1,0 m, 1,9 m en Lesedi-teleskope. 2

Woordbank

astrofisika Die studie van die samestelling van sterre. 1
astronomie ’n Wetenskaplike wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer. 7
dubbelsterre Dit is twee sterre wat saam om een middelpunt danksy swaartekrag wentel. 7
doerie jare Lank gelede.
geodesie Die bepaling van die vorm en grootte van die aarde. Aardmeetkunde. 1
Melkweg Die sterrestelsel waarin die aarde geleë is. 1
planete ’n Groot sfeer wat rondom ’n ster, soos die son, wentel. 7
sonnestelsel Ons son en die planete en ander hemelliggame wat daarom wentel. 7
ster ’n Brandende gasbol in die ruimte. 7
sterrestelsels ’n Baie groot versameling sterre. 7
swartgat Ook genoem ’n gravitasiekolk; 7 Gebied in die buitenste lugruim waarin alles wat daar naby is, ook lig self, ingetrek word.
teleskope ’n Instrument wat deur sterrekundiges gebruik word om die hemelruim te bestudeer. 7

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die Salt-teleskoop in Sutherland

SALT – Suidelike Afrika se groot teleskoop

Foto: iStock
Gepubliseer op: 6 September 2022 | Bygewerk op 26 April 2024