Vinnige feite

  • Ons kuslyn is nie net mooi nie, maar plek-plek baie gevaarlik. Dink byvoorbeeld aan die Kaap van Storms wat ook die “grafkelder van die see” genoem word. Daar word geraam dat meer as 2 500 skepe sedert die 1500’s langs die Suid-Afrikaanse kuslyn gesink en duisende bemanningslede verdrink het. 14
  • Volgens die NSRI is daar jaarliks nagenoeg 1 500 verdinkings, waarvan baie kinders is. 16
  • Op 13 Oktober 2012 het ʼn toeristeboot genaamd Miroshga in Houtbaai naby Kaapstad omgeslaan. Altesaam 37 van die 39 passasiers het danksy die NSRI en ander helde op die toneel oorleef. 15
  • Die NSRI het in April 2022 ʼn splinternuwe diepseereddingsboot (Offshore Rescue Craft of ORC) by sy reddingstasie in Hermanus (stasie 17) in gebruik geneem. Dié 14 meter lange ORC is die eerste van sy soort wat ten volle in Suid-Afrika gebou is en donateurs (mense wat geld geskenk het) kon die name van geliefdes wat hulle aan die dood afgestaan het, op die boot laat aanbring. Een van die skenkers, Naomie van der Walt, het haar seun Riaan se naam op die boot verewig. “Dit is die beste geskenk wat ek vir Riaan, wat op 20 November 2022 sy 31ste verjaarsdag sou vier, kon gee. Riaan het in 2014 verdrink en sal vir altyd deel wees van elke reddingsoperasie wat stasie 17 uitvoer,” het Naomi gesê. 17
  • Die NSRI se pienkreddingsboeiprogram is só suksesvol dat ander lande ook groot belangstelling hierin toon. Die NSRI het in 2022 die eerste 25 pienk reddingsboeie aan Seelewensredding Nieu-Seeland gelewer. Nadat dié organisasie drie lande se reddingshulpmiddels opgeweeg het, het hulle op ons trots Suid-Afrikaanse pienk boeie besluit! Seelewensredding Nieu-Seeland beplan nou om die program reg oor dié land te vestig.
  • Die NSRI fokus sedert 2017 nie net op noodreaksie nie, maar ook op voorkoming. Een van die groot bekommernisse is die aantal verdrinkings wat by strande sonder lewensredders plaasvind. Ná ʼn suksesvolle toetslopie by stasie 18 (Melkbosstrand), is lewensreddereenhede ook by stasie 37 (Jeffreysbaai) en stasie 16 (Strandfontein, Kaapstad) gevestig. Tydens die 2020/2021-feesseisoen (tussen Desember 2020 en Januarie 2021) is lewensreddereenhede bestaande uit altesaam 200 lewensredders op 21 strande gemobiliseer. 18
  • Vrywilligers wat deel van die NSRI vorm, ontvang deurlopend streng opleiding in ʼn verskeidenheid vaardighede om hulle in staat te stel om hul lewensreddende werk in uiters uiteenlopende omstandighede te kan doen. Die opleiding kos sowat R4 500 per bemanningslid.
  • Die NSRI se stasie 15 in Mosselbaai het in 2021 sy 50ste bestaansjaar gevier en ʼn spoggerige koffietafelboek propvol ware reddingsverhale gepubliseer. Een van stasie 15 se lede, Ian Hamilton, is reeds vir vyf dekades een van dié stasie se vrywilligers! 19
  • Die nuutste satellietstasie wat deel van die NSRI-familie vorm, stasie 50, is in April 2022 in uMhlanga aan die KwaZulu-Natalse noordkus geopen, net ʼn dag voordat grootskaalse vloede honderde mense in dié provinsie dakloos en sonder ʼn heenkome gelaat het. Dié stasie het direkte toegang tot die strand en stel die lewensredders van die NSRI in staat om baie vinniger op noodoproepe te reageer. Waar dit voorheen meer as 40 minute geneem het vir reddingspersoneel om van Durban af na uMhlanga ontplooi te word, kan dit nou in minder as 20 minute gebeur. 20

Suid-Afrika spog met van die mooiste swemstrande in die wêreld en ʼn pragtige kuslyn wat oor meer as 2 800 km van Mosambiek tot by Namibië strek. 1 Ons kuslyn het egter baie gevaarlike dele en sterk strome wat selfs behendige branderplankryers en sterk swemmers in die moeilikheid kan laat beland. Danksy die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), wat sy totstandkoming aan ʼn onderwyseres te danke het, word nagenoeg 1 500 mense in Suid-Afrika jaarliks van verdrinking gered. 2

Die NSRI is ʼn welwillendheidsorganisasie wat met die hulp van meer as 1 350 vrywilligers 24 uur per dag, 365 dae per jaar nie net reddingsoperasies uitvoer nie, maar duisende mense deur middel van inligtingsveldtogte en opleidingsprogramme seeslim én waterwys maak. Dié organisasie red nie net menselewens nie, maar beywer hom ook vir omgewingsbewaring en die beskerming van ons kosbare en bedreigde seelewe. 3

Gerhard Dreyer, die kaptein van die enigste boot wat teruggekeer het, het die hele dag se vangs oorboord gegooi en dieper die see ingevaar toe ʼn sterk storm skielik opgesteek het. Met sy terugkeer hawe toe in die vroeë oggendure nadat die storm bedaar het, het hy die wrakstukke van die ander bote opgemerk, en net een oorlewende visserman gevind wat verbete aan ʼn reddingsboei vasgeklou het. Sewentien mense het hul lewe dié dag op die stormagtige see verloor. 4

Patti was baie hartseer toe sy die nuus van die voorval verneem het. Dit het haar aan die hart geruk omdat sy self as kind byna verdrink het toe die boot waarop sy in die Engelse kanaal gevaar het, skipbreuk gely het. Die heldhaftige lewensredders van die Koninklike Nasionale Reddingsbootinstituut (die Royal National Lifeboat Institution of RNLI) het Patti gered, en sy was vir ewig dankbaar oor dié tweede kans op lewe wat sy ontvang het. 4

Ná die Stilbaai-tragedie wou Patti graag iets soos die RNLI vir Suid-Afrika hê. Daar word vertel dat dié vasberade vrou, wat graag die steil heuwels rondom Simonstad met haar motorfiets aangedurf het, ʼn vurige briefskryfveldtog van stapel gestuur het. Haar pen was soos die gesegde lui inderdaad magtiger as die swaard. Patti se pleidooi vir ʼn reddingsdiens soortgelyk aan die RNLI is deur die Vereniging van Meesterseevaarders van Suid-Afrika beantwoord, wat in 1967 die Suid-Afrikaanse Kusreddingsdiens (die South African In Shore Rescue Service of SAISRS) op die been bring. 4

Die SAISR het aanvanklik net twee lede gehad, kaptein Bob Deacon en Ray Lant, asook ʼn 4,7 m-rubberbootjie genaamd Snoopy wat in ʼn skuurtjie by Drieankerbaai tussen Groenpunt en Seepunt in Kaapstad gebêre is. 4

Patti Price het vandag nog ʼn spesiale plek in die harte van die vrywilligers van die NSRI, en word erken as die stigter van dié merkwaardige organisasie. Stasie 10, een van die NSRI se reddingsbasisse in Simonstad, is na haar vernoem. 4

Waterengele se werksaamhede

Die NSRI het sedert 1966 aansienlik gegroei. Die organisasie spog met meer as 1 350 vrywilligers, ʼn klein personeelkorps wat vanuit sy hoofkantoor in Milnerton, Kaapstad werk, asook ʼn aantal voltydse en deeltydse waterveiligheidsopvoeders, bemarkers, lewensredders en oproepsentrumwerknemers. 1

Melkbosstrand, Wes-Kaap

Die NSRI is ʼn lid van die Internasionale Seereddingsfederasie (International Maritime Rescue Federation of IMRF) en speel ʼn groot rol in kusredding as lid van die Suid-Afrikaanse Soek-en-reddingsorganisasie (SASAR). 5

Dié niewinsgewende organisasie se bedrywighede word gefinansier deur skenkings, fondsinsamelingsprojekte en bydraes van gemiddeld R140 per maand deur sowat 100 000 individue. Saam dra al dié verskilmakers meer as R150 miljoen per jaar tot die NSRI by. 16

Hermanus, Wes-Kaap

Die NSRI se reddingsoperasies is nie net tot die see beperk nie. Tydens die vloede in KwaZulu-Natal wat ná hewige reën in April 2022 plaasgevind het, het bykans al die NSRI se vrywilligers ingespring om bystand te verleen vir wat die organisasie beskryf as “die grootste massareddingsoperasie in ons onlangse geskiedenis”. Die NSRI het kragte met ander organisasies saamgespan en vir dae aaneen gewerk om honderde mense en diere na veiligheid te bring. Sowat 430 mense is in die oorstromings dood. 6

Plettenbergbaai, Wes-Kaap

Het jy geweet die NSRI se meer as 40 redding- en satellietstasies landwyd sluit ook vyf binnelandse stasies by damme in vyf provinsies in? Dié stasies is by die Vaaldam (Deneysville, Vrystaat); Hartbeespoortdam (Noordwes); Witbankdam (Mpumulanga); Theewaterskloofdam (Wes-Kaap); en die Gauteng-stasie, wat by die Homesteaddam in Benoni gesetel is, maar ook verskeie ander damme in Gauteng bedien. 7

Omdat ontspanning en watersport soos visvang, seil, swem, waterski en seilplankry so gewild by damoorde en klubs is, is die reddingsdienste wat deur die binnelandse stasies verskaf word ʼn integrale deel van die NSRI se algehele missie “om lewens op Suid-Afrikaanse waters te red”. Hierdie stasies bied ook noodsaaklike en blitsige waterreddingsreaksie tydens vloedgebeurtenisse reg oor die land. 7

Knysna, Wes-Kaap

Mens én dier se vriend

Omgewingsbewaring en die beskerming van ons seelewe lê die NSRI na aan die hart. Die organisasie beywer hom veral daarvoor om walvisse, dolfyne, skilpaaie en seevoëls te bewaar, en neem aktief deel aan programme om hierdie spesies te beskerm. 8

Een van die vernaamste inisiatiewe is om walvisse wat in vissersnette verstrengel geraak het, te bevry. Honderde walvisse is al deur die NSRI in samewerking met die Suid-Afrikaanse Walvisbevrydingsnetwerk (South African Whale Disentanglement Network of SAWDN) van ʼn gewisse dood gered. Talle vrywilligers is spesifiek opgelei om walvisse te bevry, en hulle ontvang nagenoeg tientalle oproepe per jaar oor walvisse wat verstrengel geraak het. 9

Die pienk reddingsboeiprojek

Een van die NSRI se tientalle merkwaardige inisiatiewe is die pienkreddingsboeiprogram wat in 2017 begin is. Helderpienk reddingsboeie word op strategiese plekke aan bordjies naby strande en selfs mere en damme gehang. As daar ʼn voorval is en iemand het hulp in die water nodig, kan die boei vir daardie persoon gegooi word, wat dan met behulp van dié boei letterlik kop bo water kan hou! Op elke bordjie is prentjies wat verduidelik hoe die boei gebruik moet word en sekerlik die belangrikste, die noodnommer van die naaste NSRI-stasie wat in geval van nood geskakel kan word. 13

Volgens die NSRI is meer as 110 lewens al danksy die pienkreddingsboeiprogram gered, maar dié syfer kan selfs baie hoër wees omdat baie mense die boeie gebruik om iemand te red en dit daarna eenvoudig net weer ophang sonder dat enigiemand van hul heldedade weet. 13

Die pienk reddingsboeie word deur skenkers gefinansier, terwyl mense dikwels ook een van dié boeie borg ter nagedagtenis aan iemand wat oorlede is. Een van die skenkers wat volgens die NSRI uitstaan, is Mardus Strijdom, die 99ste persoon wat met ʼn pienk boei by Clifton se Vierde Strand (Fourth Beach) gered is. 13

Mardus was sowat 40 minute saam met vriende in die koue seewater toe hy besef het hy het te diep die see ingeswem. Hy het probeer om terug strand toe te swem, maar het hipotermie van die koue water ontwikkel. Sy vriende het gesien dat Mardus in die moeilikheid is en vir mense op die strand beduie, wat met ʼn pienk reddingsboei na Mardus toe geswem het. Al het die golwe gewoed, kon hulle verseker dat Mardus danksy die boei weer veilig voet aan wal sit. 13

Volgens Mardus sou hy nie sonder die boei oorleef het nie, en daarom het hy ʼn groot ondersteuner van die reddingsboeiprogram geword. Nie net bevorder hy waterveiligheid deur media-onderhoude nie, maar het selfs R50 000 ingesamel deur vriende, familie en sakeondernemings uit te daag om die program te ondersteun. 13

Woordbank

bedreigde In gevaar wees (soos diere- of plantespesies); wat kan uitsterf 21
behendig Vinnig en goed; vaardig 21
boei Drywende baken; reddingsgordel/band/drywingshulpmiddel 21
heldhaftige Soos ʼn held; wat heldemoed openbaar; dapper; onverskrokke 21
hipotermie Ondernormale liggaamstemperatuur 21
kaai Sterk gemesselde aanlêplek waarlangs skepe vasgemeer kan word en kan laai/aflaai 21
kaptein Gesagvoerder van ʼn boot, of hy/sy kapteinsrang het of nie; skeepskaptein 21
korps Afdeling van ʼn strydmag; liggaam; vereniging 21
kuslyn Grenslyn tussen land en seewater 21
lewensredders Persoon wat opgelei is om drenkelinge te red; menseredder 21
mobiliseer In gereedheid bring (soos vir oorlog) 21
ontplooi Oor ʼn bepaalde gebied versprei of op ʼn bepaalde plek plaas om ʼn taak te verrig 21
operasie Handeling/sending/veldtog/ekspedisie om ʼn bepaalde doel te bereik; projek/aksie/onderneming van ʼn redelike omvang 21
pleit Op ʼn ernstige, emosionele manier iets vra; redes aanvoer om ʼn persoon/saak te verdedig 21
skipbreuk Stranding/vergaan van ʼn skip 21
stasie Gebou/plek waar ʼn bepaalde soort diens gelewer word of ʼn bepaalde soort aktiwiteit plaasvind 21
tragedie Baie ongelukkige gebeurtenis 21
verdrinking In water sterf weens gebrek aan lug 21
welwillendheid Goedgesind; vriendelik; tegemoetkomend 21
wrakstukke Stuk van ʼn wrak (wat oor is van ʼn skip/vliegtuig/voertuig ná ʼn kwaai ongeluk) 21

Lees hier om nog meer te leer oor die NSRI

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die NSRI

Só lyk die NSRI se splinternuwe diepseereddingsboot wat in April 2022 by sy reddingstasie in Hermanus in gebruik geneem is

Kyk hoe word ʼn reddingsoperasie uitgevoer

Die NSRI red nie net mense se lewens nie, maar ook honderde diere per jaar, soos walvisse wat in vissersnette verstrengel geraak het.

Gepubliseer op: 26 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024