Vinnige feite

  • Woede is eerstens ʼn biologiese verskynsel wat in die brein ontstaan en tweedens ʼn emosionele verskynsel.
  • Woede kan ontlont word (verminder word) deur te verstaan wat die oorsaak van jou woede was en te besef dat jy die mag het om die woede te beheer deur na ʼn oplossing te soek.
  • Voordat jy reageer of iets sê waaroor jy later spyt mag wees, dink aan die groter prentjie.
Foto: iStock

Woede is ʼn sterk gevoel van kwaadheid wat jy nie kan beheer nie. ʼn Mens word gewoonlik woedend wanneer jy beledig of verontreg voel, of wreedheid en onreg sien plaasvind. ʼn Persoon wat woede ondervind, sal dikwels fisieke toestande ervaar, soos ‘n vinnige hartklop, verhoogde bloeddruk en verhoogde vlakke van adrenalien. 1

Nog ʼn definisie van woede is dat dit ʼn fisieke, geestelike en emosionele gevoel is wat gewoonlik in reaksie is op ʼn bedreiging wat ʼn persoon ervaar of waarneem. Wanneer jy woedend kwaad is, reageer jy gewoonlik instinktief op een van twee maniere – om aan te val of te verdedig.

Woede is eerstens ʼn biologiese verskynsel wat in die brein ontstaan en tweedens ʼn emosionele verskynsel. Dit is dus ’n normale, menslike reaksie. Dis goed en terapeuties om woede, wat die simptoom van iets anders is, uit te laat. Jy moet dit egter op die regte manier doen, sodat jy nie iemand anders seermaak of benadeel nie.

Neurowetenskaplike navorsing, wat kyk hoe die brein werk, wys dat emosies deel is van die mens se evolusie en noodsaaklik is vir oorlewing. So, byvoorbeeld, help woede die mens om in gevaarlike omstandighede te mobiliseer (op die regte manier te reageer of tot aksie oor te gaan). Ons word kwaad ten einde te oorleef en ons word kwaad wanneer dít waarvoor ons lief is of dít wat vir ons belangrik is, bedreig word. 2

Hoe behoort ek woede te hanteer?

Woede kan ontlont word (verminder word) deur te verstaan wat die oorsaak van jou woede is en te besef dat jy die mag (vermoë) het om woede te beheer deur na ʼn oplossing te soek. Voordat jy reageer of iets sê waaroor jy later spyt mag wees, dink aan die groter prentjie. Dink aan wat gebeur het. Het jy bereik wat jy wou? Om situasies te hanteer wat jou kwaad maak, verg moed en selfbeheersing. Jy kan dit dalk nie verander nie, maar jy kan beheer hoe jy gaan reageer (optree). 3

Kyk na die KWAAD-akroniem vir raad oor hoe om woede te hanteer:

K – Kommunikeer (praat daaroor met iemand wat omgee);

W – Waardes (onthou die waardes van respek, verantwoordelikheid, omgee, luister) – dinge wat my optrede moet lei as ek kwaad is;

A – Askies (aanspreeklikheid) – dit is belangrik om jammer te sê as ‘n mens verkeerd opgetree het toe jy kwaad was;

A – Aanvaar dat jy voel soos jy voel – dis nie verkeerd om kwaad te word nie; en

D – Doen iets! Wees aktief! Gebruik jou lyf om van die woede ontslae te raak, soos om te hardloop of koerantpapierballe te gooi. 4

Nog wenke om woede te tem

Daar is klomp dinge wat jy kan doen om die woede in jou gemoed minder te maak, sonder dat jy in die moeilikheid laat beland: 5

  • Doen sterspronge (“jumping jacks”);
  • Hardloop so vinnig as wat jy kan op een plek;
  • Laat hang/sak jou kop tussen jou bene;
  • Maak ’n paar 8-figure wat op hul sy lê (, die simbool vir oneindigheid) met groot handbewegings in die lug voor jou (middellynkruising);
  • Gooi waterballonne so hard as moontlik teen die plaveisel stukkend;
  • Vat ’n kussing en skreeu jou frustrasie daarin uit; en/of
  • Die pizza-asemhalingstegniek – “ruik” die pizza vir 5 sekondes deur jou neus en “blaas” die pizza dan vir 5 sekondes met jou mond koud. Stadige, diep asemhaling laat ‘n mens dadelik rustiger voel.

Onthou hierdie drie reëls wanneer jy kwaad is:

  • Ek mag nie iemand anders seermaak nie.
  • Ek mag nie myself seermaak nie.
  • Ek mag nie iets breek nie.

Woordbank

adrenalien Hormoon uit die murg van die byniere wat die hartfunksie versnel en die klein bloedvate laat saamtrek; bynierstof.
bedreig
Dreig om iemand leed aan te doen/seer te maak.
frustrasie
Gevoel van ongeduld/ongelukkigheid omdat jy iets nie kan regkry nie; of ‘n situasie nie kan beheer/verander nie.
onreg Onregverdige daad.
ontlont ‘n Dreigende/gevaarlike situasie verhoed; spanning verminder/wegneem.

Lees hierdie om nog meer te leer 

Kyk hierdie om meer te leer

Maniere om woede te hanteer

Die wetenskap van woede

Hoekom ons kwaad word en waarom dit soms goed is

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023