Vinnige feite

  • Elize is in September 2019 met longkanker gediagnoseer en is op 18 Julie 2020 oorlede.
  • Jenna Dunster, dogter van Elize en Wilson, het in haar eerste rol gespeel toe sy ’n rol in die gewilde sepie 7de Laan gekry het. Sy het daarna onder andere ook in Isidingo gespeel. Haar ouers was vir haar ’n goeie voorbeeld van hoe om haar loopbaan met dissipline aan te pak en om onder andere altyd goed voorbereid by die werk op te daag. 11
  • Ma en dogter het vir ’n tyd saam in Isidingo gespeel. 12
  • Bromley Cawood was Elize se ouer broer wat op 1 Januarie 2021 oorlede is, minder as ses maande ná sy suster. Hy was regisseur van onder andere die TV-reeks Getroud met rugby asook van 1 200 episodes van die destydse baie gewilde sepie, Egoli. 13
  • Wanneer Wilson gesien het Elize is gespanne of moeg, het hy vir haar die hangmat tussen twee bome in hulle tuin gaan hang en vir haar ’n koppie koffie gegee. Dan het sy na die lug en die bome gekyk, of ’n boek gelees. 14

Elize het deur haar hele lewe die plattelandse meisie uit die Vrystaat gebly – eerlik, reguit en sonder fieterjasies. Sy is gebore om toneel te speel; dit het vir haar natuurlik gekom. Sy kon gehore laat huil, en sy kon hulle veral heerlik laat lag met haar baie fyn komiese aanvoeling.

Elize Cawood repeteer vir ‘Dinner for One’ by Pierneefteater

Vrystaatse meisie

Elize is op 28 Junie 1952 in Bothaville in die Vrystaat gebore en het daar grootgeword. Sy het matriek (graad 12) aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein voltooi. 1

Elize vertel dat albei haar ouers musikaal was – haar pa het klavier en konsertina gespeel. Toe haar ma haar en haar broer vir die eerste keer na ’n fliek geneem het, was Elize ses jaar oud. Toe hulle uitstap, het Elize gesê: “Dit is wat ek eendag wil doen”. Haar broer, Bromley, het ook die kunstewêreld sy loopbaan gemaak – hy was ’n regisseur. 2

In 1983 is sy met Wilson Dunster getroud, en tussen 1986 en 1989 is hulle twee kinders – Jenna en Luke – gebore. Albei hulle kinders het aanleg in ’n kunsterigting, Jenna vir toneel en Luke vir musiek. 3

Elize Cawood en Wilson Dunster in ‘Mike en Mavis’

Elize maak haar tuis op die verhoog, in films en op TV

In 1974 het sy by die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat (SUKOVS) aangesluit.  Hier het sy ’n groot verskeidenheid rolle gespeel – vanaf werk deur die skrywers Ibsen, Tsjekhof en Shakespeare tot kontemporêre werk. 3

Sy het vir vier jaar by SUKOVS gewerk en daarna vir een jaar by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK). 2

In 1979 het sy vryskutwerk in Johannesburg begin doen. Tussen 1979 en 1986 was hierdie verhoogstukke enkele van die hoogtepunte van haar werk:

  • Die Van Aardes van Grootoor, waarin sy saam met Pieter-Dirk Uys gespeel het.
  • Schreiner – a one woman play, waarin sy Olive Schreiner speel.
  • The road to Mecca, wat deur Athol Fugard geskryf is. Hy het ook die regie gedoen, en Elize het saam met Yvonne Bryceland en Louis van Niekerk hierin gespeel.
  • Die Trem se naam begeerte: In hierdie vertaling van Tennessee Williams se A streetcar named desire het Elize saam met onder andere Marius Weyers gespeel.

Sy speel ook in die gewilde televisiereeks Verspeelde lente. Haar vertolking van die karakter Pop le Roux in hierdie reeks was waarskynlik haar bekendste televisieoptrede wat vir haar landswye roem verseker het. 3

Elize Cawood in ‘Art of Charf’

Ander reekse waarin sy verskyn het, is Wolwedans in die skemer en Daisy de Melker. Sy het ook gespeel in die baie gewilde reeks Konings, waarin sy saam met mense soos Dawid Minnaar, Albert Maritz, Michelle Botes en Anna-Mart van der Merwe gespeel het. 1

Nadat Elize en Wilson se twee kinders gebore is, het sy in 1989 voortgegaan met haar loopbaan toe sy in The Fourth Reich, ’n minireeks vir televisie, gespeel het. Sy het ook in die film Taxi na Soweto gespeel. Hierdie film is ’n komedie wat in 1991 afspeel wanneer ’n wit vrou se motor breek en sy met ’n taxi verder moet ry.

Elize het in 1996 ook saam met Laurika Rauch opgetree toe hulle by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) ’n kabaretvertoning aangebied het.

Baie mense onthou vir Elize vir die karakter Girly. Girly het vir die eerste keer bekend geword in die radiosepie Stralerjakkers wat op RSG uitgesaai is en waarin Elize die rol van Girly vertolk het. Die storie is deur Leon van Nierop geskryf. Hy het toe ook ’n toneelstuk met die karakter van Girly daarin geskryf en dit Girly se konstitusiekwellings genoem. Girly se storie is in 2000 ook vir kykNET verfilm met die titel Stralerjakkersom die mikrofoon. As die karakter Girly het Elize gedoen waarmee sy so goed was, om die gehoor in die palm van haar hand te hou. Die een oomblik het sy jou hart aangeraak, en die volgende oomblik het sy die gehoor laat skater van die lag.

In 2001 het sy in ’n televisiereeks met die naam Skoenlapper gespeel, en sy het ook gespeel in die reeks Onder draai die duiwel rond wat deur Chris Barnard geskryf is en waarvan Tobie Cronjé die regie gedoen het.

Elize het dikwels saam met Gerrit Schoonhoven as regisseur gewerk. Van die opvoerings waarin hy die regie gedoen het, is Ons spore loop ver, Girly se konstitusiekwellings en ’n Geworry. 3

Die laaste verhoogprogram waarin sy opgetree het, was Bêreboksie vol vlerke. Dit was ’n musiek- en voordragprogram wat deur Lizanne Barnard saamgestel is en waarin verskeie musikante in 2019 saam met Elize en Lizanne opgetree het. 4

Elize Cawood en Wilson Dunster in ‘Dinner for One’

Elize en Wilson: ’n wenspan

Elize en haar man, Wilson Dunster, het deur die jare saam in talle toneelopvoerings gespeel. Hulle was ’n wenspan wat mekaar op die verhoog baie fyn aangevoel het, en hulle het vir duisende mense groot vreugde met hul opvoerings gegee.

Elize en Wilson het vir baie jare as vryskutakteurs saam opgetree en hulle eie werk geskep.  Een van hulle groot treffers waarmee hulle vir jare lank deur die land getoer het, was Art of charf – die toneelstuk wat die akteur en dramaturg Paul Slabolepszy spesiaal vir hulle geskryf het. Die bekende en gerekende resensent Paul Boekkooi het komplimente vir hulle spel gegee en die opvoering beskryf as “’n mylpaal in die teater van 2005.” 5

Elize Cawood in ‘Mike and Mavis’ 2017

Nog ’n toneelstuk waarmee hulle gehore van begin tot einde laat skaterlag het, is hul onoortreflike weergawe van die internasionaal bekende Dinner for one oor die deftige verjaardagete van Miss Sophie wat 90 word en waar alles heeltemal skeefloop. Wat dit nog snaakser maak, is dat hulle in die tweede helfte rolle omruil sodat Elize die manlike kelner en Wilson die deftige ou dame in Dinner for one, too speel. Hiermee het hulle ook vir vyf jaar lank reg oor die land opgetree. 6

Elize Cawood en Wilson Dunster in ‘Art of Charf’

Voordat die tweede gedeelte bygevoeg is, het hulle vir ’n jaar lank Dinner for one elke Sondag by die Foxwood-teater in Johannesburg aangebied. 7

Resensente het hulle baie lof toegeswaai vir hulle spel in hierdie opvoering. Hulle word beskryf as ’n “droomspan”. Die toneelstuk is onder meer beskryf as “’n juweeltjie wat op elke vlak – teks, regie en individuele toneelspel en ensemblewerk – glinster.” 8

Ander toneelstukke waarin hierdie suksesvolle en geliefde akteurspaar saam opgetree het, is onder meer Die hoe-se-wat-se-wie-nou-weer? (2014 – geskryf deur Ilne Fourie), Die wagkamer (2015 – geskryf deur Saartjie Botha), ’n Geworry (2016 – geskryf deur Saartjie Botha), Mike and Mavis (2017 – geskryf deur Wessel Pretorius) en Narkose (2018 – geskryf deur Elize en Wilson en Gerrit Schoonhoven). 7

Elize in haar eie woorde

Sy noem in ’n onderhoud dat sy as klein dogtertjie eintlik graag ’n seuntjie wou wees. 9

Iets wat haar kwaad maak? “Wanneer akteurs op die stel kom en nie hulle woorde ken nie.” 9

Elize se antwoord op die vraag hoe sy en Wilson moeilike tye hanteer: “Ons is altyd daar vir mekaar. Dis makliker om saam deur ’n ding te gaan as om een-een daardeur te gaan.”

Op die vraag oor hoe sy en haar man mekaar bederf, antwoord sy: “Ons gaan na ’n movie toe of nooi ’n paar mense oor. Of ons sit op die stoep en doen niks – dit is heerlik!” 10

Oor haar werk het Elize onder meer gesê: “… Laughing is the most wonderful feeling … hearing people enjoying themselves … It’s the best medicine in the world …” 7 En dit is hoe sy ook haar eie lewe geleef het – sy het die lewe geniet, en sy was altyd reg met ’n glimlag en besig om vreugde uit te straal.

Elize Cawood repeteer vir ‘Dinner for One’ by Pierneefteater

Woordbank

aanleg Talent; baie bekwaam om iets te doen.
fieterjasies Aanstellerigheid, om allerlei nukke te hê.
in die palm van haar hand Om mense met aandag na jou te laat luister.
kabaretvertoning ’n Uitvoering wat gewoonlik laataand plaasvind en waarin daar gesing en gedans word.
kontemporêre Eietyds; hedendaags.
lof toegeswaai Om baie positiewe dinge oor iets of iemand te sê.
onoortreflike Wat baie beter is as alles anders.
regie Afrigting van toneelspelers.
regisseur Iemand wat toneelspelers afrig; spelleier.
resensent Iemand wat ʼn boek/rolprent/toneelopvoering/kunsuitstalling/ens. bespreek – ’n mening daaroor gee en ook redes waarom hy/sy dink dit goed of sleg is.
vryskutwerk Iemand wat gewoonlik as joernalis of akteur werk, maar nie voltyds deel is van ’n spesifieke organisasie of maatskappy nie. Dié persoon werk dan vir sy of haar eie rekening.

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Elize Cawood

Elize vertel wat presies dit is wat toneelspel die moeite werd maak

Tweeledige onderhoud met Elize in 2019:

Deel 1

Deel 2

Elize gesels oor Aardklop 2017

Elize Cawood en Wilson Dunster gesels oor Die wagkamer

Die Engelse weergawe van Dinner for one

Luister hierdie opname om nog meer te leer oor Elize Cawood

’n RSG-opname van Mike and Mavis deur Elize en Wilson Dunster, asook ’n onderhoud met Elize en Wilson

Gepubliseer op: 26 Januarie 2024 | Bygewerk op 25 April 2024