Vinnige feite

 

  • 10 van die 17 liedjies op Queen se Greatest Hits-album is deur Freddie Mercury geskryf.
  • As ’n mens na foto’s van Freddie Mercury kyk, is sy tande opvallend. Dit lyk so omdat hy vier ekstra kiestande agter in sy mond het. Hy was duidelik selfbewus oor sy tande, en het gereeld sy boonste tande met sy bolip of hand bedek terwyl hy voor die kamera was. Hy het egter geweier om dit te laat regmaak omdat hy bang was dat die operasie sy sangstem sou verander.
  • Hy was ’n ywerige posseëlversamelaar. Hy het seëls begin versamel toe hy nege jaar oud was, en ná sy dood het die Posmuseum in Londen die waardevolle versameling gekoop.
  • Tydens Queen se optrede by Live Aid – ’n konsert wat gereël is om geld in te samel en hulp te verleen aan mense wat aan MIV/vigs ly – het hy voor ’n gehoor van 72 000 en ’n TV-gehoor van byna twee miljard opgetree. Baie mense beskou dit as die beste regstreekse optrede in die geskiedenis. Mercury se volgehoue ​​“Aaaaaay-o” tydens ’n oproep-en-antwoord-segment met die skare, is later genoem “The Note Heard Around the World” [“Die noot wat dwarsoor die wêreld gehoor is”]. Kyk na ’n video daarvan by die skakels aan die einde van die artikel. 5

Freddie Mercury (gebore as Farrokh Bulsara) was ’n Britse sanger en liedjieskrywer. Hy het wêreldwyd bekendheid verwerf as die hoofsanger van die rockgroep Queen. Hy was veral bekend vir sy vermoë om vier oktawe te kan sing, en hy word algemeen beskou as een van die beste sangers ooit in die geskiedenis van rockmusiek. 1

NOTA: Elke naam van liedjies wat in die artikel genoem word, het ’n hiperskakel na YouTube waar jy na die liedjie kan luister.

Vroeë lewe

Freddie Mercury was die sanger se verhoognaam. Die naam wat hy by sy ouers gekry het toe hy op 5 September 1946 in Zanzibar gebore is, was Farrokh Bulsara. Sy ouers, Bomi en Jer Bulsara, was Parsi’s, dit wil sê hulle voorouers was van Persië en hulle het die Zoroastrianisme aangehang. Sy ouers het in Zanzibar, toe ’n Britse kolonie, gewoon omdat sy pa vir die Britse regering se hooggeregshof gewerk het. Die gesin het ’n goeie lewe gelei, en in 1952 is sy suster, Kashmira, gebore. 2

Toe hy agt jaar oud geword het, het sy ouers hom na ’n kosskool in Bombaai (nou Mumbai) in Indië gestuur waar hy klavier studeer het. Dit was nie lank nie of die charismatiese jong man het by sy eerste groep, die Hectics, aangesluit. In 1963 is hy terug Zanzibar toe. 2

Die huis in Zanzibar waar Freddie gewoon het

In 1964 was daar ’n gewelddadige revolusie op die eiland toe die inwoners teen Britse heerskappy in opstand gekom het, en die gesin het Londen toe gevlug. Daar het Mercury die Ealing College of Art bygewoon en ’n klomp musikante ontmoet, onder andere David Bowie. 2

In 1969 het Mercury ’n groep genaamd Ibex se hoofsanger geword. Nie lank daarna nie het hy die kitaarspeler Brian May en die tromspeler Roger Taylor van die groep Smile ontmoet. In 1970, toe Smile se hoofsanger die groep verlaat het, het Bulsara in sy plek die hoofsanger geword. Smile het Queen geword en Farrokh Bulsara het Freddie Mercury geword. Dit was die begin van ’n hele nuwe klank in die wêreld van rockmusiek. 3

Roemryke loopbaan in die musiekwêreld

Die groep het ’n kontrak met EMI Records en Elektra Records onderteken, en in 1973 is hul selfgetitelde debuutalbum Queen vrygestel. Die album word vandag steeds beskou as een van die opwindendste ontwikkelings ooit in rockmusiek. 4

Ten spyte van hierdie eerste album se sukses, was Freddie Mercury en Queen eintlik nog net in Brittanje bekend. Die album Sheer Heart Attack (1974) het egter die internasionale trefferlyste gehaal, en A Night at the Opera (1975) het selfs nog beter verkoop. 3

Die groep en Freddie se groot deurbraak het in 1975 met die enkelsnit “Bohemian Rhapsody” gekom. Hy het die lied begin skryf terwyl hy nog ’n student was, en dit aanvanklik “The Cowboy Song” genoem. (Dit is waar die lirieke “Mama, just killed a man …” vandaan kom.) Dit is dus eintlik van die vroegste lirieke wat hy ooit geskryf het. 5 Tog was dit so amper of die lied is nooit vrygestel nie. Dit was glo te lank, en die musiekstyl was opera-agtig, het mense beweer, maar Freddie het vas geglo dat sy waagstuk met die komposisie vrugte sou afwerp. Teen hierdie tyd was Freddie se talent reeds duidelik: die stem met ’n merkwaardige omvang en ’n verhoogteenwoordigheid wat aan Queen sy kleurvolle, onvoorspelbare en flambojante persoonlikheid gegee het. Freddie se aanvoeling was korrek: Die lied het mense se verbeelding aangegryp, en het nege weke lank op Britse trefferlyste geboer. 4

Benewens sy talente as sanger en liedjieskrywer, was hy ’n bekwame verhoogpersoonlikheid. Hy het geweet hoe om gehore te vermaak en hoe om hulle te bereik. Hy het daarvan gehou om interessante en flambojante kostuums te dra – dikwels van stywe materiaal! – en het op die verhoog rondgespring en aanhangers aangemoedig om deel te neem aan die pret. Hy het die groep se logo ontwerp, en hy was aktief betrokke by die ontwerp van die kuns vir baie van die groep se albums. 2

Die groep het hierna een treffer op die ander gehad. In 1975 het “You’re my best friend” verskyn, en in 1977 is “We Are the Champions” en “We Will Rock You” vrygestel. Dit is nou nog liedjies wat deur die skare by sportbyeenkomste in Brittanje en die Verenigde State gesing word. In 1979 was “Crazy Little Thing Called Love” die eerste van hulle treffers wat die nommereenposisie op die Amerikaanse trefferparade gehaal het. 3

Teen die vroeë 1980’s was Queen internasionaal beroemd. Hulle het die uiters gewilde “Under Pressure” saam met David Bowie in 1981 gemaak, en in 1984 het “Radio Ga-Ga” die nommereentreffer in 19 lande geword. Hoewel hulle in die tweede helfte van die dekade nie meer so baie geld uit hulle albums gemaak het nie, het hulle steeds enorme sukses op die verhoog bereik, hoofsaaklik as gevolg van Freddie Mercury se vermoë om mense te vermaak. Die groep se optrede by die liefdadigheidskonsert Live Aid in 1985, is waarskynlik die beste bewys van Freddie se vermoë om ’n skare mense by die musiek betrokke te kry. 2

Dieselfde jaar (1985) het Mercury die solo “Mr. Bad Guy” vrygestel, en die jaar daarna het hy in Dave Clark se wetenskapfiksie-musiekblyspel Time (1986) verskyn. In 1988 het hy saam met die Spaanse operasopraan Montserrat Caballé die treffer “Barcelona” opgeneem, spesiaal vir die Olimpiese Spele wat toe in dié stad plaasgevind het. 3

Ná “’Barcelona” het hy weer saam met Queen aan die album The Miracle gewerk wat vroeg in 1989 vrygestel is. Dit was nog ’n sukses, met treffers soos “Breakthru”, “I Want It All”, “The Invisible Man” en die titelsnit, “The Miracle”.

Siekte en dood

Teen 1989 het Freddie Mercury egter grootliks uit die openbare oog verdwyn. Gerugte dat hy moontlik gesondheidsprobleme ondervind, het die rondte begin doen. 2

Hy het vir sy kollegas in die groep gesê hy het vigs, maar hy het geweier om meer daaroor te sê of om die publiek van sy siekte te laat weet, want hy wou nie hê dat mense hul musiek uit jammerte moes koop nie. Hy het gesê hy wil so lank as moontlik aanhou musiek maak. En hy het. 6

Hy wou nog een laaste album saam met Queen maak, en het dit Innuendo genoem. Hulle het daaraan gewerk in 1990 en vroeg in 1991. Elke keer as Mercury goed sou voel, het hy na die ateljee gekom en gesing. Innuendo is in Januarie 1991 vrygestel, en die bekende “The Show Must Go On” was deel van dié album. 6

Twee is ook in die jaar geskiet. Die eerste een was die video vir die snit “I’m Going Slightly Mad”, wat in Maart 1991 geskiet is. Hulle moes baie grimering gebruik om al die letsels aan sy lyf weg te steek, en hy het ’n pruik gedra. Sy laaste video is in Junie 1991 vrygestel. Beide video’s is in swart en wit geskiet. Die snit “These Are The Days Of Our Lives” het later geblyk sy afskeidslied aan die wêreld te wees. ’n Mens kan duidelik sien hy is siek, maar hy het toe nog nie vir die wêreld van sy siekte vertel nie. Eers op die dag voor sy dood het hy aangekondig dat hy vigs onder lede het. 6

Hy was postuum te sien op die groep se laaste album, Made in Heaven (1995). In 2018 is sy lewe en werk saam met Queen omskep in ’n rolprent wat dieselfde naam gekry het as sy heel bekendste werk: Bohemian Rhapsody. 3

Nalatenskap

Freddie se vermoë om homself en die groep se musiek en beeld na die uithoeke van massiewe lokale te projekteer, en daarmee enorme gehore by die uitvoering te betrek, het Queen die vernaamste ontwikkelaars van stadionrock gemaak. Vandag hou groot sterre gereeld konserte voor groot gehore in stadions, maar in die tyd toe Freddie Mercury saam met Queen opgetree het, was dit nog nie die geval nie. In 1981 het hulle voor 231 000 aanhangers in Sao Paulo opgetree, wat ’n wêreldrekord vir daardie tyd was. 4

Freddie en Queen was ook sleutelinnoveerders van popvideo’s. Hul katalogus van 3-minuutvideo’s het mettertyd al hoe avontuurliker geword in styl, omvang en inhoud. 4 Daarmee het hulle baanbrekerswerk verrig vir die musiekvideo’s wat ons vandag as vanselfsprekend aanvaar.

Ten spyte van die dekades wat verloop het sedert Freddie se dood, bly hy vir miljoene musiekliefhebbers reg oor die wêreld een van die grootste kunstenaars wat hulle ooit geken het. In September 2010 het ’n meningspeiling onder rockaanhangers hom as die grootste rocklegende van alle tyd aangewys. Daarmee het hy groot name soos Elvis Presley, David Bowie, Jon Bon Jovi, Jimi Hendrix en Ozzy Osbourne uitgestof. 4

Woordbank

baanbrekerswerk Die eerste werk wat in ’n nuwe rigting gedoen word en wat gewoonlik met baie moeite gepaardgaan.
debuutalbum Eerste album.
die rondte begin doen Vaste uitdrukking wat beteken ‘rondgegaan’.
flambojante Uitspattige; eienskap dat dit doelbewus aandag trek.
hooggeregshof ’n Hoër hof wat ernstige sake aanhoor.
katalogus Lys liedjies of albums van ’n bepaalde sanger of groep.
kosskool ’n Skool met ’n koshuis.
logo ’n Simbool, dikwels ’n prentjie, wat ’n maatskappy in plaas van ’n naam gebruik.
oktawe Reekse van agt note elk, waarvan een noot twee keer die vibrasiefrekwensie van die ander het. Op ’n klavier is ’n oktaaf die note A, B, C, D, E, F en G, met al die note se halfnote (die swart klawers) daarby ingesluit.
omvang Die reeks note wat ’n sanger kan sing, van die laagste tot by die hoogste.
Parsi’s Mense wie se voorouers van Persië (die huidige Irak) afkomstig is en Zoroastrianisme (’n soort geloof) aanhang.
sleutelinnoveerders Persone wat kernbelangrike vernuwing invoer
stadionrock Rockmusiek wat in ’n stadion eerder as ’n konsertsaal opgevoer word.
uit die openbare oog verdwyn Vaste uitdrukking wat beteken ’nie meer sigbaar vir die publiek nie’.
verhoognaam Naam wat ’n kunstenaar kies om vir openbare optredes te gebruik, gewoonlik omdat dit makliker is vir ’n gehoor om daarmee te identifiseer en dus meer bemarkbaar is.
vigs Akroniem wat staan vir “verworwe immuniteitsgebreksindroom”; ’n aansteeklike siekte wat die immuunstelsel aantas en die lyer vatbaar maak vir allerhande ander siektes.
vrugte sou afwerp ’n Uitdrukking wat beteken ‘suksesvol sou wees’. Letterlik beteken dit ‘vrugte sou afgooi’.
Zoroastrianisme Een van die wêreld se oudste monoteïstiese gelowe, bedoelende die aanhangers van hierdie geloof glo slegs in een god, in hierdie geval Ahura Mazda. Mazda se teenstander is die bose Angra Mainyu. (Dit is soortgelyk aan Satan wat as God se teenstaander in die Christelike geloof beskou word.)

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Freddie

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Freddie en Queen

’n Video oor Freddie se grootwordjare waarin hy self optree

Queen se volledige optrede by die Live Aid-konsert by Wembley

Freddie met “die noot wat wêreldwyd gehoor is”

Gepubliseer op: 10 April 2024 | Bygewerk op 10 April 2024