Vinnige feite

  • Die Chanel-parfuum kry glo sy naam van die reeks geure wat Ernst Beaux vir haar gegee het om uit te kies. Sy het die vyfde een gekies. Dit is ʼn kombinasie van jasmyn en ander blomgeure.
  • Daar word ook gesê dat die syfer vyf Coco Chanel se gelukkige nommer was en daarom het Chanel No. 5 die naam gekry. Sy het blykbaar altyd haar modeversamelings op die vyfde dag van die maand bekendgestel. Die modehuis volg steeds dié tradisie. 5
  • Die bekende Hollywood-aktrise Marilyn Monroe was op 7 April 1952 op die voorblad van LIFE Magazine. Sy het daarin vertel hoe mal sy oor Chanel No. 5 is. Die fotograaf Ed Feingersh het ʼn reeks foto’s van haar geneem waar sy haarself met Chanel No. 5 spuit.
  • Daar is talle Chanel-parfuums op die rakke, maar No. 19 is nog ʼn bekende een. Dit is deur Henri Robert geskep en No. 19 genoem omdat Chanel op 19 Augustus gebore is.
  • Coco Chanel was vriende met baie bekende mense, soos koninklikes en kunstenaars. Pablo Picasso was een van haar vriende.
  • Chanel se lewe het as inspirasie vir baie boeke, rolprente en toneelstukke gedien. Een van die bekendes was Coco, ʼn 1970-Broadway-musiekblyspel waarin Katharine Hepburn gespeel het.
  • In ʼn era waarin vrouens net rokke gedra het, het Coco Chanel langbroeke gedra en dit gewild gemaak.
  • Chanel was lief vir die buitelug en het gehou van gholf, ski, visvang, perdry, en dies meer. Sy het juis gesê dat sy sportrokke vir haarself ontwerp het omdat sy so lief vir sport is.
  • Sy het ook graag gesonbrand en dit het ʼn sonbruinvoorkoms gewild onder vrouens gemaak. In daardie tyd was ‘n bleek voorkoms die norm.
  • Haar klere is in die jare vyftig en sestig deur Hollywood-sterre soos Elizabeth Taylor en Anne Baxter bekend gemaak. Dit het tot goeie verkope in die VSA gelei.
Foto: iStock

Dalk is jy nie nóú veel oor mode gepla nie. Jy dra die klere wat jou ouers vir jou koop, en nou en dan sal jy sê dat jy ʼn sekere hemp, broek of rok verkies. Die modebedryf is egter enorm, en die invloed van ontwerpers word vir dekades op die klere wat ons dra, gesien.

Dmitriy Pavlovich van Rusland en Coco Chanel.

Coco Chanel was ʼn bekende modeontwerper wie se tydlose ontwerpe vandag nog voortleef. Sy het die Paryse haute couture vir ongeveer ses dekades regeer. Haute couture is die ontwerp en vervaardiging van hoogs eksklusiewe klere.

Chanel se elegante en gemaklike klere het vrouens in die vroeë 1900’s geïnspireer om ongemaklike korsette en klere te los. Die klerestukke wat vir haar die meeste bekendheid verwerf het, is die Chanel-pakkie, kwilthandsakke, kostuumjuwele en eenvoudige swart rokke, of soos die Engelse sê: little, black dress. Die modehuis Chanel is vandag nog vir sy klassieke ontwerpe en besonderse styl bekend. 1

Gebore en getoë

Coco Chanel is op 19 Augustus 1883 as Gabrielle Bonheur Chanel in Saumur, Frankryk, gebore. Haar ouers, Albert Chanel en Jeanne Devolle, het vyf kinders gehad – Julie, Antoinette, Gabrielle, Alphonse en Lucien. Hulle het arm grootgeword, en hul ma is dood toe Coco slegs 12 jaar oud was. Haar pa het haar en haar susters na ʼn Katolieke klooster en kinderhuis in Moulins, Frankryk, gestuur. Haar broers moes gaan werk het. 2 Dit was moeilike jare, maar nonne by die kinderhuis het haar geleer om naaldwerk te doen, en dit het latere jare tot haar sakeryk gelei. 3

Ná skool het sy vir ʼn rukkie as ʼn winkelassistent gewerk en was selfs in ʼn stadium ʼn kabaretsangeres. Daar word beweer dat sy toe die naam Coco gekry het.

Haar modereis begin

Coco was altyd lief vir mode en het in 1910 ʼn hoedboetiek oopgemaak. Haar hoede is deur bekende Franse aktrises van daardie era gedra. Dit het gehelp om haar reputasie in die modebedryf te bou.

In 1912 is haar eerste klereboetiek in Deauville geopen, en sy het vanaf 1913 ʼn reeks sportdrag uit truistof gemaak. 4 Die klere uit truistof was baie gewild, en sy het later jare vertel dat haar fortuin op ʼn rok wat sy uit ʼn ou trui gemaak het, gebou is. Haar oorspronklike gebruik van hierdie materiaal het haar binne vyf jaar beroemd gemaak en die aandag van invloedryke vrouens, wat nie meer die ongemaklike korsetstyle wou dra nie, gelok.

Die eerste Chanel-modehuis is in 1915 in Biarritz, Frankryk, geopen. Dit was ook in daardie tyd wat haar eerste haute couture-versameling ontwerp is. In 1918 het sy ʼn groot modehuis geopen wat onder meer werkswinkels en ʼn boetiek gehuisves het.

Die Coco Chanel-huis.

Chanel se ontwerpe was op eenvoud en gemak gemik en het ʼn revolusie in die modebedryf ontketen. Teen die laat jare twintig was sy miljoene werd en het werkgeleenthede vir meer as 2 000 mense geskep.

Chanel is in 1931 na Hollywood waar sy rokke vir aktrises ontwerp het. Sy het kostuums vir die rolprente Tonight or Never (1931) en The Greeks had a Word for Them (1932) ontwerp. Sy het ook in 1931 ʼn versameling van juwele bekendgestel. Die versameling is Bijoux de Diamants genoem, en dit het meer as 45 stukke ingesluit.

Die wêreldberoemde parfuum 

Chanel is veral bekend vir die parfuum Chanel No. 5. Sy het hierdie parfuum in 1921, met die hulp van een van die talentvolste parfuumskeppers in Frankryk, Ernest Beaux, bekendgestel. 4 Chanel was die eerste groot modeontwerper wat ʼn parfuum bekendgestel het, en sy het die tipiese parfuumverpakking van daardie tyd met ʼn eenvoudige en elegante bottel vervang. Dit het tot die parfuum se sukses bygedra.

Sy het met die sakeman Théophile Bader van die Galeries Lafayette-afdelingswinkels en Pierre Wertheimer van die Bourjois-kosmetiekmaatskappy saamgewerk om die parfuum te bemark en verkoop. Hulle het dit gedoen in ruil vir winsdeling. Sy was egter nie gelukkig met die kontrak nie omdat sy slegs 10% van die tantième gekry het. Tantième is die aandeel wat ʼn persoon kry uit die verkoop of uitvoering van sy/haar werk. Daar was ʼn reeks hofsake om beheer oor haar parfuum te kry, maar sy was nooit in staat om die kontrak te heronderhandel nie. Ten spyte hiervan het sy steeds ʼn groot wins op die parfuum gemaak. 1

Die impak van die oorlog

Die Tweede Wêreldoorlog het in 1939 uitgebreek en Chanel moes haar modehuis sluit. Die Duitse weermag (die Nazi’s) het Frankryk ingeneem en Chanel het tydens die beleg ʼn verhouding met ʼn Nazi-beampte genaamd Hans Guther von Dincklage aangeknoop. 2

Ná die oorlog het hierdie verhouding haar in die moeilikheid laat beland, want daar is geglo dat sy ʼn Nazi-agent was. Sy is verskeie keer ondervra en baie mense het haar veroordeel. Daar is ook beweer dat die Britse eerste minister Winston Churchill tot haar redding gekom het. Hoewel daar nooit bewyse van haar Nazi-betrokkenheid was nie, het dit haar reputasie skade berokken en sy is ná die oorlog Switserland toe. Sy het daar vir ʼn paar jaar gebly, asook by haar huis in die Franse platteland.

Winston Churchill en Coco Chanel.
Hugh Grosvenor en Coco Chanel.

Sy het eers in 1954, met die hulp van Pierre Wertheimer, na die modewêreld teruggekeer. Haar bekende Chanel-pakkies was dadelik gewild. Die pakkie bestaan uit ʼn kraaglose baadjie en ʼn noupassende romp. Haar mode was innoverend en sy het ook uitklokpypbroeke gewild gemaak.

Chanel se nalatenskap

Coco Chanel het op 10 Januarie 1971 in haar woonstel in die Ritz-hotel gesterf. Sy het vir 30 jaar in hierdie hotel gebly. Sy het nooit getrou of kinders gehad nie, maar het wel verhoudings met baie bekende mense gehad. Baie mense het by haar roudiens Chanel-pakkies as ʼn huldeblyk gedra. Net meer as ʼn dekade later het die ontwerper Karl Lagerfeld (1933-2019) by Chanel begin werk, en vandag is sy naam net so bekend soos Coco Chanel sʼn. Lagerfeld het nuwe lewe na die Chanel-versamelings gebring en het Chanel se bekende reg-om-te-dra-versameling geskep.

Die Chanel-maatskappy is vandag nog bekend, word deur die Wertheimer-familie besit en floreer steeds. Hulle verkoop klere, bykomstighede, parfuum, velsorgprodukte, grimering, sonbrille, horlosies en juwele. 4

Coco Chanel se graf.

Woordbank

beleg Dit is wanneer ʼn vyand beheer oor ʼn sekere gebied neem; militêre insluiting.
fortuin ʼn Groot som geld.
haute couture Die ontwerp en vervaardiging van hoogs eksklusiewe klere en die mense of groepe wat by modeskepping betrokke is.
huldeblyk ʼn Eerbetoon.
kabaretsangeres ʼn Sangeres wat gewoonlik in die aand, dikwels in ʼn restaurant of kafee, optree.
korset ʼn Nousluitende onderkledingstuk wat deur ʼn veter styf getrek is. Dit is veral vroeër jare deur vrouens gedra om hul postuur te verbeter.
reputasie Iemand se goeie naam of aansien.
revolusie Wanneer ʼn ommekeer of omwenteling plaasvind.

Lees dié artikels om meer te leer 

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

15 dinge wat jy nie van Coco Chanel geweet het nie

ʼn Minibiografie van Coco Chanel

Chanel-modeparades van vervloë dae

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 November 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024