Vinnige feite

  • Bilharziaparasiete is vir die eerste keer in die 1850’s deur Theodor Bilharz, ʼn Duitse patoloog, geïdentifiseer. Hy het in daardie tyd in Egipte gewerk.
  • Die vroulike parasietwurm kan tussen 300 tot 3 500 eiers per dag in die mens se bloed vrystel! 2
  • Die ontwurmingsmiddel Praziquantel word al die afgelope 30 jaar gebruik om bilharzia te beheer. Dit is glo veilig om te gebruik en is al vir miljoene mense gegee. 1
  • Die Wêreldgesondheidsorganisasie, in samewerking met vennote in die privaat sektor, verskaf jaarliks ontwurmingsmedikasie aan meer as 100 miljoen skoolkinders. 1
  • Schistosomelarwe ontwikkel in volwasse wurms binne die menslike liggaam en lê eiers wat in die liggaam se weefsel kan vassit. Volwasse wurms groei tot ongeveer 1 cm in lengte en bly in bloedvate. Sonder behandeling kan die wurms vir jare eiers lê. 3
  • Bilharzialyers kan die siekte oordra as hul ontlasting in die water beland. As dit gebeur, word klein larwes vrygestel wat binne varswaterslakke vir ʼn paar weke groei voordat hulle dan weer iemand anders besmet.
  • ʼn Parasiet is ʼn organisme wat op of binne-in ʼn ander organisme leef. Dit is afhanklik van die ander organisme vir kos en ander dinge om te kan leef. Die organisme waarop die parasiet leef, word die “gasheer” genoem en is gewoonlik baie groter as die parasiet.
  • Sommige parasiete veroorsaak siektes, ander veroorsaak pyn, terwyl ander weer amper nie eens deur hul gashere opgemerk word nie … 5
  • Bilharzia word ook “slakkoors” genoem omdat die parasiete deur varswaterslakke gedra word.
Foto: iStock

Het jy al in ʼn rivier of ʼn dam geswem wat ‘n bietjie vuil gelyk het? Baie van ons het al. Dit is immers heerlik om te swem, maar daar kan gevare skuil op plekke waar jy dit die minste verwag. Ons praat nie hier van ʼn krokodil in ʼn rivier nie, maar van ʼn piepklein parasitiese wurm wat groot amok kan maak.

Bilharzia, bilharziase, bilharziose, rooiwater of schistosomiase, is ʼn infeksie wat deur ʼn parasitiese wurm in subtropiese of tropiese gebiede veroorsaak word. 1 Wat is ʼn parasiet nou weer? Dit is ʼn dier of plant wat op ander teer. ʼn Parasiet is afhanklik van sy gasheer om te leef.

Bilharzia is ʼn akute en chroniese parasitiese siekte wat deur trematodewurms van die genus (indelingskategorie) Schistosoma veroorsaak word. Hierdie siekte is endemies in 78 lande. Dit beteken dat die siekte plaaslik in daardie lande oorgedra is.

Die bilharziaparasiet word meestal in Afrika gevind, maar ook in dele van Suid-Amerika, die Karibiese Eilande, die Midde-Ooste en Asië. Die siekte kom gewoonlik in landelike gemeenskappe voor waar higiëne swak is as gevolg van armoede of ʼn tekort aan infrastruktuur en goeie gesondheidsorgdienste.

Ongeveer 240 miljoen mense word wêreldwyd deur hierdie siekte geraak, en meer as 700 miljoen mense bly in endemiese gebiede en word dus daaraan blootgestel.

Mense toon gewoonlik nie dadelik simptome wanneer hulle met die parasiet besmet word nie, maar dit kan vir baie jare in die liggaam bly en skade aan organe soos die blaas, niere en lewer aanrig. Bilharzia is naas malaria die ernstigste parasitiese siekte ter wêreld. 2

Hoe kry ʼn mens dit?

As daar urine of ontlasting in vars water is, kan daar parasieteiers in water uitbroei en varswaterslakke besmet. Die wurms ontwikkel dan binne-in die slakke. Die slakke skei die larwes van die parasiete af, en dit kan mense se velle binnedring as hulle in die besmette water bad, swem of klere was. 1

Die volwasse wurms bly dan in mense se are en hul eiers word in die liggaam se weefsel vasgevang. Die liggaam se reaksie daarop kan groot skade aanrig.

Urogenitale bilharzia word deur S. haematobium veroorsaak en ingewandsbilharzia deur enige van die volgende organismes: S. guineensis, S. intercalatum, S. mansoni, S. Japonicum of S. mekongi.

Daar is wel ontwurmingsmedikasie wat dit moontlik maak om die siekte te voorkom en beheer. 2

Simptome

Die simptome word veroorsaak deur die liggaam se reaksie op die wurms se eiers. Daar kan inflammasie, hoes, lyfpyn en koors voorkom. Ingewandsbilharzia kan lei tot maagpyn, diarree en bloed in die stoelgang. ʼn Vergrote lewer is algemeen by ernstiger gevalle, en in sekere gevalle is daar ook ʼn vergrote milt. 1

By urogenitale bilharzia kom daar bloed in die urine voor. Fibrose (die abnormale vermeerdering van bindweefsel) van die blaas en ureter (die buis waardeur die urine van die nier na die blaas gaan) en nierskade word soms in gevorderde gevalle opgemerk. 3 Selfs blaaskanker is ʼn moontlike komplikasie in ernstige gevalle. Dit kan ook by mans en vroue tot toestande lei wat met die geslagsdele te make het. 1

Langtermyngevolge van bilharzia

As die siekte nie behandel word nie, kan dit permanente orgaanskade en selfs die dood veroorsaak.

Daar is ook allerlei langtermyngesondheidskomplikasies:

  • Kinders se groei kan belemmer word en hul vermoë om te leer kan afneem. Hulle kan ook anemie (bloedarmoede) ontwikkel.
  • Probleme met die verteringstelsel kan ontwikkel, soos maagpyn, -swelling en diarree.
  • Die siekte kan onvrugbaarheid by vroue veroorsaak.
  • Brein- en senuweestelselkwessies, soos hoofpyne, kan ontwikkel.
  • Daar kan ook probleme met die hart en longe wees, soos as ʼn mens bloed uithoes en kortasem raak.
  • Ernstige blaas- en urinewegprobleme kan ook ʼn gevolg wees. 4

Diagnose

Die siekte word gediagnoseer deur die opsporing van parasieteiers in stoelgang- of urinemonsters. Teenliggaampies in bloed- of urinemonsters kan ook infeksie aandui. 2

Kan dit voorkom word?

As jy na ʼn gebied reis waar daar swak sanitasie (die verwydering van riool- en ander afval van woonhuise en woongebiede) en onhigiëniese toestande heers, is dit beter om uit riviere, damme, en dies meer, te bly.

Het jy geweet?

Bilharzia is ʼn tropiese siekte. Tropiese siektes is siektetoestande wat endemies in tropiese en subtropiese gebiede voorkom en deur insekte, luise, bosluise, ander parasiete, water, en dies meer, versprei word. Siektes sluit in hemorragiese koorssiektes, rickettsiële koorssiektes, malariavariante, bilharziase, tripanosomiase en sekere swamsiektes. 3

Woordbank

akute Hewig, dringend of erg.
bilharzia Dis ʼn siekte wat veroorsaak word deur slakwurms wat in vars water in tropiese en subtropiese gebiede voorkom, waarby die slakke deur die vel boor en tot in die blaas en ingewande deurdring en bloeding veroorsaak. Dit word ook onder meer bilharziase of bilharziose genoem.
chronies Langdurend.
endemies As iets tot ʼn bepaalde streek of gebied beperk is.
fibrose Die abnormale vermeerdering van bindweefsel.
parasiet ʼn Organisme wat op ʼn ander organisme teer.
sanitasie Die verwydering van riool- en ander afval van woonhuise en woongebiede.
simptome Verskynsel of tekens van ʼn siekte.
subtropiese Die klimaat is tussen tropies (warm) en gematig.
trematode ʼn Plat wurmsoort.
tropiese Die klimaat waar dit min of meer altyd warm is, met min wisseling tussen seisoene.
ureter   Die buis waardeur die urine van die nier na die blaas gaan.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die storie van bilharzia

Klein wurm, groot moeilikheid

Wat is ʼn parasiet?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023