Vinnige feite

  • Tussen 1% en 5% van alle vroulike adolessente en jong vroue ly aan anoreksie. 10
  • 33% tot 50% van anoreksiepasiënte ly ook aan ’n gemoedsversteuring soos depressie.
  • Tussen 50% en 80% van anoreksie word deur genetika veroorsaak.
  • Altesaam 1 uit 5 anoreksiesterftes is as gevolg van selfdood.
  • Sonder behandeling sterf 20% van mense met anoreksie.
Foto: iStock

Almal van ons wou waarskynlik al in die een of ander stadium ’n bietjie gewig afskud om in ’n mooi rok te pas of ons spiere vir ons maats te bult. Soms kan dié behoefte of begeerte om maerder te wees, só belangrik raak, dat dit buite beheer raak en ’n mens heeltemal te veel gewig verloor.

Daar is ’n groot verskil tussen om ’n dieet te volg en om aan ’n eetversteuring te ly. Soms lyk die skeidslyn tussen dié twee dof, maar ’n eetversteuring is ’n gevaarlike werklikheid wat sielkundige behandeling vereis. Een só ’n eetversteuring is anorexia nervosa of anoreksie.

Wat is anoreksie?

Iemand met anoreksie het ’n abnormaal lae liggaamsgewig, ’n geweldige vrees om gewig op te tel en ’n verkeerde idee oor wat ’n gesonde gewig is. Anoreksielyers stel hul selfbeeld en hoe hulle oor hulself voel gelyk aan hoeveel hulle weeg. Hulle sal bykans enigiets doen om te keer dat hulle gewig optel en sal aanhou probeer om nóg meer gewig te verloor. 1

Hulle sal enersyds die hoeveelheid kos wat hulle eet, beperk of verminder. Andersyds sal hulle strawwe oefening doen, asook braking en diarree aanmoedig ten einde nóg gewig te verloor. Maak nie saak hoeveel gewig dié persoon verloor nie, die vrees om ’n paar gram swaarder te weeg, neem bykans hul hele bestaan en denke oor.

Hoewel anoreksie letterlik ’n “verlies aan eetlus” beteken, gaan anoreksie glad nie oor kos nie. In werklikheid is dié eetversteuring ’n persoon se manier om emosionele probleme die hoof te bied.

Hoewel anoreksie meer gereeld by meisies en vroue voorkom, ly al meer seuns en mans hieraan. Dit kan, onder meer, toegeskryf word aan toenemende sosiale druk. Tieners is die groep wat die grootste risiko vir anoreksie het, hoofsaaklik as gevolg van hul liggame wat tydens puberteit verander. Tieners ervaar groepsdruk in die oortreffende trap en is uiters sensitief vir opmerkings oor hul liggaamsgewig of voorkoms.

Simptome van anoreksie

Dit is soms moeilik om die tekens en simptome van anoreksie raak te sien, omdat die persoon wat hieraan ly, dit dikwels wegsteek deur skelm toilet toe te gaan vir braking of diarree of hul kleredrag te verander deur lae klere bo-oor mekaar aan te trek. Anoreksie en bulimie se simptome is soortgelyk, maar mense met anoreksie sukkel met ’n abnormaal lae liggaamsgewig, terwyl individue met bulimie gewoonlik ’n normale of baie hoë gewig het. 2

Die simptome van anoreksie stem ooreen met dié van uithongering en sluit emosionele en gedragskwessies in wat ’n onrealistiese verwagting van of persepsie oor liggaamsgewig insluit, asook ’n buitengewone vrees om gewig op te tel.

Fisieke simptome

Fisieke tekens en simptome van anoreksie kan die volgende insluit: 3

  • Oormatige gewigsverlies
  • Ondergewig
  • Abnormale bloedtellings
  • Moegheid
  • Slapeloosheid
  • Duiseligheid of geneigdheid om flou te word
  • Blouerige verkleuring van die vingers
  • Hare word dun, breek of val uit
  • Sagte, donsige hare wat die liggaam bedek
  • Afwesigheid van menstruasie
  • Hardlywigheid en maagpyn
  • Droë of geel vel
  • Kry maklik koud
  • Onreëlmatige hartklop
  • Lae bloeddruk
  • Dehidrasie
  • Swelling van die arms of bene
  • Gereelde, gedwonge braking laat die tande verweer en veroorsaak eelte (verdikkings) op die kneukels – dit weens die vingers wat in die keel gesteek word om braking aan te help.

Emosionele en gedragsimptome

’n Persoon met anoreksie probeer om gewig te verloor deur: 4

  • baie min te eet of te vas;
  • oormatig te oefen; en
  • hom-/haarself te laat braak om van kos ontslae te raak. Lakseermiddels, enemas, dieethulpmiddels of kruieprodukte word gebruik om dit aan te help.

Ander gedragstekens en emosionele simptome kan die volgende insluit:

  • Beheptheid met kos en maak graag vir ander kos, maar eet nie self nie;
  • Slaan gereeld maaltye oor of weier om te eet;
  • Ontken hulle is honger of dink verskonings uit om nie te eet nie;
  • Eet slegs sekere kossoorte, veral dié wat laag in vet en kalorieë is;
  • Kweek gewoontes aan soos om kos te kou en dan dadelik uit te spoeg;
  • Wil nie in die openbaar eet nie;
  • Jok oor hoeveel hulle geëet het;
  • Is bang om gewig op te tel en sal hulself gereeld meet en weeg;
  • Kyk gereeld in die spieël om “gebreke” waar te neem;
  • Kla omdat hulle “vet” is of sekere liggaamsdele vir hulle onaanvaarbaar “groot” is;
  • Dra dikwels verskeie lae klere bo-oor mekaar;
  • Is afgestomp (gebrek aan emosie);
  • Neem nie aan sosiale aktiwiteite deel nie;
  • Is prikkelbaar;
  • Slaap sleg. 5

Oorsake van anoreksie

Soos met baie siektes, is die oorsaak van anoreksie waarskynlik ’n kombinasie van biologiese, sielkundige en omgewingsfaktore. 6

  • Biologiese oorsake: Genetika kan ’n rol speel en veroorsaak dat iemand ’n groter risiko het om anoreksie te ontwikkel. Sommige mense het ’n genetiese neiging tot perfeksionisme, sensitiwiteit en deursettingsvermoë, wat alles eienskappe is wat met anoreksie verband hou.
  • Sielkundige oorsake: Sommige mense met anoreksie kan obsessief-kompulsiewe persoonlikheidseienskappe hê wat dit makliker maak om ’n dieet te volg en nie te eet nie, al is hulle honger. Hulle het moontlik ’n uitermatige strewe na perfeksionisme, wat veroorsaak dat hulle nooit ’n punt bereik wat hulle maer genoeg voel nie. Hulle ervaar dikwels angs en eet al minder om emosioneel beter oor hulself te voel.
  • Omgewingsoorsake: Die moderne samelewing en sosiale media bevorder ’n beheptheid met uiterlike voorkoms. Sukses en eiewaarde word dikwels aan gewig gemeet. Groepsdruk kan dié begeerte om maer te wees, veral onder jong meisies, verder aanvuur.

Risikofaktore

Sekere faktore verhoog die risiko van anoreksie, insluitend: 7

  • Genetika: Iemand wat ’n familielid het wat ’n anoreksielyer is, het ’n baie groter risiko om self hiermee te worstel.
  • Dieet: Dieet is ’n risikofaktor vir die ontwikkeling van ’n eetversteuring. Daar is sterk bewyse dat baie van die simptome van anoreksie eintlik simptome van honger is. Uithongering beïnvloed die brein en gemoedstoestand, verhoog angs en verminder eetlus. Uithongering en gewigsverlies kan die funksionering van die brein beïnvloed en dit moeilik maak om na normale eetgewoontes terug te keer.

Gevolge van anoreksie

Anoreksie kan ander geestesgesondheidversteurings veroorsaak, soos: 8

  • Depressie, angs en ander gemoedsversteurings
  • Persoonlikheidsversteurings
  • Obsessief-kompulsiewe versteurings
  • Alkohol- en dwelmmisbruik
  • Selfbesering, selfdoodgedagtes of -pogings.

Benewens bogenoemde kan anoreksie ingrypende gesondheidsgevolge inhou, insluitend die dood. Die persoon sterf nie noodwendig omdat hy of sy ondergewig is nie, maar as gevolg van ’n onreëlmatige hartklop of ’n elektrolietwanbalans (as daar nie genoeg minerale en vloeistof in die liggaam is nie).

Ander fisieke komplikasies van anoreksie sluit in:

  • Bloedarmoede (anemie)
  • Hartprobleme
  • Osteoporose, wat die risiko van frakture verhoog
  • Spierverswakking
  • Geen menstruasie by vroue
  • ’n Afname in testosteroon by mans
  • Spysverteringsprobleme soos hardlywigheid, opgeblasenheid of naarheid
  • Elektrolietafwykings
  • Hart-, nier en breinprobleme. 9

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Eetversteurings: Anorexia nervosa en bulimie

Verstaan anoreksie

Anorexia Nervosa: Oorsake, tekens en simptome, diagnose en behandeling

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Desember 2021 | Bygewerk op 3 Julie 2023