Vinnige feite

  • Die naam Caesar was die inspirasie vir die Russiese woord czar (in Afrikaans tsaar) en die Duitse woord kaiser (in Afrikaans keiser).
  • As ’n mens die Rubicon oorsteek, beteken dit dat jy finaal tot ’n daad oorgaan waarvan die gevolge onseker is. Die uitdrukking is die gevolg van die keer toe Julius Caesar die Rubicon-rivier oorgesteek het en dit ’n oorlog tot gevolg gehad het.
  • William Shakespeare het in 1599 die toneelstuk The Tragedy of Julius Caesar geskryf.
  • Die Juliaanse kalender is deur Julius Caesar ingestel. Dit het die Romeinse Republikeinse kalender vervang. Teen 40 v.C. was die Romeinse kalender drie maande voor die sonkalender. Caesar het toe die astronoom Sosigenes gevra om die Egiptiese sonkalender te volg, deur die sonjaar as 365 ¼ dae te bepaal. Die jaar is in 12 maande verdeel. Om die ou en die sonkalenders bymekaar te bring, is nog dae bygevoeg sodat die jaar 445 dae gehad het. Daar was egter ’n paar misverstande en die kalender het eers teen 8 v.C. vlot geloop. Die kalender het die grondslag van die Gregoriaanse kalender gevorm wat ons vandag volg. 5
  • Caesar was tot en met sy afsterwe met Calpurnia getroud. Sy was sy derde vrou. 6
  • Hoewel die begrip “keisersnit” na Julius Caesar genoem is, is daar geen bewyse dat hy wel via dié prosedure gebore is nie.
  • Caesar het boeke oor die Galliese oorloë geskryf en was glo baie koelbloedig as ’n weermagshoof. Hy het opdrag gegee dat burgerlikes ook doodgemaak word en het baie dorpe en oeste vernietig.
  • Cleopatra was glo in Rome ten tyde van Caesar se moord. Sy het egter ná die moord gevlug. In haar tyd in Rome, het sy haar stempel afgedruk. Haar eksotiese haarstyl en juwele (van peridot-sierstene) het glo ’n modeneiging daar geword. 7 Terloops, in antieke tye was Egipte die primêre bron van die peridot, wat die “Juweel van die Son” genoem word. 8
Foto: iStock

Hy was ’n generaal, ’n politikus en ’n staatsman. Hy het in baie oorloë geveg en antieke Rome tot ’n magtige ryk opgebou. Hy is op ’n keer deur seerowers ontvoer en een van sy vriende was deel van ’n komplot om hom te vermoor … En hoewel dit soos ’n storie klink, is dit die ware verhaal van Julius Caesar.

Gaius Julius Caesar is op 12 (of 13) Julie in ongeveer 100 v.C. gebore. Sy pa se naam was ook Gaius Julius Caesar en sy ma was Aurelia Cotta.

Gaius Julius Caesar

Hy was deel van ’n bekende aristokratiese familie en was die neef van die bekende Romeinse generaal Gaius Marius. Caesar se familie se bloedlyn kan blykbaar na die begin van Rome herlei word en daar was ook glo selfs ’n Trojaanse prins in dié bloedlyn. Ten spyte daarvan was sy familie nie juis welvarend (ryk) nie. 1

Nadat sy pa skielik in 85 v.C. oorlede is, het Caesar op 16 jaar die hoof van sy familie geword. Dit was reg in die middel van ’n burgeroorlog tussen sy oom Marius en die Romeinse regeerder Lucius Cornelius Sulla. Caesar het in 84 v.C. met Cornelia, die dogter van een van Marius se bondgenote getrou. Caesar en Cornelia het slegs een kind gehad, ’n dogter genaamd Julia.

Caesar was polities aktief en gekant teen Sulla.

In 82 v.C. het Sulla die burgeroorlog gewen en Caesar gedwing om van Cornelia te skei. Caesar het geweier en moes vlug, want Sulla wou hom doodmaak. Caesar se familie het egter ingetree en Sulla oortuig om Caesar se lewe te spaar. Hy het, maar Caesar was sy erfporsie kwyt.

Caesar het Rome verlaat en by die weermag aangesluit en in 80 v.C. ’n kroon vir sy dapperheid by die Beleg van Mytilene verower. 2

Ná Sulla se dood in 78 v.C. het Caesar na Rome teruggekeer en ’n suksesvolle staatsaanklaer geword wat wyd bekend was vir sy redenaarsvermoë.

In 75 v.C. het hy oor die Egeïese See gevaar om na Rhodes te gaan om daar filosofie en redenaarskuns te studeer. Seerowers het hom egter gevang en was glo nogal beïndruk met Caesar – hy het vir hulle gedigte en toesprake voorgelees! Hulle het losprysgeld geëis en nadat dit betaal is, is hy vrygelaat. Caesar het egter ’n privaat vloot gehuur om hulle agterna te sit en hulle is gevang en vir hul misdade gekruisig. 3

Caesar se politieke pad

Julius Caesar het met sy politieke loopbaan begin. Hy het by die militêre tribune aangesluit en het in 69 v.C. die quaestor van ’n Romeinse provinsie geword. Die quaestor was ’n Romeinse amptenaar wat verantwoordelik was vir finansies en inkomste.

Sy vrou, Cornelia, het in dieselfde jaar gesterf en Caesar het in 67 v.C. met Pompeia getrou. Sy was Sulla se kleindogter en familie van Gnaeus Pompeius Magnus (Pompeius die Grote) met wie hy ’n belangrike alliansie gesluit het.

Hy het in 65 v.C. ’n belangrike Romeinse magistraat geword en skouspelagtige spele vir die publiek in die Circus Maximus aangebied. Dit het hom gewild gemaak, maar hy moes groot skuld aangaan om die vermaak vir die mense aan te bied.

Hy is twee jaar later as Pontifex Maximus verkies. Dit was die hoogste amp in die priesterskap in antieke Rome. Caesar het in 62 v.C. van Pompeia geskei nadat daar ’n groot skandaal plaasgevind het. Pompeia het glo ’n heilige vrouefees gehou, maar ’n politikus het homself as ’n vrou vermom en daar ingesluip … Daar is beweer dat hy glo ’n oog op Pompeia gehad het. Haar reputasie is daardeur geknou en Caesar het geglo dat die skandaal nie goed vir sy loopbaan sou wees nie en het van haar geskei.

Caesar het ’n jaar later die goewerneur van Spanje geword en is in 59 v.C. as konsul verkies, dit was die hoogste staatsamp in Antieke Rome. As een van twee konsuls, het hy die Romeinse staat vir ’n jaar regeer. Hy het die ondersteuning van Pompeius en Marcus Licinius Crassus (die rykste man in Rome) gehad. Caesar, Crassus en Pompeius het gou ’n alliansie gevorm en dis verder versterk deur die huwelik van Caesar se dogter, Julia, aan Pompeius. Hierdie alliansie het die Romeinse senaat senuweeagtig laat voel, want ’n alliansie tussen drie sulke magtige mans sou nie gekeer kon word nie. Hulle was reg, want die drie (wat ’n triumviraat genoem is) het gou-gou als in Rome beheer.

Caesar is ook as goewerneur in Gallië in 58 v.C. aangestel waar hy aan die hoof van ’n groot weermag was. Die Galliese oorloë het gevolg en Caesar het ’n groot rol daarin gespeel om die gebied te oorwin en te stabiliseer. Dit het hom as ’n formidabele en meedoënlose militêre leier gevestig.

Caesar het ’n brug oor die Rynrivier na Germaanse gebiede gebou en die Engelse kanaal na Brittanje oorgesteek om daar verdere gebiede in te neem. Hy het groot suksesse behaal, maar sy sukses het daartoe gelei dat een van sy vroeëre bondgenote, Pompeius, teen hom gedraai het. Dit het die verhouding tussen Crassus en Pompeius ook verswak. 2

Oorlogtyd

Soos Caesar al hoe meer gedeeltes van Gallië ingeneem het, het die politieke situasie in Rome al hoe meer onstabiel geword met Pompeius as die enigste konsul. Ná die dood van Pompeius se vrou, Julia, wat ook Caesar se dogter was, het Pompeius homself met Caesar se opponente geskaar en hom beveel om sy weermag op te gee en na Rome terug te keer.

Caesar het geweier en sy weermag beveel om die Rubicon-rivier na Italië oor te steek. (Sien Vinnige feite vir ’n interessante feit oor die Rubicon).

Dit het ’n burgeroorlog tussen sy ondersteuners en dié van Pompeius te veroorsaak. Caesar en sy weermagte het Pompeius en sy magte na Spanje, Griekeland en Egipte agternagesit. Pompeius het na Egipte gevlug en die kinderfarao Ptolemeus VIII het in daardie stadium Egipte regeer. Hy was skrikkerig vir Caesar en het op 28 September 48 v.C. besluit dat Pompeius doodgemaak moes word. Pompeius se kop is afgekap en Caesar het met sy aankoms in Egipte die kop as ’n “geskenk” gekry.

Ptolemeus VIII

Toe Caesar weer sien, was hy in die middel van ’n burgeroorlog tussen Ptolemeus en sy Egiptiese mederegeerder Cleopatra.

Caesar en Cleopatra het ’n verhouding aangeknoop en Caesar het haar gehelp om Ptolemeus omver te werp. Sy was toe die alleenregeerder van Egipte. Hulle het nooit getrou nie, maar hulle het ’n seun, Ptolemeus XV Caesar gehad. Hy is Caesarion genoem. Caesar het die volgende paar jaar sy vyande verslaan asook Pompeius se ondersteuners wat nog in die Midde-Ooste, Afrika en Spanje was.

Die laaste dekade

Hy het in Januarie 49 v.C. na Rome teruggekeer en homself ’n diktator gemaak. Dit beteken dat hy onbeperkte mag gehad het en kon maak en breek soos hy wil.

Caesar het groot ondersteuning gehad, maar nie almal het hom vertrou nie. Baie mense wou Rome as ’n republiek sien wat deur ’n groep mense regeer word in plaas van ’n diktatorskap wat slegs deur een man beheer word.

Caesar het drastiese hervormings gemaak om Rome se laer- en middelklas te bevoordeel, soos om die verspreiding van graan te reguleer; die grootte van die senaat te verhoog om meer mense te verteenwoordig; om oorlogsveterane te ondersteun; om Romeinse burgerskap aan buitelanders te gee wat in die Romeinse Republiek gebly het; en om die Romeinse belastingstelsel te hervorm en die Juliaanse kalender te skep.

Hy het ook die Forum Lulium gebou en twee stadstate Carthago en Korinte herbou.

Hy was vir tien jaar aan die hoof van die Romeinse koninkryk, maar daar was mense wat bang was dat hy koning sou word.  Hulle het besluit om van hom ontslae te raak.

Sestig senators het saamgesweer en ’n komplot gesmee om Caesar op 15 Maart 44 v.C. te vermoor. Die dag het later bekendgestaan as die Ides van Maart, onheilsdag of noodlotsdag.

Selfs een van Caesar se vriende Marcus Junius Brutus was deel van hierdie groep.

Die groep is gelei deur Gaius Cassius Longinus, Decimus Junius Brutus Albinus en Marcus Junius Brutus. Daar was ’n senaatsvergadering aan die gang en een van die senators het Caesar met ’n swaard gesteek en die hele groep, Brutus ook, het Caesar aangeval. Hy kon nie wegkom nie en is 23 keer gesteek.

Caesar was 55 jaar oud met sy dood. Dit het ’n reeks burgeroorloë tot gevolg gehad en het die einde van die Romeinse Republiek ingelui. Caesar se kleinneef en erfgenaam, Gaius Octavius — later bekend as Augustus Caesar — het die keiser van die Romeinse Ryk geword. 4

Woordbank

alliansie ’n Vereniging of verbond tussen mense.
aristokratiese Die vernaamste families van ’n land, adellikes.
beleg Militêre insluiting van ‘n stad of vesting.
bloedlyn Stamlyn, afstamming, stamboom.
bondgenote ’n Groep mense wat mekaar bystaan.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
diktator Dit is iemand wat oor ’n land heers en onbeperkte mag het; mag wat dikwels deur geweld verkry word.
erfporsie Iemand se deel van sy erfenis.
farao Titel van die ou Egiptiese konings.
filosofie Die wetenskap wat die kern en aard van kennis, die werklikheid, die bestaan asook die betekenis van die lewe ondersoek.
formidabele Groot, geweldig of ontsaglik.
komplot Sameswering; geheime plan.
konsul Hoogste staatsamp in antieke Rome.
losprys ’n Bedrag geld wat geëis of betaal word om iemand wat gevange gehou word, vry te laat.
magistraat Vroeëre benaming vir ’n landdros.
meedoënlose Iemand wat hardvogtig, sonder medelye is.
militêre tribune Militêre tribunes (tribuni militum) was oorspronklik infanteriebevelvoerders.
oorlogsveterane ’n Ou krygsman; soldaat wat nie meer in diens is nie.
quaestor Skatmeester, tesourier.
redenaarsvermoë Iemand wat ’n goeie toespraak kan maak.
regering Die bestuur van ’n land.
republiek ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
stadstate ’n Stad wat uit een stad bestaan.
senaat  ’n Wetgewende liggaam wat deel van ’n parlement vorm.
triumviraat ’n Driemanskap.

Lees hierdie artikels om meer oor Julius Caesar te leer

Kyk hierdie video’s oor Julius Caesar

Die lewe van Julius Caesar – Die opkoms en val van ‘n Romeinse heerser.

Die geskiedenis van Antieke Rome

Julius Caesar – dalk die grootste veroweraar ooit?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 November 2022 | Bygewerk op 15 November 2023