Vinnige feite

  • Douglass het eenmaal gesê: “I didn’t know I was a slave until I found out I couldn’t do the things I wanted.” 4
  • In 1852, tien jaar voor hulle bevry is, was daar 3,5 miljoen slawe in Amerika, oftewel om en by 14% van die bevolking. 10
  • Douglas was in 1848 by ’n konferensie vir vroueregte in Amerika die enigste man wat ’n toespraak gelewer het. Hy het vir Elizabeth Cady Stanton, die leier van die Vroueregtebeweging, daar ontmoet. 6
  • In Ierland het hy vriende geword met Daniel O’Connell, wat die geveg vir Ierse onafhanklikheid van Brittanje gelei het. 3

Frederick Douglass is een van die beroemdste slawe in die geskiedenis. Hy het homself eers deur middel van harde werk en uithouvermoë van slawerny bevry. Dit was egter nie genoeg vir hom nie. Hy het daarna ’n besielende leier geword wat vir vryheid, gelykheid en die afskaffing van slawerny geveg het.

Grootwordjare

Frederick Augustus Washington Bailey is in 1818 op ’n plantasie in Maryland, in die Verenigde State van Amerika (VSA), gebore. 1

Soos wat die geval was met die meeste slawe, het hy nie presies geweet wat sy geboortedatum was nie. Hy het later in sy lewe besluit om dit op 14 Februarie te vier. 2

Douglass se ma, Harriet Bailey, was ook ’n slaaf. Hy het nie geweet wie sy pa was nie, maar wel dat dit ’n wit man was. Hy het aangeneem dit was een van die mans van die familie wat sy ma besit het. 3 Sy ma het gesterf toe hy 10  jaar oud was. Omdat hy op jong ouderdom by haar weggevat is, het hy haar nie eintlik geken nie. 2

Baltimore

Toe hy agt jaar oud was, is hy aan ’n nuwe eienaar, Thomas Auld, verkoop. Auld het hom op sy beurt vir sy broer, Hugh Auld, wat in Baltimore gewoon het, gegee. 1

Hugh Auld se vrou, Sophia, het hom op om en by 12-jarige ouderdom leer lees en skryf. 2 Dit was eintlik teen die wet. Douglass was intelligent en het vinnig geleer. 4

Die Aulds het hom na die skeepswerf gestuur om as bootseëler te werk. Dit was ’n geskoolde posisie waarvoor hy ’n salaris ontvang het. Dié geld is egter net so aan sy eienaars, die Auld-familie, oorbetaal. 3

Douglass het een dag gehoor hoe Hugh en Sophia rusie maak. Hugh het uitgevind dat sy vrou vir Douglass leer lees en skryf het. Auld het vir Sophia gesê dat daardie vaardigheid hom ongeskik sou maak om ’n slaaf te wees. Op daardie oomblik het hy besef dat opvoeding sy pad na vryheid sou wees. 4

Sophia Auld het hierna haar lesse met hom gestop, maar hy het by wit kinders en ander mense in die buurt boeke gekry en so aangehou leer. 2

Douglass het alles gelees wat hy in die hande kon kry. Hy het egter spesifiek gehou van enigiets wat met die vrystelling van slawe te doen gehad het.

Lees het hom ook geestelik versterk. Dit het hom gehelp om wat hy die “begraafplaas van sy gees” – dit is die gevoel dat sy vermoë om te dink, nie kon groei nie en dus amper dood was – te verdra. 5

Opvoeding en straf

In 1833 het die broers Thomas en Hugh Auld stry gekry en Thomas het al sy slawe wat hy vir Hugh geleen het, teruggevat, ook vir Douglass. Omdat hy nou wel kon lees, wat ’n nuttige vaardigheid was, het Thomas Auld hom aan William Freeland, ’n nuwe eienaar, uitverhuur. Douglass het tydens kerkdienste die ander slawe op die plantasie leer lees uit die Nuwe Testament. Die lesse was baie gewild, en omtrent 40 slawe het dit weekliks bygewoon.

Freeland het Douglass se lesse toegelaat, maar van die ander slawe-eienaars in die omgewing was daarteen gekant. Hulle wou nie opgevoede slawe gehad het nie. Daarom het ’n skare van hulle met stokke en klippe die kerkdienste uiteengejaag. Dit het ’n einde aan die lesse gebring. 2

Thomas het ook uitgevind waarmee Douglass besig was. As straf het hy hom aan Edwards Covey uitverhuur. Covey het ’n reputasie as ’n sogenaamde “slawebreker” gehad. Covey het hom erg mishandel, en dit hét hom amper gebreek. 2 Eendag kon hy dit egter nie meer vat nie, en hy het terugbaklei. Hierna het Covey nooit weer aan hom geraak nie. 6

Ontsnapping

Douglass het eers twee onsuksesvolle ontsnappogings gehad, voor hy dit in 1838 reggekry het om suksesvol te ontsnap. 1

Sy toekomstige vrou, Anna Murray, wat ’n sogenaamde vry swarte (’n swart mens wat nie ’n slaaf was nie) was, het hom gehelp. Sy het vir hom van haar spaargeld gegee en gereël dat hy die dokumentasie van ’n vry swart matroos in die hande kry. 2 Hy het soos ’n matroos aangetrek en ’n trein New York City toe geneem. 3 Daar het hy vir ’n begin in die huis van David Ruggles, ’n bekende afskaffingsgesinde (in Engels: abolitionist), vrygegaan. 2

Anna Murray

Douglass en Murray, wat hom na New York gevolg het, het Bedford, Massachusetts, toe getrek. Hy het daar werk as handearbeider gekry. 3

Douglass word ’n aktivis

In 1841 het Douglass ’n vergadering van die Massachusetts Anti-Slawerny Genootskap bygewoon. Hy het ’n toespraak gehou waarin hy sy lewensverhaal vertel het. Hy het met soveel passie en welsprekendheid gepraat dat mense vasgenael was. 3

Mense soos William Lloyd Garrison, nóg ’n afskaffingsstryder, het hom aangemoedig om deel van die afskaffingsbeweging te word. 1

Douglass het gou die spreekbuis teen slawerny in Amerika geword. 3 Hy het deur die noordelike state van die VSA getoer om afskaffingstoesprake te lewer.

Hy is nie altyd vriendelik verwelkom nie. 3 In 1843, byvoorbeeld, is hy deur ’n skare in die deelstaat Indiana aangeval. Sy hand is in die insident gebreek en het nooit behoorlik gesond geword nie. 1

Frederick se kamer

Outobiografie

Douglass se outobiografie, The Narrative of the Life of Frederick Douglass, An American Slave: Written By Himself, is in 1845 gepubliseer. 5

Die boek was ’n sensasie. Dit was ’n topverkoper in Amerika en Europa. 3

Oorsese toer

Omdat Douglass nou so bekend was, was hy bang dat sy verknegters hom sou vind. Om dít te verhoed en ook om ondersteuning vir die afskaffing van slawerny in die buiteland op te bou, het hy op ’n toer na Engeland en Ierland gegaan. 3 Douglass het vir twee jaar in Europa gewoon en toesprake teen slawerny gelewer. 2

Sy ondersteuners het in hierdie tyd die Aulds gekontak en sy vryheid gekoop. 7 Daar was mense wat hom hiervoor kritiseer het, omdat hulle gesê het dat hy sodoende die idee van slawerny aanvaar. Douglass was egter te bang dat hy gevang sou word as hy terugkeer Amerika toe. 3

Met sy vryheid nou wettig, kon hy in 1847 na sy geboorteland terugkeer. 7

 

Afskaffing in die 1840’s en 1850’s

In die 1850’s was die afskaffing van slawerny ’n vuurwarm onderwerp in Amerika. Douglas was op die voorpunt van afskaffingsaktiwiteite. 3

Sy artikels het in koerante verskyn. In 1847 het hy sy eie afskaffingskoerant, North Star, begin uitgee. Die North Star se motto was: “Right is of no sex, truth is of no color, God is the Father of us all, and we are all brethren.” (Reg is geslagloos, waarheid is kleurloos – God is ons almal se Vader, en ons is almal broers.) 2 Die naam het in 1851 verander na Frederick Douglass’ Paper en is tot in 1860, kort voor die uitbreek van die Amerikaanse burgeroorlog, uitgegee. 1

Douglass was vir ’n rukkie met John Brown, ’n antislawernyfanatikus, vriende. Brown was by hom aan huis toe hy in 1858 sy berugte Harper’s Ferryaanval geloods het. Brown is gevang en tereggestel. 1 Voor die aanval het Brown vir Douglass probeer oortuig om ook deel te neem, maar Douglass het geweier. Hy was, nietemin, bang dat hy dalk aandadig gehou kon word, en het dus vir ’n rukkie in Kanada gaan skuil. 3

Lincoln en die Burgeroorlog

Die Amerikaanse Burgeroorlog, ’n stryd tussen die noordelike en suidelike deelstate oor die afskaffing van slawerny, het in 1861 uitgebreek. Douglass het aktief swart mans gewerf om aan die noordelike state se kant te veg. 8

Douglass het vir Abraham Lincoln, die Amerikaanse president, in Augustus 1963 ontmoet. Daar was aanvanklik groot wedersydse respek tussen die twee mans. 3 Die noorde het die suide in 1865 verslaan, en slawerny is dwarsoor Amerika afgeskaf. Douglass se steun vir Lincoln het egter afgeneem toe Lincoln nie ná die oorlog vir swart mense stemreg gegee het nie. 1

Hulle het later opgemaak, en hy was platgeslaan toe Lincoln in April 1865 in ’n sluipmoordaanslag gesterf het. 3

Abraham Lincoln

Ná die Burgeroorlog

Douglass het ná die Burgeroorlog polities aktief gebly. Hy het steeds toesprake gehou, nou oor onder meer die probleme wat die nuut geëmansipeerde slawe in die gesig gestaar het. 3

Hy was in ’n stadium ’n direkteur van die Freedman’s Bank. 6 In die laat 1870’s het hy verskeie regeringsposte onder Rutherford B. Hayes, die Amerikaanse president tussen 1877 en 1881, beklee. 4 Hy was onder meer die ambassadeur van die Dominikaanse Republiek, die eerste swart man wat so ’n pos in Amerika beklee het. 1 Terselfdertyd was hy ook ’n diplomaat in Haïti. 4

Douglass het in 1877 weer in verbinding getree met sy vorige eienaar Thomas Auld om oor die verlede te gesels, en Douglass het hom vergewe. 9

In 1888 het hy die eerste swart man geword wat ’n stem gekry het om president te wees. 1

Persoonlike lewe

Douglass het op 15 September 1838, kort ná hulle in New York City aangekom het, met Anna Murray getrou. 2 Hulle het in New Bedford, Massachusetts, gaan woon, waar daar ’n groot gemeenskap van vry swart mense was.

Hulle het vyf kinders gehad: Rosetta, Lewis Henry, Frederick jr., Charles Redmond en Annie, wat gesterf het toe sy 10 jaar oud was. Rosetta en Charles het later saam met hom aan The North Star gewerk.

Frederick en sy kleinseun, Joseph

Anna het in 1882 gesterf. Douglass het ná haar dood met Helen Pitts, ʼn wit vrou wat 20 jaar jonger as hy was, getrou. Dit was ’n omstrede troue vir daardie tyd, en sy kinders was ongelukkig daaroor. Hulle het getroud gebly tot hy 11 jaar later oorlede is. 2

Frederick en Helen Pitts
Frederick, Helen en haar suster, Eva

Douglas het op 20 February 1895 in Washington D.C. gesterf. 3

Frederick Douglass en sy vrou Helen Pitts Douglass se grafte

Nalatenskap

Douglass het ’n reeks outobiografieë geskryf, waarvan Narrative die bekenste is. Dit is nege keer herdruk en is in Frans en Duits vertaal. 4

Hy was ’n kampvegter vir vroueregte, en veral vir stemreg vir vroue. 2 Hy was ook ’n inspirasie vir die Amerikaanse Burgerregtebeweging van die 1960’s. 1 Sy dapperheid en passie maak hom vandag steeds ’n rolmodel vir duisende mense. 4

Frederick Douglass-gedenkbrug

Woordbank

aandadig Wanneer jy saam met iemand anders die skuld vir iets kry.
afskaffingsbeweging Die groep wat probeer het om slawerny in Amerika te vernietig.
afskaffingsgesinde Iemand wat teen slawerny geveg het.
ambassadeur Die hoofverteenwoordiger van ’n staat by/in ’n ander staat.
berugte Ongunstig bekend; met ’n slegte reputasie.
besielende Iemand vol moed/geesdrif maak; inspirerend.
bootseëler Iemand wat bote waterdig maak.
deelstaat ’n Staat wat deel vorm van ’n federasie.
diplomaat Iemand wat sy/haar land se belange in ’n ander land gaan opbou.
direkteur Persoon wat bestuur of beheer uitoefen, veral een van ’n groep persone (die direksie) wat die sake van ’n bedryf/maatskappy bestuur.
fanatikus Iemand wat baie sterk gevoelens oor iets het, in hierdie geval die afskaffing van slawerny.
geëmansipeerde Uit die slawerny losgemaak/bevry.
geestelik Dinge wat nie op aardse goed toegespits is nie en verband hou met hoe jy voel eerder as met jou liggaam en verstand.
geskoolde Iemand wat opgelei is en dus kennis en ervaring het.
handearbeider Iemand wat met hulle hande, eerder as met toerusting, werk.
Harper’s Ferryaanval ’n Poging van John Brown om ’n slaweopstand te begin deur ’n Amerikaanse arsenaal (plek waar die wapens bewaar word) te plunder.
intelligent Met ’n goeie verstandelike vermoë; skrander; skerpsinnig.
geloods Om met iets te begin.
omstrede Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
ongeskik Wanneer ’n persoon nie geskik is om iets te doen nie.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
plantasie Plase, spesifiek vir bome of plante.
skeepswerf Die plek waar bote en skepe gebou word.
sluipmoordaanslag Die moord van ’n bekende persoon wat gewoonlik in die geheim beplan is.
spreekbuis Iemand wat namens iemand anders of ’n groep praat.
tereggestel Om iemand met die dood te straf.
vasgenael Roerloos te sit en luister.
verknegters Iemand wat mense tot slawe maak.
wedersydse Van albei kante af.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Frederick Douglass

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Frederick Douglass

Die lewe van Frederick Douglass

Die lewe van slawe in Amerika

Swart Amerikaners en die Amerikaanse Burgeroorlog

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2024 | Bygewerk op 7 Maart 2024