Vinnige feite
- Die Slagtersnek-monument is geleë langs die N10 tussen Port Elizabeth en Cradock. 7
- Tydens die laaste geveg, kort voor Hans Bezuidenhout noodlottig gewond is, het sy vrou, Martha Bezuidenhout, gesien hoe haar man op sy perd klim, gereed om weg te jaag. Toe sy hom egter vra of hy haar en die kinders daar sou los om doodgemaak te word, het hy weer afgeklim en by haar gestaan. 7
- Wanneer mens historiese gebeure bestudeer, is dit belangrik om jouself te probeer indink in die leefwêreld van daardie tydperk. Om mense ná ’n gewapende opstand teen die regering te hang, was in daardie tyd heel normaal. 7
- By die teregstelling was daar nie net die deelnemers wat geforseer was om daar te wees nie, maar ook 300 militêre troepe, om te verseker dat daar nie probleme opduik nie. 7
- Hendrik Prinsloo was die seun van Marthinus Prinsloo, wat ná ’n opstand in 1798 teen die regering in die kasteel in Kaapstad opgesluit is. 4 Hendrik se bynaam was daarom Kasteel, om hom te onderskei van ’n ander Hendrik Prinsloo in die area. 7
- In D.J. Opperman se Joernaal van Jorik verwoord die verteller die breek van die toue by die teregstelling as volg: “En soos jy weet, my seun, die tou was vrot / waaraan die vier opstandiges moes hang; / party sê dis toeval, / maar ons sê dis God.” 4
Die Slagtersnek-rebellie was ’n opstand van ’n groep Kaapse oosgrensboere teen die Britse regering. Die hooffigure in die rebellie van 1815 was Freek Bezuidenhout, sy broer Hans en die vyf tereggesteldes. 1
Die gebeurtenis is bekend vir die manier waarop vyf van die rebelle op 9 Maart 1816 tereggestel is.
Agtergrond
In 1806 het Brittanje die Kaap by Nederland oorgeneem. In die jare wat daarop gevolg het, het die grensboere in die Oosgrensdistrikte ’n weersin begin opgebou teen die Britse owerheid. 2 Daar was verskeie redes daarvoor.
Een van die veranderinge wat saam met die Britse bewind gekom het, was ’n nuwe beleid oor vir die bruin en swart mense in die Kaapkolonie. Britse sendelinge het hulle beywer vir die regte van die Khoi-Khoin.
Die sendelinge het beweer dat die Khoi-Khoin deur die grensboere aan dwangarbeid onderwerp is, dat hulle magteloos voor die wet was, en dat daar meer as honderd Khoi-Khoin in een distrik alleen deur die boere vermoor is.
Die Britse regering het in 1812 ’n spesiale rondgaande hof (Kommissie van Regspleging) geskep om die klagtes aan te hoor. Die hof het uiteindelik niemand aan moord skuldig bevind nie. Die feit dat daar egter ’n hof was om die klagtes te ondersoek, het gemaak dat die grensboere gevoel het die Britte kies die Khoi-Khoin se kant bo hulle s’n. 3 Die Britte het ook begin om Khoi-Khoin en ander bruin en swart mense as soldate te gebruik. Dit was vir sommige grensboere totaal onaanvaarbaar. 2
Die grensboere was meestal relatief arm, en hulle was ook ongelukkig oor die gebrek aan bruikbare grond. Hulle was ongelukkig omdat die grense wat die Britte daargestel het, gemaak het dat hulle nie verder kon trek nie. 4
Hulle het boonop gevoel die Britte beskerm die swart groepe en nie die (wit) Christene nie. 4 Die verhouding tussen die grensboere en die Britse owerheid was teen 1815 baie swak. 3
Oorsake van die Slagtersnek-rebellie
Die naam Slagtersnek is ontleen aan die Britse handelaars van Grahamstad wat hier bymekaargekom het om die boere in die omgewing se slagdiere te koop.
Bezuidenhout het in hierdie stadium naby die huidige dorp Cradock gewoon.
In 1813 het ’n Khoi-Khoi-arbeider, Booi, ’n klag by die landdros (die plaaslike regter) teen sy werkgewer, Freek Bezuidenhout, ingedien. Booi het beweer dat Bezuidenhout sy lone teruggehou en hom ernstig aangerand het. 4 Bezuidenhout het op sy beurt beweer hy het Booi se lone teruggehou vir skadevergoeding omdat Booi glo van sy skape gesteel het. 5
Die hof het daarna vir Bezuidenhout dagvaardings gestuur om voor die hof te verskyn, wat Bezuidenhout geïgnoreer het. 3 Bezuidenhout moes byvoorbeeld op 5 Oktober 1815 voor die hof verskyn, maar hy het beweer hy kon nie omdat hy aan jig gelei het. 6 Die hof het geduld verloor en hom in sy afwesigheid tot ’n maand tronkstraf gevonnis. 7
Die owerhede het op 10 Oktober ’n paar Britse offisiere en 12 Khoi-Khoi-soldate, ook genoem pandoers, na sy huis gestuur om hom in hegtenis te neem omdat hulle vermoed het hy gaan homself verset. 4
Bezuidenhout het hulle gesien kom, en hy en sy basterseun Hans en ene Jacob Erasmus het in ’n spelonk gaan wegkruip, 8 maar ná ’n kort skermutseling is hy noodlottig gewond en die ander twee het oorgegee. 2
Die feit dat Bezuidenhout deur een van die Khoi-Khoi-soldate doodgeskiet is, het die situasie nog verder vererger. 2
Die verloop van die rebellie
Freek Bezuidenhout se begrafnis was twee dae later. 5 Sy broer Johannes Jurgen (ook Hans), het by die begrafnis wraak gesweer. Hy het saam met Hendrik Prinsloo ’n paar dosyn grensboere oortuig om in opstand te kom teen die Britse owerheid. 3 Hulle het die Britse regeerders “Godvergete tiranne en skelms” genoem, gesê hulle kon nie meer die “swaar laste en onreg” van die Britse owerheid verduur nie, en dat die burgers hul land “weer vry moes veg”. 2
Die rebelle se plan was om ’n Britse militêre pos aan te val om ammunisie te kry. Hulle het probeer om die hulp van die Xhosa-opperhoof, Gaika (ook Ngqika genoem), te kry, sodat hulle meer militêre poste kon aanval.
Bezuidenhout was in hierdie stadium só ongelukkig met die Britse owerheid dat hy selfs bereid was om groot dele van die Zuurveld vir Gaika aan te bied as vergoeding vir hul hulp teen die Britte. 2 Hierdie poging was egter nie suksesvol nie, want Gaika het nie belanggestel nie.
Die Britte het dit reggekry om Hendrik Prinsloo in hegtenis te neem, sodat hy nie nóg mense kon oorreed om deel te neem aan die opstand nie.
Die rebelle het op 18 November by Slagtersnek bymekaargekom. 1 In totaal was daar omtrent 60 rebelle. 4 Hulle is daar gekonfronteer deur 40 soldate en omtrent 30 burgers wat lojaal aan die owerheid was. 2
Sommige rebelle het oorgegee. Party het gevlug, maar is agternagesit en gevang. Hans Bezuidenhout, sy vrou Martha en sy elfjarige seun Gerrit het aanhou veg. Sy vrou en seun is lig gewond, maar Hans is noodlottig getref en het daardie nag gesterf. 2
Die opstand was ’n totale mislukking. 3
Die hofsaak en teregstelling
Die hofsaak het op 15 Desember 1815 in Uitenhage begin, en die vonnisse is op 22 Januarie 1816 uitgespreek. 7
’n Paar van die rebelle is vrygelaat, maar 39 is op die ou end gevonnis. Die meeste is verban, meestal na Robbeneiland toe. Ses van die rebelle is egter tot die dood veroordeel. 7 Hulle was Hendrik Prinsloo, Cornelis Faber, die broers Stephanus en Abraham Botha, Theunis de Klerk en Willem F. Krugel. Krugel is egter deur die Kaapse Goewerneur begenadig omdat hy waardevolle diens gelewer het tydens die Vierde Grensoorlog. Hy is wel lewenslank uit die oosgrensdistrikte verban. 2
Die openbare teregstelling van die rebelle het op 9 Maart 1916 plaasgevind. 2 Dit was ’n grieselige affêre …
In die eerste plek is Willem Krugel en van die ander skuldiges wat nie tot die dood veroordeel is nie, deur die hof beveel om die teregstelling by te woon met toue om hulle nekke. Dit sou hulle blykbaar help om beter te konsentreer op hul toekoms. 7 Die gesinslede van die gevonniste rebelle is ook gedwing om toeskouers te wees. 3
Die laksman (die persoon wat die misdadigers wat tot hul straf veroordeel is, moet doodmaak) en sy swart assistant het van George af gekom, maar hy het net een tou gebring, want hy het gedink hy moes net een mens hang. Die landdros kon nie nuwe tou in Uitenhage in die hande kry nie, en moes dus ou, verweerde toue gebruik het vir die ander vier.
Hulle het dié ou toue dubbeld om die mans se nekke gehang. Toe hulle egter gehang is, het die vier ou toue gebreek. Dit is nie bekend wie dood is en wie geval het nie. 3 Dié wat geval het, het na die landdros wat daar teenwoordig was, gehardloop en gesmeek om hul lewens te red. Hy het egter nie die mag gehad om hulle te begenadig nie. Hulle is toe weer gehang, blykbaar een vir een met die sterk tou. 2
Afloop en gevolge
Die tragiese gebeure het gedien as afskrikmiddel vir ontevrede burgers. Dit het ook die idee versterk dat gewapende verset teen die owerheid nie suksesvol sou wees nie. 2
Die opstand het nooit massa-ondersteuning gehad nie. Sommige grensboere het wel simpatie gehad met die rebelle se saak, want hulle was ook ongelukkig oor die Britte se beleid teenoor swart mense. Dit beteken egter nie hulle het die rebelle se optrede goedgepraat nie. Ander het weer die regering gehelp om die opstand te onderdruk. 3
Die Rebelle van die Slagtersnek-rebellie was nie helde nie. Dit was maar ’n paar ontevrede grensboere, wat in elk geval nie wetsgehoorsame burgers was nie. Indien hul saak geregverdig was, sou meer mense hulle bygestaan het. 2 Die manier waarop hulle tereggestel is, het egter van die rebelle martelaars gemaak, en die gebeurtenis het bekendheid verwerf vir die teregstelling, eerder as die saak waarvoor hulle geveg het. 4
Die langtermyngevolge van die Slagtersnek-rebellie was nie langdurig of blywend nie. Met die aanvang van die Groot Trek twintig jaar later het geen van die deelnemers dit as rede vir hul trek gebruik nie. 2
Woordbank
baster | ’n Kind wie se ouers tot verskillende rasse behoort; persoon van gemengde bloed. |
beywer | Jou inspan. |
dwangarbeid | Werk wat onder dwang gedoen moet word. |
geregverdig | Billik, gegrond, redelik. Iets wat op goeie gronde berus. |
jig | Siekte wat tot pynlike gewrigsontsteking lei. |
magistraat | Amptenaar van die laer hof wat regspreek. |
opstand | Verset op ’n groot skaal. |
skadevergoeding | Vergoeding in geld (of goed) van skade wat gely is. |
skermutseling | ’n Klein, onbeslissende geveg. |
spelonk | Grot. |
tereggestel | Om die doodstraf aan iemand te voltrek. |
verban | Iemand dwing om ‘n land/plek vir goed te verlaat en op ‘n ander plek te gaan woon. |
vergoeding | Kompensasie. |
verset | Teenstand of weerstand. |
verweerde | Iets wat vergaan of verbrokkel het. |
weersin | Afkeer of teësin in iets of iemand. |
wetsgehoorsaam | Iemand wat die wet gehoorsaam. |
affêre | Gedoente. |
beweer | Sê dat dit so is (of jy dit kan bewys of nie). |
martelaars | Persoon wat doodgemaak word om ‘n oortuiging. 9 |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Slagtersnek-rebellie
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Slagtersnek-rebellie
Lord Charles Somerset en Slagtersnek
Britse oorheersing 1800