Vinnige feite

  • Geoffrey van Monmouth se History of the Kings of Britain was in die Middeleeue in Brittanje die tweede gewildste boek, naas die Bybel. 2
  • Al was daar werklik geen bewyse dat hy bestaan het nie, het Britse monarge van Hendrik III tot koningin Victoria vir Arthur gebruik om hul politieke posisies te versterk. 8
  • Historici probeer al vir jare vasstel waar Camelot moontlik kon wees, maar daar is geen onaanvegbare bewyse nie.
  • Guinevere se naam in verskillende stories was al Ganhumara, Gwenevere, Guenevere, Guenievre, Guenhumare, Ginevra, Gwenhwyfar of Jenefer. 13
Foto: iStock

Koning Arthur is een van die beroemdste mitologiese figure in die geskiedenis. Daar is al dosyne boeke, flieks en televisiereekse oor hom gemaak.

Die storie van koning Arthur is só bekend dat party mense dink dat hy werklik gelewe het. Ons het ongelukkig geen definitiewe bewyse daarvoor nie. Koning Arthur is ’n legende wat oor eeue heen deur skrywers, digters en storievertellers opgemaak is.

Historiese agtergrond

Om te verstaan hoe iemand soos Arthur geskep kon word, moet ’n mens eers kyk na die historiese tyd waarbinne die Arthur-legendes ontstaan het.

Engeland is in 43 deur die Romeinse Ryk beset. Vir die volgende om en by 400 jaar het Romeinse beheer stabiliteit en vrede na Engeland gebring. 1 Die Romeine het Engeland in 410 verlaat, waarna die tydperk bekend as die Middeleeue begin. Vroeë Middeleeuse Engeland was ’n ellendige plek. Stamoorloë, onruste, hongersnood, siekte, moord en doodslag was aan die orde van die dag. 2 Engeland is boonop in die vyfde eeu deur die Sakse, ’n Germaanse stam uit sentraal Europa, ingeval. 3

Met hoe chaoties alles was kan ’n mens verstaan dat die Engelse wou vasklou aan die idee van ’n sterk, goeie koning wat vrede en vooruitgang sou bring. 4

Tydgenootlike bronne

In tydgenootlike geskrifte is daar ’n paar verwysings na persone wat moontlik die inspirasie vir Arthur kon wees:

  • Sommige bronne noem dat die Britte in die laat vyfde of vroeë sesde eeu ’n oorwinning oor die Sakse by die slag van Badon Hill behaal. Die Britte is deur ’n dapper koning gelei, maar hy word nie by naam genoem nie. 5
  • Ander bronne noem ’n leier, Ambrosius Aurelianus. Dit is moontlik ’n Latynse weergawe van Arthur se naam. Dit is ook moontlik dat Arthur nie Ambrosius was nie, maar eerder die aanvoerder van Ambrosius se troepe. 5
  • Rondom die jaar 600 het die Walliese digter Aneirin ’n historiese karakter genaamd Arthur in sy gedig Y Gododdin genoem. 6 Die naam verskyn net eenmaal, wanneer ’n karakter vir sy dapperheid geprys word, maar, word daar bygevoeg: “Hy was nie [so dapper soos] Arthur nie!” 7

Nennius se History of the Britons

In die negende eeu het Nennius, ’n Walliese monnik, History of the Britons geskryf. Dit beskryf 12 veldslae waarby Arthur betrokke was, en beeld Arthur as ’n onverskrokke en prysenswaardige leier uit. 6

Daar is egter twee probleme met die historiese akkuraatheid van die teks:

  • Dit sou vir Arthur logisties onmoontlik gewees het om by al 12 veldslae te kon wees
  • Die besonderhede van die veldslae is oorgeneem uit vroeëre Walliese gedigte. 8

Nietemin is hierdie boek deur latere skrywers as die grondslag vir die verhaal van Arthur gebruik. 6 Ná Nennius het al hoe meer mense begin glo dat Arthur wel gelewe het en ’n Britse held was. 2

Monmouth se History of the Kings of Britain, 1136

In 1136 het Geoffrey van Monmouth, ’n Walliese priester, se boek History of the Kings of Britain verskyn. Hy het beweer dat sy storie op antieke Britse bronne gebaseer was, maar kon nooit vir iemand die antieke bron wys nie. Dit is meer waarskynlik ’n samestelling van Walliese volksverhale en sy eie vrugbare verbeelding. Dit is in elk geval nie ’n histories akkurate dokument nie. 1

Nietemin, hierdie boek het die breë trekke van die storie van Arthur soos ons dit vandag ken, gevestig. 6

Die Arthur in sy storie is ’n sterk leier en oorwinnaar – ’n leier in vrede én oorlog. 9

Monmouth se storie bevat die volgende elemente:

  • Die towenaar Merlyn het by Tintagel-kasteel vir koning Uther Pendragon vermom om te lyk soos Gorlois, die hertog van Cornwall. Dit is sodat Uther die nag met Gorlois se vrou, Ygerna (soms ook Igraine) genoem, kon deurbring. 1 Nege maande later is ’n seun, Arthur, gebore. 10
  • Arthur het op 15-jarige ouderdom die troon geërf, en die Britons tot ’n groot oorwinning oor die Sakse gelei. Arthur het daarna sy ryk uitgebrei. 10
  • Arthur het met Ganhumara, 1 vandag meer bekend aan haar Franse naam, Guinevere, getrou. 8
  • Arthur is omring deur sy vriende, die ridders Kay, Bedevere, Lot en Gawain. 1
  • ’n Towerswaard genaamd Caliburn (wat later Excalibur geword het). 8
  • Arthur word deur Mordred, sy neef, verraai en daarna dodelik gewond. Geoffrey van Monmouth se Arthur was byvoorbeeld ’n sterk leier, maar ook ’n onaangename, gewelddadige psigopaat. Dit was maar hoe leiers in die vroeë Middeleeue was, maar teen die 12de eeu was sulke gedrag nie meer aanvaarbaar nie.
  • Hy word deur die towenares Morgan le Fay, sy halfsuster, na die eiland Avalon geneem om van sy wonde te herstel. 2

Die storie brei uit

Die storie is in die 11de en 12de eeu honderde kere in dosyne tale oorvertel. 11 Dit is elke keer meer gemoderniseer.

Geoffrey van Monmouth se Arthur was byvoorbeeld ’n sterk leier, maar ook ’n onaangename, gewelddadige psigopaat. Dit was maar hoe leiers in die vroeë Middeleeue was, maar teen die 12de eeu was sulke gedrag nie meer aanvaarbaar nie. 10

Die invloedrykste van hierdie vertellings word hierna bespreek.

Chrétien de Troyes

Die Franse digter Chrétien de Troyes het in die 12de eeu die volgende bygevoeg:

  • Sir Lancelot en sy verhouding met Guinevere. 12
  • Camelot, Arthur se koningryk.
  • Die Heilige Graal, die houer of beker wat Jesus by die Laaste Avondmaal gebruik het.
  • Viviane, ’n feëkoningin en die sogenaamde Dame van die Meer. 2

Sir Thomas Malory

Sir Thomas Malory, wat rondom 1470 geskryf het, het die beroemde Arthuriaanse werk Le Morte d’Arthur) (of Darthur) geskryf, die eerste boek oor Arthur in Engels. Hy die volgende bygevoeg:

  • Die Swaard in die Steen. 2
  • Die tema van hoofse liefde. 4

Lord Alfred Tennyson

Tennyson was ’n Engelse digter. Hy het in die tweede helfte van die 1800’s Idylls of the King, die storie van Camelot in heldedig, geskryf. 6 Hy het die volgende gewild gemaak:

  • Die liefdesdriehoek tussen Arthur, Lancelot en Guinevere, wat die Ridders van die Ronde Tafel uitmekaar skeur.
  • Die idee dat Merlyn vir Arthur in ’n grot weggesteek het as kind, om hom te beskerm van sy pa se vyande. 2

Die legende van koning Arthur

Daar is letterlik honderde weergawes van die legende van koning Arthur. Die volgende is hoe een (van menigte) stories oor Arthur kan klink.

Die towenaar Merlyn reël dat Uther Pendragon en Ygerna een nag saam deurbring, op voorwaarde dat die kind aan hom gegee word.

Dit gebeur ook so. Merlyn neem die kind en gee hom vir sir Hektor om saam met Hektor se seun, Kay, grootgemaak te word.

Toe hulle ouer is, gaan Arthur eendag saam met Hektor en Kay na ’n toernooi. Arthur vergeet egter Kay se swaard by die huis. Hy vind een in ’n klip in die woud, en neem dit saam. Sonder sy medewete is dit die beroemde en mistieke Swaard in die Steen, wat slegs deur die ware koning van Brittanje uit die klip getrek kan word.

Op hierdie oomblik kom Merlyn terug en vertel vir Arthur die waarheid. Merlyn help Arthur om teen die ander edelmanne wat die troon wil hê, te veg. Die Swaard in die Steen word tydens hierdie geveg gebreek. Merlyn bring Arthur na ’n mistieke meer, waar die Dame van die Meer vir hom ’n nuwe swaard, Excalibur, gee.

Arthur trou hierna met Guinevere en vestig sy hof in Camelot.

Sy ridders vergader rondom hom, maar veg oor wie die belangrikste is. Om dit te keer, aanvaar hy ’n present van ’n ronde tafel van sy skoonpa. Almal by hierdie tafel is gelyk, en is deel van die Ridders van die Ronde Tafel.

Intussen kom Lancelot van die Meer, ’n Franse ridder en kryger sonder gelyke, daar aan. Hy het die stories van Arthur se grootsheid gehoor en wil by hom aansluit. Hy en Arthur word beste vriende, maar hy raak ook verlief op Arthur se vrou, Guinevere. Lancelot en Guinevere begin ’n verhouding agter Arthur se rug.

Intussen het Arthur en sy ridders allerhande avonture. Die grootste avontuur is die soeke na die Heilige Graal. Hierdie soektog kan net voltooi word deur ’n ridder met ’n suiwer hart, en daardie persoon is Galahad, die seun van Lancelot. By ’n ander geleentheid word Guinevere ontvoer en moet teruggewen word. Daar is verhale met drake, onsigbare geeste, ’n heilige put, helde en booswigte.

Arthur is ’n goeie, eerbare koning. Dit is, tot sy neef Mordred hom vertel van Lancelot en Guinevere se verhouding. Mordred daag hom ook tot ’n geveg uit om te kyk wie mag regeer.

In die laaste geveg maak Arthur vir Mordred dood, maar word self ernstig beseer. Guinevere gaan woon in ’n klooster, en Lancelot word ’n kluisenaar. Al die ander belangrike ridders sterf. Sir Bedevere help vir Arthur van die slagveld af en gooi vir Excalibur terug in die meer. Na die swaard teruggegee is, sterf Arthur en word hy op ’n skip na die eiland van Avalon weggeneem. 5

Waarom is Arthur-legende bekend?

Daar is ’n rede waarom die Arthur-legende deur die eeue heen gewild gebly het. Die stories bevat temas, idees en konsepte wat jou verbeelding aangryp, of jy nou ’n Middeleeuse kleinboer of ’n 21ste eeuse tiener is.

Dit sluit in:

  • Die wonder van hoofse liefde.
  • Towerkuns.
  • Dapperheid.
  • Karakters wat foute maak, maar waarvoor mens steeds deernis het.
  • Helde wat die onmoontlike verrig. 2
  • Die goeie wat die slegte oorwin.
  • Daar is altyd hulp vir mense in nood.
  • Goeie mense en geregtigheid word beloon. 5

Moderne weergawes van Arthur-legendes

Net sedert 1950 het daar al talle weergawes van die Arthur-verhaal verskyn. Van die bekendstes sluit in:

  • The Once and Future King, ’n 1958-roman van T.E. White. 2
  • The Mists of Avalon, ’n 1982-roman van Marion Zimmer Bradley. Dit vertel die storie uit die oogpunt van die vroulike karakters. 6
  • Camelot, ’n 1960’s-musiekblyspel met Richard Burton. In 1967 verskyn die filmweergawe hiervan met Richard Harris.
  • Monty Python and the Holy Grail, ’n 1975-film met John Cleese. Die musiekblyspel wat daarop gebaseer is, Spamalot, word die eerste keer in 2004 opgevoer.
  • Excalibur, ’n 1981-film met Helen Mirren.
  • First Knight, ’n 1995-flim met Sean Connery.
  • Merlin, ’n 1998-televisiereeks met Sam Neill.
  • King Arthur, ’n 2004-film met Clive Owen.
  • Merlin, ’n 2008 BBC-televisiereeks.
  • King Arthur: Legend of the Sword, ’n 2017-film met Jude Law en Charlie Hunnam in die hoofrol. 6
  • The Green Knight, ’n 2021-film met Dev Patel. 2

Woordbank

aan die orde van die dag Iets is ’n algemene verskynsel.
antieke Baie oud; uit die ou tyd.
breë trekke Die belangrikste deel of dele van iets.
deernis Om jammer te voel oor iemand anders se swaarkry; diep meegevoel en simpatie.
geregtigheid Hoedanigheid wat ’n mens in staat stel om reg aan ’n ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid.
grondslag Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament.
heldedig Die verhaal van ’n grootse figuur wat heldedade uitvoer, in digvorm.
hertog In die adellike hiërargie van baie lande van Europa, edelman van die hoogste erflike rang onder dié van prins en bo dié van markgraaf of markies.
historiese akkuraatheid Hoe seker ons is dat iets werklik in die verlede gebeur het.
hof Die plek waar ’n koning woon en werk.
hoofse liefde Die idealistiese manier hoe adellike mense verlief raak, gewoonlik in boeke of gedigte.
klooster Gebou waar monnike of nonne woon.
kluisenaar Iemand wat alleen woon en hom/haar van ander mense afsonder.
legende Verhale wat deur oorlewering van geslag tot geslag vertel word.
logisties Wat te doen het met die beplanning van ’n veldslag, insluitende waar dit afspeel, hoe troepe en voorrade vervoer word, en so meer.
Middeleeue Tydvak tussen die oud en nuwe tyd, ongeveer tussen die jaar 476 tot 1492.
mistieke Geheimsinnigheid; verborgenheid; raaiselagtigheid.
mitologiese Tradisionele, voorhistoriese verhale, dikwels oor bonatuurlike mense of gedaantes; godeleer; fabelleer.
gemoderniseer Modern maak deur aan te pas tot die jongste of nuutste smaak of styl.
monnik Dit is ’n man wat hom aan die wêreld onttrek en hom saam met ander in ’n klooster heeltemal aan die godsdiens wy.
onaanvegbare Iets wat beslis waar is.
onverskrokke Dapper, glad nie verskrik wees nie.
psigopaat Iemand wat wreed en aggressief optree en geen berou daaroor toon nie.
tema Hoofgedagte.
toernooi Middeleeue sport waar ridders te perd met lanse teen mekaar meeding.
tydgenootlike Iemand wat in dieselfde tyd as ’n ander mens of gebeurtenis geleef het.
vermom Om die manier hoe iemand lyk, te verander, sodat daardie persoon nie herken kan word nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Koning Arthur

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Koning Arthur

Die legende van koning Arthur

Brittanje van Romeinse tot Sakse beheer

Hoe het ’n ridder in Arthur se tyd gelyk?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2024 | Bygewerk op 27 Februarie 2024