Vinnige feite

Adam Kok III
  • Kok se vrou, Donna Gogosathe, se pa se naam was die stamnaam van die Griekwa: Charigurikwa. 3
  • Kok se seun Cornelis Kok, sy kleinseuns Cornelis Kok II en Adam Kok II, en Adam Kok III, het diep spore in die geskiedenis van Griekwaland getrap.
  • Die Griekwas is die eerste groep mense wat in redelik groot getalle noord van die Oranjerivier gaan woon het, en het min of meer ’n Westerse leefstyl geleef. 6
Foto: iStock

Adam Kok I (ongeveer 1710-1795), was die eerste van ’n reeks Griekwaleiers met hierdie naam. Terwyl die meeste inwoners van die Kaapkolonie in die 18de eeu in en rondom Kaapstad gewoon het, het daar deur die loop van die eeu ’n mengelmoes van mense na die noord- en noordoosgrens van die kolonie getrek.

Om te oorleef, moes hulle vir hulself sorg, en met hul eie krag en inisiatief klaarkom. Die grens was só oop dat daar niks standvastig of stabiel was nie. Met die tyd het daar natuurlike leiers en kleurryke figure na vore getree. Een só leier was Adam Kok. 1

Adam Kok was die stigter en eerste leier van die Griekwas, ’n groep mense wat uit hierdie mengelmoes gevorm is, en wat in die tweede helfte van die agtiende eeu ’n samelewing wou bou buite die Kaapkolonie se grense.

Kok se beginjare

Adam Kok is na bewering in 1710 in die Kaap de Goede Hoop gebore. Die Kaap was toe ’n kolonie van die Verenigde Oost-Indische Compagnie (VOC) was. Adam is as ’n slaaf gebore – sy ouers was ’n onbekende wit man en ’n slavin. As slaaf het hy as kok gewerk, en dis waarskynlik waar sy familienaam (Kok) vandaan kom. 2

Êrens voor die middel van die eeu het hy sy vryheid gekry. 3 Hy het ’n energieke, kragtige persoonlikheid gehad wat mense uit verskillende oorde na hom toe aangetrek en rondom hom begin vergader het.

Een groep was die sogenaamde Basters (‘Bastaards’ in Hollands). Hulle was ’n mengsel van Europeërs, slawe – beide vry slawe (wat vry swartes genoem is) en slawe wat weggeloop het – en Khoi-Khoi. 4 Tussen hulle was daar wit mans wat van hul land weggedryf was, of wat diensplig in die kommando’s wou vryspring. 5 Die Khoi-Khoi was mense wie se eie stamme verbrokkel het, maar wat nie vir die wit boere wou werk nie. 6

Die Basters het Nederlands gepraat, en hul kleredrag, wapens en baie aspekte van hul leefstyl was dieselfde as die wit Trekboere. 6 Hulle kon perdry en met gewere skiet. 4 Hulle het in klein groepies op die grense van die kolonie ’n bestaan gemaak as jagter-versamelaars, veeboere en selfs veediewe. 6

Hulle het nie regtig by enige groep in die Kaap gepas het nie. Daarom het hulle getrek op soek na grond wat hulle hul eie kon noem, weg van wit oorheersing. 6

Vestiging by Piketberg

Rondom die middel van die 18de eeu het Kok en sy volgelinge noordwaarts getrek, en hulle gevestig waar Piketberg vandag is. Daar het hulle op die plaas Stinkfontein, wat aan die VOC behoort het, weiregte – met ander woorde hul vee kon daar wei – gekry, en hulle het begin boer. 5

Hier het daar deur die jare nog mense by Kok se familiegroep aangesluit – van die Khoi-Khoi groepe soos die Goringhaikwa en Gorachoukwa, asook Namakwas, en nóg Basters. 2

Die Kaapse regering het vir Kok amptelik as die leier van sy mense erken en hom die titel kaptein gegee, 5 asook ’n ampstaf – ’n stok of kierie wat simbool is van iemand se gesag – aan hom oorhandig. 2 Sy teenwoordigheid op die noordgrens was vir die VOC voordelig, want hy was ’n buffer – oftewel beskerming – tussen die kolonie en die Khoi-Khoi-groepe. 5

Kok en sy mense het nou kontak met die wit mense behou, en die verhouding was vriendelik. Deur ruilhandel met die Khoikhoi het hulle, en veral Kok self, groot troppe veë opgebou. 2

Noordwaartse uitwyking

Die Kaapkolonie se grense het egter aanhou uitbrei, en Kok en sy volgelinge is gedwing om weer te trek. Hulle is oor die Cederberge en Kamiesberg in die sentrale Karoo in, en toe noord tot naby die Oranjerivier. 5 Hul leefwyse was in hierdie stadium baie dieselfde as die wit Trekboere op die oosgrens. Tog, hulle het deurentyd hul vriendskap met die Kaapse owerheid gehou.

Hulle het begin olifante jag sodat hulle met die ivoor kon handel dryf. 1 Hierdie jagtogte het hulle geneem tot anderkant die Oranjerivier – hulle het selfs ’n buitepos by Pella, naby aan die huidige Namibiese grens, gestig. Kok se jagters het die sterk fonteine by Klaarwater en ander plekke in die streek wat later as Griekwaland-Wes sou bekend staan ontdek. 2

Die Griekwas

Hoewel Kok die stigter van die Griekwas was, is hulle in sy leeftyd nie só genoem nie. Kok het in 1795, kort nadat hy die kapteinskap aan sy seun, Cornelis Kok, oorgedra het, gesterf. 2 Cornelis Kok was, soos sy pa, bekend en algemeen gewild, nie net onder sy eie volgelinge nie, maar ook die Khoi-Khoi, San en die sendelinge. 2

In 1813, op aanbeveling van die sendeling John Campbell, het hulle naam na Griekwas verander, om hulle te onderskei van die ander groepe in die omgewing. Hulle het ook hul hoofstad, Klaarwater, hernoem na Griekwastad. 1

John Campbell

Persoonlike lewe en nalatenskap

Volgens oorlewering is Adam Kok I in die 1750’s met Donna Gogosathe, 5 die dogter van die Khoi-Khoi-hoofman Charigurikwa, getroud. 3 Hulle het talryke afstammelinge gehad. 2

Kok was ’n intelligente en uitgeslape leier. Hy was ’n man van aansien en invloed, nie net onder sy eie mense nie, maar ook onder naburige groepe soos die Khoi-Khoi, San en Koranas, en die wit koloniste. 2

Woordbank

buffer ’n Land, groep of persoon wat ‘n botsing tussen ander keer.
inisiatief Ondernemingsgees, leiding, leidinggewing; aanvoorwerk, beginwerk.
jagter-versamelaars Jagter-versamelaars is gemeenskappe wat die meeste van of al hul kos kry deur wilde diere te jag en wilde plante te versamel.
staf ’n Versierde stok/kierie wat ‘n belangrike persoon tydens ‘n seremonie gebruik as teken van waardigheid/gesag.
uitgeslape Slim, geleerd, wakker, oplettend. 7

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Oktober 2022 | Bygewerk op 10 November 2023