Vinnige feite

  • Ford het glo die uitvinder Thomas Edison se laaste asem in ʼn proefbuis opgevang. Die proefbuis is steeds te sien by die Henry Ford-museum in die VSA. 19
  • Net toe Ford gereed was om die Quadricycle vir sy eerste rit te vat, het hy besef die Quadricycle is groter as die motorhuisdeur. Hy het ʼn byl gegryp en die muur en raam van die deur stukkend gekap sodat die voertuig deur die opening kon gaan. 11
  • Die Empire State-gebou met sy 102 verdiepings was op sy tyd die hoogste in die wêreld. In 1965 het Ford ʼn Mustang op die uitsigdek op die 86ste verdieping van hierdie gebou geplaas. Die motor is in vier verskillende dele met ʼn hysbak na bo geneem. Dit was só legendaries dat dit in 2015 herhaal is met Mustang se 50ste herdenking. 25
  • Henry Ford was een van die eerste werkgewers wat bereid was om gestremde persone in diens te neem. Meer as 20% van Ford Motor Company se werknemers in 1919 was blind, doof of het ledemate in ʼn oorlog of ongeluk verloor. 26
  • Ford was in ’n stadium, naas die oliemagnaat D. Rockefeller, die VSA se rykste mens. Hoewel Ford se aandeel ná sy afsterwe gedaal het, maak die maatskappy se sukses hom steeds een van die VSA se rykste mense in die geskiedenis. 27
  • Ford was ’n uitvinder van formaat. Een van sy ontwerpe was ’n motor van plastiek waar die panele van sojabone gemaak is. Met hierdie ontwerp wou hy voertuie nóg goedkoper en ligter maak. Die Tweede Wêreldoorlog het hierdie projek tot ’n einde laat kom. 27
  • Die Fortune-tydskrif het Henry Ford in 1999 as die sakeman van die twintigste eeu aangewys. 8
  • Selfs toe hy jonk was, was Ford se helde altyd dié mense wat met hul hande geskep het. Greenfield Village, die dorpie wat hy gerestoureer het, was ʼn soort pretpark wat die eenvoudige waardes van die lewe uitgebeeld het: die buitelewe en om met ’n mens se hande te werk. 28
  • Een van Henry Ford se bekendste sêgoed oor die Model T was: “Klante kan ʼn motor in enige kleur kry wat hulle wil hê, solank dit swart is.” Die Model T is slegs in swart vervaardig omdat die monteerband so doeltreffend as moontlik moes wees, terwyl die gehalte steeds goed was. Verskillende kleure sou beteken dat daar ʼn breuk moes wees in die monteerband: dit sou beteken die motors sou duurder wees, meer personeel en meer toerusting sou nodig wees, en die proses sou baie meer ingewikkeld wees. 29
  • Die logo (kenteken of handelsmerk) wat die Ford Motor Company (vandag bekend as Ford) gebruik, is gebaseer op Henry Ford se handtekening. 30
  • Volgende keer as julle met houtskoolbrikette braai, kan jy gerus ook aan Henry Ford dink. In die tyd wat Henry ʼn saagmeule aangeskaf het om die vereiste hout te verskaf om motors te bou, het hy gesien daar is baie afval in die meule – houtstompe, saagsels en stukkies afvalhout. Sy liefde vir die natuur het beteken dat hy graag iets hieraan wou doen. Gelukkig het ʼn wetenskaplike van die Oregon-Universiteit reeds met ʼn eenvoudige manier vorendag gekom om met chemikalieë houtskoolbrikette te maak. Ford Charcoal Briquettes is by handelaars landwyd verkoop as ʼn “brandstof met honderd gebruike”. Gou was daar egter een gebruik waaroor almal dol was: met die vryheid wat Ford-motors mense gebied het om ver afstande af te lê, het Ford piekniekmandjies aangebied, tesame met ʼn rooster en die maatskappy se eie houtskoolbrikette. Dit was gou baie gewild en is vandag nog steeds in gebruik by enige Saterdagbraai. 31
  • In 2019 het die fliek Ford v Ferrari verskyn met Matt Damon en Christian Bale in die hoofrolle: In 1963 maak die Ford Motor Company se adjunkpresident, Lee Iacocca, ʼn voorstel aan Henry Ford II (Henry se kleinseun) om die sukkelende Italiaanse sportmotorvervaardiger Ferrari oor te koop. Dit sou moontlik ʼn hupstoot wees vir hul plaaslike verkope deur Ferrari se deelname aan die Le Mans – ʼn wedren wat oor 24 uur plaasvind. Eienaar Enzo Ferrari gebruik egter Ford se aanbod om ʼn beter ooreenkoms met Fiat te beding. Ferrari beledig op só manier die Ford Motor Company, Iacocca en Ford II. Ford gee sy resiesmotor-afdeling opdrag om ʼn motor te bou wat die Ferrari by die Le Mans sou kon klop. Die Amerikaanse motorontwerper Carroll Shelby en bestuurder Ken Miles kom aan boord en bou ʼn revolusionêre resiesmotor sodat Ford moontlik as wenner uit die stryd kan tree. 32
Foto: iStock

Dink aan al die lekker dinge wat jy oor ʼn naweek kan doen. Dink nou net hoeveel minder jy gedoen sou kon kry as ʼn naweek net een dag lank was! Voor die motorvervaardiger Henry Ford ʼn 40 uur-werksweek vir sy werknemers ingestel het, was ʼn naweek nét een dag lank. Dis nou as jy so gelukkig was om ʼn baas te hê wat jou enigsins ʼn blaaskans wou gee!

Henry Ford het egter soveel meer vir die mensdom beteken as net twee dae se rus ná vyf dae se harde werk. Deur betroubare voertuie bekostigbaar vir Jan Alleman te maak, het die wêreld kleiner geword: nou het dit nie meer ses dae geneem om met ʼn perdekar iewers te kom nie. Families kon oor naweke maklik oor-en-weer kuier omdat dit nie meer so lank gevat het om na mekaar toe te reis nie.

Henry het ook ʼn plan ontwikkel waar elke werker ʼn klein takie moes verrig om iets groots aanmekaar te sit. Sy idee het dit moontlik gemaak om motors in groot getalle te vervaardig – ʼn plan wat vandag nog in fabrieke wêreldwyd gebruik word.

Dít, en nog baie meer, is moontlik gemaak deur ʼn plaaskind wat wou weet hoe horlosies en enjins nou eintlik werk …

Kinderjare

Henry Ford is op 30 Julie 1863 op ʼn plaas in Michigan in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. Sy pa, William Ford (1826-1905), het saam met sy familie van Ierland na die VSA geëmigreer. Sy ma, Mary Litogot (1839-1876), is in Michigan gebore en was die jongste kind van Belgiese immigrante. Albei haar ouers is oorlede toe sy nog klein was en sy word deur die bure, die O’Herns, aangeneem en grootgemaak. 1

Henry is die oudste van vyf kinders: Margaret (1867-1938), Jane (1868-1945), William (1871-1917) en Robert (1873-1934). 1

Henry se pa, en oupa aan sy ma se kant (Patrick O’Herns), het van kleins af ’n liefde vir die natuur by hom aangewakker. Sy ma het hom ook só goed leer lees dat hy, teen die tyd dat hy op 11 Januarie 1871 skool toe is, reeds vlot kon lees! 2

Henry was egter nie baie lief vir boeke nie. Sy belangstelling het by meganika gelê en masjiene was sy biblioteek. In 1873 verander hy van skool en begin om die Miller-skool, ʼn entjie van hul plaas af, by te woon. Reeds op laerskool was dit duidelik dat hy baie meer van masjiene as die alfabet weet en wou weet. 2

Iets wat hom van kleins af interesseer, is die krag van stoom en hoe stoomenjins werk.

ʼn Stoomenjin gebruik die warm stoom van kokende water, warm gemaak (verhit) deur steenkool, om suiers of silinders in ʼn masjien op en af te laat beweeg. Hierdie beweging verskaf dan die krag om ʼn wiel of ʼn masjien te laat draai. 3

Met sy eerste eksperiment het hy ʼn erdepot met water, waarvan hy die deksel vasgebind het, oor ʼn vuur gesit om te kyk wat gebeur. Die stoom wat in die pot opgebou het, het natuurlik ʼn ontploffing tot gevolg gehad. Die pot het in stukke gebreek en kookwater oor hom laat spat. Selfs sy ma se waarskuwings het Henry nie gekeer nie. Hierna het hy sy eksperimente by die skool gedoen. Sy volgende projek was om saam met maats ʼn groot stoomenjin te bou. Hierdie keer was die ontploffing só groot dat die skool se heining afgebrand het! 2

Henry se pa besluit daar en dan dat horlosies minder gevaarlik as stoomenjins is en toe Henry 15 jaar oud is, gee sy pa vir hom sy eerste sakhorlosie. Dit was nie lank nie of Henry het die werking van ʼn horlosie baasgeraak en hy het vinnig begin bekendstaan as iemand wat horlosies baie goed kon herstel. 4

Henry Ford en Harvey Firestone help twee sjefs aartappels skil tydens ‘n Ford-Edison-kampeeruitstappie.

Ofskoon die regmaak (herstel) van horlosies vir die res van Henry se lewe altyd ʼn stokperdjie sou bly, het Henry se belangstelling by groter masjiene gelê.

Sy lewe verander in 1876 toe hy saam met sy pa op ʼn uitstappie gaan en hulle vir die eerste keer ʼn wa sien wat op sy eie, sonder perde, beweeg. Hierdie uitstappie sou die jong Henry laat droom om ʼn voertuig te ontwikkel wat mense, sonder perde, van een plek na ʼn ander kon vervoer. 2

Nog ʼn groot verandering gebeur in dieselfde jaar. Henry se ma sterf terwyl sy geboorte skenk aan die Ford-egpaar se jongste kind. Die babatjie sterf ongelukkig ook. 5

Thomas A. Edison en Henry Ford.

Vir Henry, wat baie geheg aan sy ma was, was dit ʼn verskriklike slag. Hoewel die gebruik in daardie jare was dat die oudste seun die boerdery by sy pa oorneem, wou Henry van die plaas af wegkom omdat die plaas hom te veel aan sy ma herinner het. Sy talent het boonop eerder by masjiene as boerdery gelê. 2

Op sestienjarige ouderdom verlaat Henry die plaas om na die stad Detroit te gaan. Hy wou daar alles van meganika leer sodat hy sy droom kon bewaarheid. 2

Vroeë loopbaan

Henry se eerste werk was dié van ʼn vakleerling-masjinis, waar hy leer hoe om met masjiene te werk en dit reg te maak. Drie jaar later keer hy terug na die familieplaas, maar hy maak en herstel steeds stoomenjins. 6

Tydens ʼn Nuwejaarsdans in 1885 ontmoet hy vir Clara Jane Bryant. Die paartjie het graag gedans en op bootritte gegaan. In April 1886 raak die tweetjies verloof, maar Clara se ma het gevoel sy is te jonk om te trou. Die huwelik word met twee jaar uitgestel. Uiteindelik beloof die egpaar trou aan mekaar op Clara se 22ste verjaarsdag op 11 April 1888. Henry was toe 24 jaar oud. 7

Vir die eerste drie jaar bly die egpaar op ʼn stuk grond wat Henry se pa vir hom gegee het. Henry wou steeds eerder in die stad werk en Clara en Henry trek terug Detroit toe nadat hy as ʼn ingenieur by Edison Illuminating Company aangestel word. 7

Die jaar 1893 was ʼn groot jaar vir Henry: Op 6 November word hy as ʼn hoofingenieur by die maatskappy aangestel en die Ford-egpaar se enigste seun, Edsel Bryant Ford, word op dieselfde dag gebore. 8

Die maatskappy vir wie Henry gewerk het, het behoort aan die wêreldbekende uitvinder Thomas Edison wat, onder meer, die elektriese gloeilamp ontwikkel het. Hy was een van Henry se kleintydhelde en hoewel Henry vir hom gewerk het, ontmoet hulle mekaar eers in 1896 tydens ʼn byeenkoms vir werknemers van die maatskappy in New York. Hierdie ontmoeting het in ʼn lewenslange vriendskap ontwikkel. 9

Teen die tyd dat Ford en Edison ontmoet, was Henry se eerste “voertuig” reeds ver ontwikkel. Die Quadricycle, soos hy dit genoem het, het bestaan uit ʼn raamwerk wat bo-op vier fietswiele vasgemaak was. Twee mense kon op die bankie sit. 8

Die voertuig was van hout gemaak, het twee silinders gehad en kon teen 10 tot 20 myl per uur (16 km/h tot 32 km/h) ry. Die Quadricycle kon nie agteruit ry nie en het ook nie remme gehad nie. ʼn Deurklokkie het mense darem gewaarsku as die Quadricycle in aantog was. 10

Op 4 Junie 1896 was die Quadricycle gereed om getoets te word. Al het die voertuig sonder enige probleme deur die strate van Detroit gery, was Henry nie tevrede nie. In die volgende paar maande het hy baie veranderings aan die oorspronklike model gemaak, soos om die houtdele met metaal te vervang, stewiger wiele te monteer en ʼn verkoelingstelsel by te voeg. 11

Ford se eerste maatskappy

Teen 1898 het Ford sy tweede voertuig voltooi, maar vinnig besef dat hy finansiële hulp sou moes kry as hy suksesvol in sy droom wou wees. In 1899 neem hy William Murphy, ʼn skatryk belegger, vir ʼn toetsrit van drie uur lank. Teen die einde van daardie rit, was Murphy vuur en vlam om in Ford se motormaatskappy te belê. 6

Murphy oorreed ʼn paar van sy ryk vriende om ook in die maatskappy te belê en op 5 Augustus 1899 word die Detroit Automobile Company gestig. Henry bedank op 15 Augustus 1899 uit Edison se maatskappy.

Die eerste produk van die Detroit Automobile Company, ‘n afleweringswa, is in Januarie 1900 voltooi en met groot sukses in die strate van Detroit gedemonstreer.

In Januarie 1900 was die Detroit Automobile Company se eerste voertuig, ʼn afleweringswa, gereed. Hoewel suksesvol, was die beleggers van die maatskappy nie tevrede nie. Hulle wou hê Ford moet soveel as moontlik motors maak sodat hulle kan begin om ʼn wins uit die verkope te maak. In daardie stadium kon Ford nog net een motor op ʼn slag maak. Die proses was stadig, die produk te duur om te verkoop en hy was nie tevrede met die gehalte van die voertuig nie. Op 29 Oktober 1900 ontvang Ford sy laaste salaris by die maatskappy en in Januarie 1901 sluit die Detroit Automobile Company finaal sy deure. 6

Motorwedrenne het in daardie stadium al gewilder in die VSA geword. Ford het geglo die tegniese gehalte van sy motors kon getoets word as hy aan ʼn motorresies kon deelneem. Murphy het steeds in Ford geglo en skenk $5 000 aan Henry om sy eerste resieskar van twee silinders met 26 perdekrag te bou. 6 Perdekrag is ʼn term wat James Watt vir die eerste keer gebruik het om ʼn idee te gee oor hoe sterk ʼn enjin is. Die krag van hierdie resieskar was dus gelykstaande aan ongeveer 26 perde altesaam. 12 Op 16 Oktober 1901 wen hierdie motor ʼn voertuig van 40 perdekrag oor ʼn wedren van 10 myl (ongeveer 16 km). Henry ontvang $1 000 in prysgeld en baie goeie publisiteit. 6

Met Henry se nuwe reputasie het Murphy en ander lede van die Detroit Automobile Company die Henry Ford Company op 30 November 1901 begin. Ford was die hoofingenieur. Die doel was om ʼn liggewigvoertuig te bou wat vir sowat $1 000 verkoop kon word, maar Henry, aangevuur deur motorwedrenne, het die meeste van sy tyd aan ʼn reusagtige resieskar met vier silinders spandeer. Hoewel Murphy geld vir Henry gegee het om die tweesilinder-resiesmotor te bou, wou hy nie hê Henry moes aan ʼn groter motor werk nie. Henry was omtrent vies toe Henry M. Leland, ʼn bekende meganiese ingenieur, as ʼn konsultant vir die maatskappy aangestel is. 6

‘n Advertensie vir die Detroit Tractor Company in die Automobile Trade Journal, Julie 1913.

Tom Cooper, ʼn ryk en bekende fietsryer, het Ford op 3 Maart 1902 gekontak om twee resiesmotors te bou. Henry verlaat op 10 Maart die Henry Ford Company met ʼn ooreenkoms dat hulle steeds sy naam mag gebruik. Murphy en sy vriende het die leisels oorgeneem en saam met Leland het hulle gou die maatskappy se naam verander na die Cadillac Automobile Company. 6

In Mei 1902 het Ford en Cooper met die bou van die twee resiesmotors begin: die “999” vir Ford en die “Arrow” vir Cooper. Sowat 10 werknemers het 10 uur per dag gewerk teen ʼn salaris van ongeveer 10c per uur.

Toe die 999 gereed was om in ’n wedren getoets te word, wou nie Ford óf Cooper agter die stuurwiel inklim nie – die motor het tussen 80 en 100 perdekrag gehad! Cooper het sy vriend Barney Oldfield binne ʼn week geleer hoe om met die motor te ry. Barney het die eerste wedren gewen en Henry Ford se naam was meer bekend as ooit. 6

Henry Ford, staande, en Barney Oldfield.

Die 999 het later, in 1904, ʼn wêreldrekord vir die vinnigste motor opgestel toe dit 91,37 myl per uur (sowat 147 km/h) gehaal het! 13

In 1903 voel Ford uiteindelik gereed om ʼn nuwe maatskappy, die Ford Motor Company, te begin. Hierdie keer het gewone mense altesaam $28 000 in die maatskappy belê, want die ryk mense van Detroit wou nie meer met Ford besigheid doen nie. 4

Die konstruksie van die Ford-aanleg in Oktober 1922.

Op 15 Julie 1903 verkoop die Ford Motor Company sy eerste motor, ʼn Model A Ford, aan ʼn dokter in Chicago. Hierna styg verkope drasties met 195 motors wat tussen 23 Julie en 30 September verkoop word. 6

Die Ford Motor Company-monteerlyn was ‘n geoliede masjien.

As dit nie vir die Model A was nie, sou ons nie vandag van Henry Ford geweet het nie. Hierdie motor het die Ford Motor Company van bankrotskap gered. Die Model A was maklik om te bestuur en was groot genoeg vir vier volwassenes. Omdat hy nie geweet het waar om al die deure te sit nie, het die Model A net een deur aan die agterkant gehad. Passasiers moes dus aan die agterkant van die motor op ʼn trappie en oor die agterste sitplek klim om voor uit te kom. Die motor het twee silinders gehad en kon 8 perdekrag voortbring. 14

Werkers van die Ford Motor Company besig om ‘n motor aanmekaar te sit.

Die Model A het egter steeds nie voldoen aan Henry Ford se droom van ʼn betroubare, bekostigbare motor nie. Een van die redes was dat net ʼn paar motors per dag deur groepe van twee of drie mense vervaardig kon word. Die onderdele van die motors is by ander maatskappye gekoop, wat dit duurder gemaak het, en indien aflewering van ʼn onderdeel laat was, het dit die hele vervaardigingsproses vertraag. 15

Die legendariese Model T

Die Model T verskyn in Oktober 1908 vir die eerste keer op die mark en voldoen aan Henry se vereistes. “Tin Lizzie” soos die motor ook genoem is, was onmiddellik ʼn sukses en die fabriek kon nie vinnig genoeg nuwe motors maak vir al die bestellings wat ingekom het nie. 15

Ford vind die oplossing vir hierdie probleem tydens ʼn besoek aan ʼn vleisverpakkingsaanleg in Chicago en ʼn graanmeulvoerband wat hy gesien het. As hy die werk na die werkers kon bring, sou hulle nie meer hoef rond te beweeg nie en dit sou tyd spaar. Daarna het hy die arbeid verdeel deur seker te maak elke Model T-motor word in 84 verskillende stappe aanmekaar gesit. Elke werker is opgelei om slegs een van hierdie stappe uit te voer. Hy het oor ʼn tydperk van vyf jaar geleidelik hierdie stappe ingestel en toetse gedoen en aanpassings gemaak om seker te maak die proses verloop vlot.

In 1913 is die eerste monteerband (“assembly line”) ooit vir grootskaalse vervaardiging gebruik. Ford kon motors teen ʼn rekordspoed vervaardig. 16

Monteerbande word gebruik waar baie produkte vinnig gemaak moet word. ʼn Klomp werkers staan in ʼn ry en elke mens verrig net een taak. ʼn Vervoerband bestaan uit ʼn elektroniese rubberband wat die verskillende onderdele na die werkers vervoer sonder dat die werker sy of haar plek moet verlaat om daardie stap in die vervaardigingsproses te voltooi. 17

Die instelling van die monteerband het die tyd waarin ʼn onderstel van ʼn Model T gemaak is, van 728 minute na 93 minute verminder. In 1927, toe die produksie van die Model T gestop is, was Ford in staat om ʼn nuwe motor elke 24 sekondes te maak. 18

Die monteerband was, onder meer, daarvoor verantwoordelik dat die Model T baie bekostigbaar was. Die prys het van $950 in 1908 verminder tot $290 in 1927. In vandag se geldwaarde is dit sowat $5 000 oftewel R90 000. 18 Verder was dit maklik om te bestuur en goedkoop om reg te maak – perfek vir die gemiddelde Amerikaanse gesin.

Meer as 15 miljoen motors is tussen 1913 en 1927 vervaardig en meer as die helfte van alle motors in die VSA was die Model T. 19

Thomas A. Edison en Henry Ford.

Sy werkers was egter nie baie beïndruk met hierdie nuwe manier van werk nie. In baie gevalle was die personeel by die Ford Motor Company werkers met spesiale vaardighede en baie ervaring. Nou moes hulle een klein takie oor en oor verrig. Ford het hulle probeer gelukkig hou deur in 1913 meer as 52 000 nuwe werkers aan te stel. Hy kon hulle $5 vir ʼn werksdag van agt uur betaal, pleks van die gewone $2,50 vir ʼn 9 uur-werksdag. 20

Nog ʼn manier waarop hy sy werkers tevrede probeer hou het, was deur ʼn naweek van twee dae in te stel – lank voor die Amerikaanse regering bepaal het dat maatskappye net 40 uur van hul werkers per week mag eis. Ford het besef dat van sy beste kliënte sy werknemers self is, maar dat hulle ook tyd nodig het om die motors wat hulle gekoop het, te geniet. 21

Beheer van die maatskappy

Ford was nie tevrede daarmee dat aandeelhouers in die bestuur van Ford Motor Company kon inmeng nie. Hy was van plan om al die aandeelhouers se aandele oor te koop. In 1919 bedank hy as voorsitter van die maatskappy en stel sy seun Edsel in sy plek aan. Teen Julie daardie jaar het hy al die aandeelhouers uitgekoop. Die beheer en bestuur van die maatskappy was nou net in Henry Ford en sy familielede se hande. 18

Henry Ford by ‘n konstruksieterrein.

Die maatskappy was in daardie stadium van ander fabrieke afhanklik om onderdele, bande, stoffasie en al die ander produkte wat ’n mens nodig het om ʼn motor te bou, te lewer. Soos Ford Motor Company se produksie verbeter het, moes hierdie fabrieke ook hul eie produksieproses versnel om in Ford se aanvraag te voorsien. Dit het baie moeilik geword om hierdie proses te koördineer en te verseker dat die regte motor op die regte tyd en op die regte plek afgelewer word. Ford het ook besef dat hy meer wins sal maak indien hy in beheer is van die volledige vervaardigingsproses – van die oomblik wat die ystererts gemyn of die hout gekap word tot by die oorhandiging van die motorsleutels aan die kliënt. 18

Henry Ford en Josephus Daniels.

Die nuwe aanleg wat Ford in 1927 in River Rouge gebou het, was die eerste voorbeeld van ʼn fabriek wat verantwoordelik was vir die vervaardiging, montering én vervoer van motors. Om dit te vermag, koop Ford ʼn spoorlyn, 16 steenkoolmyne, ʼn plantasie van 285 000 hektaar en ʼn glasfabriek. Hy bou ook ʼn saagmeule en skaf ʼn vloot vragmotors aan om erts van sy Lake Superior-myne te bring. Teen 08:00 elke oggend het slegs genoeg erts, wat daardie dag benodig sou word, van die myne in Michigan en Minnesota by die aanleg aangekom. Dit is op ’n vervoerband na smeltoonde oorgeplaas en in staal omskep (danksy hitte wat verskaf is deur steenkool van Ford-myne in Kentucky). Daarna word dit in vorms gegiet en 28 uur ná die erts by die aanleg aangekom het, het ʼn nuwe motor aan die ander kant uitgery!

Soortgelyke stelsels het die hout vir die vloerborde van die motor, rubber vir die bande, en so aan, hanteer. 18

Ford was briljant, maar ook hardkoppig. Sy persoonlike sukses om absolute beheer te neem van die maatskappy en om mense, wat nie met hom saamgestem het nie, weg te jaag, sou die maatskappy ʼn knou gee. Hy wou nie aanvaar dat mense ander eienskappe in ʼn motor as wat die Model T gebied het, begin soek het nie. Hy het hom ook nie gesteur aan tegnologie en nuwe motors wat nou al met ses of agt silinders gespog het nie – die Ford Model T het steeds net vier gehad. Hy wou ook nie sy meganiese remme met die hidrouliese soort vervang nie. 18

Ford se ingenieurslaboratorium.

Vanaf 1914 was die Model T boonop slegs in swart beskikbaar terwyl kopers van ander motors uit ʼn verskeidenheid van kleure kon kies. Toe hy in 1927 besef hy was verkeerd, het hy die fabrieke vir vyf maande gesluit om aanpassings te maak. In Desember 1927 stel hy die nuwe Model A bekend, maar dit was nie so suksesvol nie. General Motors se Chevrolet en Chrysler se Plymouth het die Model A in verkope verbygesteek en teen 1931 is die Model A van die mark af gehaal. Ten spyte van Ford se V8-model in 1932, het Ford se posisie in 1936 van die grootste motorvervaardiger in die VSA tot die derde grootste gedaal. 18

Ford se laaste jare

Gedurende die 1920’s, onder Edsel Ford as voorsitter, het die maatskappy uitgebrei deur ook die Lincoln Motor Car Company aan te skaf en in 1922 het die maatskappy ook lugvaart begin ondersoek. 18

In 1943 sterf Henry en Clara se enigste kind op 49-jarige ouderdom aan maagkanker. 22 Ten spyte van Henry se gevorderde ouderdom neem hy by Edsel as voorsitter van die maatskappy oor. In 1945 tree Ford finaal uit die maatskappy toe sy kleinseun Henry Ford II die nuwe voorsitter van Ford Motor Company word. 18

Ná Henry se aftrede het hy graag danse vir Europese koninklikes en sakelui gereël. Tydens hierdie funksies is die mense geleer hoe om die polka en die masurka te dans. Verder het hy hom besig gehou deur fabrieke in klein dorpe te stig en skole op te rig wat op spesifieke beroepe gefokus het. Hy het Greenfield Village, ʼn klein plattelandse dorpie, gerestoureer (regmaak soos dit voorheen was) en die Henry Ford-museum gebou wat allerlei Amerikaanse artefakte en oudhede uitstal uit die tyd toe hy nog ʼn kind was. 18

Henry Ford sterf op 7 April 1947, presies 100 jaar nadat sy pa in die VSA aangekom het. Hy is by sy huis by die Fair Lane-landgoed in Dearborn oorlede weens bloeding op die brein. Hy was 83 jaar oud. Sy vrou Clara was aan sy sy toe hy oorlede is. 8

Sy aandele in die maatskappy het na die Ford-stigting, wat in 1936 opgestel is as ʼn manier om die Ford-familie se beheer in die maatskappy te verseker, gegaan. Dit het een van die rykste privaat stigtings ter wêreld geword. 18

Die Henry Ford-gedenkteken in Dearborn.

Ford is vandag steeds een van die grootste motorvervaardigers in die wêreld. In 2023 het die maatskappy se waarde sowat $40 miljard (sowat R720 miljard) beloop. 23 William Clay Ford jr., Henry se agterkleinseun, is die maatskappy se huidige voorsitter. 24

Henry Ford se graf.

Woordbank

aanleg ʼn Plek wat vir ʼn spesiale doel ontwerp is.
artefakte Voorwerp (pot, pylpunt, stuk klipgereedskap, ens.) wat (lank gelede) deur mense gemaak is en waarvan ons kan aflei hoe hulle in die verlede geleef het.
bankrot Al jou geld verloor; nie jou skuld kan betaal nie.
bedank Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig.
belegger Iemand wat geld in iets belê.
daar en dan Dadelik, onmiddellik.
emigreer Iemand wat sy/haar land verlaat om in ʼn ander land te gaan woon.
erdepot Pot gemaak van hard gebakte klei.
fabriek ʼn Plek/gebou waar goedere vervaardig word.
hidrouliese Wat deur die druk van water of ʼn ander vloeistof beweeg of in werking gehou word.
ingenieur Iemand wie se werk dit is om paaie/brûe/masjiene/ens. te ontwerp of bou.
Jan Alleman Elkeen; die gewone man.
knou Ernstige skade veroorsaak; verswak.
logo (Gewoonlik kleinerige) embleem/ontwerp wat ʼn maatskappy/organisasie gebruik om byvoorbeeld sy korporatiewe beeld te vestig en sy produkte te bemark.
lugvaart Alles wat saamhang met beweging of vervoer deur die lug.
magnaat Iemand wat deur sy rykdom baie invloed het.
masurka Poolse dans in drieslagmaat
meganika Wat met ʼn masjien te make het.
monteer Iets (wat uit verskillende dele bestaan) aanmekaarsit/inmekaarsit.
onderdeel Een van die verskillende dele van iets.
perdekar Kar wat deur ʼn perd of perde getrek word.
plantasie ʼn Stuk grond waar bome of ander plante aangeplant is.
polka Vinnige dans (oorspronklik ’n Boheemse volksdans).
publisiteit Die aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry.
reputasie Wat mense van iemand/iets dink as gevolg van wat in die verlede gebeur het.
revolusionêre Baie anders as die bestaande.
silinders ʼn Vorm/voorwerp/houer in die vorm van ʼn rol met reguit sye.
smeltoonde Oond waarin metale/glas/ens. gesmelt word.
stoffasie Die stof/materiaal waarvan iets gemaak is.
stokperdjie Iets wat jy in jou vrye tyd doen omdat jy dit geniet.
suiers ʼn Voorwerp wat in ʼn buis/silinder pas waarin dit onder druk (bv. van stoom) heen en weer beweeg.
tegniese Wat te make het met hoe masjiene werk.
term ʼn Woord of uitdrukking wat in ʼn vak ʼn enkele, bepaalde betekenis het.
toetsrit Rit (oor ʼn spesiale terrein) om die eienskappe en vermoë van ʼn voertuig vas te stel, bv. sy trekkrag/brandstofverbruik/padvastheid/remvermoë/rygerief.
uitvinder Iemand wat iets eerste uitdink/vasstel/maak.
vakleerling Iemand wat geleer word hoe om die bepaalde werk te doen deur ʼn vakman wat self die vak beoefen.
vermag Regkry, om iets te kan doen.
vervoerband Lang, beweegbare band waarop goedere van een plek na ʼn ander vervoer (kan) word.

Lees hier meer oor Ford

Kyk dié video’s oor motors en enjins

Só werk ʼn stoomenjin

Neem die Model T vir ʼn toetsrit

Is die werking van ʼn motorenjin vir jou Grieks?

Henry Ford se monteerband

Hoe Henry Ford die VSA verander het

Wat het Ford met al sy geld gedoen?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 November 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024