Vinnige feite

Die groenoogmonster (soos Shakespeare dit genoem het) – jaloesie – is ‘n verterende afguns, ‘n agterdogtige wraaksugtigheid en besitlikheid wat ons ervaar wanneer ons dink ons verhouding, status in die lewe, vriendskappe of besittings word op een of ander wyse bedreig. Dit is ook wat ons voel wanneer ons dink iemand gaan beter as ons vaar in een of ander kompetisie, toets of wedstryd.

Foto: iStock

Hoewel jaloesie ’n emosie is wat algemeen ervaar word, word dit baie min openlik erken of daaroor gepraat. Die idee bestaan dat ʼn persoon wat gevoelens van jaloesie sou ervaar, of dit sou erken, ʼn swakkeling is of onseker oor hom- of haarself is. 1

Die bekende psigoanalis (ʼn persoon wat navorsing oor sielkunde doen), Sigmund Freud, het jaloesie egter as universeel beskou, omdat dit volgens hom onvermydelik is. Freud het geglo dat elke mens een of ander tyd in sy lewe jaloesie sal beleef, al is dit net vir ʼn vlietende (kort) oomblik. Volgens Freud is dit normaal en menslik om jaloesie te beleef wanneer ʼn belangrike verhouding deur ʼn derde party bedreig word. Hy meen dat dit eerder abnormaal is om onder sulke omstandighede nié jaloesie te beleef nie.

ʼn Sekere mate van jaloesie is dus as normaal en passievol beskou. Dit is selfs gesien as ʼn aanduiding of ʼn bevestiging van romantiese liefde. Die tipiese situasie waarin jaloesie voorkom, behels altyd drie partye (A, B en C), byvoorbeeld A sal jaloers op C wees, omdat C die aandag, liefde, aanvaarding of erkenning van B ontvang wat A vir homself begeer. Party A beleef dus jaloesie, omdat hy of sy ongemaklik is dat C sy of haar verhouding met B bedreig. 2

Jaloesie kom die algemeenste in romantiese verhoudings voor. ʼn Vorm van jaloesie wat baie bekend is, is sogenaamde sibbejaloesie (sibling rivalry). Jaloesie kan egter ook onder vriende, werknemers met dieselfde baas, leerders met die dieselfde onderwyser, ensovoorts voorkom.

Jaloesie kan byvoorbeeld voorkom wanneer:

  • ʼn werkskollega deur die werkgewer bevoordeel word;
  • ʼn vriend(in) meer tyd saam met ʼn ander persoon deurbring;
  • ʼn sib meer aandag of voorregte van die ouers kry;
  • ʼn onderwyser of lektor meer aandag of hoër punte aan ʼn klasmaat gee; en
  • ʼn huweliksmaat in ʼn buite-egtelike verhouding betrokke is.

Die kern van jaloesie bestaan uit ʼn behoefte dat ander jou moet benodig. Jaloesie is wel ʼn negatiewe belewenis, maar dit beteken nie dat jaloesie “sleg” is nie. Jaloesie dra die stigma (brandmerk) dat dit ʼn teken van persoonlike swakheid is. Tog speel jaloesie ʼn funksionele rol in elke persoon se ontwikkeling. Iemand met ʼn lae selfbeeld sal meer geneig wees tot die belewing van jaloesie, omdat hy of sy dikwels onseker voel oor die mate waartoe hy deur ander mense aanvaar word. Jaloesie is ook algemeen omdat alle mense liefde verlang (nodig het), en dit nie altyd ontvang word soos verwag nie.3

Soorte jaloesie

Ongesonde jaloesie is verantwoordelik vir heelwat emosionele (en selfs fisieke) lyding en ongemak. Uiterste vorme van jaloesie kan selfs tot moord lei, maar dit is bevind dat die jaloerse persoon eerder ʼn verhouding sal beskerm wat vir hom of haar belangrik is. 4

Agterdogtige jaloesie kom voor wanneer ʼn persoon glo dat sy verhoudingsmaat besig mag wees om die aandag van ʼn derde persoon te probeer trek. Dié persoon beleef angs en onsekerheid. Dit lei tot ʼn verskeidenheid denke wat kenmerkend is van ‘n jaloerse persoon, insluitend verdenking en wantroue.

Feitlike jaloesie is weer redelik vry van angs oor die status van die verhouding, aangesien dit in hierdie geval gewoonlik reeds duidelik is. Persoonlikheid speel die grootste rol hier. Dit vorm die basis van waar jaloesie kan ontstaan en sodoende verhoudings tussen individue, gesinne, families, bevolkingsgroepe, ensovoorts beïnvloed.

Baie skrywers is van mening dat jaloesie ʼn sekondêre emosie is (net soos haat, woede en bitterheid); met ander woorde ʼn mengsel van basiese of primêre emosies (soos geluk, hartseer en vrees), terwyl ander skrywers argumenteer dat jaloesie ʼn emosie in eie reg is. Ná heelwat navorsing oor die onderwerp is daar tot die gevolgtrekking gekom dat jaloesie  ʼn mengsel van vrees, woede en hartseer is.

Verskillende gevolge van jaloesie

Aandagsoekende gedrag, woede, aggressie, onttrekking, nabootsing, perfeksionisme, meervoudige sklerose, Huntington-siekte, alzheimersiekte, depressie, skisofrenie, alkoholmisbruik, dwelmmisbruik en obsessief-kompulsiewe steuring (OKS) is alles moontlike gevolge van jaloerse gedrag.

Jaloesie tussen sibbe 

Broers en susters kan jaloesie ervaar wanneer een van die sibbe deur die ouers voorgetrek word, of wanneer die oudste kind voel dat hy of sy “onttroon” is. Nog oorsake van dié soort jaloesie is ʼn kind se temperament, narsissisme, onrealistiese verwagtinge, emosionele onvolwassenheid en ʼn negatiewe selfbeeld.

Wenke vir ouers 

  • Vermy negatiewe vergelykings; 5
  • Motiveer die kind deur positiewe terugvoer, eerder as deur kritiek;
  • Probeer om die kinders se verskille te waardeer, eerder as om daarteen te baklei;
  • Vermy voortrekkery of vooroordeling;
  • Help die kind om ʼn realistiese, positiewe selfkonsep te ontwikkel; en
  • Albei ouers moet emosionele sekuriteit verskaf.

Woordbank

perfeksionisme Strewe na volmaaktheid, veral wat verrigting van werk betref.
psigoanalis Sielkundige teorie en terapie gemik op die behandeling van geestelike en emosionele afwykings deur die wisselwerking van die bewuste en onbewuste elemente van die psige te ondersoek en deur tegnieke soos droomvertolking en vrye assosiasie in te span onderdrukte vrese en konflik na die bewuste oppervlak te bring.
sibbe Broer of suster; familielid.
temperament
Natuurlike geaardheid; vurigheid/heftigheid van gevoelens.
voortrekkery Voorkeur gee aan; verkies bo; begunstig.

Lees hierdie om meer te leer

Kyk hierdie om meer te wete te kom

Hoe om jaloesie te hanteer

Agt maniere om meer emosioneel volwasse te word

Leer om dinge nie persoonlik op te neem nie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024