Vinnige feite

  • Rousseau kon op die ouderdom van drie al lees.
  • Rousseau se bekendste werke was “Die nuwe Héloïse” (1761), “Die sosiale kontrak” (1762), “Émile”(1762), “Diskoers oor die oorsprong en grondslag van ongelykheid onder die mensdom” (1755) en “Belydenisse” (1782).
  • Rousseau het oor sy mees private emosies geskryf en dit was ongehoord in daardie tyd. Sy outobiografie, Belydenisse”, is ’n boek waarin hy homself as mens blootlê.
  • Rousseau het ’n groot invloed op Immanuel Kant se werk oor etiek Kant (1724-1804) was een van die invloedrykste filosowe.
  • Die huis Les Charmettes, waar Rousseau saam met Françoise-Louise de Warens van 1735 tot 1736 gebly het, is vandag ’n museum.
  • Sy graftombe word ook deur toeriste in Panthéon, Parys, besoek.

 

Dink jy dat die mens inherent goed is en dat die samelewing van hom of haar ’n slegte mens kan maak? Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) het só gedink.

Rousseau was ’n bekende filosoof wat in Genève (vandag ’n stad in Switserland) gebore is. Hy was een van die belangrikste denkers van die Verligting. Die Verligting was ’n beweging in die 17de en 18de eeu wat die rede en intellektualisme benadruk het. Rede was vir hulle die bron van kennis. Rousseau se idees oor politiek, letterkunde en onderwys het ’n groot invloed op die mense gehad wat in daardie tyd geleef het. Sy boeke het die Romantiese Naturalistiese beweging (waar die klem op menslike emosies sowel as die natuur val) geïnspireer en sy uitlatings oor politiek en vryheid was een van die beweegredes van die Franse Revolusie. 1

Wie was Rousseau?

Rousseau is op 28 Junie 1712 in Genève gebore. Genève was toe ’n stadstaat en nie deel van Switserland soos dit vandag is nie. Sy pa se naam was Isaac Rousseau, ’n horlosiemaker, en sy ma se naam was Suzanne Bernard. Sy ma het nege dae ná sy geboorte gesterf en gevolglik het sy pa hom grootgemaak. 2

Rousseau se pa het hom by die huis onderrig, en hy het vroeg al gelees en veral antieke kulture bestudeer. Sy pa het hom veral oor politiek geleer, want hy was ’n passievolle republikein en het sy seun meer oor die geskiedenis van republieke as oor enigiets anders geleer.

Sy pa het egter ná ’n bakleiery probleme met die polisie opgetel en moes uit Genève vlug en dit het sy seun haweloos gelaat. Hy moes noodgedwonge by ’n familielid gaan bly, en het op die ouderdom van 13 as ’n vakman (ambagsman) by ’n graveerder begin werk. Hy het egter op 16-jarige ouderdom padgegee en toe van plek tot plek gereis. 3

Barones stel hom aan musiek bekend

Sy paaie het in Frankryk met ’n vrou uit die adelstand gekruis. Sy was ʼn Switserse barones, Françoise-Louise de Warens (gebore Louise Éléonore de la Tour du Pil), ook genoem Madame de Warens.

Die barones het vir hom huisvesting, ’n werk en opvoeding gegee. Rousseau het daar onder meer musiekonderrig ontvang. Hy het ná sy studies as ’n privaat onderwyser by ’n adellike gesin in Turin gaan werk.

Die barones het hom ook oorreed om Rooms-Katoliek te word en hy het vir ’n rukkie met die idee gespeel om ’n priester te word. Hy het egter daarteen besluit en het ’n paar jaar lank privaat musiekonderrig gegee en ook as musikant opgetree.

Hy het in 1742 na Parys gereis en het daar ’n plan opgetrek vir ’n nuwe stelsel vir musieknotering, wat hy aan die Akademie vir Wetenskappe voorgelê het. Die akademie het egter sy idee afgeskiet.

Hy was egter beslis musikaal begaafd en het graag musiek geskryf. Hy het selfs in 1752 ’n opera, Le Devin du Village (in Afrikaans: “Die dorp se waarsêer”), geskryf. Dit was ’n gewilde opera en het boonop die Franse koning Louis XV beïndruk. 2

Louis XV

Filosofie en skryfwerk

Parys was ook die plek waar hy ’n goeie vriend en medefilosoof ontmoet het. Die filosoof se naam was Denis Diderot. Diderot en Rousseau het gou met hul skryfwerk bekendheid verwerf en was deel van ’n groep bekende intellektuele.

Diderot was in daardie tyd die redakteur van ’n Franse ensiklopedie, naamlik die Encyclopédie, ou dictionnaire raisonné des sciences, des arts et des métiers (in Afrikaans: “Ensiklopedie van die sistematiese woordeboek van die wetenskappe, kunste en ambagte/beroepe). Die Encyclopédie was ’n belangrike spreekbuis waardeur mense hul menings oor allerlei onderwerpe gelewer het. Rousseau was ’n uitstekende skrywer en sy stukke daarin het groot aandag getrek.

Rousseau se “Verligting”

Rousseau het op die ouderdom van 37 tot nuwe insigte oor die lewe gekom. Hy het dit sy “Verligting” genoem. Hy het later vertel dat hy na die Franse dorp Vincennes op pad was toe hy besef het dat moderne vooruitgang vir mense sleg is, en dat dit die mensdom meer benadeel as bevoordeel. 1

Dit was toe dat sy eerste belangrike werk geskryf is. Die Akademie van Dijon het ’n kompetisie aangebied en Rousseau het in 1750 ’n essay daarvoor geskryf. Dit was getiteld Discours sur les sciences et les arts (in Afrikaans: “Diskoerse oor die wetenskap en kunste”). Hy het daarin aangevoer dat die geskiedenis van die mens op aarde een van verderf is. Hy het die kompetisie gewen en daarna was sy naam op almal se lippe.

Rousseau het sy diskoerse gebruik om verdere temas te ontwikkel. Hy het deur sy hele lewe bly glo aan sy idee dat mense van nature goed is, maar deur die samelewing en beskawing bederf word. Hy het geglo dat, soos die samelewing vooruit beweeg, dit al hoe slegter vir die mens word. 1

Rousseau het teruggekyk na die beginsels wat hy as kind in die Calvinistiese republiek van Genève geleer het en het besluit dat die Rooms-Katolieke geloof nie vir hom was nie. Hy het weer deel van Protestantse Kerk geword.

Hy het in daardie stadium ook ’n geliefde gekry, wat baie mense geskok het, want sy was net ’n wasvrou en boonop ongeletterd. Sy kon dus nie lees nie. Haar naam was Thérèse Levasseur en dit het nóg groter aandag getrek omdat hulle saamgebly het sonder dat hulle getroud was. Dit was in daardie jare ’n groot skande.

Toe hy besluit het om na Genève terug keer, het hy haar saamgevat.

 

Die denke wat hom bekend maak

Nog ’n skrywe van Rousseau het hom nog bekender gemaak. Hy het in 1755 die boek Discours sur lorigine et les fondements de linégalité parmi les hommes  (in Afrikaans: “Diskoerse oor die oorsprong en grondslag van die ongelykheid onder die mensdom”) geskryf.

Daar word in die algemeen na dié boek verwys as “Die tweede diskoers”. Hy het die boek geskryf nadat die Akademie van Dijon vir skrywes gevra het: “Wat is die oorsprong van die ongelykheid onder mense en word dit deur die natuurlike wette geregverdig?”. Rousseau het in sy boek voorgehou dat die eerste mense op aarde gelukkig, vry en gesond was, maar dat menslike sondes begin toeneem het, soos wat samelewings tot stand gekom het en mense ekonomiese en akademiese vooruitgang getoon het.

Sy 1762-boek, Du Contrat social (in Afrikaans: “Die sosiale kontrak”), het groot opspraak verwek en het oor die oorsprong van regerings gehandel. Rousseau het geglo dat die samelewing van destyds glad nie in die lot van die gewone man op straat belanggestel het nie, maar dat net die ryk mense en die adelstand na hulself gekyk en al die reëls gemaak het waarby ander mense net moes inval. Hy het geskryf dat geen wette bindend kon wees as landsburgers nie daaroor ooreenstem nie.

Dit het ’n groot impak op Franse burgers gehad en daar word gereken dat dit een van die redes is waarom die Franse Revolusie jare later plaasgevind het. 1

Die boek begin met die sin: “Die mens is vry gebore, maar oral is hy in boeie.” Hy het geskryf dat in ’n burgerlike samelewing mense ware politieke vryheid moet kan geniet. Die regeerders van Genève het niks van sy uitsprake oor vryheid en die regering gehou nie en die boek is daar onderdruk.

Rousseau maak weer opspraak

Rousseau het teen die jaar 1762 besef dat Genève, en die manier hoe die stadstaat regeer word, nie vir hom was nie en het besluit om in 1754 na Parys terug te keer.

Hy was egter ook nie gelukkig in Parys nie – hy het dit te besig gevind, en het na ’n rustiger lewe uit die stadsgewoel gesmag. Vriende naby Montmorency het vir hom ’n plek op hul landgoed aangebied en Rousseau en sy geliefde is in 1758 daarheen.

Rousseau het later na ’n kothuis, genaamd Montlouis-surLoire, getrek. Hy het egter in groot moeilikheid beland toe sy verhandeling Émile; ou, de l’education (in Afrikaans: “Emile; of, Oor opvoeding”) gepubliseer is. Mense het dit as skandalig beskryf en soos die “Sosiale kontrak” Calviniste in Genève ontstig het, so het Émile die Franse ontstel.

Die boek gaan oor die grootwordjare van ’n ryk man se seun wat privaat onderrig word. Daar word gekyk na sy ontwikkelingstadiums, en die basiese argument is dat kwaad nie deel van ’n kind se aard is nie, maar deur eksterne faktore meegebring word.

Dit was egter nie die rede waarom die boek mense ontstel het nie – daar was ’n hoofstuk oor godsdiens wat kritiek op tradisionele godsdiens gelewer het. Rousseau was ten gunste van ’n “natuurlike godsdiens” en het geskryf dat kennis van God in die natuurlike orde van die natuur gevind kan word. Die tradisionele Christelike siening is egter dat Christenskap die enigste ware godsdiens is. Rousseau het egter gesê dat elke mens sy eie godsdiens moes praktiseer. Dit het hom in daardie jare in groot moeilikheid laat beland.

Die boek Émile het mense egter ook nuut oor onderwys en opvoeding laat dink. Hy het daarin kritiek gelewer oor hoe ouers en onderwysers kinders grootmaak en leer. Hy het geskryf dat kinders die vryheid gegun moes word om sonlig en oefening te geniet en te speel. Hy het gevoel dat ’n kind se studies slegs in sekere jare van hul ontwikkeling moet plaasvind en dat onderrig en opvoeding by die huis moet begin. Hy het geglo dat ouers nie vir hul kinders moes preek nie, maar liewer ’n goeie voorbeeld stel.

Rousseau moes uit Frankryk vlug voor hy in die tronk gegooi sou word oor Émile en hy het van plek tot plek gereis. Hy was ook slaags met die mense van Genève oor sy boek “Die sosiale kontrak” en het gevolglik sy burgerskap daar prysgegee. 2

’n Vlugteling

Rousseau het nie ’n permanente tuiste in daardie stadium gehad nie en omdat hy so baie kritiek op sy werk gekry het, het hy toenemend alleen en uitgesluit gevoel. Nadat hy uit Frankryk weg is, het hy van die een plek na die ander in Switserland getrek.

Nadat Genève Rousseau se “Die sosiale kontrak” onderdruk het, het hy daarop gereageer met ’n skryfstuk getiteld Lettres écrites de la Montagne (in Afrikaans: “Briewe wat op ’n berg geskryf is”). Hy het geskryf dat hy Genève in sy boek Le Discours sur l’origine et les fondements de l’inégalité parmi les hommes (in Afrikaans: “Diskoers oor die oorsprong en grondslag van ongelykheid onder die mensdom”) as ’n modelrepubliek voorgehou het, maar dat die stadstaat intussen deur 25 despote oorgeneem is. Dit het natuurlik tot nóg meer kritiek gelei.

Rousseau het darem ’n holte vir sy voet in Engeland gevind. Dit was nadat hy weer uit nóg ’n dorp geskop is. Die Skotse filosoof David Hume het hom gehelp om in Engeland uit te kom en het selfs gereël dat hy ’n toelaag sou kry. Rousseau het egter al hoe meer onstabiel geword en gedink dat almal teen hom was en dat selfs Hume sy vyand was. Hy het geglo dat hy vervolg word en was baie paranoïes.

Hy het in die geheim na Frankryk teruggekeer. Hy was in daardie tyd steeds saam met sy geliefde Thérèse en sy het oral saam met hom gereis. Hy het geglo dat sy die enigste mens was wat hy kon vertrou en het uiteindelik op 56-jarige ouderdom met haar getrou. 3

Sy laaste dekade

Rousseau het later gelukkig darem sy paranoia afgeskud en was rustiger in sy laaste jare. Hy het die laaste tien jaar van sy lewe hoofsaaklik daaraan bestee om oor sy lewe en sy werk te skryf. Dit was dus outobiografies van aard. Hy het homself ook verdedig teen mense wat hom gekritiseer het.

Die belangrikste van hierdie werk was sy Confessions (in Afrikaans: “Belydenisse”). Hy het ook Rousseau juge de Jean-Jacques (in Afrikaans: “Rousseau, die regter van Jean-Jacques”) geskryf om op sekere aanklagte van sy vyande te reageer.

Hy het huisvesting by Franse adellikes in Ermenonville naby Parys gekry en daar gaan bly. Hy het op 2 Julie 1778 in Ermenonville gesterf, vermoedelik aan ’n nierkwaal. Sy oorskot is in 1794 na die Panthéon in Parys oorgeplaas. 4

Kritiek en lof

Wat interessant van Rousseau was, is dat sy aand- en môrepraatjies nie ooreengestem het nie. Hy het byvoorbeeld die getroude lewe hoog aangeskryf, maar eers ná 23 jaar met sy geliefde getrou.

Hulle het vyf kinders gehad, maar is almal by ’n paar weeshuise in Parys afgelaai, terwyl hy wyd geskryf het oor hoe belangrik kinders was en dat hulle reg opgevoed moes word. Hy het aangevoer dat hulle nie in staat was om vir die kinders te sorg nie. Dit het hom ook baie kritiek op die hals gehaal.

Rousseau se werke is al dikwels deur vroue veroordeel oor sy mening oor die vrou se rol in die samelewing. Vroue moes, volgens hom, net onderrig word om hul mans te dien en hul kinders groot te maak.

Aan die positiewe kant, het Rousseau ’n verandering in die letterkunde teweeg gebring. Hy het skrywers geïnspireer om die skoonheid van die natuur ’n regmatige plek in die letterkunde te gee. Daar word gesê dat die Romantiese Beweging in Duitsland, Frankryk en Engeland deur Rousseau beïnvloed is. Hy word vandag beskou as een van die stigters van hierdie tydperk.

Rousseau se werk het ’n groot invloed op die samelewing gehad en sy werk word vandag nog bestudeer. 5

Woordbank

aand- en môrepraatjies nie ooreengestem Wanneer iemand een ding sê of skryf, maar iets heeltemal anders gedoen het.
adellike Aristokraties, vernaam; ’n hoë stand in die samelewing hê.
afgeskiet Verwerp.
barones ’n Oorerflike adellike titel.
bederf Iets slegter maak, beskadig.
begaafd Talentvol.
Calvinistiese Protestantse geloofsleer (naam is afkomstig van die hervormer Johannes Calvyn).
despote Iemand wat alleen wil regeer met geen sê van die burgers nie; tiran.
diskoerse Redevoering, gesprek.
essay ’n Opstel.
etiek Moraliteit, gedragsnorme, sedeleer.
filosoof Iemand wat die betekenis van die lewe ondersoek
Franse Revolusie Die Franse Revolusie was ’n tydperk in Frankryk toe die mense die monargie omvergewerp het en beheer oor die regering oorgeneem het.
graftombe Grafmonument van steen.
graveerder Om met ‘n harde, skerp instrument letters of simbole op marmer, metaal, ens. uit te krap.
haweloos As jy sonder ’n heenkome/huis is.
holte vir sy voet Blyplek/tuiste.
inherent Van nature.
intellektuele Geleerde mense wat met ernstige idees en onderwerpe te make het.
intellektualisme ’n Beskouing dat dit wat met die intellek te make het, belangriker is as ander vermoëns.
monargie Alleenheerskappy.
musieknotering  Die neerskryf van musiek.
naam op almal se lippe Almal praat van hom/haar.
ongeletterd Kan nie lees nie.
onstabiel Tree nie normaal op nie.
oorskot Lyk; liggaam van iemand nadat hy/sy dood is.
opera Dramatiese verhaal in die vorm van ’n musiekspel waarin die karakters hulle rolle sing.
op die hals gehaal Deur jou eie toedoen in die moeilikheid kom.
opspraak verwek ʼn Gebeurtenis waaroor almal praat; Stof opskop.
outobiografies Iemand se lewensverhaal.
paranoïes As iemand abnormaal daartoe geneig is om ander mense te wantrou; om aan vervolgingswaan te ly.
politiek Beginsels waarvolgens ’n staat regeer word.
politieke vryheid Wanneer ʼn land se burgers vrylik aan die politieke proses kan deelneem.
priester Iemand wat spesiale pligte in ʼn plek van aanbidding het.
Protestantse Kerk Christenkerk wat nie onderworpe is aan pouslike gesag nie en wat gebaseer is op wedergeboorte, vergifnis en verlossing deur Jesus Christus. Die enigste “hoof” wat erken word, is Jesus Christus.
rede Vermoë om te dink en te oordeel.
republieke ’n Regeringsvorm waarby die oppergesag berus by stemgeregtigde burgers.
revolusie ’n Groot en belangrike ontwikkeling wat heeltemal anders is as enigiets wat dit voorafgegaan het. In die geval is dat as die mense van ’n land baklei om die bestaande regering met ’n regering van hul keuse te vervang.
republikein Iemand wat ’n aanhanger van die republikeinse regeringsvorm is.
Romantiese Beweging Kuns- en intellektuele beweging/tydperk.
Rooms-Katoliek Die Rooms-Katolieke geloof is een van die drie hoofvertakkings van Christenskap. Die pous is die hoof van die Katolieke Kerk.
skandalig Afstootlik, skokkend, opspraakwekkend, onbetaamlik, onbehoorlik.
slaags raak Aan die baklei, handgemeen raak.
gesmag Hunker; om iets baie graag te wel hê.
spreekbuis Namens iemand/mense “praat” – gewoonlik in die vorm van ʼn koerant.
stadstaat ʼn Klein staat wat slegs ’n stadsgebied omvat, bv. Monaco.
toelaag Geld wat per maand aan iemand betaal word.
teenstrydighede Wat nie met iets anders ooreenstem nie.
vakman Handwerker; ambagsman.
verhandeling Studie, tesis; uiteensetting.
verderf Agteruitgang, verrotting.
verligting Nuwe insigte.

Lees die volgende artikels om meer oor Rousseau te leer

Kyk na hierdie video’s oor Rousseau

Rousseau se teorieë

Rousseau se vyf kinderontwikkelingstadiums

Waaroor het ‘Die sosiale kontrak’ gehandel?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 November 2023 | Bygewerk op 30 November 2023