Wat is woordbou?

Woordbou (ook: morfologie) is die deel van die taalkunde waar ons woorde bestudeer.

Woorde is soos Legoblokkies. Van die blokkies kan ʼn mens net so gebruik om mee te speel. Ander blokkies moet ʼn mens eers aanmekaarsit voordat dit iets maak wat vir ʼn mens iets beteken.

In die afdeling oor stamme en affikse het ons die bou van die onderdele bespreek. In hierdie afdeling bespreek ons die soorte bousels wat ʼn mens kry as ons die onderdele aanmekaargesit het.

Wat is simplekse en komplekse woorde?

Wanneer ons die bou van woorde ondersoek (hoe hulle aanmekaargesit is), sien ons dat woorde baie eenvoudig kan wees, of hulle kan saamgestel wees uit verskeie morfologiese bousels.

Simplekse woorde is woorde wat nie verder ontleed kan word in kleiner dele nie. Dit is dus woorde wat uit ʼn enkele stam/basis bestaan, bv.:

blom hand klas darem skilpad

Komplekse woorde is woorde wat ʼn mens in kleiner, betekenisdraende dele kan ontleed. Hierdie dele kan stamme en/of affikse wees.

Dit is belangrik om te onthou dat die stam wat jy identifiseer verband moet hou met die betekenis van die komplekse woord. Die woord onttrek bestaan byvoorbeeld uit ʼn prefiks ont- en ʼn stam trek, nie uit ʼn prefiks ont- en ʼn stam rek nie.

Komplekse woorde kan (volgens die indeling in die Afrikaanse woordelys en spelreëls) een van die volgende wees:

  • Afleiding of fleksievorm

Afleidings bestaan uit een stam en ten minste een afleidingsaffiks (sien ook die afdeling in hierdie ensiklopedie waar affikse en stamme behoorlik bespreek word). So ʼn afleidingsaffiks kan voor, agter of weerskante van die stam voorkom:

ontplof wenslik gebeente

Geflekteerde vorme bestaan uit een stam en ten minste een fleksie-affiks (sien ook die afdeling in hierdie ensiklopedie waar fleksie-affiksie behoorlik bespreek word). So ʼn fleksie-affiks kan voor of agter ʼn stam voorkom:

geweet mense

Onthou dat dit moontlik is om in een woord afleidings- en fleksie-affikse te hê:

ontploffings (ont + plof + ing + s = afleidingsaffiks + stam + afleidingsaffiks + fleksie-affiks)

Samestelling

ʼn Samestelling bestaan uit ten minste twee stamme. Die voorbeelde hier onder is almal samestellings:

potplant (pot + plant) veearts (vee + arts) klaskamer (klas + kamer) kombuisvloer (kombuis + vloer)
pretpark (pret + park) witreier (wit + reier) wilgertak (wilger + tak) dakteël (dak + teël)

Samestellings kan afgelei word (ʼn afleidingsaffiks kry). Sulke bousels noem ons “afgeleide samestellings”. Die voorbeelde hier onder is almal afgeleide samestellings:

drinkwaterloos

(drink + water + -loos)

oplossing

(op + los + -ing)

adjunkhoofskap

(adjunk + hoof + -skap)

Samestellings kan geflekteer word (ʼn fleksie-affiks kry). Sulke bousels noem ons “geflekteerde samestellings”, bv.:

potplante

(pot + plant + -e)

klaskamers

(klas + kamer + -s)

gestofsuig

(ge- + stof + suig)

walvisgeraamtes

(walvis + ge- + raam + -te + -s)

Samestellende samestelling

Samestellende samestellings het as eerste deel gewoonlik ʼn byvoeglike naamwoord of ʼn telwoord (lees ook hierdie blog op VivA se webblad). Daardie byvoeglike naamwoord of telwoord het net betrekking op die eerste deel van die samestelling. Om dié spesiale betekenisverhouding aan te dui, skryf ons die byvoeglike naamwoord of telwoord vas aan die samestelling, bv.:

vyfsterhotel (vyf sterre, nie vyf hotelle of vyf sterhotelle nie)
akademiesepresteerderrol (akademiese presteerder, nie akademiese rol of akademiese presteerderrol nie)

Samestellende afleiding

ʼn Samestellende afleiding bestaan uit ten minste twee stamme en ʼn afleidingsaffiks (lees ook hierdie blog op VivA se webblad). Dit is ʼn woord wat net vas geskryf word omdat die afleidingsmorfeem bykom. Sonder die afleidingsmorfeem is die twee stamme nie ʼn samestelling nie, bv.:

tentoonstelling (ten + toon + stel + -ing; daar is nie ʼn samestelling tentoonstel nie)
ondergronds (onder + grond + -s; daar is nie ʼn samestelling soos ondergrond nie)

Woordgroepsamestelling

ʼn Woordgroepsamestelling is ʼn samestelling wat bestaan uit ʼn stam wat die kern van die samestelling vorm plus ʼn woordgroep wat die bepaler van die samestelling vorm. Sulke samestellings wat uit meer as drie woorde bestaan, word gewoonlik met koppeltekens geskryf, bv.:

huis-toe-gaan-tyd staan-met-jou-hand-bak-houding

Van watter ander woordbouproses moet ʼn mens kennis neem?

Daar is bousels in Afrikaans wat nie netjies by die kategorieë hier bo inpas nie, want ons kry ook woorde wat saamgevoeg is uit stamme waar die stamme in die samevoeging verlore geraak het. Dié proses staan bekend as “inkrimping” en het woorde soos die volgende tot gevolg:

moenie (moet + nie) dankie (dank + u) hy’s (hy + is) dis (dit + is)

 

Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 26 Junie 2023