Vinnige feite

  • Bakterieë kan tot ses dae lank op oppervlakke en in wasbakke leef.
  • Moenie materiaalinkopiesakke in die motor se bagasiebak los tot die volgende keer wat julle winkel toe gaan nie, want kieme kan nog daarop wees. Was dit ná elke inkopie-uitstappie.
  • Skottelgoedlappies, borsels en sponsies is van die vuilste goed in die kombuis. Sit die lappies gereeld vir 60 sekondes in die mikrogolfoond of was dit en maak dit met warm lug in die tuimeldroër droog.
  • As daar bietjie muf op harde kaas (soos gouda of cheddar) is, kan jy dié deeltjie afsny en die res eet. As daar muf op brood is, moet jy alles weggooi, omdat daar dalk nog muf is wat jy nie kan sien nie.
  • Daar is nie iets soos ʼn “vyfsekondereël” nie. As kos op die grond val, moet dit nie optel en eet nie! 6
Foto: iStock

Dit is baie belangrik vir ons gesondheid om seker te maak dat ons kos reg hanteer, voorberei én bêre – nie net moet ons ons hande was voordat en terwyl ons met kos werk nie, ons moet ook enige plek waar met kos gewerk word, skoon hou. ʼn Mens noem dit voedselhigiëne of voedselveiligheid.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie word meer as 200 siektes deur kos versprei, en een uit elke 10 mense word jaarliks siek as gevolg van besmette kos. Sowat 420 000 mense sterf jaarliks weens virusse en bakterieë in kos (ons noem dit ook voedselvergiftiging), waarvan 125 000 kinders jonger as vyf jaar is. 1

Hoekom is voedselhigiëne so belangrik?

Net soos wat ons nie water sal drink as ons nie seker is of dit skoon is nie, net so kan ons nie kos eet waarvan die veiligheid betwisbaar is nie. 2

  • ʼn Mens kan nie maklik sien as kos met virusse of bakterieë besmet is nie. Jy gaan dit moontlik ook nie kan ruik of proe nie.
  • Bakterieë wat in kos kan wees, is E. coli, listeria en salmonella, en virusse wat in kos kan voorkom, sluit in die Norovirus en Rotavirus, asook Hepatitis A en E. Dit kan maagpyn, diarree en naarheid veroorsaak en kan jou laat ontwater (as jy te veel vog verloor), wat jou in die hospitaal kan laat beland. 3
  • Hande wat nie goed gewas word nie, veroorsaak 33% van alle kosverwante siektes.
  • Sommige bakterieë oorleef en groei selfs in die yskas. Daarom moet jy groente en vrugte was voordat jy dit sny of skil (al eet jy dalk net die binnekant). Onthou, groente en vrugte het natuurlike bakterieë op, wat oppervlakke kan besmet. 4
  • Al is dit hoe lekker om die lepel af te lek as mens iets bak, kan rou deeg jou siek maak. Dis eers as die koekies in die warm oond gebak is, wat dit veilig is om te eet.

Nuttige wenke

By die supermark

  • Sit kos wat uit die yskas of vrieskas kom (soos vis, vleis en hoender, asook melk en eiers) laaste in die waentjie of mandjie. 5
  • Gaan altyd die vervaldatum op die etiket na as jy vleis, vis of hoender koop. Moenie kos koop wat verval het of wat gaan verval voordat jy dit gaan gebruik nie.
  • Moenie hoender, vis of vleis wat snaaks lyk of ruik koop nie, selfs al het dit nog nie die vervaldatum bereik nie.
  • Moenie vis of vleis in dieselfde sakkies as goed soos groente en vrugte pak nie.
  • As jy eiers koop, maak seker die eiers is almal heel én skoon.

In die kombuis

  • Pak eers die goed weg wat in die yskas of vrieskas moet kom.
  • Hou die eiers in hulle oorspronklike verpakking (houer), en bêre dit in die yskas. Dit sal keer dat die eiers breek of die geure van ander produkte in die yskas absorbeer.
  • Die meeste rou vleis, hoender en vis moet binne twee dae gaargemaak óf gevries word. Biefstuk en tjops kan vir drie tot vyf dae in die yskas bly.
  • Onoopgemaakte pakkies Weense worsies en koue vleis kan vir twee weke in die yskas gebêre word. Oopgemaakte pakkies worsies moet binne 1 week geëet word, en koue vleis moet binne drie tot vyf dae geëet word.
  • Ontdooi (ontvries) vleis, hoender en vis in die yskas of mikrogolfoond, nooit by kamertemperatuur (net so oop in die kombuis) nie. Maak ontvriesde vleis, hoender en vis dadelik gaar; moenie dit lank laat staan nie.
  • Moet nooit rou hoender met water was nie. As jy rou vleis en hoender was, kan jy kieme in die kombuis versprei. Kieme word doodgemaak as hoender tot ʼn interne temperatuur van 74 °C gaargemaak word. (Jy kan ʼn voedseltermometer gebruik om te meet hoe warm dit binne-in is.) Vis en vleis (bees, vark en skaap) moet ʼn interne temperatuur van minstens 63 °C hê.
  • Was alle vrugte en groente met gewone water om plaagdoders, grond of bakterieë te verwyder (al sê dit dalk op die verpakking dit is reeds gewas). Verwyder die buitenste blare van blaargroentes soos spinasie en blaarslaai.
  • Moenie eiers vir langer as twee uur teen kamertemperatuur hou nie, en maak eiers goed gaar (dat die eierwit nie meer loperig is nie).

Was, was, was!

  • Al lyk die kombuis dalk skoon, kan jou hande, die werkoppervlakke, snybord en messe wat jy gebruik steeds baie onsigbare bakterieë ophê! Keer só die verspreiding van kieme as jy met kos werk: Was jou hande deeglik met seep en warm water voordat jy aan kos raak.
  • Was ook jou hande as jy met rou vleis, hoender, vis of eiers gewerk het.
  • Hou rou vleis, hoender en vis weg van ander kos. Moet nooit gaar kos in dieselfde bord sit waar die rou vleis was nie.
  • Gebruik een snyplank en mes vir rou vleis, hoender of vis, en ander borde en messe vir ander kos soos groente en slaai (anders gebeur wat ons noem kruisbesmetting).
  • As jy klaar kosgemaak het, vee die oppervlakke met warm seepwater of ʼn antibakteriese skoonmaakmiddel af. Jy kan ook papierhanddoeke gebruik om jou hande af te droog en oppervlakke mee skoon te maak.
  • Moenie vergeet om al die skottelgoed in warm seepwater te was nie. Was die snyplanke – wat ʼn broeiplek vir bakterieë kan word as dit nie goed skoongemaak word nie – ook in warm seepwater, afsonderlik van ander skottelgoed.

Smul veilig aan oorskietkos

Aandete was heerlik, en daar het nog kos oorgebly om later te geniet.

Bêre oorskietkos só veilig:

  • Sit oorskietkos binne twee uur ná ete in die yskas. As dit te lank teen kamertemperatuur gelos word, kan bakterieë vinnig vermeerder en ʼn heerlike gereg in ʼn voedselvergiftigingsramp verander.
  • Bêre oorskietkos in houers met deksels wat goed kan seël. Bakkies is goed om kos in te bêre, maar maak dit styf toe met kleefplastiek of foelie om te keer dat die kos uitdroog.
  • Eet enige oorskietkos binne drie tot vier dae of vries dit. Moenie enige kos met rou vrugte of groente, hardgekookte eiers of mayonnaise vries nie. Onthou: Om kos te vries, maak nie bakterieë dood nie. Jy kan dit net doodmaak deur kos gaar te maak.
  • Deel oorskietkos in porsies vir een of twee mense, dan kan jy dit maklik uit die vrieskas haal, in die mikrogolfoond warm maak en smul.
  • Bêre oorskietkos in plastiekhouers, plastieksakke of aluminiumfoelie. Moenie bakkies tot bo vul nie; as kos gevries is, swel dit uit. Eet bevrore kos binne twee maande vir die beste gehalte.

Maak só met die mikrogolfoond

Die mikrogolfoond is ʼn wonderlike toestel om kos te ontvries, warm en selfs gaar te maak.

Maak egter seker van die volgende voordat jy die mikrogolfoond aansit:

  • Gebruik slegs houers wat vir mikrogolfoondgebruik goedgekeur is. (Daar is gewoonlik ʼn teken met golwe op die houer wat wys dat dit veilig is om in ʼn mikrogolfoond te gebruik.)
  • Moet nooit dun plastiekhouers, soos botter- of maaskaasbakkies, in die mikrogolf sit nie. Die hitte kan die plastiekbakkies laat smelt, wat sal veroorsaak dat sommige van die chemikalieë in die plastiek in die kos beland.
  • Moenie metaalhouers, messegoed, aluminiumfoelie of bruinpapiersakkies in die mikrogolfoond sit nie. Waspapier is wel veilig vir gebruik in ’n mikrogolfoond.
  • As jy die mikrogolfoond gebruik om rou vleis, vis of hoender te ontvries, maak dié kos so gou moontlik gaar nadat dit ontvries is.
  • Wanneer jy oorskietkos opwarm, maak seker dit is vuurwarm. Dit sal enige kieme wat dalk ingesluip het, doodmaak.
  • Volg die aanwysings op kosverpakking noukeurig, en hou by die tydsaanwysings.

Woordbank

bakterieë Klein organisme wat infeksie en besmetlike siekte veroorsaak.
chemikalieë Stof wat verkry of gebruik word in chemiese reaksies.
kamertemperatuur Normale temperatuur vir ‘n woonkamer (sowat 20 °C).
oorskietkos Wat oorgebly het nadat jy iets gebruik het; oorblyfsel; res.
voedselvergiftiging Ongesteldheid, soms noodlottig (dodelik), as gevolg van bedorwe/giftige voedsel wat geëet is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Voedselveiligheid: ontmoet bakterieë

Veiligheid en gesondheid: ʼn basiese inleiding tot voedselhigiëne

Hoe om kos veilig te bêre

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Oktober 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024