Wat is direkte en indirekte rede?

Wanneer ’n skrywer in ’n teks skryf wat mense gesê het, kan dit op een van twee maniere gedoen word:

  • Die skrywer kan gesprekke weergee in direkte rede, wat beteken dat die woorde wat die mense gesê het, net so neergeskryf word soos wat hulle dit gesê het. Die belangrikste eienskap waaraan ’n mens direkte rede kan herken, is dat dit tussen aanhalingstekens geplaas word.
  • Die skrywer kan gesprekke weergee in indirekte rede, wat beteken dat die skrywer oorvertel wat mense gesê het. (In Engels staan “indirekte rede” ook as “reported speech” bekend.) Teks in die indirekte rede word nie tussen aanhalingstekens geplaas nie.

Hoe skryf ʼn mens direkte rede in ʼn teks?

Die reëls vir die gebruik van leestekens word in hoofstuk 13 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls gegee, en hierdie artikel is dus net ʼn opsomming van die reëls. In hierdie ensiklopedie is daar ook ʼn afdeling oor leestekens wat jy kan raadpleeg.

Direkte rede word soos volg geskryf:

  • Alles wat die direkte woorde van die persoon is, word tussen aanhalingstekens geplaas, byvoorbeeld:
    • “Ek hou nie van roomys nie.”
  • Die leesteken wat die sin afsluit, kom voor die slotaanhalingsteken, byvoorbeeld:
    • “Ek hou nie van roomys nie …”
    • “Ek het mos gesê ek hou nie van roomys nie!”
    • “Hoekom het jy al weer roomys gekoop?”
  • Die verteller se woorde (vetgedruk hier onder) kom buite die aanhalingstekens, byvoorbeeld:
    • Johan trek ’n gesig. “Ek hou nie van roomys nie.”
    • “Ek hou nie van roomys nie.” Johan trek ʼn gesig.
  • As die vertellerteks ʼn aanloop is vir die direkte rede (een sin vorm met die direkte rede) en voor die direkte rede staan, kom daar ʼn dubbelpunt ná die vertellerteks en voor die aanhalingstekens van die direkte rede. As die vertellerteks voor die direkte rede staan, kom die slotleesteken van die direkte rede binne die aanhaling, byvoorbeeld:
    • Johan sê vies: “Ek hou nie van roomys nie.”
    • Johan gil: “Ek hou nie van roomys nie!”
    • Johan vra: “Is daar nog roomys?”
  • As die vertellerteks een sin vorm met die direkte rede en ná die direkte rede staan, kom daar ʼn komma aan die einde van die direkte rede, dan die aanhalingstekens, dan die vertellerteks en dan die punt, byvoorbeeld:
    • “Ek hou nie van roomys nie,” sê Johan vies.
  • Indien die direkte rede met ellipsstippels afgesluit word, kom daar ʼn komma direk ná die ellipsstippels en voor die slotaanhalingsteken, byvoorbeeld:
    • “Ek hou nie van r-roo…,” stotter Johan.
  • Indien die direkte rede met ʼn uitroepteken of ʼn dubbelpunt afgesluit word, begin die eerste woord van die vertellerteks steeds met ʼn kleinletter, byvoorbeeld:
    • “Ek hou nie van roomys nie!” skree Johan kwaad.
    • “Hoekom het jy vir my roomys gekoop?” vra Johan verbaas.
  • In Afrikaans gebruik ons die dubbelaanhalingstekens vir direkte rede. Ons gebruik die enkelaanhalingstekens net as daar direkte rede binne ʼn ander stuk direkte rede voorkom, byvoorbeeld:
    • “Maar jy het dan gesê ‘roomys’ toe ek jou gevra het wat jy vir nagereg wil hê,” sê Mamma verbaas.
  • Interne dialoog (dit is woorde wat ʼn karakter dink, maar nooit uitspreek nie), word nie tussen aanhalingstekens geplaas nie, byvoorbeeld:
    • Oe jippie! dink Johan. Ek gaan al hierdie roomys alleen opeet.
  • In ʼn storieboek skryf ons elke dialoogbeurt van ʼn karakter op ʼn nuwe reël:
    • “Genade, Johan!” roep Mamma uit. “Waar is al die roomys?”
    • “Ek het alles opgeëet,” erken hy skaam.
    • “Jy gaan vet word,” terg Sussie.
    • “En maagpyn kry!” raas Pappa.

Hoe skryf ons indirekte rede?

Indirekte rede is maar net ʼn oorvertelling van iemand anders se woorde, en daar is nie ʼn klomp leestekens wat ʼn mens moet gebruik soos by die direkte rede nie. Let net na die volgende kwessies op as jy kies om die indirekte rede te gebruik:

  • As ʼn mens die persoon se woorde indirek weergee, kan ʼn mens dit met of sonder die voegwoord dat doen, byvoorbeeld:

Johan sê dat hy nie van roomys hou nie.

Johan sê hy hou nie van roomys nie.

  • As ʼn mens ʼn vraagsin in die indirekte rede skryf, gebruik ʼn mens die voegwoord of, of vraende voornaamwoorde, byvoorbeeld:

Mamma vra of Johan die roomys opgeëet het.

Mamma vra waar al die roomys heen verdwyn het.

Mamma vra wie die roomys opgeëet het.

  • Die tyd (Engels: tense) wat vir die indirekte rede gebruik word, het te doen met wat in die storie gebeur en in watter soort teks die indirekte rede voorkom, byvoorbeeld:

In Afrikaans skryf ons stories in die historiese teenwoordige tyd. Dit beteken die skrywer skryf die storie in die hede, asof dinge nou gebeur. Die dele van die teks wat in indirekte rede geskryf word (in vetdruk hier onder), is ook in die hede, byvoorbeeld:

Toe Johan by die huis kom, kyk hy dadelik in die yskas. Sussie roep van die kamer af en vra of daar roomys is. Johan klap die yskas se deur toe en skree terug dat die roomys op is. Netnou moet hy die roomys met haar deel.

  • Nog tekste wat ons gewoonlik so in die historiese teenwoordige tyd skryf, is notules, biografieë en getuigskrifte.
  • Ons skryf tekste soos koerantberigte, verklarings en dagboekinskrywings gewoonlik in die verlede tyd. In die volgende voorbeeld is die indirekte rede weer vetgedruk. Let op na hoe die verlede tyd daar gebruik word:
    • ʼn Vragmotor met ʼn besending roomys het by die kruising van Jansenstraat en Houdiniweg omgeslaan. Die bestuurder van die roomystrok het gesê dat hulle die roomys by die skool op die hoek uitgedeel het omdat dit in elk geval sou smelt.

Wat van die sogenaamde “omskakeling” van direkte na indirekte rede?

In sommige skoolhandboeke en in hierdie artikel op Wikipedia is daar reëls waarmee direkte rede na indirekte rede “omgeskakel” moet word. Dit is ʼn lawwe oefening, want ʼn mens doen dit nooit in die “werklike lewe” nie. ʼn Skrywer weet vooraf of ʼn stuk teks in die direkte of indirekte rede weergegee gaan word, en in die meeste tekste gebruik skrywers beide direkte en indirekte rede. Lees ook hierdie blog oor die kwessie wat op VivA se blogblad gepubliseer is.

Een van die sogenaamde “reëls” wat ontsettend verwarring veroorsaak, en dikwels in stryd is met wat in werklike taalgebruik gebeur, is dat bywoorde wat tyd en plek aandui, altyd verander, bv. nou word toe, hier word daar, vanjaar word daardie jaar, ens. Dit is nie waar nie. As ʼn mens die sin Johan sê: “Hier was vanoggend nog roomys in die yskas!” in die indirekte rede sou skryf, kan dit beslis ook wees Johan sê dat hier vanoggend nog roomys in die yskas was.

Wanneer gebruik ons direkte rede, en wanneer gebruik ons indirekte rede?

Die soort teks wat die skrywer skep, bepaal of direkte of indirekte rede meer geskik is. In storieboeke, waar ʼn leser die gebeure in sy/haar kop moet “beleef”, is direkte rede byvoorbeeld baie meer gepas. Dis ʼn manier om die leser saam met die karakters die gebeure te laat beleef, want in plaas daarvan dat die verteller alles oorvertel wat in die storie gebeur, kry die leser kans om alles saam met die karakters te ervaar.

In koerantberigte en in akademiese artikels, aan die ander kant, is dit nie doeltreffend om alles in direkte rede te stel nie. Die gebeure of feite word weergegee, en die direkte woorde van ʼn betrokkene of ʼn navorser word net aangehaal om ʼn bepaalde punt te staaf. In so ʼn geval is dit baie belangrik dat die woorde tussen die aanhalingstekens presies is wat die betrokke persoon gesê of geskryf het.

Grafika: Viva
Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 26 Junie 2023