Wat is die bedrywende en lydende vorm?

In die meeste skoolhandboeke word daar van die bedrywende en lydende vorm gepraat. In die meeste taalkundehandboeke word die bedrywende vorm die “aktiewe vorm” of die “aktief” genoem, en die lydende vorm word die “passiewe vorm” of “passief” genoem. Albei is korrek.

As ons oor die bedrywende en die lydende vorm praat, praat ons van die sin se volgorde. Om hierdie afdeling van die werk te verstaan, moet jy weet wat die onderwerp (of subjek) van ʼn sin is, en jy moet weet wat die direkte voorwerp (of direkte objek) van die sin is. Jy moet ook weet wat ʼn hoofwerkwoord, ʼn koppelwerkwoord en ʼn hulpwerkwoord van vorm is.

 Wat is die bedrywende vorm (aktief)?

ʼn Sin in die bedrywende vorm begin gewoonlik met die onderwerp (subjek):

  • Die hoof straf die ongehoorsame kinders. (wie/wat straf? = die hoof = onderwerp; die hoof straf wie/wat = die ongehoorsame kinders = direkte voorwerp)
  • Die bure se hond byt my sussie. (wie/wat byt? = die bure se hond = onderwerp; die bure se hond byt wie/wat? = my sussie = direkte voorwerp)
  • ʼn Dief steel my pa se kar. (wie/wat steel? = ʼn dief = onderwerp; ʼn dief steel wie/wat? = my pa se kar = direkte voorwerp)

 Wat is die lydende vorm (passief)?

Sinne in die lydende vorm:

  • begin met die bedrywende sin se direkte voorwerp;
  • kry ʼn hulpwerkwoord van vorm (of omskrywingshulpwerkwoord);
  • het die bedrywende sin se werkwoord(e) aan die einde van die sin waar die hoofwerkwoord ge- kry; en
  • kan die bedrywende sin se onderwerp hê ná die voorsetsel deur.

As ons die voorbeeldsinne hier bo in die lydende vorm omskakel, lyk hulle so:

onderwerp werkwoord direkte voorwerp werkwoord
B Die hoof straf die ongehoorsame kinders  
L Die ongehoorsame kinders word deur die hoof gestraf
       
B Die bure se hond byt my sussie  
L My sussie word deur die bure se hond gebyt
       
B ʼn Dief steel my pa se kar  
L My pa se kar word deur ʼn dief gesteel

Hoekom gebruik ons die lydende vorm?

Die volgorde waarin ons inligting in ons sinne rangskik, beïnvloed die manier waarop ons lesers of hoorders die inligting verstaan. Kyk na die volgende sinne.

Dit het dieselfde inligting, maar die volgorde verskil, daarom verstaan ons die sinne verskillend:

  • Die hotel bedien soggens ʼn heerlike ontbyt. (Hierdie sin gaan oor die hotel.)
  • Soggens bedien die hotel ʼn heerlike ontbyt. (Hierdie sin gaan oor die tyd waarop iets gebeur.)
  • ʼn Heerlike ontbyt word soggens deur die hotel bedien. (Hierdie sin gaan oor die ontbyt.)

Uit die voorbeeldsinne hier bo, kan ons duidelik sien dat die inligting wat ons eerste vir die leser/hoorder gee, gewoonlik die tema van die sin is (die belangrikste inligting in die sin is). Die lydende vorm is ʼn manier om die direkte voorwerp se inligting die tema van die sin te maak.

Moet die bedrywende sin se onderwerp in die lydende sin wees?

Nee. Die lydende vorm kan nog die bedrywende sin se onderwerp behou en dit ná deur in die sin hê, maar dis heeltemal aanvaarbaar om dié deel van die sin weg te laat, bv.:

  • Die ongehoorsame kinders word deur die hoof gestraf. X Die ongehoorsame kinders word gestraf.
  • My sussie word deur die bure se hond gebyt. X My sussie word gebyt.
  • My pa se kar word deur ʼn dief gesteel. X My pa se kar word gesteel.

As ʼn mens die redes in gedagte hou waarom ʼn mens die lydende vorm gebruik, soos wat ons in die paragraaf hier bo verduidelik het, is dit heeltemal logies dat ʼn mens daardie oorspronklike onderwerp sou kon weglaat. Die sin gaan nie meer oor die inligting van die oorspronklike onderwerp nie, dit gaan oor die inligting van die direkte voorwerp. ʼn Mens gebruik veral die lydende vorm in sinne waar ʼn mens nie die onderwerp se inligting vir die leser wil of kan gee nie.

  • Die dief word (deur die polisie) in hegtenis geneem. (Net die polisie kan diewe in hegtenis neem, dis oorbodig om te sê deur die polisie.)
  • Die man is gisternag vermoor. (Ons weet nie wie die man vermoor het nie, daarom kan ons nie sê Die man is deur Koos Koekemoer vermoor)

Hoe werk die tyd by die lydende vorm?

Die grootste rede waarom mense met die lydende vorm sukkel, is omdat hulle die tyd van die hulpwerkwoord van vorm verkeerd aandui.

Die hulpwerkwoord van vorm is in die teenwoordige tyd word en in die verlede tyd is, bv.:

onderwerp werkwoord direkte voorwerp werkwoord
TT Die ongehoorsame kinders word deur die hoof gestraf
VT Die ongehoorsame kinders is deur die hoof gestraf
       
TT My sussie word deur die bure se hond gebyt
VT My sussie is deur die bure se hond gebyt
       
TT My pa se kar word deur ʼn dief gesteel
VT My pa se kar is deur ʼn dief gesteel

Baie gebruikers gebruik was in die verlede tyd vir die lydende vorm.

Dis hoe dit in Engels werk, maar dis nie vir Afrikaans korrek nie, bv.:

  • Die ongehoorsame kinders was deur die hoof gestraf. (verkeerd; moet wees is gestraf)
  • My sussie was deur die hond gebyt. (verkeerd; moet wees is gebyt)
  • My pa se kar was deur ʼn dief gesteel. (verkeerd; moet wees is gesteel)

Wanneer is dit is en wanneer is dit was?

Hou in gedagte dat die werkwoord is in Afrikaans op twee maniere in ʼn sin kan optree en dan twee verskillende soorte werkwoorde is.

Die woord is kan ʼn koppelwerkwoord wees, en in sulke sinne is die woord is die hoofwerkwoord van die sin. In sulke sinne dui die is die teenwoordige tyd aan. Onthou dat koppelwerkwoorde se “werk” is om ʼn eienskap van die onderwerp met die onderwerp te koppel, wat beteken dat sulke sinne ʼn toestand beskryf, bv.:

  • Die motor is (Die motor het ʼn eienskap dat dit stukkend is, daarom is dit ʼn stukkende motor. Daardie woord stukkend is in hierdie sin ʼn byvoeglike naamwoord.)
  • Die motor is (Die motor het ʼn eienskap dat dit gebreek is, daarom is dit ʼn gebreekte motor. Daardie woord gebreek is in hierdie sin ʼn byvoeglike naamwoord, spesifiek ʼn deelwoord wat as ʼn byvoeglike naamwoord optree.)
  • Die motor is (Die motor het ʼn eienskap dat dit gesteel is, daarom is dit ʼn gesteelde motor. Daardie woord gesteel is hier ʼn byvoeglike naamwoord, spesifiek ʼn deelwoord wat as ʼn byvoeglike naamwoord optree.)

Die verlede tyd van sulke sinne word met was aangedui. Sulke sinne beskryf met ander woorde die verlede tyd van ʼn toestand, bv.:

  • Die motor was stukkend (maar is nou weer heel omdat dit reggemaak is).
  • Die motor was gebreek (maar is nou weer heel omdat dit reggemaak is).
  • Die motor was gesteel (maar is nou weer terug by sy eienaar omdat die polisie dit teruggevind het).

Waar is ʼn hulpwerkwoord van vorm is, tree dit altyd saam met ʼn ander werkwoord op. In sulke sinne is die is nie die hoofwerkwoord nie en dui dit die verlede tyd aan, bv.:

  • Die motor is deur die dief gesteel.

Die belangrikste wenk om hier te onthou, is dat die was ʼn toestand aandui en die is ʼn proses.

Wat gebeur met bywoordelike bepalings in die lydende vorm?

ʼn Mens hoef nie in Afrikaans sinne met die onderwerp te begin nie.

Sinne kan ook met bywoordelike bepalings begin, bv.:

  • Sonder enige waarskuwing straf die hoof ongehoorsame kinders. (Hoe straf die hoof?)
  • Wanneer sy gil en skree, byt die bure se hond my sussie. (Wanneer byt die hond?)
  • Gisternag het ʼn dief my pa se kar gesteel. (Wanneer het die dief die kar gesteel?)

Dit is moontlik om nog steeds sulke sinne in die lydende vorm te skryf.

Daardie bywoordelike bepalings wat in die sinne hier bo vetgedruk is, kan dan ook nog steeds aan die begin van die sin staan:

  • Sonder enige waarskuwing word die ongehoorsame kinders deur die hoof gestraf.
  • Wanneer sy gil en skree, word my sussie deur die bure se hond gebyt.
  • Gisternag is my pa se kar deur ʼn dief gesteel.

Daar is nie ʼn reël wat sê dat die bywoordelike bepaling aan die begin van die sin moet staan nie, dit kan ook later in die sin voorkom. (Onthou wat ons hier bo gesê het: Die inligting wat die tema van jou sin is, staan aan die begin van die sin.) Die belangrikste is dat jy nie van die bywoordelike bepalings moet vergeet as jy die sin na die lydende vorm toe omskakel nie.

 Wat gebeur met ontkenning in die lydende vorm?

Net soos wat bedrywende sinne in die ontkenning kan wees, kan die lydende vorm in die ontkenning wees. Jy hoef niks aan die ontkenningswoorde te doen nie, hulle bly dieselfde vir die lydende vorm as vir die bedrywende vorm, en hulle staan op dieselfde plek in die sin. Die omskakeling tussen bedrywende en lydende vorm bly soos wat ons dit hier bo beskryf het, bv.:

onderwerp werkwoord ontkenning direkte voorwerp werkwoord ontkenning
B Die hoof straf nie die ongehoorsame kinders   nie
L Die ongehoorsame kinders word nie deur die hoof gestraf nie
           
B Die bure se hond byt nooit my sussie   nie
L My sussie word nooit deur die bure se hond gebyt nie
           
B ʼn Dief het nie my pa se kar gesteel nie
L My pa se kar is nie deur ʼn dief gesteel nie
Gepubliseer op: 11 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023