Het alle sinne net een onderwerp en een gesegde?

In die inleiding tot sinsleer het ons gesê dat ’n sin (soos wat dit in sinsleer ontleed word) gewoonlik ten minste uit ’n onderwerp en ’n gesegde bestaan. Ons het ook gesê ons erken dat mense in die werklikheid wel met “onvolledige” of “ongrammatikale” konstruksies kan kommunikeer, maar dat ons sulke bousels “uitings” noem, nie “sinne” nie.

Het alle sinne dan net een onderwerp en gesegde? Nee, natuurlik nie.

Sommige sinne het wel net een onderwerp en een gesegde. Sulke sinne noem ons in die taalkunde “simplekse sinne“. In skoolhandboeke word sulke sinne dikwels “enkelvoudige sinne” genoem. Sinne wat meer as een gesegde het, word in die taalkunde “komplekse sinne” genoem. In skoolhandboeke word daar na “veelvoudige” en “saamgestelde sinne” verwys.

Wat is ’n “simplekse sin” (ook: enkelvoudige sin) en ’n “komplekse sin”?

’n Simplekse sin het een gesegde. ’n Komplekse sin het meer as een gesegde.

Die eienskap van ’n gesegde is dat dit ten minste uit ’n hoofwerkwoord moet bestaan. Elke gesegde kan ook net een hoofwerkwoord hê. In skoolwerk word die gesegde dikwels (verkeerdelik) gedefinieer as “al die werkwoorde in die sin”, maar dit is nie korrek nie. Die gesegde is alles in die sin wat nie die onderwerp is nie.

Die gesegde kan dus uit meer sinsdele as net die hoofwerkwoord bestaan, maar dit moet ten minste ’n hoofwerkwoord hê om ’n gesegde te wees. In werklikheid beteken dit dus dat ’n simplekse sin een hoofwerkwoord en ’n komplekse sin meer as een hoofwerkwoord het.

As jy nie seker is hoe om hoofwerkwoorde in sinne te identifiseer nie, navigeer na die afdeling oor woordsoorte in hierdie ensiklopedie, of gaan na Taalonderrigportaal op VivA se webblad waar jy in die Afrikaanse skoolgrammatika ’n volledige beskrywing van woordsoorte sal aantref.

Hoe herken ʼn mens simplekse en komplekse sinne?

Wanneer ons sinne moet ontleed, is dit die heel maklikste om te begin deur elke woord in die sin se woordsoort te kry. Kyk byvoorbeeld na die sin hier onder:

Lanie kom ook vanaand partytjie toe.

As ons ’n woordsoort vir elke woord in hierdie sin moet gee, lyk dit so:

eienaamwoord onoorganklike hoofwerkwoord bywoord bywoord soortnaamwoord Agtersetsel
Lanie kom ook vanaand partytjie toe

Sonder om eers verder te dink, kan ons dadelik sê dat hierdie sin ’n simplekse sin is, want dit het net een hoofwerkwoord.

Kom ons ontleed nou hierdie sin:

Lanie sê dat sy ook vanaand partytjie toe kom.

As ons ’n woordsoort vir elke woord in hierdie sin moet gee, lyk dit so:

eienaam-woord oorganklike hoofwerk-woord onder-skikkende voegwoord voornaam-woord bywoord bywoord soortnaam-woord agter-setsel onoorganklike hoofwerk-woord
Lanie dat sy ook vanaand partytjie toe kom

Hierdie sin het twee hoofwerkwoorde, daarom is die sin kompleks.

Wat is ʼn hoofsin en wat is ʼn bysin?

Aangesien ’n komplekse sin meer as een hoofwerkwoord (en dus meer as een gesegde) het, beteken dit dat komplekse sinne uit meer as een sin bestaan. Die soort sinne waaruit komplekse sinne bestaan, verskil.

’n Hoofsin is ’n sin wat deel is van ’n komplekse sin wat op sy eie sou kon staan. In die voorbeelde hier onder is die hoofsinne met blokhakies aangedui:

  • [Jeanette het die prys gewen], want [haar opstel was die beste].
  • [Murray het haar gelukgewens], maar [hy wou eintlik gewen het].

 As jy die sinne tussen die blokhakies op hulle eie sou gaan neerskryf, is daardie sinne almal volledig en grammatikaal.

’n Bysin is ’n sin wat deel is van ’n komplekse sin, maar wat nie op sy eie sou kon staan nie. In die voorbeelde hier onder is die sinne tussen blokhakies bysinne:

  • Die bus waarmee [ons sou gery het], is stukkend.
  • Dit help nie dat [hy nie geleer het nie].

Wat is onafhanklike en afhanklike sinsvolgorde?

As jy weer na die voorbeelde hier bo kyk, sal jy sien dat die hoofsinne op hulle eie kan staan omdat hulle onafhanklike sinsvolgorde het. Dit beteken in hierdie sinne staan die werkwoord in die spilposisie (die posisie net ná die onderwerp).

  • Jeanette het die prys gewen.
  • Haar opstel was die beste.

Bysinne het gewoonlik afhanklike sinsvolgorde. Dit beteken dat daar geen werkwoord in die spilposisie is nie en dat al die werkwoorde aan die sinseinde staan:

  • … ons sou gery het
  • … hy nie geleer het

Bysinne kan wel onafhanklike sinsvolgorde hê as die onderskikkende voegwoord weggelaat word:

  • [Die skoolhoof sê] DAT [Jeanette die prys gewen het]. (hoofsin = bysin met afhanklike sinsvolgorde)
  • [Die skoolhoof sê] [Jeanette het die prys gewen].

Wat bepaal die sinsvolgorde van die bysin?

Daar is bepaalde woorde in Afrikaans waarmee ons die sinne waaruit komplekse sinne bestaan, aan mekaar verbind. Kyk weer na hierdie voorbeelde:

  • [Murray het haar gelukgewens], MAAR [hy wou eintlik gewen het]. (neweskikkende voegwoord)
  • Dit help nie DAT [hy nie geleer het nie]. (onderskikkende voegwoord)

Die woorde wat hier bo in hoofletters gedruk is, is voegwoorde, en die sinsvolgorde van die sin ná die voegwoord word bepaal deur watter soort voegwoord in die sin voorkom.

Neweskikkende voegwoorde (“newe” = langs mekaar; “skik” = rangskik) vereis dat die twee sinne dieselfde sinsvolgorde moet hê:

  • [Murray het haar gelukgewens], MAAR [hy wou eintlik gewen het]. (hoofsin + hoofsin)

Onderskikkende voegwoorde vereis dat die tweede sin afhanklike sinsvolgorde moet hê:

  • [Die skoolhoof sê] DAT [sy eerste in die kompetisie geëindig het]. (hoofsin + bysin)

(As jy meer wil weet oor voegwoorde, lees die afdeling in hierdie ensiklopedie oor woordsoorte, of raadpleeg die Afrikaanse skoolgrammatika in Taalonderrigportaal op VivA se webblad om ’n volledige bespreking van voegwoorde te sien.)

Wat is veelvoudige en saamgestelde sinne?

In die meeste skoolhandboeke word daar onderskei tussen “veelvoudige” en “saamgestelde” sinne.

’n Veelvoudige sin is ’n komplekse sin wat bestaan uit ’n hoofsin en ’n hoofsin wat met ’n neweskikkende voegwoord verbind word, bv.:

  • Lanie kom ook vanaand partytjie toe, MAAR Karin gaan liewer by die huis bly.
  • Marius het nie vir die toets geleer nie, WANT hy moes rugby oefen.
  • Wil jy roomys saam met jou vrugteslaai , OF wil jy eerder roomys en sjokoladesous ?
  • Handré het die bal tussen die pale deur geskop, EN die hele land het gejuig.

 In die voorbeelde hier bo is die neweskikkende voegwoorde in hoofletters en die hoofwerkwoorde vetgedruk sodat jy hulle maklik kan raaksien. Kyk na die sinne weerskante van die vetgedrukte voegwoorde. Elkeen van die sinne weerskante van die voegwoorde het ’n hoofwerkwoord. Al dié sinne weerskante van die voegwoorde het onafhanklike sinsvolgorde en sou gemaklik net so op hulle eie kon staan, wat beteken dat hierdie komplekse sinne almal veelvoudige sinne is.

Kyk nou na die volgende groepie voorbeelde:

  • Ek vra jou dan OF jy nog roomys wil .
  • Die hele land was bly DAT Handré die bal oorgeskop
  • Marius sal hard moet leer AS hy goed wil doen.

 In hierdie voorbeelde is daar ook elke keer ’n voegwoord (aangedui in hoofletters) en twee hoofwerkwoorde (vetgedruk). In al die voorbeelde kan ’n mens die sinne voor die voegwoord op hulle eie gebruik (dit is dus hoofsinne met onafhanklike volgorde), maar die sinne ná die voegwoord kan ’n mens nie net so gebruik nie. Daardie sinne het afhanklike sinsvolgorde en is dus bysinne. Komplekse sinne wat bestaan uit ’n hoofsin en ’n bysin, is saamgestelde sinne.

Wat is die probleem met hierdie indeling?

In die taalkunde onderskei ons net tussen simplekse en komplekse sinne, want komplekse sinne kan uit ’n hele klomp sinne bestaan, nie net twee nie. Die meeste storieboeke, tydskrifartikels en koerantberigte se sinne is nie net veelvoudige of saamgestelde sinne nie.

Kyk byvoorbeeld na die volgende sin wat net so uit die Wikipedia-artikel oor walvisse geneem is. Die hoofwerkwoorde in hierdie komplekse sin is almal ook vetgedruk, en die voegwoorde is in hoofletters.

  • Walvisse het waarskynlik van landlewende diere ontwikkel, MAAR die fossielrekord is baie onvolledig SODAT dit moeilik is OM hul evolusionêre geskiedenis te bepaal.

Hierdie komplekse sin bestaan uit twee hoofsinne:

Walvisse het waarskynlik van landlewende diere ontwikkel.

Die fossielrekord is baie onvolledig.

Maar daar is ook twee bysinne in die komplekse sin:

… sodat dit moeilik is …

… om hul evolusionêre geskiedenis te bepaal …

In die taalkunde onderskei ons dus net tussen simplekse en komplekse sinne, en ons fokus eerder verder op die soort sinne waaruit die komplekse sin saamgestel is.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Gepubliseer op: 2 Desember 2021 | Bygewerk op 25 Junie 2023