Vinnige feite

Ritme is iets wat oral rondom ons te vind is – kyk sommer na die volgende voorbeelde:

  • Daar is ritme in ’n dans.
  • Ritme in poësie is ’n golwing wat, onder meer, bepaal word deur klemtoon, intonasie en tempo.
  • ’n Skrywer/outeur/digter het elkeen ’n persoonlike skryfritme.
  • Ons praat ook van ’n hartritme of polsslag.
Foto: iStock

Ritme is die geordende, herhaalde, terugkerende afwisseling van sterk en swak elemente in die vloei van klank. Dit is ook die reëlmatige beweging in dans, musiek, vers, kunsprosa, ensovoorts. 1 Die woord ritme is afkomstig van die Griekse woord rhythmós”, afgelei van rhein en beteken ‘om te vloei.’ 4

Ritme is ’n noodsaaklikheid

Elke dag volg jy ’n sekere ritme: Jy staan ’n sekere tyd op, eet ontbyt, gaan skool toe en volg ʼn rooster met periodes wat ’n sekere ritme (tydsduur) het, of werkure wat volgens ’n spesifieke ritme verloop. Dit alles vorm op die ou end deel van ’n roetine, maar elk met ’n eie ritme.

’n Mens se hart klop volgens ’n sekere ritme, wat noodsaaklik is vir lewe en normale funksionering. Die gemiddelde hartklop van ’n volwassene is 72 polsslae per minuut. 4 As mens mooi luister hoor jy dat jou asemhaling ook volgens ’n spesifieke ritme plaasvind. Jou asemhaling sal vinniger wees wanneer jy oefen, vinnig beweeg of skrik – net soos jou hartritme wat dan ook sal versnel.

In tale volg woorde ’n spesifieke ritme wat help om die woorde korrek uit te spreek sodat dit beter verstaanbaar is. Ons beweeg en dans op die spesifieke ritme van die musiek waarvolgens mens ook jou hande of vingers kan klap en voete kan stamp. Ritme is energie!

In musiek beteken ritme tydstruktuur, die volgorde en lengte van tone, klanke en selfs pouses. 2 Dit word gesien as die reëlmatige beweging of melodiese patroon wat deur ‘n reeks note van wisselende duur en klem, of deur wisselende maatslae tot stand gebring word. 3

Elemente van ritme

’n Musikale werk is ’n komposisie wat afhanklik is van ’n spesifieke tyd. Ritme is musiek se patroon van tyd. Hoewel ’n musiekstuk verskillende ander elemente soos toonhoogte en melodie ook bevat, kan ’n musiekstuk nie bestaan sonder dat dit volgens ’n spesifieke ritme gespeel moet word nie.

Dink bietjie hieraan: Musiek kan nog sonder ’n melodie bestaan, soos in ’n instrumentele stuk wat slegs uit slaginstrumente, veral tromme, bestaan – maar melodie kan nie sonder ritme bestaan nie. Ritme word gesien as die orde van beweging. 4

Tempo

Tempo is die snelheid waarvolgens musiek teen die stadige of vinnige spoed gespeel word. Die woord is afkomstig van die Latynse woord tempus wat ‘tyd’. Elke ritme het ’n bepaalde tempo wat gevolg word. 1

Wanneer ’n mens jou liggaam saam met spesifieke musiek beweeg, doen jy dit onbewus volgens die metrum (tydmaat) van die musiektempo (spoed, vaart). Die metrum bepaal die opeenvolging van beklemtoonde en onbeklemtoonde slae (polse of pulse) binne ’n maat (eenheid van tyd). Om by die maat te hou, moet jy die slae tel. As jy aanhou om oor en oor tot by drie te tel, jou hande gereeld klap en altyd klem op die eerste slag lê, het jy reeds ’n drieslagmaat geskep soos wat in ’n wals gebruik word. Deur die klem tydens die geklap en die teltye te verander, kan jy self gelyke en ongelyke ritmes skep.

’n Tydmaatteken word in musiek gebruik om aan te dui hoe om die tempo van musiek te speel. Die hoogste getal in die tydmaatteken dui aan hoeveel slae per maat getel word. Die onderste getal sê aan ons watter nootwaarde ’n slag kry. Dit stel mens in staat om ook half- of agstenote te tel. Wanneer musiek speel, hou jy aan om die slae van elke maat in jou kop te tel terwyl jy speel. So bly die spelers in dieselfde ritme en beklemtoon die regte slae. 2

Rubato

Rubato is die effense versnelling of vertraging van die tempo van ‘n stuk, veral ‘n klavierstuk, om ‘n bepaalde musikale effek te verkry. 3

Makliker met ’n metronoom

Danksy die tegnologie kan metronome gebruik word om orkeste te help om ’n musiekstuk volgens die regte tempo te speel. ’n Metronoom is ’n horlosieagtige toestel wat gestel kan word om teen verskillende snelhede te tik en dus die presies aangegewe maat van musiek hoorbaar weer te gee. 1

Die Duitse uitvinder, Johann Maelzel, het die metronoom wat spesifiek vir musiek gebruik word, in 1815 gepatenteer en dit word sedertdien baie algemeen deur musikante gebruik. 7

Woordbank

komposisie Musiekstuk. 1
toonhoogte Die toonhoogte in musiek is die posisie (hoe hoog of laag) die spesifieke klank of noot in die groter omvang van die musiekstuk of lied is. 5
melodie ’n Eenstemmige opeenvolging van tone in ’n ritmiese, afgeronde orde3. Dit word dus gesien as ’n groep verskillende toonhoogtes (lae en hoë frekwensies) wat almal saam die melodie vorm wat uit note van verskillende lengtes bestaan. 6
intonasie By sang en die bespeling van ʼn instrument – wyse van produksie van tone, begin van ʼn toon of melodie. 8
tempo Tydmaat, snelheid van beweging. 8
maatslae Beweging om die maat aan te dui; reëlmatige beweging; tydmaat.

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Leer meer oor ritme en note

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Januarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023