Vinnige feite

Voordele van prioritisering:

  • Tyd word op die beste manier benut om by al die take van ʼn dag uit te kom – en veral die belangrikstes eerste.
  • Dit help ʼn mens om beter beheer oor jou skedule of aktiwiteitsplan te hê.
  • Dit verminder spanning omdat ʼn mens weet jy het ʼn plan om te volg wat jou gaan help om al jou doelwitte te bereik.
  • Prioritisering help ʼn mens om meer gemotiveerd te wees omdat jy weet jy het ʼn sekere aantal take om in ʼn sekere tyd af te handel.
  • Goeie prioritisering help ʼn mens om uiteindelik meer vrye tyd te hê om lekker dinge te kan doen (ʼn mens kan mos nie net die hele dag werk nie)!
Foto: iStock

Om te kan prioritiseer is ʼn belangrike lewensvaardigheid wat mense in staat stel om alledaagse take, werk en funksies suksesvol uit te voer. Dit is belangrik om hierdie vaardigheid van ʼn vroeë ouderdom aan te leer om suksesvol te wees in tydsbestuur en die tydige afhandeling van take, ongeag hoe groot of hoe klein.

Wat beteken dit om te prioritiseer?

Wanneer ʼn mens prioritiseer, word dinge, take, opdragte, huiswerk, probleme, ensovoorts in volgorde van belangrikheid geplaas sodat dit wat die dringendste is, eerste aandag kry. 1

Byvoorbeeld:

  • Werkskepping moet geprioritiseer word sodat mense wat geen inkomste het nie en daarom in armoede lewe, ʼn beter leefstyl kan hê.
  • Ambulanse word geprioritiseer. Individue wat die dringendste mediese hulp benodig, word eerste gehelp en sommige pasiënte sal dus langer as ander sal moet wag.
  • Danie se Wiskunde-huiswerk moet eers heeltemal klaar wees voordat hy saam met Johan mag gaan bal skop. Dit is beter om eers jou huiswerk te voltooi voordat gespeel kan word.
  • Eet eers jou groente alles op voordat jy nagereg mag kry! Groente het noodsaaklike voedingstowwe wat help met goeie gesondheid, terwyl nagereg ʼn lekkerny of bederf is wat nie noodsaaklik is vir die menslike liggaam om te funksioneer nie.

Hoe prioritiseer ‘n mens?

Kyk na die groter prentjie

Om te weet wat alles deel van jou skedule of program vorm, is dit belangrik om na die groter prentjie te kyk. Wat gebeur alles in een dag, een week of een maand? Dit sluit alles in wat by die huis, skool of werk gebeur, asook buitemuurse aktiwiteite, tyd vir ontspanning (persoonlike tyd) en gesinstyd. ʼn Mens kyk dus na jou korttermyntake en –doelwitte, maar dit is ook belangrik om (vooruit) te kyk na wat alles in die maand gebeur. Ons kan laasgenoemde langtermynprioriteite noem. 2

Maak ʼn lysie

As ʼn mens mooi gaan dink het oor wat alles deel van jou program vorm, kan jy ʼn lys maak met al jou take, aktiwiteite en ander belangrike gebeure. Hierdie lys sal al die onmiddellike take insluit asook dít wat in die volgende week en maand moet plaasvind. 3

Hier’s ʼn voorbeeld van ʼn lys van verantwoordelikhede of take:

Huistake Skoolwerk Sport Ander aktiwiteite Sosiale geleenthede
Bed opmaak Huiswerk elke middag Hokkie Kerkdiens Verjaarsdae
Badkamer skoonmaak Take Ballet Kooroefening Familie-geleenthede
Katte kosgee Mondeling Skaak Dramales Kuier by maats
Vloer vee Leer vir toets Tennis Kunsklas  
Potplante natmaak Skryf ʼn opstel Bergfiets    
Wasgoed opvou   Rugby    
Tafel dek        
Skottelgoedwasser uitpak        
Kamer aan die kant maak        

Omskep jou lys in ʼn aksieplan

Só ʼn lang lys kan sommer baie vreesaanjaend lyk. Dit laat ʼn mens wonder hoe jy ooit al daardie take gaan uitvoer of doelwitte gaan bereik! Dit is belangrik om nie ontmoedig te word nie, maar die lys eerder te herverdeel in die volgorde van belangrikheid. Byvoorbeeld, al die take wat in hierdie week gedoen word, kan ingedeel word in dae met ʼn sperdatum wat aan elke taak gekoppel word. Dit word ʼn aktiwiteitsplan of aksieplan genoem. 4

Voorbeeld van herverdeling van huistake in ʼn aktiwiteitsplan:

Dag van uitvoering Oggend Aand
Elke dag Bed opmaak

Katte kosgee

Pak die skottelgoedwasser uit

Katte kosgee

Dek tafel

Kamer aan die kant maak

Maandae Badkamer skoonmaak
Dinsdae Potplante natmaak Vloer vee
Woensdae Wasgoed opvou
Donderdae Potplante natmaak Vloer vee
Vrydae Badkamer skoonmaak
Saterdae Wasgoed opvou

Stel ʼn prioriteitslys vir die middag en aand op

Die eerste lysie van belangrikste dinge, moet eerste aangepak word – dieselfde middag en aand. As jy weet hierdie spesifieke huiswerk moet môre voltooi wees, dan is dit jou eerste of belangrikste fokus. Huistake soos katte kosgee, is ook hoog op die prioriteitslysie, want anders gaan die lewende diertjies honger ly. 2

Lys items volgens moeilikheidsgraad

Die topprioriteite is gewoonlik almal belangrik. So hoe weet ʼn mens waar om te begin as jy meer as een top-prioriteit het om aan te werk vir die volgende dag? Dit is ʼn goeie idee om die take te identifiseer as “moeiliker” of “makliker” na gelang van die moeilikheidsgraad, tyd en moeite wat daaraan gekoppel word. 2

Kies tussen moeilik en maklik

Nou moet jy besluit of jy iemand is wat eerste sommer die moeilikste take eerste aanpak, of as jy maklik ontmoedig word, moet jy dalk eers met makliker take begin. Dit hang van elke persoon se geaardheid af – dieselfde roete of volgorde werk nie vir almal ewe goed nie. 2

Ontwikkel ʼn plan vir die groter projekte

Vir groter projekte is dit ʼn goeie idee om ʼn terugverwysende skedule op te stel. ʼn Projek of skooltaak wat eers oor ʼn maand ingehandig moet word, voel wel nog te ver om aan te werk, maar ʼn gedetailleerde skedule kan help om al die doelwitte in kleiner mylpale in te deel sodat die taak betyds afgehandel kan word. Soms word ʼn mens onkant gevang met ʼn projek wat ver in die toekoms lê en dan laaste op die prioriteitslys beland. Uiteindelik vlieg die tyd verby en ontaard dit in ʼn projek wat op die nippertjie gedoen moet word – en groot spanning kan veroorsaak! 2

Voorbeeld van ʼn skedule vir ʼn geskrewe taak oor enige planeet: Inhandigingsdatum, 28 Februarie (Die taak is byvoorbeeld ʼn maand vooraf uitgedeel.)

Kies onderwerp 2 Februarie
Navorsing 3-5 Februarie
Sifting van inligting 8-9 Februarie
Skryf en verwerking van inligting 11-13 Februarie
Hersien van geskrewe inligting 16 Februarie
Soek prente en aanvullende hulpmiddele 17-18 Februarie
Skryf en verwerk finale inligting 20-21 Februarie
Redigering van finale skryfstuk 23 Februarie
Voltooi finale skryfstuk met aanvullende prente en hulpmiddele 24 Februarie
Finale redigering en bind van dokument 25 Februarie
Inhandiging 28 Februarie

Wenke vir goeie prioritisering

  • Moenie uitstel nie! Dit is so maklik om te dink iets is minder belangrik, daarom gaan ek dit eerder “môre” doen. “Môre bottelnek die take of projekte omdat die skedule nie gevolg is nie en dit lei tot spanning en dat jy spertye mis.
  • Dit is maklik om verskonings uit te dink oor hoekom ʼn taak nie nou dadelik uitgevoer kan word nie. Dink eerder hoe lekker dit gaan wees as jou huiswerk klaar is en jy dan (sonder enige bekommernis) saam met jou beste maat kan gaan speel.
  • Hou jou tydsbesteding dop. Soms voel ʼn dag te kort vir al die take om in te pas. Dalk is dit omdat jy ʼn onredelike aktiwiteitsplan het wat te veel vereis van ʼn dag. Of dalk het jy te veel tyd op jou foon spandeer of in jou lekker leesboek weggeraak sodat jy nie tred met die tyd gehou het nie.
  • Dit is belangrik om aanpasbaar te bly en in ʼn aktiwiteitsplan voorsiening te maak dat dinge nie altyd presies uitwerk soos ʼn mens beplan nie. Iets val dalk voor wat vereis dat die program aangepas moet word en dan is dit nodig om daarvolgens te handel. 3

Voordele van goeie prioritisering

  • Tyd word op die beste manier benut om by al die take van ʼn dag uit te kom – en veral die belangrikstes eerste.
  • Dit help ʼn mense om beter beheer te hê oor jou skedule of aktiwiteitsplan.
  • Dit verminder spanning omdat ʼn mens weet jy het ʼn plan om te volg wat jou gaan help om al jou doelwitte te bereik.
  • Prioritisering help ʼn mens om meer gemotiveerd te wees omdat jy weet jy het ʼn sekere aantal take om in ʼn sekere tyd te doen of af te handel.
  • Goeie prioritisering help ʼn mens uiteindelik om meer vrye tyd te hê om al die lekker dinge te doen (ʼn mens kan mos nie net die hele dag net werk nie). 4

Woordbank

doelwitte Mikpunt; oogmerk; doelstelling.
ontmoedig
Moedeloos raak; selfvertroue/lus wegneem.
prioritiseer Iets waaraan spesiale aandag verleen word of wat spesiale aandag verdien; iets is belangriker as die volgende en geniet voorrang.
spertye Tyd/datum waarop iets moet klaar wees/ingedien word.

Lees hierdie om meer oor tydsbesteding te leer

Kyk dié video’s om meer oor prioriteite te leer

Wenke vir goeie tydsbestuur

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Augustus 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023