Vinnige feite

  • Die eerste voorlopers van die poppe, soos ons dit vandag ken, het in Egipte ontstaan.
  • Die Egiptenare het figure uit hout gemaak wat met toutjies sekere funksies kon uitvoer, soos byvoorbeeld om deeg vir ʼn brood te knie!
  • In die 1530’s is die eerste pop met toutjies in ʼn poppekas gebruik.
  • China, Frankryk, Italië en Groot-Brittanje was van die eerste lande waar poppekas beoefen en tot ʼn kunsvorm ontwikkel is.
  • Tydens 1603-1868 het Japan ʼn kunsvorm met die naam Bunraku Dit is die uitvoer van tonele – in kombinasie met musiek en artistiese toertjies – met poppe van hout wat die helfte van ʼn mens se grootte is. Dit word vandag nog as ʼn belangrike Japannese kunsvorm beskou.
  • Vanaf 1835-1950 het die Mexikaanse poppekasgeselskap Rosete Aranda met soveel soos 5 000 marionette vir indrukwekkende poppekasvertonings in Mexiko gesorg. Vandag is baie van hierdie poppe in die Museo Nacional del Títere (Nasionale Poppemuseum) in Huamantla, Mexiko te sien. Dit word hier op uitstalling bewaar en word steeds as deel van die Mexikaanse kultuur gesien. 8
  • Baie poppespelers verkies dit om die poppe wat hul gebruik, self te maak.
Foto: iStock

Die meeste van ons hou van ʼn lekker storie. Dit is boonop nog meer opwindend as daar drama, beweging en aksie saam met die stemme wat die storie vertel, is. Een so ʼn vorm van storievertelling is poppekas.

Wat is poppekas?

Poppekas is ʼn vorm van teater of opvoering waardeur stories deur die gebruik van poppe (wat deur mense hanteer en beheer word) vertel word. 1 In plaas daarvan dat mense die akteurs in die storie is, word lewelose poppe (in verskeie gedaantes) gebruik om mense of diere (karakters) uit te beeld. Hierdie lewelose poppe word op verskillende maniere beweeg, sonder dat die mense wat hulle beheer, sigbaar is vir die gehoor.

Die mense wat die poppe beheer se stemme word dus saam met die bewegings van die poppe gebruik. Wanneer die gehoor na ʼn poppekasvertoning kyk, sien hulle slegs die poppe se bewegings omdat die mense wat die poppe beheer, agter ʼn kas of stellasie versteek is. Poppekas word as ʼn volwaardige kunsvorm gesien wat ʼn aangesig-tot-aangesig-, aanlyn of televisiegehoor deur middel van storievertelling met toneelspel, beligting, musiek, goeie klank en ʼn verhoog vermaak. 2 Daar word ook soms na ʼn poppekas as ʼn “poppespel” of “poppeteater” verwys.

Verskillende elemente van ʼn poppekas

ʼn Poppekas kan nie ʼn storie uitbeeld sonder drie baie belangrike elemente nie:

Poppe

Daar is verskillende soorte poppe wat vir poppekas gebruik kan word.

Behalwe dat dit poppe kan wees wat soos mense of diere lyk, kan dit ook in die volgende kategorieë opgedeel word:

Hand- of kouspoppe

Hand- of kouspoppe se koppe word gewoonlik van hout, papierpap (papiermaché) of rubbermateriaal gemaak, terwyl die arms, lyf en bene van sagte materiaal gemaak word. Soms het ʼn handpop nie ʼn onderlyf nie, maar slegs ʼn kop en bolyf met arms. Sommige handpoppe het wel bene ook, wat dan meestal net leweloos aan die voorkant van die kas of stellasie hang, terwyl die pop se onderkant op die speelvlak van die kas gestut word. 3 ʼn Handpop het aan die agterkant of onderkant ʼn opening vir ʼn mens se hand om gemaklik daarin te pas. (Die lyfgedeelte van die pop is amper soos ʼn kous wat oor die hand getrek kan word.)

Gewoonlik is daar ook openinge by die pop se arms om ʼn duim en ʼn pinkie te gebruik vir die pop se armbewegings, andersins word die hele hand gebruik om die pop se mond saam met die vertelstem te beweeg. Die hand is nie sigbaar vir die gehoor of die persoon wat die pop hanteer nie, omdat hy/sy agter die kas of stellasie versteek is. Hierdie soort pop word baie stewig gemaak omdat dit baie hantering en beweging moet kan weerstaan. 1

Marionette (toutjies- of draadpoppe)

Hierdie soort pop word van bo af met toutjies of drade beheer en is gewoonlik ʼn vollengte figuur. Die figure se voete en bene word meestal van hout gemaak en met leer bedek en netjies afgewerk. Toutjies word vasgemaak aan die kop, arms en bene en dan deur ʼn mens se hand beweeg deur middel van ʼn houtstaaf of stok waaraan die ander punt van die toutjies vas is. Soos die houtstaaf op en af en kante toe beweeg word, beweeg die popfiguur dan ook.3 ʼn Eenvoudige marionet kan tot nege toutjies hê – een aan elke been, een aan elke hand, een aan elke skouer en een aan elke oor (vir kopbewegings), asook een aan die onderkant van die rugkant. Ingewikkelder marionette kan selfs meer toutjies bevat! Om so ʼn marionet te beheer, neem baie oefening en slim tegniek. 1

Soms sal die marionette se voete en bene klein metaalgewiggies bevat om die marionette in posisie te hou. Die res van die lyf word gemaak om die karakter uit te beeld en kan met verskeie materiale bedek word. Papierpap word ook telkemale op marionette gebruik om van die dele te vorm. Verder word duursame – en soms uitspattige – kostuums vir die popkarakters gemaak. Van hierdie poppe kry selfs perdehare of regte menshare, wat vir haarkapsels, baarde en snorre met gom aan hulle koppe vasgeplak word! 3

Houtpoppe of stokpoppe

Die tradisionele houtpoppe wat vir poppekas gemaak word, is vollengte figure en word van onder af hanteer. Die mens wat die pop hanteer, gebruik ʼn stok wat by die popfiguur se lyf insteek en aan die pop se kop vas is. Aparte, dunner stokke word soms gebruik om die arms en bene te beweeg en is ook aan die ledemate vas terwyl die stokke deur ʼn mens beheer word om die pop se bewegings uit te voer. 1 Die stokke word van hout, maar ook soms van staal gemaak. In enkele gevalle word houtpoppe ook van bo af hanteer wanneer die mens wat die pop hanteer agter dit staan en die stok dan horisontaal (plat en nie regop nie) moet draai. 4

In sommige gevalle word daar ʼn kombinasie van stokke en toutjies gebruik vir houtpoppe, en dan word daar meer as een mens benodig om een pop te hanteer en beheer. Dit gee wel die mense wat die pop beheer meer opsies om verskillende bewegings daarmee uit te beeld. 5

Die basiese, eenvoudige houtpop funksioneer wel met een stok wat die pop se kop beheer en nog twee stokke wat aan die hande van die pop vas is. ʼn Gewilde variasie van die eenvoudige houtpop is ʼn handpop. Dit word deur ʼn mens se hand beheer, maar die arms van die pop word deur twee aparte stokke beheer. 1

Vingerpoppe

Vingerpoppe is soortgelyk aan handpoppe, maar net baie kleiner omdat daar slegs een of twee vingers van ʼn mens se hand in ʼn vingerpop se struktuur kan inpas. Die beweging wat ʼn vingerpop kan maak, is dus ook baie beperk. Die res van die mens se hand word gewoonlik ook met materiaal of ʼn kous bedek sodat slegs die vingerpop sigbaar is. 6

Hierdie poppekaspop is baie gewild onder jong kinders, en dit is ook maklik om sommer self te maak om vinnig ʼn poppekasvertoning aanmekaar te slaan!

Ander soort poppe

Daar is nog ʼn hele verskeidenheid ander poppe waarmee vertonings of opvoerings gehou word, byvoorbeeld mensgrootte poppe wat soos ʼn kostuum is wat ʼn mens kan aantrek. 1 (Dink aan Barney, die vriendelike dinosourus, of Lollos en Lettie van Lalaland.) Vir die doeleindes van poppekas gaan ons dit wel nie hier bespreek nie, want hulle sal nie in die kas of stellasie wat vir ʼn poppekas gebruik word, kan inpas nie.

Poppespelers

Die persoon wat ʼn pop in ʼn poppekasvertoning hanteer en beheer terwyl hy/sy die stem van die pop vertolk, word ʼn poppespeler genoem. ʼn Poppespeler is ʼn kunstenaar in eie reg wat meestal professionele opleiding ontvang het in die kuns van poppespel, toneelspel en die uitvoerende kunste. Die poppespeler moet met baie vernuftigheid en vaardigheid die lewelose popfiguur tot lewe bring met persoonlikheid, karakter en beweging. 1

Kas of stellasie

Die kas wat vir die poppekasvertoning gebruik word, is gewoonlik ʼn draagbare kas, stellasie of struktuur wat solied en dig is sodat mens nie daardeur kan sien nie, behalwe deur een opening wat groot genoeg is sodat die poppespel daarin kan plaasvind. Die opening in ʼn poppekas het gewoonlik ʼn platform waarop die hande van die poppespelers, met die poppe aan, kan rus. Indien dit marionette of ander poppe is wat gebruik word, sal die kas vervolgens aangepas word. 7 Die voorkant van die kas wat na die gehoor toe wys, vorm gewoonlik deel van die dekor en versierings wat nodig is vir die vertoning, terwyl die agterkant van die kas so prakties en gemaklik as moontlik vir die poppespeler(s) ingerig moet wees.

Gebruike van poppekas

Hoewel poppekas vanaf sy ontstaan eeue gelede alreeds verskeie vorme aangeneem het, bestaan poppekas vandag nog en word steeds wêreldwyd op verskillende maniere aangewend. Poppekasvertonings is oorspronklik gebruik om publieke vermaak by optredes, feeste en ander sosiale geleenthede te verskaf. Dit is ook baie keer gebruik om ʼn spesifieke tradisie in ʼn kultuur oor te dra of uit te beeld en het steeds vandag daardie doel in sekere lande.

Nog gebruike van poppekas:

  • Opvoedkunde: Poppekas word gereeld in veral kleuter- en laerskole gebruik om opvoedkundige onderwerpe – byvoorbeeld om nie rommel te strooi en die aarde te besoedel nie – makliker oor te dra. 9 Die poppekas bied dan byvoorbeeld ʼn hartseer toneel uit van visse wat plastiek in die rivier insluk om die gevare van besoedeling uit te beeld.
  • Speelterapie: Sielkundiges en maatskaplike werkers gebruik soms handpoppe wanneer hulle met kinders werk vir wie dit moeilik is om oor sekere onderwerpe te gesels. Deur middel van die speel met handpoppe, help dit die kinders om makliker te praat oor hartseer sake of iets wat hulle ongelukkig maak. 10
  • Ander gebruike: Poppekas word as ʼn kunsvorm beskou en dek ʼn wye veld van kreatiwiteit wat op verskeie wyses – formeel en informeel – aangewend kan word. ʼn Mens kan selfs by die huis agter ʼn rusbank wegkruip en met ʼn kous oor die hand ʼn hele poppekasvertoning vir jou familie oor die rugleuning hou! Probeer dit gerus, en jy sal sien hoe dit genot vir jou gehoor verskaf.

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die storie van Jim Henson (ʼn wêreldbekende poppespeler)

ʼn Voorbeeld van die poppekaskinderstorie, Wielie Walie, wat tussen 1976 en 1996 ʼn gewilde televisieprogram was

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 Oktober 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024