Vinnige feite

Wenke om water te bespaar

Elke mens het die plig om water te spaar en dit nooit te vermors nie. Daar is baie dinge wat gewone mense kan doen om water te spaar.

  • Stort in plaas van bad. Vir bad gebruik mens ongeveer 80 liter water, terwyl ʼn stort wat agt minute duur slegs ongeveer 60 liter water gebruik. ‘n Mens kan natuurlik ook korter as agt minute stort!
  • Sit ʼn emmer in die stort terwyl jy stort, en gebruik die water wat jy só opvang om in die toilet se waterbak te gooi of gebruik dit in die tuin.
  • Maak seker dat daar geen krane of toilette in die huis is wat lek nie.
  • Maak jou tuin voor tienuur soggens of ná vieruur in die middag nat.
  • Gebruik waterslimplante in jou tuin wat gehard is en nie baie water nodig het nie, byvoorbeeld hanekamme (spesifiek Amaranthus), kosmos, petunias of enige een van die inheemse vetplante. 8 Tuinboukundiges gee dikwels die raad dat plante wat eenderse waterbehoeftes het, bymekaar geplant moet word om water te spaar. Mens kan ook inheemse bome of struike plant omdat dit geharder is en minder water benodig.
Foto: iStock

ʼn Boorgat is ʼn nou, diep put wat deur ʼn boormasjien in die grond geboor word om by water diep onder die grond uit te kom. Nadat die put geboor is, word die boorgatpomp met ʼn ankertou en waterpyp in die put gesit om die water uit te pomp. Die pomp word só geplaas dat dit onder in die put hang.

Waar kom boorgatwater vandaan?

Boorgatwater word ook grondwater genoem. Water sypel in die grond in wanneer dit reën, en hierdie water gaan deur skeure en krake in rotse in en word in die openinge tussen rotse gestoor. Hierdie stoorplekke word akwifere genoem, wat ʼn laag deurdringbare gesteentes of ander materiaal soos sand is. Hierdie lae maak dit moontlik vir water om deur te sypel. ʼn Akwifeer is soos ʼn spons wat water opneem en dit stoor (berg). Later kan hierdie water dan onttrek word. Die boonste vlak van die akwifeer word die watertafel genoem. 1

Die water in ʼn boorgat hou gewoonlik baie lank. Dit kan gebeur dat die water opraak wanneer mens vinniger water uit die boorgat pomp as wat dit weer aangevul word, maar dit gebeur egter baie selde. Baie boorgate wat 40 of 50 jaar gelede geboor is, word vandag nog gebruik en lewer steeds water. 2

Hoe suiwer is boorgatwater?

Die meeste grondwater wat diep onder die aarde lê, het honderde of selfs duisende jare gelede die aarde binnegedring. In daardie dae was daar nog nie chemikalieë wat deur mense gemaak en gebruik is nie. Boorgatwater is dus nie soveel blootgestel aan besoedeling soos die waterbronne waar munisipaliteite gewoonlik hulle water kry nie. 3

Diepte van boorgate

Die diepte van boorgate kan baie wissel. Water kan op 25 meter gevind word, maar sommige boorgate kan tot 200 meter diep geboor word voordat water raakgeboor of gevind word. Soms is daar ook boorgate wat heelwat dieper as 200 meter is. Omdat die koste van ʼn boorgat afhang van hoe diep geboor moet word, kan die koste van boorgate ook drasties wissel.

Die tyd wat dit neem om ʼn boorgat te boor, hang natuurlik ook af van hoe vinnig water raakgeboor word en hoe diep die water is. Dit kan tussen ʼn paar ure en ʼn paar dae neem. 3

Regulasies en wetgewing oor boorgate

Daar is verskillende regulasies by verskillende munisipaliteite betreffende boorgate, en dit is belangrik dat ‘n mens daarvan moet kennis neem voordat jy ʼn boorgat begin boor. Sommige munisipaliteite vereis byvoorbeeld ʼn permit voor jy kan begin boor. 3

Voor 1998 was daar nie beheer oor die gebruik van boorgatwater nie. Die boor van boorgate word steeds meestal nie beheer nie, maar daar is wel in sommige gevalle beheer oor die gebruik van die water uit die boorgat. Volgens die Nasionale Waterwet (36 van 1998) kan water uit ʼn boorgat gepomp en gebruik word vir skedule 1-gebruike sonder om goedkeuring daarvoor te kry. (Skedule 1-gebruike sluit in water wat in huise gebruik word, besproeiing van huistuine, asook drinkwater vir vee.)

Mense in dorpe en op plase kan dus water uit hul boorgate gebruik sonder goedkeuring. Daarenteen het plekke wat meer water gebruik – soos sportterreine, gholfbane, wynkelders en groot winkelsentrums – wel goedkeuring nodig wanneer hulle water uit boorgate wil gebruik. 4

Hoe weet ‘n mens waar om vir water te boor?

Daar is verskillende metodes om vas te stel waar die beste plek is om die boorgat te laat boor. Hierdie metodes word verdeel in informele en formele metodes.

Informele metodes

In die ou dae was daar mense wat as waterwysers bekendgestaan het. Hulle het verskillende metodes gehad om te “wys” waar vir water geboor kan word. Daar is vandag steeds heelwat mense wat as waterwysers bekendstaan en wie se dienste gebruik word.

Die hoedmetode

Die boer loop in die veld rond, en gooi sy hoed oor sy skouer – waar die hoed val, is die plek waar geboor moet word. ‘n Mens moet aanvaar dat so ʼn boer sy plaas goed ken en redelik goed sal weet waar daar moontlik ondergrondse water kan wees.

Wiggelary

Die persoon loop met ʼn mikstok met ʼn punt van die stok in elke hand. Sodra die punt van die mik afbeweeg, is dít die plek waar water behoort te wees.

Daar is ook mense wat ʼn geweer, waarvan die loop afgesny is, gebruik om water mee uit te wys. Sommige mense gebruik paralleldrade wat hulle vashou, en wanneer hulle oor ʼn wateraar loop, beweeg die drade. Ander dra weer ʼn waterbottel op ʼn oop hand, en volgens hierdie metode sal die waterbottel omval wanneer die persoon oor water loop. 1

Formele metodes

Geologiese gesteentes

Die belangrikste inligting wat nodig is wanneer bepaal moet word waar daar water gevind kan word, is inligting oor die geologiese gesteentes van die gebied waar water benodig word. Hierdie geologiese inligting word vanaf geologiese kaarte van die omgewing gekry. Dit is natuurlik belangrik om hierdie inligting wat op kaarte gekry word, ook te bevestig en aan te vul met ʼn fisiese ondersoek van die terrein en die veld en dit nie net as die waarheid te beskou nie.

Lugfoto

ʼn Goeie lugfoto of satellietbeeld van die gebied is belangrik om die boorgat se posisie vas te stel. So ʼn lugfoto word gebruik om die inligting op die geologiese kaart te bevestig. Plantegroei help ook om die geologiese inligting op die lugfoto te verifieer.

Geologiese inligting oor die gebied

Inligting oor bestaande boorgate in die gebied, asook die monsters of hopies grond wat die boorman langs die gat neersit terwyl die boor werk, word ook gebruik.

Die regte boorman

Die kundigheid van die boorman is baie belangrik. ʼn Goeie boorman wat die gebied goed ken, kan ook goeie raad gee oor die boormetode, diepte, en so meer.

Al hierdie inligting is nie net belangrik om te besluit waar die boorgat moet wees nie, dit help ook om te bepaal hoe diep die gat geboor moet word om by die water uit te kom. Dit is belangrik om die diepte vooraf naastenby te kan vasstel, veral omdat dit baie duur is om boorgate te boor.

In dolomitiese areas waar daar reeds baie grondwater uitgehaal word, kan die watertafel (die diepte van die boorgat waar die water lê) baie diep wees. Waar die watertafel byvoorbeeld 100 m diep is, moet ‘n mens ten minste 100 m diep boor om water te kry. ‘n Mens moet egter ook nie té diep boor nie, daarom is dit belangrik om die geologiese diktes van gesteentes in die gebied waar ‘n mens boor, te ken en te weet waar die volgende breuk in die rotslaag is. 5

Die voordele van boorgatwater

  • Boorgatwater is suiwer en ryk aan minerale.
  • Ondergrondse water het nie chemikalieë in nie en is vars.
  • Die waarde van jou huis styg wanneer jy ʼn boorgat het.
  • Die gebruik van boorgatwater beteken dat minder water deur munisipaliteite verskaf moet word.
  • Boorgatwater kos minder as munisipale water.
  • Veral in tye van droogte of min reën, kan ‘n mens jou tuin genoeg water gee sonder om oor die waterrekening bekommerd te wees. 6

Die koste van water

Water wat uit die aarde uit kom, is gratis, maar dit moet meestal op verskillende maniere behandel word om seker te maak dat dit skoon en gesond genoeg is om deur mense gebruik te kan word. Die stelsels wat gebruik word om water te suiwer, is duur, en dít is die rede waarom ons betaal vir water wat deur munisipaliteite verskaf word. Die meeste munisipaliteite kry natuurlik ook water uit ander bronne soos riviere waarin daar baie besoedeling is.

Suid-Afrika staan bekend as ʼn waterskaars land – ons leef dus in ʼn land waar daar nie baie water is nie, en daarom moet water reg gebruik en nie gemors word nie. Mense moet ook nie water besoedel nie. Dinge wat ons sommer net langs ʼn straat of pad weggooi, spoel meeste van die tyd weg wanneer dit reën en beland só in riviere en uiteindelik in die see. 7

Woordbank

akwifeer Die stoorplek van water in rotslae onder die grond.
dolomitiese areas Dolomiet is ʼn soort mineraal wat uit kalsiummagnesiumkarbonaat bestaan en in onder meer banke kalksteen gevind word. 9
watertafel Die boonste vlak van die akwifeer waar die water lê.
waterwysers Persoon wat kan aandui waar daar water onder die grond is en waar die boorgat geboor kan word.

Lees meer oor waterwysmetodes en boorgate

Kyk dié video’s om meer oor boorgate te leer

Só werk ‘n boorgatpomp

Hoekom is boorgatwater belangrik?

Hoe lyk dit wanneer ʼn boorgat geboor word?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 Maart 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024