In klankleer bestudeer ons die klanke waarmee ons taal maak en die manier waarop hierdie klanke aangewend word om betekenis oor te dra. Hierdie twee afdelings van klankleer staan onderskeidelik as “fonetiek” en “fonologie” bekend.
Wat is die verskil tussen letters en klanke?
Wanneer ons skryf, gebruik ons letters om dit wat ons wil sê, voor te stel. Letters kan klinkers (ʼn voorstelling van vokaalklanke) of medeklinkers (ʼn voorstelling van konsonantklanke) wees.
Wanneer ons praat, gebruik ons spraakklanke om dit wat ons wil sê, oor te dra. Spraakklanke kan konsonante, vokale of diftonge wees.
Wanneer is ʼn klank ʼn spraakklank?
Ons kan baie soorte geluide maak. Ons kan kreun, nies, huil en hyg na asem, en al daardie geluide word met die spraakkanaal gemaak. Sommige van hierdie geluide gebruik ons selfs om mee te kommunikeer, maar dis steeds nie spraakklanke nie.
Spraakklanke is klanke wat doelbewus met die organe in die spraakkanaal gemaak word en dan in ʼn patroon gerangskik word wat eie is aan ʼn taal. Hierdie klankpatrone kry in ʼn taal ʼn bepaalde betekenis, en as ons die kombinasie van klank en betekenis inspan, kommunikeer ons deur middel van die betrokke taal.
Wat is die spraakkanaal?
Die spraakkanaal is die dele van die menslike liggaam wat gebruik word om spraakklanke te maak. Dit sluit in die longe, die lugpyp, die strottehoof (waarin die stembande is), die keel, die neusholtes, die kleintongetjie, die tong, die sagte verhemelte, die harde verhemelte, die alveolus (die tandwortels) die tande en die lippe.
Jy kan in hierdie afdeling van Taalonderrigportaal op VivA se webblad ʼn tekening sien van hoe die spraakkanaal lyk. (Klik op Lees verder)
Wat moet ʼn mens in gedagte hou as ʼn mens oor spraakklanke praat?
- Daar is ʼn verskil tussen klanke en letters. Klanke kan jy net hoor, letters kan jy net sien.
- Soms word een klank met twee letters voorgestel, soos die middelste klank in riet of die laaste klank in die woord bang.
- Dit kan ook gebeur dat twee klanke deur een letter voorgestel word, soos die tweeklank in die woord ly
- Verskillende alfabetletters kan dieselfde klank voorstel. In die woord middel stel die i en die e presies dieselfde klank voor, en die laaste klank in die woord boot en die laaste klank in die woord brood word dieselfde uitgespreek, maar word met ʼn t en ʼn d voorgestel.
- Dieselfde alfabetletter kan verskillende klanke voorstel. In die woord horlosie is daar twee o’s, maar hulle word nie dieselfde uitgespreek nie. Die woorde berg en berge het albei ʼn g in, maar dit stel nie dieselfde klank voor nie.
- Soms word klanke nie uitgespreek nie, soos die d in kinders en perde.
- Soms word klanke uitgespreek wat nie met letters aangedui word nie, soos die ekstra klank in warm en helm.
- Baie van die verskille wat ons in die verskillende soorte Afrikaans hoor, het te doen met die manier waarop ons klanke en woorde uitspreek.
Hoe stel ons spraakklanke voor wanneer ons op skrif daarna wil verwys?
Juis omdat daar nie altyd ʼn 1:1-verhouding is tussen letters en klanke nie, het ons ʼn manier nodig om klanke voor te stel waar ons nie die letters van die Romeinse alfabet gebruik nie. Die fonetiese alfabet is ʼn manier om baie akkuraat weer te gee wat ons hoor as ons na iemand se spraak luister.
Dit is nie nodig om op skool die fonetiese alfabet aan te leer nie, maar as jy wil sien hoe dit lyk en hoe dit werk, kyk in hierdie afdeling van Taalonderrigportaal op VivA se webblad. (Klik op Lees verder)
Watter soorte spraakklanke is daar in Afrikaans?
Daar is drie soorte spraakklanke in Afrikaans: konsonante, vokale en diftonge. Hierdie drie soorte spraakklanke word onderskei op grond van wat in die spraakkanaal gebeur terwyl hulle gevorm word.
Wat is konsonante?
Definisie: Konsonante is spraakklanke wat gevorm word wanneer die lugstroom iewers in die spraakkanaal gedeeltelik of heeltemal versper word.
Wat is die verskil tussen “konsonante” en “medeklinkers”?
Ons gebruik die term “konsonant” om na die soort spraakklank te verwys. Die term “medeklinker” word gebruik om na die letter te verwys waarmee konsonante voorgestel word.
Voorbeelde van konsonante in Afrikaans
Ons skryf die volgende voorbeelde hier met letters van die alfabet neer, omdat ons weet die meeste lesers ken nie die fonetiese alfabet nie. Om werklik te verstaan watter klanke konsonante is, moet jy hierdie woorde hardop uitspreek en dan spesifiek oplet na die klank wat jy maak as jy die vetgedrukte deel van die woord uitspreek. (Onthou dat hierdie letters nie konsonante is nie, die letters is medeklinkers.)
baai | pot | maan | dwaal |
wol | vat | ||
dalk | toffie | rol | naam |
Zulu | sout | laai | |
jaar | China | Jacques | |
mandjie | kiekie | ||
bang | wrak | ||
berge | mag | ||
brug (brei die r) | hanger |
Hoe beskryf ons konsonante in Afrikaans?
Ons beskryf konsonante op grond van drie eienskappe:
- Stemhebbendheid (Word die konsonant met stem of sonder stem uitgespreek? Plaas jou vingerpunt op jou strottehoof terwyl jy die konsonant uitspreek. As jy vibrasie voel, is die klank stemhebbend. As jy nie vibrasie voel nie, is die klank stemloos.)
- Die plek in die spraakkanaal waar die lugstroom versper word
- Die manier waarop die lugstroom versper word
As jy wil sien hoe hierdie indeling gedoen word, kyk na die bespreking van konsonante in Taalonderrigportaal op VivA se webblad.
Wat is vokale?
Definisie: Vokale is spraakklanke wat sonder enige versperring in die spraakkanaal uitgespreek word. (Die term “klinker” word gebruik om te verwys na die letters waarmee ons hierdie klanke voorstel.)
Wat is die verskil tussen “vokale” en “klinkers”?
Ons gebruik die term “vokaal” om na die soort spraakklank te verwys. Die term “klinker” word gebruik om na die letter te verwys waarmee vokale voorgestel word.
Voorbeelde van vokale in Afrikaans
Ons skryf die volgende voorbeelde hier met letters van die alfabet neer, omdat ons weet die meeste lesers ken nie die fonetiese alfabet nie. Om werklik te verstaan watter klanke vokale is, moet jy hierdie woorde hardop uitspreek en dan spesifiek oplet na die klank wat jy maak as jy die vetgedrukte/onderstreepte deel van die woord uitspreek. (Onthou dat hierdie letters nie vokale is nie, die letters is klinkers.)
riet | ||
meet | les | nè |
vis | ||
deur | ||
mas | laas | |
los | loop | |
mus | vuur |
Hoe beskryf ons vokale in Afrikaans?
Ons beskryf vokale op grond van drie eienskappe:
- Waar die tong in die mond geposisioneer is (van voor tot agter)
- Hoe oop of toe die mondholte is (van oop tot geslote)
- Hoe die lippe tydens uitspraak gevorm is (van gerond tot ongerond)
As jy wil sien hoe hierdie indeling gedoen word, kyk na die bespreking van vokale in Taalonderrigportaal op VivA se webblad.
Wat is diftonge?
Definisie: ʼn Diftong (ander naam: tweeklank) bestaan uit twee vokaalklanke wat direk ná mekaar uitgespreek word sonder dat dit onderbreek word en wat tot een klankgreep behoort.
Hoe verskil vokale en diftonge?
As ʼn mens die woord sê uitspreek, hoor ʼn mens twee klanke: ʼn konsonant en ʼn vokaal. As jy die woord saai uitspreek, hoor ʼn mens drie klanke: ʼn konsonant en twee vokaalklanke wat saam optree om een spraakklank te vorm. Daardie aai wat twee klanke is wat saam uitgespreek word, is ʼn diftong.
Onthou dat twee klinkers (letters) langs mekaar nie noodwendig ʼn diftong voorstel nie: Die woord pienk het twee klinkers (ie), maar dit stel een klank voor. Aan die ander kant stel die letter y wel ʼn diftong voor, want as jy dit uitspreek, hoor jy twee klanke.
Let op: Die klank wat deur die klinkers eu voorgestel word, word nie as ʼn diftong beskou nie, want die posisie van die lippe, kaak en tong bly presies dieselfde as dit uitgespreek word. Al word twee letters gebruik, stel dit steeds een klank voor.
Voorbeelde van diftonge in Afrikaans
Ons skryf die volgende voorbeelde hier met letters van die alfabet neer, omdat ons weet die meeste lesers ken nie die fonetiese alfabet nie. Om werklik te verstaan watter klanke diftonge is, moet jy hierdie woorde hardop uitspreek en dan spesifiek oplet na die klank wat jy maak as jy die vetgedrukte/onderstreepte deel van die woord uitspreek. (Onthou dat hierdie letters nie diftonge is nie, die letters is klinkers.)
reis | huis | blou | |||
leeu | kraai | vlooi | lui | kaiing | toiing |
Hoe beskryf ons diftonge in Afrikaans?
Daar is twee soorte diftonge in Afrikaans: egte en onegte diftonge. Fonoloë maak hierdie onderskeid op grond van die fonemiese eienskappe van die klanke waaruit die diftong saamgestel is.
- Egte diftonge: reis of grys, huis, blou
- Onegte diftonge: leeu, kraai, vlooi, lui, kaiing, toiing