Jeugromans is romans wat spesifiek vir jonger lesers (gewoonlik tussen die ouderdomme van 12 en 18 jaar) geskryf word. ʼn Jeugroman is korter as ʼn gewone roman, maar handel ook oor denkbeeldige karakters of gebeure. Die belangrikste elemente van ʼn jeugroman is die karakters, tyd, ruimte, gebeure en verteller. Die manier waarop die gebeure in ʼn jeugroman gerangskik word, lei tot die intrige of plot.

Kenmerke van ʼn jeugroman

Jeugromans is merendeels realistiese verhale met realistiese karakters en gebeure. Die jeugroman kan ʼn grootwordverhaal, liefdesverhaal, spanningsverhaal, speurverhaal, verhoudingsverhaal, godsdiensverhaal, avontuurverhaal, koshuisverhaal of enige ander soort verhaal wees. Fantasie kan wel in jeugromans aangewend word, maar dan gewoonlik in fantasieverhale wat spesifiek op jongmense gemik is.

Die karakters in jeugromans is gewoonlik ook jongmense sodat die teikenmark waarvoor dit geskryf word daarmee kan identifiseer. Volwasse karakters verskyn ook meestal in jeugromans, maar kinderkarakters kom selde voor. Die hoofkarakter het gewoonlik probleme of vrese wat deur die grootmenswêreld veroorsaak word, en die manier waarop hierdie kwessies hanteer word, dra gewoonlik by tot die ontwikkeling van die karakter.

Daar is ook deurgaans ʼn magstryd in jeugromans teenwoordig waar die adolessente karakter moet leer hoe om al die persone en instansies wat tot sy/haar/sig vorming bydra, en die mag wat hulle het, te hanteer en met sy/haar/sig eie mag te balanseer. Die gebeure in ʼn jeugroman kan in enige ruimte plaasvind. Hoewel daar wel met tyd geëksperimenteer kan word, vind gebeure in die algemeen in chronologiese volgorde plaas.

ʼn Eerstepersoon- of derdepersoonverteller kan in die jeugroman aangewend word. Die einde van ʼn jeugroman is meestal realisties. Die skrywer van ʼn jeugroman moet aspekte soos politieke korrektheid, relevante jeugkwessies en tienertaal in gedagte hou. Wat taalgebruik betref, word kras vloekwoorde gewoonlik vermy in jeugromans vir jonger tieners (12-16 jaar), terwyl gemotiveerde kras vloekwoorde wel in jeugromans gemik op ouer tieners gebruik kan word.

Die sinne en paragrawe in jeugromans is ook meestal kort om die aandag van die jong leser te behou. Van die temas wat in jeugromans voorkom, is aktuele kwessies soos dwelmmisbruik, egskeiding, seksualiteit, geloofsworstelinge, verhoudings, boelies, puberteit en die soeke na ʼn eie identiteit. Dit is voorts belangrik om onderskeid tussen jeugliteratuur en kinderliteratuur te tref. Kinderliteratuur is gemik op kinders tussen die ouderdomme van 6 en 11/12 en is daarom eenvoudiger ten opsigte van taalgebruik en tematiek.

Voorbeelde van jeugromans

In Afrikaans is daar heelwat jeugromanskrywers soos Fanie Viljoen met Uit (2014), Onderwêreld (2015) en Donker web (2020); Jaco Jacobs met Suurlemoen! (2007) en ʼn Goeie dag vir boomklim (2015); François Bloemhof met Nie vir kinders nie (2005) en Verkleurmannetjie (2021); Marita van der Vyver met Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002) en Al wat ek weet (2016); Zelda Bezuidenhout met As mens geluk kon proe (2018) en Die 6 weke van Thomas & Ella (2019); en Cecilia Steyn met Die meisie op die dak (2016) en ’n Hart is net atome (2021). Vroeër jeugromanskrywers sluit in G.R. von Wielligh, Mikro, Chris Barnard, Dolf van Niekerk, Marie du Preez, Elsabe Steenberg, Eleanor Baker, Hester Heese, Freda Linde, Pieter Pieterse, Fransi Phillips, Stella Blakemore, W.A. de Klerk, Jan van Tonder, Barrie Hough, Marzanne Leroux-Van der Boon en Marlene le Roux.

Die volgende voorbeeld is ʼn uittreksel uit Fanie Viljoen se jeugroman Uit (2014) wat met sy vriendelike vergunning hier geplaas word:

Swart hare, diepblou oë en ’n kuiltjie in die wang toe hy glimlag. Dis wat in my drome kom spook. Die ou van Redhill. Ek het hom net ’n oomblik lank daar in die ander span se deur gesien voordat hy dit toegemaak het.

Dalk was ek verkeerd. Dalk het hy nie eens vir my gekyk nie.

Of het hy?

Het ons oë ’n ruk lank in mekaar s’n vasgedraai?

Asof daar ’n … wat? ’n Herkenning is? Dalk iets meer?

Vrek, nee!

Ek word natgesweet wakker. Die beddegoed is om my lyf gekoek. Ek maak myself los en gaan sit regop op die rand van my bed.

Die ou se beeld bly voor my. Dis soos ’n helder foto wat reg agter my oë skuil. Dis selfs daar as ek my oë weer toemaak.

Nag ná nag gebeur dit nou.

Bedags kan ek glad nie op my huiswerk konsentreer nie.

En ek is bang, want ek weet daar het iets gebeur daardie dag. Ek sê vir myself ek is mal. Dit was niks.

Níks, Brent! Flippit!

En tog bly my hartstem vra: Is daardie waarheid wat ek so vrees besig om my in te haal?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023