Vinnige feite

  • Dit kan by die Noord- en Suidpool voel asof ’n jaar uit net een dag bestaan, want daar is aaneenlopende daglig vir ses maande gevolg deur ’n aaneenlopende duisternis van ses maande!
  • Frankryk se tyd is een uur voor Greenwich Mean Time, al strek die hoofmeridiaan deur dié land. Hoewel Frankryk langs dieselfde lengtegraad as Greenwich lê, het sy politici besluit om hul bure te volg en Sentraal-Europese Tyd (GMT + 1 uur) aan te neem om handel en kommunikasie met die meerderheid Europese lande te vergemaklik. 3
  • Daar is ’n lang tonnel wat Greenwich met die Isle of Dogs verbind. Dit is ’n voettonnel wat onder die Teemsrivier loop en meer as 365 meter lank is. Glo dit of nie, meer as 1,5 miljoen mense gebruik jaarliks dié tonnel. 4
Foto: iStock

Stel jou voor dat die aarde ’n groot appel is en dat noord by die appel se stingeltjie is en suid aan die onderkant van die appel. Jy het seker al van die ewenaar gehoor? As jy die appel van regs na links sou deursny (van oos na wes), sou dit die aarde se ewenaar voorstel. Jou appel is nou in twee dele verdeel: die Noordelike Halfrond en die Suidelike Halfrond (waar jy Suid-Afrika sal aantref).

Maar daar is nog ’n baie belangrike lyn wat ons in aardrykskunde of geografie gebruik. Gestel nou weer jy sny ’n appel in twee, maar dié keer sny jy dit van die stingel af ondertoe (van noord na suid) – van bo na onder. Só kry jy die Greenwich-lengtelyn: Dié hoofmeridiaan of hooflengtelyn is die denkbeeldige lyn wat die aarde in twee gelyke dele verdeel – die Oostelike Halfrond en die Westelike Halfrond. Die hoofmeridiaan verskyn op kaarte en aardbolle en word gebruik as basis vir die wêreld se tydsones.

Lengtegraad is ’n stelsel van denkbeeldige noord-suid-lyne wat meridiane genoem word. Hulle verbind die Noordpool met die Suidpool. Meridiane word gebruik om die afstand in grade oos of grade wes van die hoofmeridiaan te meet. Die hoofmeridiaan lê op 0°. Die 180ste meridiaan is die lengtelyn wat presies teenoor die hoofmeridiaan is. Lengtelyne oos van die hoofmeridiaan is genommer van 1 tot 179 oos (O) en lengtelyne wes van die hoofmeridiaan is genommer van 1 tot 179 wes (W). 1

Die hoofmeridiaan word die Greenwich-meridiaan genoem omdat dit deur die dorp Greenwich in Engeland loop. Voor 1884 het mense wat kaarte geteken het gewoonlik die lengtelyne op hul kaarte genommer volgens watter meridiaan ook al deur die gebied van hul nasionale sterrewag geloop het. Baie lande het Britse kaarte gebruik omdat Brittanje ’n wêreldleier in verkenning en die teken (maak) van kaarte was. In 1884 het wetenskaplikes besluit dat die beginpunt van lengtelyne vir almal die meridiaan sou wees wat deur Brittanje se koninklike sterrewag in Greenwich loop.

Geografiese rooster

As jy dus na ’n aardbol kyk, sal jy ’n paar lyne sien wat vertikaal loop, asook ander wat horisontaal daarop getrek is. Hierdie lyne is denkbeeldige lyne en staan bekend as die geografiese rooster. Hierdie roosterstelsel is geskep om ’n ligging of posisie op die aarde maklik te kan beskryf. Die geografiese rooster bestaan uit breedtelyne, ook bekend as parallelle, en lengtelyne, ook bekend as meridiane.

Dink byvoorbeeld as jou pa sy GPS in die motor of op sy foon gebruik. Soms sal hy ’n adres intik en soms sal hy dalk koördinate gebruik. Die koördinate van ’n spesifieke plek op die kaart word bepaal deur die lengte- en breedtelyne.

Greenwich-meridiaan, ‘n denkbeeldige lyn, gestig in 1851 gestig, wat gebruik is om 0° lengtelyn aan te dui. Dit gaan deur Greenwich, ‘n stadsdeel van Londen, en eindig by die Noord- en Suidpool

Wat is Greenwich-meridiaantyd?

Ons weet dat die aarde rond is en dat dit 24 uur neem om een rotasie om die son te voltooi. Mense wat in verskillende wêrelddele woon, kan nie dieselfde tyd hê nie, want as een deel van die wêreld na die son gedraai is, is dit op daardie plekke dag, en op die plekke wat weg van die son gedraai is, is dit nag.

Lande regoor die wêreld is verdeel in 24 tydsones, gegrond op lengtelyne. Greenwich Mean Time of GMT is die kloktyd by die Royal Observatory in Greenwich. GMT word vandag ook universele gekoördineerde tyd, oftewel UTC, genoem. As die son op die hoogste punt bo die hoofmeridiaan is, is dit 12:00 by Greenwich. 2

Wat is die Internasionale Datumlyn?

Die lengtelyn op 180 grade vanaf die Greenwich-lengtelyn staan sedert 1884 bekend as die Internasionale Datumlyn. As jy wes van dié lyn reis, voeg jy ’n dag by, en as jy oos reis, trek jy ’n dag af.

Ferdinand Magellan (1480–1521), ’n beroemde ontdekkingsreisiger, het met ’n skip om die aarde geseil. Sy matrose het die tyd en datums noukeurig neergeskryf terwyl hulle gereis het. Maar toe hulle terugkom by die plek vanwaar hulle begin het, het hulle opgemerk dat hul kalenders een dag uit was. Wat het gebeur? Wel, die dag het nie op een slag verlore gegaan nie; dit het bietjie vir bietjie verlore gegaan terwyl hulle oor die planeet gevaar het. Die verduideliking is eenvoudig: As jy op een plek bly, duur ’n dag 24 uur, maar as jy oor die aarde reis, kan jy ’n dag by jou kalender voeg of verloor, afhangende van die rigting waarin jy reis!

Kom ons hersien halfrondes

Die Greenwich-lengtelyn en die Internasionale Datumlyn skep ’n sirkel wat die aarde in die Oostelike en Westelike Halfrond verdeel. Dit is soortgelyk aan die manier waarop die ewenaar as die breedtegraad 0 dien en die aarde in die Noordelike en Suidelike Halfrond verdeel.

Die Oostelike Halfrond is oos van die Greenwich-lengtelyn en wes van die Internasionale Datumlyn. Die meeste landmassas van die aarde, insluitend die hele Asië en Australië en die grootste deel van Afrika, val in die Oostelike Halfrond.

Die Westelike Halfrond is wes van die Greenwich-lengtelyn en oos van die Internasionale Datumlyn. Die Amerikas, die westelike deel van die Britse Eilande (Ierland en Wallis ingesluit), en die noordwestelike deel van Afrika is landmassas in die Westelike Halfrond.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is die hoofmeridiaan?

Greenwich Mean Time verduidelik

Breedtegraad en lengtegraad

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Desember 2021 | Bygewerk op 26 Junie 2023