Vinnige feite

  • Het jy geweet daar is lande wat steeds in hul wetgewing teen vroue diskrimineer? Daar is slegs 14 lande wat vroue ten volle in hul wette beskerm. Dit is België, Denemarke, Duitsland, Frankryk, Griekeland, Ierland, Kanada, Luxemburg, Nederland, Portugal, Spanje, Swede en Ysland. 4
  • Daar is in 2019 ʼn opname onder 130 000 kinders tussen die ouderdom van vyf en sewe jaar in Engeland gedoen en bevind dat skoolmeisies gouer uit sport onttrek, en dit is glo as gevolg van geslagstereotipering. 4
  • In sommige Derdewêreld- of lae-inkomstelande is dit die geval dat vir elke 100 seuns wat ná matriek hul onderrig op tersiêre vlak voortsit, slegs 50 meisies dieselfde doen. 4
  • Daar word geglo dat meisies steeds huiwerig is om studierigtings te kies wat tradisioneel as “mansrigtings” gesien is. Daarom is slegs 26,7% van mense wat wêreldwyd vir tegnologiemaatskappye werk vroue. 5
  • Genderstereotipering word juis blameer vir die tekort aan vroue in STEM-poste (wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde). Selfs al vaar meisies net so goed soos seuns in hierdie vakke, oorweeg baie minder vroue loopbane in hierdie velde.
  • Volgens die Global Gender Gap Index sal die wêreldwye gaping tussen mans en vroue eers oor 131 jaar oorbrug word. 6

Geslagstereotipering klink soos ʼn groot woord, maar dis eintlik nie ʼn moeilike konsep om te verstaan nie. Jy weet seker geslag beteken of jy vroulik of manlik is. Daar woord ook soms hierna as “gender” verwys. Geslagstereotipering verwys na vaste idees of beelde wat baie mense oor mans en vroue het en wat dikwels nie met die ware situasie ooreenstem nie. 1

Jy het dit ook seker al in die regte lewe teëgekom, maar net nie besef dis wat dit is nie. Hier is ʼn paar voorbeelde: Vroue is swak motorbestuurders en kan ook glad nie rigting hou nie! Of seuns mag nie huil nie, want dis ʼn “meisieding”. Dit is onsin, en ons weet eintlik dat dit nie waar is nie, maar tog glo baie mense dit.

Ons glo dikwels van kleins af sekere dinge oor seuns en meisies sonder dat dit waar is, want omdat ʼn mens soveel dinge hoor en sien (ook op YouTube en TV), begin daar prentjies in ons koppe vorm. Seuns kan dalk dink dis hul susters se werk om die skottelgoed in die aand te was, of meisies kan dalk weer dink seuns moet van rugby en jag hou, terwyl baie seuns net mooi niks daarvan hou nie.

Die media kan ook soms (onwetend) help om stereotipes te vestig en te help dat mense vir lank op ʼn sekere manier oor sekere dinge dink. Dink byvoorbeeld aan advertensies oor wasgoedpoeier: Wie is altyd in die advertensies? Mans was ook klere, maar hulle verskyn amper nooit in hierdie tipe advertensies nie.

Gelukkig verander tye, en soos tye verander, besef die mens toenemend dat sekere idees uitgediend en ouderwets is. Kan jy dink daar was ʼn tyd wat meisies nie eens universiteit toe mag gegaan het nie?

Mans en vroue se karakters

Geslagstereotipes gaan nie net oor mense se aksie (optrede), werk of sport nie, dit gaan ook oor karaktertrekke. Geslagstereotipes beeld mans dikwels uit as diegene wat ambisieus, mededingend, selfgeldend en bekwaam is, terwyl vroue as die versorgers gesien word en dus as ondersteunend, versorgend, warm en emosioneel. Hierdie assosiasies word oor kulture heen gemaak en is al gevestig, en daarom baie moeilik om te verander. 2

Dis daarom nogal ʼn uitdaging vir vroue om in die sake- of politieke wêreld opgang te maak en as sterk leiers gesien te word. 2

Kinders se geslagstereotipes oor aktiwiteite en beroepe ontwikkel baie vinnig in hul kleuterskooljare. Teen die tyd wat hulle laerskool toe gaan, brei hierdie stereotipes uit om sport, vakkeuses en karaktertrekke in te sluit. Soos kinders ouer word, word hulle bewus daarvan dat stereotipes verkeerd kan wees en leer hulle ook hoe om dit te hanteer. 2

Só leer hulle ook dat elke mens uniek is en dat jy nie almal oor dieselfde kam kan skeer nie.

Geslagstereotipering se invloed

Geslagstereotipering beïnvloed ook verhoudings. Seuns kan dalk dink dat hulle nie in die huis hoef te help nie, want “dis meisies se werk”, en dit kan tot konflik met hul gesinslede lei.

As ouers stereotipeer, kan hulle verwag dat hul dogter netbal moet speel, terwyl sy graag krieket wil speel of dat ʼn seun rugby móét speel, want “seuns moet dit doen”.

Hoe moet jy geslagstereotipering hanteer?

  • Besef dat jy en elke ander mens op aarde uniek is.
  • Dink of jy aan enige stereotipes glo en of jy dit kan verbreek.
  • Aanvaar jouself soos jy is, en aanvaar ander mense nes húlle is.
  • Besef dat alle mense gelyk is en dat nie een geslag oor ʼn ander kan baasspeel nie.
  • Ons persoonlikheid bepaal in ʼn groot mate waarvan ons hou en nie hou nie; ons hoef nie iets te doen net omdat ander seuns of meisies in ons portuurgroep dit doen nie.
  • Wees maats met meisies én seuns.
  • Verdeel jul huistakies regverdig tussen jou en jou broers of susters.
  • Dink voordat jy iets oor iemand, wat op hul geslag gegrond is, sê.
  • Doen dít waarin jy belangstel, en nie wat jy dink van jou verwag word op grond van jou geslag nie. 3

Wat is seksisme?

Seksisme gaan hand aan hand met geslagstereotipering. Dit is onregverdige of diskriminerende gedrag teenoor mense, gegrond op hul geslag. 1 Sê nou maar jy is ʼn seun en jy hou van naaldwerk en wil graag só ʼn klas bywoon, maar die mense wat dit aanbied sê jy mag dit nie doen nie, want dit is net vir meisies; is dit diskriminasie op grond van jou geslag en dus seksisties.

Woordbank

ambisieus ʼn Sterk begeerte om suksesvol te wees of mag te hê.
bekwaam Knap en bedrewe in die werk wat jy doen.
diskriminasie Om onderskeid te tref tussen mense of groepe en een mens of groep anders as die ander te behandel.
geslag Manlik of vroulik.
mededingend As jy wil wen of beter doen as ʼn teenstander.
navorsing ʼn Onderwerp deeglik bestudeer en nuwe inligting daaroor inwin.
seksisme Die onregverdige behandeling van mense, veral vroue, op grond van hul geslag.
stereotipes ʼn Indruk wat ʼn mens van iemand of iets het, maar wat nie altyd waar is nie.
uniek Enig in ʼn soort, nie soos iets of iemand anders nie 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer 

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Wat is geslagstereotipering?  

Genderrolle en stereotipes

Hoe ouers kinders se geslagsrolle beïnvloed

Gepubliseer op: 28 Maart 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024