Vinnige feite

  • Die verskynsel waar ʼn hemelliggaam altyd dieselfde kant “wys” vir ʼn ander liggaam waarom hy wentel, word sinchroniese rotasie genoem. Die maan is in sinchroniese rotasie om die aarde (soos die meeste mane in ons sonnestelsel om hulle planete draai). Die maan voltooi een draai om sy eie as in dieselfde tyd wat hy een keer om die aarde wentel. Dis waarom ons van die aarde af altyd dieselfde kant van die maan waarneem.
  • Die agterkant van die maan is daardie halfrond wat gedurig van die aarde af weggekeer is. Voor die ruimte-eeu het ons geen benul gehad wat die maan vir ons wegsteek nie, totdat die voormalige Sowjetunie die geheim in 1959 met sy onbemande verkenningstuig, Luna 3, opgelos het. Die eerste mense wat die agterkant van die maan regstreeks aanskou het, was die Amerikaanse ruimtevaarders van die Apollo 8-sending toe hulle in 1968 om die maan gewentel het.
  • Die ruwe terrein aan die weggekeerde kant word deur talle kraters gekenmerk, maar dit is baie minder as die sowat 300 000 kraters groter as 1 km op die voorkant (sonkant).
  • ʼn Tweede volmaan in een kalendermaand word gewoonlik ʼn blou maan genoem, en dit vind ongeveer elke drie jaar plaas. Die Engelse uitdrukking “Once in a blue moon” verwys na iets wat nie gereeld gebeur nie (soos ʼn blou maan).
  • ʼn Supermaan vind weer plaas wanneer die maan die naaste aan die aarde is. ʼn Supermaan vind elke jaar tussen Maart en Mei plaas. Aangesien die maan buitengewoon naby aan die aarde is, lyk die volmaan tot 7% ​​groter en 15% helderder as ʼn tipiese volmaan. 9
  • Die maan beweeg elke jaar ongeveer 3,8 cm verder van ons planeet af. Daar word geraam dat dit ongeveer 50 miljard jaar sal aanhou. Teen die tyd wat dit gebeur, sal die maan 47 dae neem om rondom die aarde te wentel in plaas van 27,5 dae. 10
  • Omdat daar nie wind of water op die maan is nie, is ruimtevaarders se voetspore vir baie jare sigbaar, asof hulle nou net daar geloop het! ʼn Mens weeg ook baie ligter op die maan omdat die aantrekkingskrag baie minder as op aarde is. As jy op aarde 100 kg weeg, sal jy op die maan net 16,5 kg weeg! 11
Foto: iStock

Hoewel ons maan met sy deursnee van 3 476 kilometer soos ʼn groot ligbal lyk, skyn die aarde se maan nie self nie; dit is in werklikheid soos ʼn spieël. Net soos tydens die dag hier op aarde, verlig sonlig die maan. Ons kan dit net nie altyd sien nie. Die maan weerkaats egter slegs sowat 7% van die lig wat daarop val. Hierdie weerkaatsingsvermoë (of albedo) is soortgelyk aan dié van verpoeierde steenkool! 1

As die sonlig op die agterkant van die maan val – dié kant wat ons nie sonder die hulp van ʼn ruimtetuig kan sien nie – word dit nuwemaan of donkermaan genoem. As sonlig op die kant weerkaats wat ons kan sien (sowat 59% van die maan se oppervlak), noem ons dit volmaan. Die res van die maand sien ons net dele van die dagkant van die maan. Al die verskillende maniere hoe die son op die maan val en hoe ons dit meer as 380 000 km verder van die aarde af sien, word die fases van die maan genoem. 2

Die son is 150 miljoen kilometer van die aarde af, en die maan is 30 keer die aarde se deursnee. Die temperatuur op die maan wissel van 123 grade Celsius (°C) tot -248 °C. 3

Die maan draai om sy eie as, op dieselfde tyd wat hy om die aarde draai (teen 3 700 kilometer per uur!). Terselfdertyd draai die aarde saam met die maan weer om die son. Dit is belangrik om te weet dat die fases van die maan nie oral op aarde dieselfde is nie – hulle verskil in die Noordelike en Suidelike Halfrond. Om die waarheid te sê, jy sal op elke ander plek op aarde die maan en die hemelruim ietwat anders sien. 4

Die agt fases van die maan is nuwemaan, groeiende sekelmaan, eerste kwartier, groeiende bolmaan, volmaan, afnemende (kwynende) bolmaan, derde kwartier en afnemende (kwynende) sekelmaan. 5 Die gemiddelde kalendermaand, wat 112 van ʼn tropiese jaar is, is sowat 30,44 dae, terwyl die maan se fasesiklus gemiddeld elke 29,53 dae herhaal word. Daarom skuif die tyd van die maan se fases met gemiddeld een dag vir elke opeenvolgende maand. (ʼn Maanjaar is 354 dae lank.) 6

Elk van die “tussenfases” (tussen volmaan en donkermaan) is rofweg 7,4 dae lank, maar dit wissel effens vanweë die elliptiese wentelbaan van die maan. Buiten sommige kraters naby die maan se pole kry alle dele van die maan sowat 14,77 dae sonskyn, gevolg deur 14,77 dae donkerte.

Wat is ʼn maansverduistering?

ʼn Verduistering (of eklips), is ʼn sterrekundige term wat die verdonkering van een hemelliggaam deur ʼn ander beskryf. Die aarde is betrokke by twee soorte verduisterings: dié van die son en die maan. ʼn Sonsverduistering vind plaas wanneer die maan tussen die son en aarde inbeweeg en die maan se skaduwee oor die aardoppervlak beweeg. 7

Tydens ʼn maansverduistering beweeg die aarde tussen die son en die maan in en keer (blokkeer) die sonlig wat op die maan val. ʼn Mens kry twee soorte maansverduisterings: ʼn Totale maansverduistering is wanneer die maan en son aan weerskante van die aarde is, en ʼn gedeeltelike maansverduistering vind plaas as slegs ʼn gedeelte van die skaduwee van die aarde die maan bedek.

Gedurende sommige stadiums van ʼn maansverduistering kan die maan rooierig lyk. Dit is omdat die enigste oorblywende sonlig wat die maan bereik op daardie stadium rondom die rande van die aarde is, gesien vanaf die maanoppervlak. Van daar af sou ʼn waarnemer tydens ʼn verduistering al die aarde se sonsopkoms en sonsondergange gelyktydig sien. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die fases van die maan

Fases van die maan: Hoekom verander die maan van vorm?

Hoekom verander die maan elke aand van vorm?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 22 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024