Vinnige feite

  • ʼn Tipiese mikrogolfoond gebruik meer elektrisiteit om die digitale horlosie op bystand te hou as om kos warm te maak.
  • Skootrekenaars gebruik tot 85% minder elektrisiteit as lessenaarrekenaars (desktop computers).
  • Die grootste kragonderbreking ter wêreld het op 14 Augustus 2004 plaasgevind toe ʼn groot kragonderbreking in die noordooste van die VSA en in die hele Ontario, Kanada, plaasgevind het. Dit het 50 miljoen mense in die donker gelaat. 18
  • Nagenoeg16% van die wêreld se krag word deur hidro-elektrisiteit opgewek. 19
  • ʼn Weerligstraal stel vyf keer meer hitte vry as die son.
  • Windturbines is die energiebron van die toekoms, met die enorme lemme van ʼn 2,5 MW-turbine wat genoeg elektrisiteit kan lewer om 1 400 huise van krag te voorsien. Dit is genoeg om 230 miljoen koppies koffie te maak, of ʼn rekenaar vir meer as 2 000 jaar aan te dryf. 20
Foto: iStock

Elektrisiteit het oor die afgelope paar jaar peperduur geword, en die aarde se waterbronne is baie beperk. Ons kan egter deur middel van eenvoudige besparingstegnieke baie geld spaar en ook beter na ons planeet omsien deur water te bespaar, hernubare energiebronne te gebruik en ou goed deur herwinning in splinternuwe gebruiksartikels te omskep.

Hoekom is energiebesparing belangrik?

In eenvoudige terme verwys energiebesparing na die voorkoming van vermorsing van energie om te verseker dat ons dit vir toekomstige gebruik beskerm en bewaar.

Ongelukkig is fossielbrandstofenergie (soos steenkool, olie en natuurlike gasse), wat die algemeenste energievorm is, nie hernubaar nie, wat beteken dat ons ʼn beperkte voorraad daarvan het, en as dit opraak, kan ons nie meer produseer nie. Eendag sal ons fossielbrandstowwe opraak, wat letterlik ʼn donker wêreld kan veroorsaak. Sonder energie kan ons nie meer ons ligte, verwarmers, televisies, en so meer van krag voorsien nie.

Die beperkte aanbod van energie beteken dat dit belangriker as ooit tevore is om te verseker dat ons nie elektrisiteit in ons huise mors nie. Ons moet ook al meer begin om natuurlike of hernubare maniere, soos son-, wind- en waterkrag 1 te benut om krag op te wek.

Wenke om krag en water te bespaar

Skakel die lig af as jy uit die vertrek of kamer gaan. Dit klink dalk eenvoudig, maar vir elke uur wat jy ʼn lig onnodig laat brand, sal jy vir twee en ʼn half dae moet fietsry om daardie hoeveelheid energie op te wek. 2

Vervang al die ou gloeilampe in die huis met LED’s. Dit gebruik tot 85% minder elektrisiteit, en dit hou tot 25 keer langer as tradisionele gloeilampe. 3

Stort vir 10 minute, en spaar só baie water. ʼn Standaardstortkop vloei teen 9,5 liter water per minuut. Dit beteken dat ʼn stort van tien minute slegs 95 liter water gebruik, waarteenoor ʼn bad vol water tot 265 liter water kan gebruik. 4

ʼn Gesin van vier spoel die toilet ongeveer 20 keer per dag. Net deur ʼn baksteen of gevulde koeldrankbottel in ʼn toiletbak te plaas, kan jy met elke spoelslag 2 liter water bespaar en 13 800 liter water per jaar. Dit is genoeg om ʼn ronde swembad van 3,6 meter, wat 1,2 meter diep is, vol te maak! 5

Dink opnuut oor kragverbruik. ʼn Langtermynplan is beter as ʼn korttermynoplossing. Deur byvoorbeeld sonpanele te installeer, ʼn gasstoof in pleks van ʼn elektriese stoof te gebruik, van lugversorging na waaiers oor te skakel, en ʼn tydskakelaar aan te bring vir toestelle soos die geiser, swembad en veiligheidsligte, kan ʼn mens sakke vol geld spaar. 6

Kyk na die gebruik van die wasmasjien en tuimeldroër. ʼn Voorlaaiwasmasjien gebruik baie minder elektrisiteit as ʼn bolaaiwasmasjien. Die rede hiervoor is omdat voorlaaiwasmasjiene minder water gebruik om dieselfde bondel klere te was, en 90% van die krag van ʼn wasmasjien gaan om die water warm te maak. Onthou ook dat ongeag of jy net jou skoolklere of ʼn hele bondel wasgoed was, gebruik die wasmasjien dieselfde hoeveelheid energie. Probeer dus eerder om groter bondels as slegs een of twee goed op ʼn slag te was. Maak die tuimeldroër se filter skoon ná elke gebruik. Dit sal verseker dat hy vinniger die klere droog maak (wat dan minder elektrisiteit gebruik). 7

ʼn Bietjie natuurlike ventilasie maak beslis ʼn verskil, om nie eers te praat van wat natuurlike beligting aan ʼn vertrek kan doen nie. Moet dus nie altyd eerste die waaier of lugversorger aanskakel nie – somtyds is ʼn vars briesie van buite af ewe suksesvol. En sonlig maak die aansit van ligte in die dag onnodig. 8

Die geiser kan vir tot 60% van julle elektrisiteitsrekening verantwoordelik wees. Draai die termometer af na 60 ˚C om elektrisiteit te bespaar. 9

ʼn Strykyster gebruik dieselfde hoeveelheid krag as tien 100 W-gloeilampe. Stryk dus eers materiale wat by ʼn lae temperatuur gestryk moet word, sodat die strykyster nie so lank hoef warm te word nie, en stryk groot bondels klere op ʼn slag om te keer dat energie vermors word wanneer die yster verskeie kere moet warm word. Skakel die yster af wanneer jy onderbreek word terwyl jy stryk. 10

Wees slim met die ketel. Almal hou van ʼn lekker koppie koffie of warm sjokolade (veral as dit winter is). ʼn Ketel gebruik egter baie krag, veral as jy dit klomp keer op ʼn dag kook. Gebruik eerder ʼn fles om kookwater warm te hou of gebruik ʼn reisbeker met ʼn deksel op om jou drankies warm te hou. Moet ook nie die ketel té vol maak nie, kook slegs die water wat jy nodig het. 11

Maak die yskas en vrieskas se deure so vinnig as moontlik toe ná jy iets uitgehaal het. Elke keer wat ons die yskas se deur oopmaak, ontsnap tot 30% van die koue lug. Dieselfde geld vir die vrieskas. 12

Het jy geweet?

  • Altesaam 75% van die elektrisiteit wat elektroniese toestelle soos televisies gebruik, word gebruik wanneer hulle afgeskakel is. 13
  • ʼn Gesin wat uit vier mense bestaan, was sowat 500 bondels wasgoed per jaar.
  • Om klere teen 40 °C in die wasmasjien te was (pleks van teen 60 °C), spaar tot 30% elektrisiteit. 14
  • Slegs 10% van die energie in ʼn gloeilamp word gebruik om lig te maak. Die oorblywende 90% van die energie van ʼn gloeilamp skep hitte.
  • Google gebruik genoeg energie om 200 000 huise van elektrisiteit te voorsien.
  • Elke minuut tref genoeg sonlig die aarde se oppervlak om ʼn jaar lank in die hele wêreld se energiebehoeftes te voorsien. 15
  • Toe die Times Square-bal in New York in die VSA (wat elke jaar met die Nuwejaarsvieringe gebruik word) in LED-beligting omskep is, het 9 576 LED-ligte die 600 oorspronklike gloeilampe vervang. Die nuwe bal is nou twee keer so helder soos die oue, maar dit gebruik net soveel energie soos ʼn gewone stoof of oond! 16
  • ʼn Mikrogolfoond gebruik tot 80% minder elektrisiteit as ʼn konvensionele stoof of oond. 17

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor energiebesparing

Energiebesparing in die huis

Hoe om energie spaarsamig te gebruik

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024