Vinnige feite

Lewensvaardigheid

  • Een dier word elke minuut mishandel. Altesaam 65% van dié mishandelde diere is honde. 5
  • 10 miljoen diere gaan elke jaar weens mishandeling in die VSA dood.
  • Meer as 115 miljoen diere word jaarliks vir eksperimente in laboratoriums gebruik. 6
  • 100 miljoen diere word per jaar vir hul pels geslag. 7
  • Ten minste 75% van die slange, akkedisse en skilpaaie wat vir troeteldiere aangeskaf word, gaan binne die eerste jaar as troeteldier dood. 8
  • Hondegevegte, waar honde baie keer tot die dood toe met mekaar baklei, is een van die wreedste vorms van dieremishandeling en is onwettig. Duisende honde sterf jaarliks in sulke gevegte, ook in Suid-Afrika. 9
  • Daar word geraam dat daar in China alleen jaarliks 10 miljoen honde en 4 miljoen katte vir hul vleis geslag word. 10
  • Tussen 35 000 en 50 000 olifante word elke jaar onwettig vir hul tande doodgemaak. As dit só aanhou, sal daar oor minder as 10 jaar geen olifante in Afrika meer wees nie. Amper 3 renosters word elke dag vir hul horings doodgemaak (’n mens noem dit ook olifant- of renosterstropery). Meer as 1 000 wildbewaarders is die afgelope 10 jaar deur wildstropers doodgemaak. 11
  • Sowat 28 300 varswaterskilpaaie word elke dag in Asië verkoop en meer as die helfte van al die olifante hier is in aanhouding.
  • Die handel in wilde diere is die vierde grootste onwettige bedryf in die wêreld. Die waarde van dié bedryf word op meer as $20 miljard (R300 miljard) geraam. 12
  • Duisende gesonde windhonde word jaarliks doodgemaak omdat hulle nie wedrenpotensiaal (waar die honde teen mekaar resies hardloop) het nie of tydens ’n wedren beseer is. 13

Foto: iStock

Daar is seker bitter min mense wat nie gek is na diere nie. Of dit nou troeteldiere, plaasdiere of selfs wildediere is. Daarom is dit vir die meeste mense ondenkbaar dat iemand ’n dier enige leed sal aandoen. Tog hoor mens gereeld van sulke gevalle.

Dieremishandeling is enige wreedheid teenoor diere (soos as diere geskop of geslaan word) en as diere van basiese dinge soos kos, vars water, skuiling (’n skoon en veilige slaapplek) en sorg (nie net aandag van die dier se eienaar nie, maar ook om die dier gereeld veearts toe te neem) ontneem of weerhou word (hulle word met ander woorde verwaarloos). 1

Hoe word diere in Suid-Afrika beskerm?

Die vernaamste wetgewing oor  n in Suid-Afrika is die Wet op Dierebeskerming nr. 71 van 1962, wat die mishandeling van enige mak of wilde diere in gevangenskap of onder beheer van mense verbied. Tweedens is daar die Wet op die Beskerming van Gedresseerde Diere (“Performing Animals Protection Act”) van 1935 (gewysig in 2016), wat vereis dat instansies ’n lisensie moet hê vir diere wat vir uitstallings of opvoerings opgelei of gebruik word, of om waghonde op te lei. Verder het die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde (SABS), in samewerking met die Dierebeskermingsvereniging (DBV), ’n stel standaarde vir dierewelsyn wat meer besonderhede bevat. 4

Lewensvaardigheid

Wees op die uitkyk vir dié 10 tekens van mishandeling 

1. Swak liggaamstoestand (kondisie) en sigbare seerplekke – Die dier het lelike letsels of seerplekke aan sy vel of pels, of duidelike wonde. Dit lyk asof hy baie vlooie of bosluise het. Hy is ondergewig met sy geraamte wat duidelik sigbaar is. Hy kan mank wees of kan glad nie loop nie, of sy oë of ore is ingeduik. Hy is in duidelike liggaamlike nood en benodig ’n veearts se sorg. 2

2. Geen kos of water – Elke keer as jy hierdie dier sien, sien jy nie enige kos of water naby hom nie. Die dier kan aggressief wees as gevolg van honger en dors, of miskien lusteloos (lê die heeltyd) wees.

3. Geen skuiling – Die dier is op ’n plek wat grotendeels of ten volle aan gure weer soos reën of baie warm son blootgestel is. Of die dier is sommer in ’n motor waarvan die vensters toe is, gelos.

4. Gebrek aan sanitasie – Die dier se leefruimte is vol ontlasting en ander rommel.

5. Verlate – Die dier word in ’n huis, tuin of ander gebied wat leeg lyk of waar geen mense is nie, agtergelaat. ’n Mens sien dikwels diere wat sommer in die straat rondhardloop. Kyk of die dier nie ’n halsband met ’n naam en/of telefoonnommer op het nie.

6. In ’n hok of toegemaak – Die dier het min of geen beweegruimte nie, en/of kan nie staan ​​of omdraai nie. Wees op die uitkyk vir enigiets om die nek van ’n dier wat hom kan seermaak en/of besmet (baie vuil, vol kieme), soos ’n ketting of leiband. ’n Vasgemaakte dier is ’n mishandelde dier!

7. Te veel diere by een huis – 250 000 diere word jaarliks aangetref by mense wat diere “opgaar” (bymekaar maak) en verwaarloos met die verskoning dat hulle ’n “diereskuiling” is. 3

8. Geweld – ’n Eienaar of enige persoon wat die dier openlik seermaak deur hom te slaan of met goed te gooi, mishandel die dier. Daar is geen geweld teen ’n dier wat reg is nie. En ’n persoon wat ’n dier in die openbaar seermaak, doen waarskynlik nog baie erger goed as mense nie kyk nie.

9. Die dier toon snaakse gedrag – Die dier is baie aggressief (blaf vir en byt selfs sy eienaar) of kan baie skaam wees en wegkruip.

10. Duidelike tekens dat die dier vir gevegte gebruik word – Dit kom veral voor by sekere soorte honde en hoenderhane. Jy sal tekens van trauma (beserings) sien, soos  letsels, oop wonde, infeksies en selfs ontbrekende liggaamsdele soos ore of sterte.

Wie kan ’n mens kontak as jy dieremishandeling sien?

Jy kan die Dierebeskermingsvereniging (DBV) se webblad besoek om die DBV-tak naaste aan jou op te spoor of die Animal Anti-Cruelty League (AACL) by 011 435 0672 skakel. Die AACL beskerm diere reeds sedert 1956 en is die tweede grootste onafhanklike dierewelsynsorganisasie in Suid-Afrika, naas die DBV. Jy kan ook hul webtuiste besoek.

Jy kan ook by Four Paws betrokke raak. Four Paws is ’n wêreldwye organisasie vir diere onder direkte menslike invloed wat lyding openbaar. Four Paws red en beskerm diere in nood. Four Paws se visie is ’n wêreld waar mense diere met respek, empatie en begrip behandel.

Woordbank

aggressief Aanvallend; bakleierig, veglustig.
besmet Iets/iemand wat kieme het; vuil.
DBV DBV is die afkorting van Dierebeskermingsvereniging. Hul missie is die voorkoming van wreedheid aan diere, deur middel van opvoeding, wetstoepassing en pro-aktiewe en reaktiewe aktiwiteite. Dit beteken dat hulle besorg is oor die welsyn van alle diere, van die kleinste muis tot by die grootste blouwalvis.
dierewelsyn Dit verwys na die gesondheid en welstand (genoeg kos, veilige skuiling, ens.) van diere.
empatie  Meevoeling met, inlewing van dit wat mens waarneem.
infeksie Ontsteking, inflammasie; die binnedring van kieme in die liggaam.
leiband Band/riem/ketting waaraan ’n dier, bv. ’n hond, gelei word.
letsel ’n Merk op die liggaam wat besering, verwonding, ’n seerplek, skraap, kneusplek, swelsel, breuk, beenbreuk, ens. aandui.
lusteloos Sonder energie, nie lus om iets te doen nie; slap, sonder beweeglikheid; lêerig.
lyding Baie pyn of angs hê of getraumatiseerd wees weens verminking, marteling, besering, siekte of mishandeling.
mank Kruppel of hinkepink loop weens ’n besering of gebrek.
ondenkbaar Wat jy jou nie kan voorstel nie; ongelooflik, onverstaanbaar.
ontbrekende Iets wat nie daar is nie; weg.
pels Die vel met sagte hare van party diere.
sanitasie Higiëniese versorging;
trauma Abnormale toestand van die liggaam of gees wat deur ’n uitwendige besering of emosionele mishandeling veroorsaak is.
veearts ’n Opgeleide dokter in veeartsenykunde wat diere behandel en gesond maak; dieredokter, dierearts.
wildstropers Die steel of doodmaak van wild om dele (gewoonlik die horings) te verwyder vir onwettige handel; wilddief.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Dit is ons almal se plig om na diere om te sien

Diere het ruimte nodig om te beweeg, net soos ons

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2023 | Bygewerk op 25 Maart 2024