Vinnige feite

  • Atleetvoet kom meestal tussen die tone voor. Hierdie area is gewoonlik jeukerig, en die vel lyk rooi. As gevolg van die bakteriële infeksie kan dit ook seer wees.
  • Jy kan die swam van jou af weghou deur higiëniese gewoontes toe te pas en vir jou ma te luister as sy op ʼn Vrydagaand vir jou vra om te gaan bad.
  • Hou jou naels kort, en was jou hande gereeld. Stort met plakkies as jy by ʼn vakansieoord is, en was die bad behoorlik uit, indien daar ʼn bad is. Indien jy die gogga tussen jou tone gewaar, is dit wys om eerder ʼn dokter te raadpleeg vir advies oor die korrekte behandeling.
Foto: iStock

Atleetvoet is ʼn velinfeksie wat deur ʼn swam veroorsaak word. Dit kan herken word deur blase wat op die voet verskyn. Dit kan op enige deel van die voet voorkom, maar oor die algemeen groei die swam tussen die tone en onder die voet. Dieselfde swam kan ook op die hande en onder die naels groei. 1

Atleetvoet word deur ʼn aantal verskillende swamme veroorsaak. Die swam word gewoonlik verkry deur kontak met besmette vel, of kontak met ‘n swam in die omgewing. Swamme kom algemeen naby swembaddens en in badkamers voor, en dit kan ook deur diere versprei word. Daarom is dit wys om eerder met plakkies te stort as jy by ʼn vreemde stort is, veral tydens ʼn vakansie, waar baie mense een stort gebruik. 2

Hoe om dit uit te ken

Soos reeds genoem, kom atleetvoet meestal tussen die tone voor. Hierdie area is gewoonlik jeukerig, en die vel lyk rooi. As gevolg van die bakteriële infeksie kan dit ook seer wees, die vel kan bars en daar kan ook ʼn vreemde reuk teenwoordig wees. In ander gevalle gaan die jeuk weer gepaard met blase op die voetsool. 3

Verspreiding

Indien die swam nie onder beheer gebring kan word nie, kan die vel later bars. Die vel kan byvoorbeeld oopgaan omdat die vel só jeuk en die persoon aanhoudend krap. Sodra die vel oop is, is die vel aan bakteriële infeksie blootgestel. Hoe meer jy krap, hoe langer neem dit om te genees. Hierdie swam kan dan verder versprei na die toonnaels, en dit kan voortleef op die keratien wat in naels gevind word. Hou dus jou naels kort, en was jou voete behoorlik. 4

Voorkoming en behandeling

Jy kan die swam van jou af weghou deur higiëniese gewoontes toe te pas en vir jou ma te luister as sy vir jou vra om te gaan bad. 5 Hou jou naels kort, en was jou hande gereeld. Stort met plakkies as jy by ʼn vakansieoord is, en was die bad behoorlik uit, indien daar ʼn bad is. Indien jy dié gogga tussen jou tone gewaar, is dit wys om eerder ʼn dokter te raadpleeg vir advies oor die korrekte behandeling. 6

Woordbank

higiëniese Die gewoonte om jouself en jou omgewing skoon te hou om siektes te voorkom.
infeksie Binnedringing van siektekieme of organismes soos bakterieë/skimmels/wurms/ens. wat siektes kan veroorsaak; ontsteking; besmetting.
keratien Horingagtige proteïenstof waaruit skubbe/naels/vere/hare/horings/ens. ten dele bestaan.
swam Enige van ‘n groep organismes wat wissel van ‘n enkele sel tot ‘n massa vertakte filamente wat dikwels tot gespesialiseerde vrugliggame groei, wat deur spore voortplant, op verrotte materiaal leef of op ander organismes teer; muf; skimmel; gis.

Lees hierdie om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om meer te leer

Slaan atleetvoet vir ‘n ses

Nog raad met atleetvoet

Wat is atleetvoet en wat veroorsaak dit? 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 29 Februarie 2024