Woorde het sekere morfologiese, sintaktiese en/of semantiese eienskappe. Sommige woorde kan byvoorbeeld meervoude kry (gans x ganse), ander kan ge- kry en die verlede tyd aandui (hardloop x gehardloop), sommiges kan trappe van vergelyking kry (oulik x ouliker x oulikste), ander word gebruik om sinne saam te voeg (en).
Woorde wat dieselfde morfologiese, sintaktiese en/of semantiese eienskappe het, behoort tot dieselfde woordsoort. Gelukkig is dit nie vir ons nodig om self te gaan uitvind wat hierdie eienskappe is nie; taalkundiges het klaar hierdie eienskappe beskryf en op grond daarvan bepaal watter woordsoorte daar is. Al wat ons hoef te doen, is om hierdie eienskappe te leer sodat ons woorde se woordsoort kan herken.
Hoekom moet ons woordsoorte kan herken?
As ons woordsoorte ken, kan ons baie van die taalreëls wat vir Afrikaans opgestel is, reg toepas. Die volgende reëls kom byvoorbeeld in die Afrikaanse woordelys en spelreëls voor. Kyk spesifiek na hoe die taalreël verwys na die woordsoort.
As jy nie verstaan wat ʼn byvoeglike naamwoord, ʼn bywoord of ʼn werkwoord is nie, kan jy nie die volgende reëls reg toepas nie:
- AWS 15.28: “Verbindings van byvoeglike en selfstandige naamwoorde word in die reël los geskryf.”
- AWS 16.1: “Byvoeglike naamwoorde en bywoorde vorm tradisioneel die vergrotende trap met die agtervoegsel -er.”
- AWS 19.3: “Tweelettergrepige werkwoorde op -eer wat die hoofklem op die tweede lettergreep het, vorm die voltooide deelwoorde met of sonder ge-“.
Watter woordsoorte identifiseer ons?
Die definisies van woordsoorte is oor tale heen dieselfde omdat die taalkundige eienskappe van woorde in ʼn bepaalde woordsoort oor tale heen dieselfde is. Dit wat in Engels byvoorbeeld ʼn “noun” genoem word, is ook in Afrikaans ʼn naamwoord.
Op grond van hierdie indeling identifiseer ons die woordsoorte wat hier onder bespreek word.
In die afdelings hier onder word elke woordsoort kortliks gedefinieer, die toetse vir die woordsoort word gegee (hoe om die woordsoort in ʼn sin te herken), ons gee voorbeelde van sinne waarin die woorde van die woordsoort voorkom, en ons dui die subsoorte aan wat vir die woordsoort geklassifiseer word.
Byvoeglike naamwoorde (ook: adjektiewe)
Definisie: ’n Byvoeglike naamwoord beskryf ’n eienskap van iets (ʼn mens, ʼn dier of ʼn ding) wat deur ʼn naamwoord benoem word of deur ʼn voornaamwoord aangedui word.
Hoe herken ʼn mens byvoeglike naamwoorde in ʼn sin?
Byvoeglike naamwoorde kan attributief (voor of net ná die naamwoord) of predikatief (ná die koppelwerkwoord) in die sin optree, bv.:
- die groot skare x die skare is groot
- die privaat skool x die skool is privaat
Byvoeglike naamwoorde kan gegradeer word. Dit beteken hulle kan trappe van vergelyking kry, of hulle kan ʼn bywoord van graad kry, bv.:
- oulik, ouliker, oulikste
- vreeslik oulik
Voorbeelde van byvoeglike naamwoorde in sinne
In die voorbeelde hier onder is die byvoeglike naamwoorde vetgedruk en die naamwoorde in hoofletters:
- Die seun dra ’n groen TRUI.
- Waar is jou VROUTJIE, vaal en fyn? Sit sy op haar NESSIE klein?
- Die TAFEL is vierkantig.
- Ek hoop ek kry IETS moois wat ek na die partytjie toe kan aantrek.
- Vra liewer IEMAND anders.
- Die HOND is nie mense gewoond nie.
- Die HOND is gewoond aan mense.
Watter soorte byvoeglike naamwoorde kry ons?
In die taalkunde identifiseer ons selfstandige byvoeglike naamwoorde, oorganklike byvoeglike naamwoorde en byvoeglike naamwoorde wat in vaste verbindings met voorsetsels optree. Hierdie indeling is nie op die oomblik skoolwerk nie. As jy wil weet hoe hierdie indeling werk, lees die afdeling oor byvoeglike naamwoorde in die Afrikaanse skoolgrammatika wat in Taalonderrigportaal op VivA se webwerf gepubliseer is.
Bywoorde
Definisie: Die bywoord word gebruik om:
- die betekenis van ’n ander woord of sinsdeel in die sin te beperk, versterk of vereng;
- die sin negatief/ontkennend te maak;
- tyd, wyse, rigting en/of plek in die sin aan te dui;
- die spreker/skrywer se houding/opvatting weer te gee oor die gedagte wat in die sin as geheel gestel word; of
- sinne sintakties te skakel, hetsy as voegwoordelike bywoord of as betreklike bywoord.
Hoe herken ʼn mens bywoorde in ʼn sin?
Omdat bywoorde so ʼn groot klas is en omdat dit soveel verskillende dinge in ʼn sin kan doen, is daar nie net een of twee toetse vir bywoorde nie.
Gebruik die definisie hier bo as toetse vir die verskillende soorte bywoorde, bv.:
- Poetoepap is ʼn eg Suid-Afrikaanse dis. (brei die betekenis van Suid-Afrikaanse uit)
- Hy sê nooit ʼn woord nie. (maak die sin ontkennend)
- Ons is nou daar. (dui tyd en plek aan)
- Dis nou sommer (dui die spreker se houding aan)
- Ek sal gaan, mits jy ook gaan. (skakel die bysin met die hoofsin)
- Ek hou nie van hierdie donker bos waardeur ons moet loop nie. (skakel die betreklike bysin met die hoofsin)
Voorbeelde van bywoorde in sinne
In die sinne hier onder is die bywoorde vetgedruk:
- Hy hardloop vinnig.
- Sy is besonder.
- Van haar planne weet ek niks.
- Ek gaan sommer huis toe.
- Hy het griep, daarom moet hy in die bed bly.
- Dit is die skool waar ons gaan krieket speel.
- Is dit die boek waaroor hulle baklei het?
Watter soorte bywoorde kry ons?
In skoolwerk word die soorte bywoorde tradisioneel volgens betekenis ingedeel, bv. “bywoord van tyd”, “bywoord van wyse”, “bywoord van graad”, ens. So ʼn indeling werk nie vir alle bywoorde nie, want ʼn mens kan nie eintlik die betekenis van bywoorde soos daarom, waaroor of hoekom bepaal nie.
In die taalkunde identifiseer ons egte bywoorde, adjektiwiese bywoorde, voegwoordelike bywoorde, betreklike bywoorde, voornaamwoordelike bywoorde en voorsetselbywoorde. Hierdie indeling is nie op die oomblik skoolwerk nie. As jy wil weet hoe die indeling werk, lees die afdeling oor bywoorde in die Afrikaanse skoolgrammatika wat in Taalonderrigportaal op VivA se webwerf gepubliseer is.
Lidwoorde
Definisie: Die lidwoord tree voor ʼn naamwoord op en dui aan of die naamwoord ’n onbekende, bekende of afwesige ding benoem.
Hoe herken ʼn mens lidwoorde in ʼn sin?
Lidwoorde tree altyd voor naamwoorde op, bv. ʼn huis, die volstruise, geen volstruise.
Lidwoorde dui aan of die naamwoord ʼn onbepaalde (ʼn volstruis), bepaalde (die volstruise) of afwesige ding (geen volstruise) benoem.
Voorbeelde van lidwoorde in sinne:
In die sinne hier onder is die lidwoorde vetgedruk:
- Die man, sy vrou, hulle kind, ʼn perd en ʼn papegaai was in die huis.
- Daar is g’n mens in sig nie.
- Daar is geen salf aan hom te smeer nie.
Watter soorte lidwoorde kry ons?
Onbepaalde lidwoorde dui aan dat die mens/dier/ding wat deur die naamwoord benoem word, nog nie bekend is nie, bv. ʼn Volstruis het my gejaag.
Bepaalde lidwoorde dui aan dat die mens/dier/ding wat deur die naamwoord benoem word, reeds bekend is, bv. Die volstruis het my gejaag.
Ontkenningslidwoorde (geen of g’n) dui aan dat die mens/dier/ding wat deur die naamwoord benoem word, afwesig is, bv. Daar is geen volstruise op die plaas nie.
Ons kry ook in Afrikaans sekere Nederlandse lidwoorde wat in vaste uitdrukkings versteen geraak het, bv. kind des doods, ter herinnering aan. Sulke woorde is lidwoorde, maar dit is nie ʼn aparte soort lidwoord in Afrikaans nie.
Naamwoorde
Definisie: ’n Naamwoord benoem selfstandighede (ook genoem “dinge”) wat lewend en konkreet (soos mense, diere en plante), nielewend en konkreet (soos voorwerpe en plekke), of abstrak (soos gevoelens, idees of handelingstipes) is.
Hoe herken ʼn mens naamwoorde in ʼn sin?
Naamwoorde kan gewoonlik meervoude kry, bv. jaar x jare; gunsteling x gunstelinge.
Naamwoorde kan gewoonlik lidwoorde neem, bv. ʼn jaar; die gunsteling.
Eienaamwoorde het gewoonlik hoofletters, bv. Johann Blignault, Kaapstad.
Voorbeelde van naamwoorde in sinne
In die sinne hier onder is die naamwoorde vetgedruk:
- My oupa en sy hond stap elke dag langs die see.
- Ek is in Kaapstad gebore, maar ek woon nou in Windhoek.
- Hy het geen pligsbesef.
- In daardie myn ontgin hulle goud.
- Skink vir my ʼn glas water, asseblief.
- My ma het ʼn hele trop volstruise op haar plaas.
Watter soorte naamwoorde kry ons?
‘n Eienaamwoord benoem ʼn unieke eksemplaar van ʼn ding, bv. Kaapstad; Windhoek. Eienaamwoorde kry gewoonlik nie meervoude en lidwoorde nie.
‘n Soortnaamwoord is die naam van ʼn soort ding, bv. oupa, hond, dag, see, ma, volstruise, plaas.
‘n Abstrakte naamwoord is die naam van ʼn ding wat abstrak is (nie sintuiglik waargeneem kan word nie), bv. pligsbesef. Abstrakte naamwoorde kry gewoonlik nie meervoude of ʼn onbepaalde lidwoord nie.
‘n Massanaamwoord is die naam van ʼn ding wat nie telbaar is nie, bv. goud; water. Massanaamwoorde kry gewoonlik nie meervoude of ʼn onbepaalde lidwoord nie.
‘n Maatnaamwoord is die naam van ʼn maateenheid. Maatnaamwoorde tree voor ʼn ander naamwoord op, bv. glas water. (glas = maatnaamwoord; water = massanaamwoord)
‘n Versamelnaamwoord is die naam van ʼn versameling. Versamelnaamwoorde tree voor ʼn ander naamwoord op, bv. trop volstruise (trop = versamelnaamwoord; volstruise = soortnaamwoord)
Partikels
Definisie: ’n Partikel is ’n woord sonder eie betekenis wat saam met ander woorde optree om ’n sin grammatikaal te maak.
Hoe herken ʼn mens partikels in ʼn sin?
Die woord het op sy eie eintlik geen betekenis nie, bv. om te stap of Jeanine se sussie.
Die woord is eintlik in die sin om dit grammatikaal te maak, bv. Moenie in die water mors nie.
Voorbeelde van partikels in sinne
In die sinne hier onder is die partikels vetgedruk:
- Neels kry nie sy selfoon nie.
- Daardie motor is ons s’n.
- Dit is my pa se motor.
- Ek kan nie wag om te gaan swem nie.
- My broer word hierdie jaar twee en twintig.
- Jy sit en slaap in my klas!
- Al die kinders in die klas het verkoue.
- Van die kinders in die klas het verkoue.
- Benna is so lank soos ʼn paal.
- Wat ʼn lekker partytjie.
- Ek het jou te min betaal.
Watter soorte partikels kry ons?
In die taalkunde identifiseer ons die werkwoordpartikel, ontkenningspartikel, genitiefpartikel, infinitiefpartikel, konjunksiepartikel, skakelpartikel, deel-geheel-partikel, vergelykingspartikel, betreklike partikel en graadpartikel.
Hierdie indeling is nie op die oomblik skoolwerk nie. As jy wil weet hoe die indeling werk, lees die afdeling oor partikels in die Afrikaanse skoolgrammatika wat in Taalonderrigportaal op VivA se webwerf gepubliseer is.
Setsels
Definisie: ’n Setsel is ’n woord of woorde wat gebruik word om die verhouding tussen twee dinge in ’n sin aan te dui. Die dinge word meestal benoem deur naamwoorde of naamwoordstukke (ʼn sinstuk waarvan die kern ʼn naamwoord of voornaamwoord is).
Hoe herken ʼn mens setsels in ʼn sin?
Die woord dui ʼn verhouding tussen ʼn mens/dier/ding en die res van die sin aan, bv. Eet jou kos met ʼn mes en vurk.
Die woord tree op saam met ʼn verpligte sinsdeel. Sonder die sinsdeel is die sin onvolledig, bv. *Eet jou kos met.
Voorbeelde van setsels in sinne
- Ons gaan volgende week op vakansie.
- Ek is nou moeg, kom ons gaan huis toe.
- Henry het van Bloemfontein af gery om hier te wees.
Watter soorte setsels kry ons?
Voorsetsels tree voor die verpligte sinsdeel op, bv. op vakansie.
Agtersetsels tree ná die verpligte sinsdeel op, bv. huis toe.
Alkantsetsels tree voor en ná die verpligte sinsdeel op, bv. van Bloemfontein af.
Telwoorde
Definisie: ’n Telwoord is ’n woord wat ’n kwantiteit (hetsy bepaald of onbepaald), ’n plek in ʼn reeks (hetsy bepaald of onbepaald) of ’n deel van ’n geheel aandui.
Hoe herken ʼn mens telwoorde in ʼn sin?
Die woord druk ʼn bepaalde of onbepaalde hoeveelheid uit, bv. tien mense; talle mense.
Die woord druk ʼn bepaalde of onbepaalde plek in ʼn reeks uit, bv. die tiende leerder; die hoeveelste leerder.
Die woord druk ʼn breukdeel van ʼn geheel uit, bv. ʼn tiende van die klas.
Voorbeelde van telwoorde in sinne
- Ons het vier honde en twee katte.
- Voeg 5 ml bakpoeier by die deeg.
- Honderde mense het die konsert bygewoon.
- Dis nou die derde keer dat ek jou waarsku.
- Laetitia het nou vir die soveelste keer griep.
- Tweederdes van die klas is afwesig.
Watter soorte telwoorde kry ons?
Bepaalde hooftelwoorde dui ʼn bepaalde hoeveelheid aan, bv. vier en 5. Bepaalde hooftelwoorde kan ook in syfers uitgedruk word.
Onbepaalde hooftelwoorde dui ʼn onbepaalde hoeveelheid aan, bv. honderde en talle.
Bepaalde rangtelwoorde dui ʼn bepaalde plek in ʼn reeks (sekwens) aan, bv. derde.
Onbepaalde rangtelwoorde dui ʼn onbepaalde plek in ʼn reeks (sekwens) aan, bv. hoeveelste en soveelste.
Breuktelwoorde dui ʼn breukdeel van ʼn geheel aan, bv. tweederdes.
Tussenwerpsels
Definisie: ’n Tussenwerpsel is ’n woord wat die spreker se emosies of houding uitdruk, of wat ’n verhouding tussen die spreker en aangesprokene(s) skep. Tussenwerpsels is gewoonlik nie in die sin geïntegreer nie: Hulle tree óf op hulle eie in ’n sin op, óf hulle word met leestekens van die res van die sin geskei.
Hoe herken ʼn mens tussenwerpsels in ʼn sin?
ʼn Tussenwerpsel druk emosie uit (bv. foeitog), boots klank na (bv. karplaks), of skep ʼn verhouding tussen die gespreksgenote (bv. hallo).
Dit is gewoonlik maklik om ʼn tussenwerpsel in ʼn sin raak te sien omdat dit met leestekens van die res van die sin geskei word. Tussenwerpsels kan ook op hulle eie in sinne optree, bv.: Help, ek verdrink! of Help!
ʼn Tussenwerpsel is nie ʼn verpligte woord in ʼn sin nie.
Voorbeelde van tussenwerpsels in sinne
- Brrrr, dis koud!
- Jaaaaaaaaa!!!
- Goeienaand, dames en here.
- Maak die deur toe, asseblief.
- Atiesjoe!
Watter soorte tussenwerpsels kry ons?
In die taalkunde identifiseer ons klanknabootsende en betekenisdraende tussenwerpsels.
Hierdie indeling is nie op die oomblik skoolwerk nie. As jy wil weet hoe die indeling werk, lees die afdeling oor tussenwerpsels in die Afrikaanse skoolgrammatika wat in Taalonderrigportaal op VivA se webwerf gepubliseer is.
Voegwoorde
Definisie: ’n Voegwoord is ’n woord wat gebruik word om sintaktiese konstruksies te verbind. Omdat dit woorde, sinsdele en sinne op ’n bepaalde manier verbind, skep voegwoorde samehang in ’n teks.
Hoe herken ʼn mens voegwoorde in ʼn sin?
ʼn Voegwoord skakel woorde, sinsdele of sinne, bv. Janke en Gert is deur x Janke se broer en Gert se suster gaan trou x Janke se broer is ʼn polisieman, en Gert se suster is ʼn prokureur.
ʼn Voegwoord verbind die woorde, sinsdele of sinne op ʼn bepaalde manier. Dit beteken die voegwoord het ʼn invloed op die sinsdele of sinne se volgorde, bv. Janke werk van die huis af, maar Gert werk van die kantoor af x Janke bly by die huis omdat Gert van die kantoor af werk.
ʼn Voegwoord se betekenis is belangrik, want dit skep verbande tussen die woorde, sinsdele of sinne, wat uiteindelik die hele samehang van die teks beïnvloed, bv. Janke gaan slaap omdat Gert gaan slaap het x Janke gaan slaap nadat Gert gaan slaap het.
Voorbeelde van voegwoorde in sinne
- Ek is bly en opgewonde oor al jou nuwe planne.
- Ek hoor wat jy sê, maar ek stem nie saam nie.
- Dit werk, want jy het behoorlik voorberei.
- Jy moet harder leer, of jy moet ʼn ander vak gaan neem.
- Jans sê dat jy sy boek het.
- Ek wou vra of jy nie die naweek by my wil kom kuier nie.
- Kari sukkel omdat sy nie die regte toerusting het nie.
- Nadat ons al die reëlings getref het, het hy die besoek gekanselleer.
Watter soorte voegwoorde kry ons?
Neweskikkende voegwoorde (en, maar, want en of) skakel twee sinne gelykwaardig. Dit beteken die twee sinne se volgorde is dieselfde, bv. Ek hoor wat jy sê, maar ek stem nie saam nie.
Onderskikkende voegwoorde skakel twee sinne sodat die sin ná die voegwoord ondergeskik is aan (afhanklik is van) die hoofsin. Dit beteken die sin ná die onderskikkende voegwoord moet afhanklike sinsvolgorde hê, bv. Kari sukkel omdat sy nie die regte toerusting het nie.
Voornaamwoorde
Definisie: ’n Voornaamwoord is ’n woord wat in die plek van ’n naamwoord of naamwoordstuk gebruik word, of dit verwys na ’n mens/dier/ding wat óf in die omliggende teks deur ʼn naamwoord benoem is, óf wat ʼn mens uit die gespreksituasie kan aflei, óf wat onbekend of generies is.
Hoe herken ʼn mens voornaamwoorde in ʼn sin?
Die woord staan in die plek van ʼn naamwoord, bv. Frans sê hy sal die werk doen.
Die woord verwys na ’n mens/dier/ding wat deur ʼn naamwoord benoem sou kon word, bv. Hierdie musiek is vir my vreeslik mooi.
Die woord word gebruik om die sin in ʼn vraagsin te omskep, bv. Hoe oud is jy nou?
Voorbeelde van voornaamwoorde in sinne
- Ek sal die werk nog dié week klaarmaak.
- Jy gee haar ook altyd haar
- Onthou met wie jy praat.
- Ek wil gou vir jou iets vertel.
- Hulle is skuldig.
- Hoekom sê jy my nou eers?
- Ek skaam my vir jou!
- Ons gee Kersfees geskenke vir mekaar.
Watter soorte voornaamwoorde kry ons?
‘n Aanwysende voornaamwoord wys na ʼn spesifieke mens/dier/ding en skep ʼn verhouding tussen die spreker/aangesprokene(s) en die mens/dier/ding, bv. hierdie stoel; daardie idee.
‘n Besitlike voornaamwoord dui eienaarskap van ʼn mens/dier/ding aan, bv. my inkleurpotlode, hulle perde.
‘n Betreklike voornaamwoord (slegs wie en wat) skakel ʼn betreklike bysin met ʼn hoofsin en betrek inligting in die hoofsin wat naamwoordelik van aard is, bv. Leerders wie se werk klaar is, mag lees; Mense wat graag lees, leer makliker.
‘n Onbepaalde voornaamwoord verwys na ʼn mens/dier/ding wat ʼn mens nie kan bepaal nie, bv. Iemand het my boek gevat.
‘n Persoonlike voornaamwoord verwys na ʼn mens/dier/ding wat ʼn mens kan bepaal, en tree op in die plek van die naamwoord, bv. Japie is kwaad, want hy is nie vir die span gekies nie.
‘n Vraende voornaamwoord is ʼn vraagwoord wat die sin in ʼn vraagsin verander, bv. Wie het my pen gesteel?
‘n Wederkerende voornaamwoord staan gewoonlik in die voorwerpposisie en verwys na dieselfde mens/dier/ding as die onderwerp, bv. Vernon vererg hom.
Die wederkerige voornaamwoord (mekaar) staan gewoonlik in die voorwerpposisie en verwys na dieselfde mense/diere/dinge as die onderwerp, bv. Vernon en Delia groet mekaar.
Werkwoorde
Definisie: ’n Werkwoord is ’n woord of frase wat ’n statiese situasie (’n toestand) of ’n dinamiese situasie (’n handeling) binne ’n bepaalde tyd uitdruk.
Hoe herken ʼn mens werkwoorde in ʼn sin?
Betekenisgewys druk ʼn werkwoord ʼn toestand of handeling uit.
Grammatikaal is die werkwoord die woord in die sin wat tyd (sinoniem: tempus; Engels: tense) uitdruk.
Sintakties staan die werkwoord in die spilposisie (die sinsposisie tussen die onderwerp en die voorwerp).
Voorbeelde van werkwoorde in sinne
- Die kinders speel op die rugbyveld.
- Die hele klas het pampoentjies.
- Ek ruik die heerlike geure in die kos.
- Wat dink jy?
- Die seun is sestien jaar oud.
- Hy heet Jan Donderdag van Gorrelberg van Staden.
- Jy moet jou sokkies optrek.
- Ek sal die werk self doen.
- Die hele klas het pampoentjies gehad.
- Willie sit en droom.
- Die nuwe reëlings is verlede week reeds getref.
Watter soorte werkwoorde kry ons?
Werkwoorde is ʼn baie groot groep, en ʼn mens moet mooi kophou met hulle. Die eerste verdeling wat ons maak, is tussen hoofwerkwoorde en niehoofwerkwoorde. Hoofwerkwoorde kan die enigste werkwoorde in die sin wees. Niehoofwerkwoorde moet altyd saam met hoofwerkwoorde optree, bv. Hy slaap (hoofwerkwoord) x Hy wil slaap (wil = niehoofwerkwoord; slaap = hoofwerkwoord).
Hoofwerkwoorde word onderverdeel in die volgende soorte:
‘n Onoorgangklike hoofwerkwoord het nie ʼn direkte voorwerp nie, bv. Hy slaap vas.
ʼn Oorganklike hoofwerkwoord het ʼn direkte voorwerp, bv. Hy speel rugby. Wederkerende werkwoorde (werkwoorde wat saam met ʼn wederkerende voornaamwoord optree) is ʼn soort oorganklike hoofwerkwoord. Wederkerende werkwoorde is noodsaaklik wederkerend as dit ʼn wederkerende voornaamwoord vereis (Hy vervies hom) en toevallig wederkerend as dit net in ʼn bepaalde konteks ʼn wederkerende voornaamwoord kry (Sy glo haarself).
‘n Dubbeloorganklike hoofwerkwoord het ʼn direkte en indirekte voorwerp, bv. My sussie voer haar baba pampoen.
‘n Onpersoonlike hoofwerkwoord tree op saam met die persoonlike voornaamwoord dit wat in die onderwerp staan en na niks verwys nie, bv. Dit reën.
‘n Koppelwerkwoord koppel ʼn eienskap van ʼn onderwerp aan die onderwerp, bv. Hanlie is verveeld; Die kos ruik lekker.
Niehoofwerkwoorde word ook eers in twee groepe onderverdeel: skakelwerkwoorde en hulpwerkwoorde. Skakelwerkwoorde lyk soos hoofwerkwoorde, maar tree saam met hoofwerkwoorde op. Hulpwerkwoorde kan nie alleen in volledige hoofsinne optree nie.
Daar is twee soorte skakelwerkwoorde:
Direkte skakelwerkwoorde word sonder die skakelpartikel (en) gebruik, bv. Peter probeer slaap.
Indirekte skakelwerkwoorde word met die skakelpartikel (en) gebruik, bv. Peter sit en slaap.
Daar is drie soorte hulpwerkwoorde:
Die hulpwerkwoord van tyd (het) word gebruik om die verlede tyd aan te dui, bv. Peter het geslaap.
ʼn Hulpwerkwoord van modaliteit druk verbasing, moontlikheid, waarskynlikheid, voorneme, wense, ens. uit, bv. Ek sal die werk môre doen; Jacomien wil graag rose in haar tuin plant.
ʼn Omskrywingswerkwoord tree saam met ʼn hoofwerkwoord in passiefkonstruksies (sinne in die lydende vorm) op, bv. Die motor is gisteraand gesteel.
Die eksistensiële daar
Die eksistensiële daar staan dikwels in die plek van die onderwerp en verwys na niks. Dit is nie dieselfde as die bywoordelike daar wat na ʼn plek verwys nie. Hierdie woord behoort nie tot ʼn woordsoort nie, dis net ʼn woord op sy eie.
Die vetgedrukte daar in die onderstaande sinne is voorbeelde van die eksistensiële daar.
- Daar is geen kos in die huis nie.
- Daar is ʼn vreemde kat in ons huis.
Woorde waarvan ʼn mens nie meer die woordsoort kan bepaal nie
Sommige woorde het ʼn morfologiese proses ondergaan wat ons “inkrimping” noem. Hierdie woorde was oorspronklik twee woorde, elk met sy eie woordsoort, maar ná inkrimping is dit nie moontlik om vir hierdie nuwe woord een woordsoort vas te stel nie.
Voorbeelde van sulke woorde is:
- Moenie met my stry nie! (moet + nie)
- Dis nie my probleem nie (dit + is)
- Hy’s sommer ʼn ou grootbek (hy + is)
Waar kry ek nog inligting oor woordsoorte?
Die inligting in hierdie afdeling is gegrond op die inligting in die Afrikaanse skoolgrammatika, soos gepubliseer in Taalonderrigportaal van die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA). Die afdeling oor woordsoorte is afgehandel en gratis toeganklik vir geregistreerde gebruikers van VivA. Registrasie as gebruiker is gratis.
Die volgende skakels neem jou direk na die inligting oor die onderskeie woordsoorte:
- Byvoeglike naamwoorde
- Bywoorde
- Lidwoorde
- Naamwoorde
- Partikels
- Setsels
- Telwoorde
- Tussenwerpsels
- Voegwoorde
- Voornaamwoorde
- Werkwoorde
- Die eksistensiële daar en ander kwessies
Woordbank
morfologiese | Studie van die vorm en struktuur van woorde asook verbuiging en vorming van afleidings en samestellings. |
sintaktiese | Sintaktiese funksies gaan oor wat die bepaalde gedeelte van die sin vir die hoofwerkwoord doen. Dit is hoekom daar met sinsontleding altyd heel eerste vra word waar die hoofwerkwoord is. |
byvoeglike naamwoord | Spesifiseer naamlik eienskappe van ‘n selfstandige naamwoord of voornaamwoord. |
bywoord | Dit verskaf meer inligting oor plek, tyd, wyse of graad. Voorbeelde van bywoorde is: hier, nou, opsetlik, en daarom. |
werkwoord | Woord wat ‘n aksie in ‘n sin aandui. |
Daar is ook ʼn reeks blogs beskikbaar oor woordsoorte by die volgende skakels:
- Byvoeglike naamwoorde
- Bywoorde
- Lidwoorde
- Naamwoorde
- Setsels
- Telwoorde
- Tussenwerpsels
- Voegwoorde
- Voornaamwoorde
- Werkwoorde I
- Werkwoorde II
- Werkwoorde III