Die leestekenreëls vir Afrikaans is in hoofstuk 13 van die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) opgeteken. Hierdie artikel is ʼn opsomming van die inligting wat in hoofstuk 13 van die AWS vervat word, met die oogmerk om gebruikers vinnig te help met algemene navrae, maar dit vervang nie die reëls nie. Indien iets hier onduidelik of onvolledig is, kyk in die AWS vir meer leiding.

Wat is die verskil tussen leestekens en skryftekens?

Leestekens help ʼn leser om ʼn teks te lees en te verstaan. Leestekens soos die komma, aandagstreep en aanhalingstekens dui byvoorbeeld vir ʼn leser aan waar sinne eindig, waar ʼn parentese begin en eindig en waar die direkte rede van ʼn karakter begin en eindig.

Skryftekens, daarteenoor, is deel van die vaste spelling van die woord. Skryftekens soos die deelteken, kappie en koppelteken dui byvoorbeeld aan dat daar ʼn nuwe lettergreep in ʼn woord is, dat ʼn woord op ʼn bepaalde manier uitgespreek moet word of dat ʼn bousel eintlik ʼn samestelling is.

Aandagstreep

Wat is ʼn aandagstreep?

Die aandagstreep is ʼn strepie wat langer is as ʼn koppelteken. In die uitgewerswese word dit ʼn “en-streep” genoem. Die Engelse naam daarvoor is ʼn “en dash”.

Hoe gebruik ons ʼn aandagstreep?

Die aandagstreep word met spasies weerskante geskryf. ʼn Aandagstreep staan altyd tussen woorde en nooit aan die einde van ʼn sin nie.

Waarvoor gebruik ons ʼn aandagstreep?

  • Ons gebruik ʼn aandagstreep om die aandag op inligting te vestig, bv.:

Dis net soos wat ek voorspel het – hy wil nie saamwerk nie.

Dit is belangrik om hard te werk – solank ʼn mens net rus ook.

  • Ons gebruik ʼn aandagstreep om parenteses van die res van die sin te skei. As die parentese in die middel van die sin is, kom die aandagstreep aan weerskante daarvan. As die parentese aan die einde van die sin is, kom daar net ʼn aandagstreep voor die parentese. Die sin word dan met ʼn punt of ʼn ander leesteken afgesluit, bv.:

Henry het die hele tyd baklei – en jy weet hoe kan Henry baklei – oor wie voor in die kar mag ry.

Henry het die hele tyd baklei oor wie voor in die kar mag ry – en jy weet hoe kan Henry baklei.

  • Ons gebruik ʼn aandagstreep tussen ʼn aanhaling en die outeur se naam, bv.:

“Maak jou vriendelikheid goedkoop en hou jou vriendskap duur.” – C.J. Langenhoven

Aanhalingstekens

Wat is aanhalingstekens?

Aanhalingstekens is die klein, gekrulde tekens links en regs van ʼn bepaalde woord of stukkie teks. Die Engelse naam daarvoor is “quotation marks”.

Hoe gebruik ons aanhalingstekens?

  • Aanhalingstekens word altyd as ʼn stel gebruik.
  • Die eerste aanhalingsteken word links van die betrokke woord of teks geplaas met ʼn spasie voor die teken en die eerste woord teenaan die aanhalingsteken. Die aanhaling word gesluit direk ná die laaste woord of leesteken van die aangehaalde teks, met ʼn spasie ná die aanhalingsteken.
  • Ons gebruik die enkelaanhalingstekens en dubbelaanhalingstekens, maar dit het verskillende funksies.
  • In Afrikaans is die aanhalingstekens altyd bo, nooit onder op die reël nie.
  • In Afrikaans krul die aanhalingstekens altyd ondertoe.
  • In rekenaargegenereerde tekste kan die gekrulde aanhalingstekens of die reguit strepies gebruik word.

Waarvoor gebruik ons aanhalingstekens?

  • Ons gebruik aanhalingstekens om aan te dui dat ʼn woord of ʼn stuk teks direk aangehaal is. Alles tussen die aanhalingstekens, ook die leestekens moet presies ooreenstem met die aangehaalde teks, bv.:

Malan (1944:63) skryf in sy dagboek: “Die owerhede het ons nie ondersteun nie.”

“Die owerhede het ons nie ondersteun nie”, skryf Malan in sy dagboek (1944:63).

Die minister het gesê daar is “geen aanduiding” van enige ongerymdheid nie.

  • Ons gebruik dubbelaanhalingstekens om direkte rede aan te dui, bv.:

Sy skree: “Hier is ʼn leeu!”

“Neels, klim in die boom!” gil sy kliphard.

“Watter boom?” vra Neels.

“Die boom daar oorkant,” sê sy.

  • Ons gebruik enkelaanhalingstekens om ʼn aanhaling binne ʼn aanhaling aan te dui, bv.:

“Ek wou my doodlag,” vertel Neels. “Toe hy moes verduidelik wat aangaan, kon hy net ‘W-w-wat?!’ uitkry.”

  • Ons gebruik aanhalingstekens om uitgeligte inligting aan te dui, bv.:

Gebruik eerder die woord “gretig” as “angstig”.

Sy sogenaamde “siekte” het baie vinnig oorgewaai toe hy gehoor het ons gaan swem.

  • Ons gebruik aanhalingstekens om die titels van die onderafdelings van publikasies aan te dui. ʼn Boek of ʼn tydskrif se titel is byvoorbeeld kursief, maar die hoofstuk of die artikel in die tydskrif se titel is tussen aanhalingstekens, bv.:

Lees bietjie “Hartlik siek”, die artikel oor hartsiektes in die nuutste Huisgenoot.

  • Ons kan aanhalingstekens gebruik om ongestandaardiseerde leenwoorde (woorde wat nog nie in Afrikaanse woordeboeke opgeneem is nie) in ʼn teks aan te dui. Dit is nie verpligtend nie, dit hang af van die huisreëls wat vir die betrokke publikasie geld, bv.:

Dis nou ʼn “awesome” idee.

  • In die taalkunde word die enkelaanhalingsteken gebruik om betekenis aan te dui, bv.:

Die woord “jeens” beteken min of meer ‘teenoor’.

Akuut

Die akuut (ook: “akuutaksent” of “akuutteken”) is ʼn klemteken wat na regs oorhel. (Die gravis wat na links oorhel, is ʼn skryfteken.). Die Engelse naam daarvoor is “acute accent”.

Hoe gebruik ons die akuut?

  • Die akuut word slegs op klinkers geplaas.
  • Die akuut verdring nie skryftekens op die klinkers nie. ʼn Klinker met ʼn kappie of ʼn deelteken kry byvoorbeeld nie ʼn akuut nie.
  • In woorde waar die klem op ʼn lettergreep val waarin daar ʼn i voorkom, kry die letters langs die i die akuut terwyl die i die kolletjie behou. Die i kry slegs die akuut indien dit die enigste klinker in die beklemtoonde lettergreep is, bv.: piénk, dráái, dít.

Waarvoor gebruik ons die akuut?

  • Ons gebruik die akuut om aan te dui dat ʼn bepaalde lettergreep beklemtoon word, bv. verstáánbaar, móéite, mýne.
  • Sommige woorde word altyd met ʼn akuut gespel. Die woord dié is ʼn sinoniem vir hierdie, en in ʼn sin soos Sit op dié stoel, nie daardie een nie is die akuut verpligtend. As ons die woord gebruik om aan te dui dat iets na die tyd gebeur, moet die a ʼn akuut kry, bv. Ons gaan ná die fliek ysskaats.
  • Leenwoorde word baie keer met akuut en al uit ʼn vreemde taal oorgeneem, bv. cliché, attaché. By sulke woorde is dit ʼn spelfout om die akuut weg te laat.
  • By die bousels óf … óf, nóg … nóg en én … én is die akuut verpligtend, bv. Óf jy óf jou suster moet die skottelgoed was.
  • Name van ondernemings word geskryf soos wat die eienaars dit registreer, en name van kinders word geskryf soos wat ouers dit wil skryf. Die gewone reëls vir die akuut hoef nie te geld nie, bv. Jeanélle Granite, Miáné de Villiers.

Asterisk

Wat is die asterisk?

Die asterisk is ʼn sterretjie. Die Engelse naam daarvoor is ook “asterisk”.

Hoe gebruik ons die asterisk?

Ons gebruik die asterisk in die plek van letters wat ons uit woorde weglaat. Elke weggelate letter kry ʼn asterisk. Gewoonlik word die klinkers weggelaat.

Waarvoor gebruik ons die asterisk?

  • Ons gebruik asteriske as ons om een of ander rede nie ʼn woord voluit kan skryf nie, soos woorde wat eintlik taboe is, bv. Hy is ʼn p**ph*l.
  • In die taalkunde dui ons met ʼn asterisk voor ʼn woord of ʼn bousel aan dat dit ongrammatikaal is, bv. Ons spel dit nie *hius nie.

Dubbelpunt

Wat is die dubbelpunt?

Die dubbelpunt is twee kolletjies vertikaal oor mekaar. In Engels is dit ʼn “colon”.

Hoe gebruik ons die dubbelpunt?

  • Die dubbelpunt word in lopende teks sonder ʼn spasie teen die voorafgaande woord geskryf. Daar is gewoonlik ʼn spasie ná die dubbelpunt.
  • Die eerste woord ná die dubbelpunt kry ʼn hoofletter as dit die eerste woord in ʼn volsin is. As die teks ná die dubbelpunt net ʼn sinsdeel of ʼn enkelwoord is, kry dit gewoonlik nie ʼn hoofletter nie, tensy die woord om ander redes ʼn hoofletter moet hê, bv.:

Daar is ʼn goeie rede vir sy afwesigheid: Hy het griep.

Bring die volgende saam: penne, ʼn potlood en ʼn liniaal.

ʼn Mens kan hom met een woord beskryf: briljant.

Ons hond het uiteindelik ʼn naam: Nala.

Waarvoor gebruik ons die dubbelpunt?

Ons gebruik die dubbelpunt om aan te dui dat die inligting daarna ʼn bepaalde verhouding het met die inligting daarvoor. Die verhouding tussen die twee stelle inligting kan een van die volgende wees:

  • Dit kan ʼn bekendstelling wees waarop daar ʼn reeks of lys items volg, bv. Christo is allergies vir die volgende: aarbeie, neute en pynappel.
  • Die inligting ná die dubbelpunt kan ʼn uitbreiding of ʼn verduideliking wees van die inligting voor die dubbelpunt, bv. Hy het net een woord nodig gehad: ja.
  • Die inligting voor die dubbelpunt kan die leser voorberei op ʼn aankondiging wat ná die dubbelpunt gemaak word, bv. Let wel: Beantwoord al die vrae met ʼn blou pen.

Die dubbelpunt word gebruik ná die vertellerteks en voor die direkte rede, bv. Hanlie gil: “Klim af daar, jy gaan jou nek breek!”

Die dubbelpunt word soms as ʼn simbool aangewend, soos by verhoudings (1:3-verhouding), by ʼn tyd (12:33), of vir ’n teksvers ( 23:4; Koran 2:156).

Ellipsteken

Wat is die ellipsteken?

Die ellipsteken (ook: “beletselteken” of “weglaatteken”) bestaan uit drie stippels. Dit is ʼn fout om meer as drie stippels te gebruik.

Die naam van die leesteken is “ellipsteken”, nie “ellips” nie. Die woord “ellips” beteken “weglating”, en die ellipsteken word gebruik om die weglating aan te dui, die teken is nie die weglating nie.

Hoe gebruik ons die ellipsteken?

  • As die woord voor die ellipsteken voltooi word (m.a.w. die woord word volledig geskryf), kom daar ʼn spasie tussen die laaste woord en die ellipsteken, bv. Jy is nou …
  • As die woord onderbreek word, skryf ons die ellipsstippels teenaan die woord, bv. Jy is nou m…
  • As ons die ellipsteken aan die einde van ʼn sin gebruik, kry die sin nie nog ʼn punt ook nie.
  • Ander leestekens, soos die komma, uitroepteken, vraagteken of aanhalingstekens kan saam met die ellipsteken gebruik word. Sulke leestekens word sonder ʼn spasie ná die ellipsteken geskryf.

Waarvoor gebruik ons die ellipsteken?

  • Ons gebruik die ellipsteken om aan te dui dat daar ʼn langerige pouse is, bv. Ek weet nie … Ek bedoel, moet ons nie maar eers toestemming vra nie?
  • Die ellipsteken dui by direkte rede aan dat ʼn spreker stotter of in die rede geval word, bv. Fred sluk. “Ek w-weet n… Nee, hy …”
  • By aanhalings, bv. in ʼn koerantberig of werkstuk, dui die ellipsteken vir die leser aan dat daar inligting of ʼn gedeelte van die aangehaalde teks weggelaat is, bv. Die minister het gesê dat die lede hulle salarisse … sal ontvang.
  • Die ellipsteken kan gebruik word in die plek van ʼn taboewoord (ʼn woord wat ʼn mens nie eintlik behoort te sê of te skryf nie), bv. Die leerder het die onderwyser ʼn d… genoem.

Hakies

Wat is hakies?

Daar is vier soorte hakies tot ons beskikking: ronde hakies ( ), blokhakies [ ], krulhakies { } en punthakies < >.

Hoe gebruik ons hakies?

  • Hakies word altyd in ʼn paar gebruik.
  • Die hakies moet dieselfde soort wees, maar die eerste hakie en die tweede hakie lyk nie dieselfde nie, want hulle “omarm” die inligting tussen die twee hakies.
  • In lopende teks gebruik ons hoofsaaklik ronde hakies.
  • Blokhakies word in bepaalde kontekste gebruik, bv. by redaksionele kommentaar.
  • Punthakies word in tekste hoofsaaklik gebruik om digitale adresse aan te dui.
  • In lopende teks is daar ʼn spasie voor die eerste hakie en ná die tweede hakie, en geen spasies tussen die hakies en die teks tussen die hakies nie, bv. Ek gaan môre (Saterdag) dorp toe.
  • Die beginsel by hakies is dat die inligting tussen die hakies weggelaat moet kan word sonder dat die res van die sin ongrammatikaal word.
  • In ander vakgebiede, soos wiskunde en chemie, word die verskillende soorte hakies vir verskillende doeleindes gebruik.

Waarvoor gebruik ons hakies?

  • Ons gebruik ronde hakies om bykomende inligting (soos ʼn parentese) in ʼn teks aan te dui, bv.:

Nelia (my stiefsuster) kom kuier.

Hulle woon in Polokwane (voorheen Pietersburg).

  • Ons kan ronde hakies gebruik waar die leser tussen twee moontlikhede kan kies, bv.:

Stuur die briewe aan die ouer(s).

Vra jou vriend(in) om jou te help.

  •  Baie verwysingsmetodes vereis die gebruik van ronde hakies, bv. Holmes (1984:14) beweer dat daar nie gewere gebruik is nie.

Komma

Wat is die komma?

Die komma is ʼn klein teken onder op die reël met ʼn bolletjie en ʼn stert wat soos ʼn 9 na onder krul.

Hoe gebruik ons die komma?

  • Die komma kom in die sin voor, nooit reg aan die begin of die einde nie.
  • Daar is in lopende teks geen spasie voor die komma nie en een spasie daarna.
  • Die komma word ook aangewend as die desimaalteken. In so ʼn geval is die komma ʼn simbool, nie ʼn leesteken nie. Dit is in Afrikaans ʼn fout om ʼn punt as ʼn desimaalteken te gebruik.

Waarvoor gebruik ons die komma?

  • Ons skei met die komma tussen gelykwaardige byvoeglike naamwoorde (b.nwe. wat in enige volgorde geskryf kan word), bv. Die hoof het ʼn opwindende, innoverende plan voorgestel teenoor Die hoof het ʼn oulike nuwe plan voorgestel.
  • Ons skei met die komma tussen items in ʼn reeks, buiten waar die voorlaaste en laaste items met voegwoorde geskei word, bv. Bring genoeg water, eetgoed, skryfbehoeftes en warm klere saam.
  • Ons skei met die komma tussen die sin en woorde of frases wat saam met die sin gebruik word wat nie by die sin geïntegreer is nie, soos tussenwerpsels, aanspreekvorme en einddeelvrae, bv.:

Hoor jy wat ek vir jou sê, Charles?

Genugtig, dis koud vandag.

Jy moet met ʼn blou pen skryf, nie waar nie?

  • In lopende teks dui ons ʼn parentese of ander uitbreidende inligting (inligting wat weggelaat kan word) hoofsaaklik met kommas aan, bv.:

Die bom het in Groblersdal, Mpumalanga, ontplof.

Hy swem, en dit nogal vroeg in die oggend, elke dag twintig lengtes.

  • Ons skei tussen ʼn sin met onafhanklike sinsvolgorde en bywoordelike bepalings (hetsy woorde of sinsdele) wat aan die begin of einde van die komplekse sin voorkom, bv.:

Trouens, hy is die beste kandidaat vir die pos.

In elk geval, dis wat ek wil hê.

Ek sal jou help, hoe ook al.

  • Ons gebruik ʼn komma om te skei tussen ʼn sin met onafhanklike sinsvolgorde en woorde, sinsdele of sinne wat met bywoordelike frases van skakeling of die afkortings daarvan ingelei word, bv.:

Die meisies kan soetgoed bring, byvoorbeeld kolwyntjies en lekkergoed.

Twee seuns het sertifikate gekry, naamlik Theuns en Bongi.

  • Ons gebruik ʼn komma om in ʼn komplekse sin te skei tussen ʼn sin met onafhanklike volgorde en ʼn sin met afhanklike volgorde wat met ʼn voegwoordelike bywoord verbind word, bv.:

Fred leer hard, dus doen hy goed.

Fred leer glad nie, nietemin doen hy goed.

Fred leer elke dag, daarom doen hy goed.

  • Ons gebruik ʼn komma om in ʼn komplekse sin te skei tussen ʼn hoofsin en die einde van ʼn bysin sodat dit duidelik is watter werkwoorde by watter sin pas, bv.:

Daardie plan wat jy uitgedink het, gaan nie werk nie.

Die oplossing waarmee Danie vorendag gekom het, gaan ook nie werk nie.

Dat hy hard gewerk het, is nie altemit nie.

Omdat hy hard gewerk het, het dit goed gegaan.

Om hard te werk, verg baie deursettingsvermoë.

  • Ons gebruik ʼn komma om in ʼn komplekse sin te skei tussen ʼn hoofsin en die begin van ʼn betreklike bysin indien die betreklike bysin ʼn parentese is (inligting gee wat weggelaat kan word), bv.:

Die kinders, wat vanmiddag moet toets skryf, leer hard. (Al die kinders skryf toets en almal leer.) teenoor Die kinders wat vanmiddag moet toets skryf, leer hard. (Sommige kinders skryf toets, net hulle leer.)

  • Ons gebruik ʼn komma om in ʼn komplekse sin te skei tussen twee sinne met onafhanklike sinsvolgorde wat met ʼn neweskikkende voegwoord verbind word, bv.:

Jeremy eet elke pouse ʼn toebroodjie, want hy is honger.

Jeremy eet elke pouse ʼn toebroodjie, maar eintlik is hy nie honger nie.

Jeremy eet elke pouse ʼn toebroodjie, en hy geniet elke happie daarvan.

Jeremy eet elke pouse ʼn toebroodjie, of hy eet vrugte en joghurt.

  • Ons gebruik ʼn komma om by dialoog te skei tussen die einde van die direkte rede (voor die aanhalingsteken) en die vertellerteks indien daar nie ʼn vraagteken of uitroepteken aan die einde van die direkte rede is nie, bv.:

“Ek is moeg,” sê Louis.

“Wat maak jy?” vra Louis.

“Gaan weg!” skree Louis.

  • Ons gebruik nie ʼn komma ná die aanhef of die groet van ʼn brief of ʼn e-pos nie, tensy ons die hele boodskap op een reël skryf, bv.:

Geagte Ouer

XXX

Groete

Mev. H Greyling

Skoolhoof

 

Hallo Leentie, kom drink gou saam koffie. Groete, Heilna.

  • Ons gebruik nie ʼn komma tussen twee identiese voornaamwoorde wat deel is van dieselfde sin nie, bv.:

Vra vir Henri-hulle of hulle hulle bagasie gaan haal het.

Kyk nou vir hulle, hulle gedra hulle heeltemal simpel.

Kommapunt

Wat is die kommapunt?

Die kommapunt bestaan uit ʼn stippel met ʼn komma direk daaronder.

Hoe gebruik ons die kommapunt?

  • Ons gebruik die kommapunt in sinne, nooit aan die begin of einde nie.
  • Die woord ná die kommapunt kry nie ʼn hoofletter nie, tensy die woord in elk geval met ʼn hoofletter geskryf word.
  • Daar is in lopende teks geen spasie voor die kommapunt nie en een spasie daarna.

Waarvoor gebruik ons die kommapunt?

Ons kan die kommapunt gebruik om tussen items in ʼn reeks te skei. In reekse word die items langs mekaar geskryf. Ons kan ook met kommas tussen reeksitems skei, maar ons gebruik veral kommapunte as die items lank raak, of as dit vir die leser moeilik word om te sien waar die reeksitem begin en eindig, bv.:

Die probleme in daardie gebied word vererger deur die droogte; die plaaslike verteenwoordiger se versuim om na die inwoners se belange om te sien; die inmenging van die Departement van Handel en Nywerheid; en die gebrek aan infrastruktuur.

  • Ons kan die kommapunt gebruik om tussen items in ʼn lys te skei. In lyste word die items onder mekaar geskryf. As lysitems bestaan uit enkelwoorde of kort frases, kan ons die lys sonder leestekens maak, of ons kan die items met kommapunte skei. As die lysitems uit sinne bestaan, gebruik ons gewoonlik punte, bv.:

Bring die volgende saam:

  • ʼn sonhoed;
  • goeie stapskoene;
  • ʼn pen en papier; en

 teenoor

 Afmerklys vir die uitstappie:

Bring ʼn sonhoed saam, daar is nie skaduwee nie.

Maak seker die skoene wat jy saambring, is gemaklik en ingeloop.

Jy het pen en papier nodig om aantekeninge te maak.

Daar is nie drinkwater nie, bring genoeg.

  •  Ons gebruik ʼn kommapunt tussen twee sinne waar die voegwoord weggelaat is, bv.:

Hy is nou opstandig; hy sal later verstaan hoekom dit nodig is.

Sanet is verkies tot hoofmeisie; sy is werklik die beste kandidaat.

  • Ons gebruik nie ʼn kommapunt tussen twee sinne wat met ʼn voegwoordelike bywoord verbind word nie, tensy die bywoord met ʼn komma van die sin afgesonder word en die sin wat daarop volg se volgorde onafhanklik is, bv.:

Dis warm, daarom gaan Jean-hulle swem.

Dis koud, nietemin gaan Jean-hulle swem.

Dit reën, nogtans gaan Jean-hulle swem.

 teenoor

Dis koud; nietemin, Jean-hulle gaan swem.

Dit reën; nogtans, Jean-hulle gaan swem.

Punt

Wat is die punt?

Die punt is ʼn enkele stippel.

Hoe gebruik ons die punt?

  • Ons gebruik die punt aan die einde van ʼn sin.
  • Die punt word ook in sommige afkortings gebruik, maar dan is dit deel van die vaste skryfwyse van die afkorting en nie ʼn leesteken nie.
  • Die punt word sonder ʼn spasie teenaan die voorafgaande woord geskryf, met een spasie daarna.

Waarvoor gebruik ons die punt?

  •  Ons gebruik die punt om die einde van ʼn stelsin aan te dui, bv.:

Dis my boek hierdie.

Dis koud in die Kaap.

  • Indirekte vrae is in der waarheid stelsinne en word met ʼn punt afgesluit, bv.:

Ek wonder of dit my boek is hierdie.

Chris vra of dit koud is in die Kaap.

  • Ander sinstipes wat as stellings optree, word ook met punte afgesluit. Bevelsinne wat byvoorbeeld eintlik versoeke is, hoef nie uitroeptekens te kry nie. Vraagsinne wat nie vrae is nie, hoef nie vraagtekens te kry nie, bv.:

Kom sit hier by my, liefie.

Maak bietjie vir my die venster toe, asseblief.

Wie weet, dalk kom hy tog saam.

  • Ons gebruik die punt om tussen items in ʼn lys te skei indien die lysitems volsinne is. In lyste word die items onder mekaar geskryf, bv.:

Afmerklys vir die uitstappie:

Bring ʼn sonhoed saam, daar is nie skaduwee nie.

Maak seker die skoene wat jy saambring, is gemaklik en ingeloop.

Jy het pen en papier nodig om aantekeninge te maak.

Daar is nie drinkwater nie, bring genoeg.

 As die laaste woord van die sin op ʼn afkorting eindig wat met ʼn punt geskryf word, kry die sin nie nog ʼn punt ook nie, bv.:

Kom koop Saterdag by die rugby sop, tuisgebakte brood, vetkoek, ens.

Heinrich verwerf hierdie jaar sy B.Com.

  • Opskrifte en titels van publikasies kry nie punte nie, bv.:

Die opkoms van sosialisme

Die Huisgenoot

Skuinsstreep

Wat is die skuinsstreep?

Die vorentoeskuinsstreep (ook “solidus”) word as leesteken gebruik. Die skuinsstreep wat agtertoe leun, is gewoonlik deel van bv. internetadresse en word nie hier bespreek nie.

Hoe gebruik ons die skuinsstreep?

  • Die spasies voor en ná die skuinsstreep word bepaal deur die omgewing waarin die skuinsstreep gebruik word. Indien die skuinsstreep tussen twee woorde optree (dag/nag) is daar geen spasies nie. Indien die skuinsstreep tussen frases of sinne voorkom, is daar spasies weerskante van die skuinsstreep (lede teenwoordig / lede afwesig).
  • Die skuinsstreep kan ook ʼn skryfteken in sekere leenwoorde wees, bv. in Suid-Afrika se leuse:!ke e: /xarra //ke

Waarvoor gebruik ons die skuinsstreep?

  • Ons gebruik die skuinsstreep om aan te dui dat die leser tussen moontlikhede moet of kan kies, bv.:

Voeg die suiker/versoeter by die deeg.

Goeiemôre / Dumelang / Good day

Die ouer/voog moet die brief onderteken.

  • Ons gebruik die skuinsstreep om verhoudings tussen begrippe aan te dui, bv.:

leerder/opvoederverhouding (leerder-tot-opvoederverhouding)

bladsy 17/36 (bladsy sewentien van ses-en-dertig)

puntetelling: 7/10 (puntetelling is sewe uit tien)

R100/dag (eenhonderd rand per dag)

Uitroepteken

Wat is die uitroepteken?

Die uitroepteken bestaan uit ʼn regaf strepie met ʼn stippel onder. In drukwerk is die regaf strepie dikker bo en dunner onder.

Hoe gebruik ons die uitroepteken?

  • Ons gebruik die uitroepteken hoofsaaklik aan die einde van sinne. As daar ʼn uitroepteken aan die einde van ʼn sin staan, kom daar nie nog ʼn punt ook nie, bv. Klim uit!
  • Indien die direkte rede met ʼn uitroepteken afgesluit word, kry die vertellerteks wat daarop volg nie ʼn hoofletter nie, bv. “Bly stil!” skree sy.
  • Ons kan die uitroepteken ook in parenteses gebruik, dan dui dit nie noodwendig die einde van ʼn sin aan nie en hoef die volgende woord nie ʼn hoofletter te hê nie, bv. Jy lieg – al weer! – vir my.
  • Tussen interne dialoog (dit is ʼn gesprek wat ʼn karakter in sy of haar kop voer en nie hardop sê nie) en die vertellerteks, kan die uitroepteken die komma vervang, bv. Moenie! skree sy gesonde verstand.
  • Die uitroepteken word gewoonlik teenaan die voorafgaande woord of leesteken geskryf, met ʼn spasie agterna, tensy daar nog ʼn leesteken op die uitroepteken volg, bv. “Moenie so skree nie!”
  • Dit is aanvaarbaar om die uitroepteken saam met die vraagteken te gebruik om verontwaardiging of ongeloof uit te druk. Die vraagteken word eerste geplaas, bv. Jy het wat gedoen?!
  • Dit is aanvaarbaar om meer as een uitroepteken ná mekaar te gebruik, maar pasop om dit te veel te gebruik, want dan gaan die effek verlore, bv. Ag man, gaan bars!!!!
  • Die uitroepteken is nooit verpligtend nie. Uitroepsinne kry gewoonlik uitroeptekens, maar selfs dan bepaal die konteks of die uitroepteken gepas is. As ʼn mens vir ʼn hond sê sit vereis dit waarskynlik ʼn uitroepteken. As ʼn mens vir ʼn gas sê sit is ʼn uitroepteken nie gepas nie.

Waarvoor gebruik ons die uitroepteken?

  • Ons gebruik die uitroepteken om aan te dui dat iets hard uitgespreek word, soos wanneer die spreker skree, bv.:

Moenie!

“Nee!” gil sy.

  • Ons gebruik die uitroepteken om aan te dui dat ʼn sterk emosie of ʼn gesindheid uitgedruk word, bv.:

“Aggenee, Mariet, ek is so verskriklik jammer!”

Hy het soos ʼn groot speld verdwyn, en daar sit ek toe met die gebakte pere!

Die simpel vent is mos altyd “onskuldig”, intussen lieg hy as hy sy bek oopmaak!

Voertsek!

Fantastiese nuus!

Vraagteken

Wat is die vraagteken?

Die vraagteken is ʼn krulteken met ʼn stippel daaronder.

Hoe gebruik ons die vraagteken?

  • Die vraagteken staan gewoonlik aan die einde van die sin.
  • As die sin met ʼn vraagteken afgesluit word, kry dit nie nog ʼn punt ook nie.
  • By parenteses kan die vraagteken die parentese afsluit, en dan is dit nie noodwendig die einde van die sin nie, bv. Dis die waarheid – en vertel hy dan nie altyd die waarheid nie? – wat ons daardie aand gehoor het.
  • Tussen interne dialoog (dit is ʼn gesprek wat ʼn karakter in sy of haar kop voer en nie hardop sê nie) en die vertellerteks, kan die vraagteken die komma vervang, bv. Hoekom? vra sy haarself af.
  • Die vraagteken kan saam met die uitroepteken gebruik word om verbasing of verontwaardiging uit te druk. In so ʼn geval staan die vraagteken eerste, bv. Wie dink jy is jy?!
  • Die vraagteken word teenaan die voorafgaande woord geskryf, met ʼn spasie agterna.

Waarvoor gebruik ons die vraagteken?

  • Ons gebruik die vraagteken om vrae mee af te sluit, bv.:

Wat het gebeur?

“Wat het gebeur?” vra sy.

Jy het wat gesê?

Jy kom vanaand oorslaap, nè?

  • Indirekte vrae is nie vrae nie, dit is stellings en word nie met vraagtekens afgesluit nie, bv.:

Hy vra wat gebeur het.

Sy vra of jy vanaand kom oorslaap.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Grafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: VivaGrafika: Viva
Gepubliseer op: 25 November 2021 | Bygewerk op 25 Junie 2023