ʼn Mens maak baie vroeg op skool kennis met klankgrepe en lettergrepe, en tog is dit nie altyd maklik om tussen die twee begrippe te onderskei nie.

Klankgrepe

Wat is ʼn klankgreep?

In die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word klankgrepe soos volg gedefinieer:

ʼn Sillabe (ook klankgreep genoem) is ʼn kombinasie klanke wat met een asemstoot uitgespreek word en waarvan ʼn vokaal of diftong die kern uitmaak (AWS 2017:730)

Hoe moet ons hierdie definisie interpreteer?

Die definisie sê vir ons ʼn paar belangrike goed oor klankgrepe:

  • Die woord “sillabe” is ʼn ander naam vir ʼn klankgreep. Dit kan egter verwarrend wees, want sommige skrywers noem lettergrepe ook “sillabes”.
  • ʼn Klankgreep het te doen met klank, wat beteken ʼn mens kan dit net hoor. ʼn Mens moet klankgrepe uitspreek om te weet wat dit is.
  • ʼn Klankgreep bestaan ten minste uit ʼn vokaalklank of ʼn diftong.
  • Daar kan konsonante ook in ʼn klankgreep wees, maar hulle gaan aan die begin en/of aan die einde van die klankgreep voorkom.

Hoe herken ʼn mens klankgrepe?

In klankleer stel ons altyd gesproke taal (taal wat uitgespreek word) voor met die fonetiese alfabet, en daarom moet klankgrepe eintlik altyd in fonetiese skrif weergegee word. In taalkundeboeke dui ʼn mens die woord “bobbejaan” se klankgrepe byvoorbeeld so aan: [bᴐ·bǝ·ja:n]. (As jy wil weet hoe die fonetiese alfabet werk, kyk in hierdie afdeling van Taalonderrigportaal op VivA se webblad.)

Omdat die fonetiese alfabet nie meer deel is van skoolwerk nie, moet ons klankgrepe met die alfabet weergee, en dit veroorsaak gewoonlik die verwarring. As jy klankgrepe met die alfabet voorstel, is daar nie voorskrifte of reëls wat geld nie, want dit is al klaar eintlik “verkeerd”.

Die belangrikste ding om te onthou wanneer jy klankgrepe moet aandui, is dat ʼn mens op skrif ook moet probeer om die klank weer te gee, nie die spelling nie. As ʼn mens byvoorbeeld die woord “bobbejaan” se klankgrepe met die alfabet moet voorstel, sal ʼn mens skryf bo·be·jaan, want ʼn mens hoor nie twee b-klanke as jy die woord uitspreek nie.

Lettergrepe

Wat is ʼn lettergreep?

In die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS) word lettergrepe soos volg gedefinieer:

ʼn Lettergreep is die kleinste kombinasie van letters waarin ʼn woord volgens die spelling daarvan verdeel kan word met die oog op afbreking aan die einde van ʼn reël. Elke lettergreep moet minstens een vokaalletter bevat. ʼn Oop lettergreep eindig met ʼn klinker en ʼn geslote lettergreep met ʼn medeklinker.

(AWS 2017: 723)

Hoe moet ons hierdie definisie interpreteer?

Die definisie sê vir ons ʼn paar belangrike goed oor lettergrepe:

  • ʼn Lettergreep word in Engels ʼn “syllable” genoem. Dit het veroorsaak dat sommige skrywers ook in Afrikaans na ʼn “sillabe” verwys as hulle van ʼn lettergreep praat.
  • ʼn Lettergreep het te doen met letters van die alfabet, wat beteken ʼn mens kan dit net sien. ʼn Mens moet lettergrepe neerskryf om te weet wat dit is.
  • ʼn Lettergreep bestaan ten minste uit ʼn klinker (letter wat ʼn vokaal voorstel).
  • Daar kan medeklinkers (letters wat konsonante voorstel) ook in ʼn lettergreep wees, maar hulle gaan aan die begin en/of aan die einde van die lettergreep voorkom.
  • ʼn Lettergreep wat op ʼn klinker eindig, is oop. ʼn Lettergreep wat op ʼn medeklinker eindig, is geslote.

Hoe herken ʼn mens lettergrepe?

Die bron wat ʼn mens die beste help om te verstaan hoe lettergreepverdeling werk, is die AWS. Daar is nie ʼn hoofstuk in die AWS oor lettergrepe nie, maar die eerste hoofstuk van die AWS gaan oor die afbreek van woorde aan die einde van ʼn reël, en woorde word volgens lettergrepe afgebreek. As ons dus daardie reëls nagaan, kan ons aflei hoe om lettergrepe in woorde te herken.

VivA het reeds so ʼn ondersoek gedoen en in hierdie blog op hulle webblad verduidelik hoe lettergreepverdeling werk.

Die volgende beginsels kan help met lettergreepverdeling. Dit is nie reëls nie, daarvoor moet ʼn mens die AWS raadpleeg. Maar as ʼn mens dit in hierdie volgorde toepas, behoort dit nietemin te help:

Eenlettergrepige woorde verdeel ʼn mens nie verder nie:

sneeu luis gras pruim

Diftonge word nie verdeel nie:

sneeu-val ooi-lam kraai-vlerk brei-naald

Die heel eerste verdeling is volgens betekenisvolle dele. Dit beteken ons verdeel meestal tussen stamme en tussen stamme en affikse.

rugby-afrigter skool-uniform gala-geleentheid personeel-kamer bang-broek ver-klik ont-neem
van-oggend va-naand pas-op boelie-agtig besiens-waardig weten-skap bio-logie

ʼn Glottisklap merk dikwels die skeiding tussen lettergrepe waar twee vokale langs mekaar staan:

be-angs ge-olie ge-uiter

Die deelteken word gebruik om die begin van ʼn lettergreep aan te dui waar ʼn opeenhoping van vokale dit moeilik maak om die onderskeid te maak:

di-ë-te ge-ïn-te-res-seer

As daar een konsonant is, is die verdeling meestal voor die een konsonant, buiten as die konsonant x is (maar onthou van die betekenisvolle dele wat veroorsaak dat ons verdelings soos pas-op en van-oggend kan kry):

u-ni-form ga-la ka-mer A-lex-a

As daar twee konsonante is, is die verdeling meestal tussen die twee konsonante. Dit geld ook vir twee identiese konsonante en die kombinasie van n en g waar dit een klank voorstel. Dit geld nie vir die kombinasie van s en j of t en j waar dit een klank voorstel nie, en dit geld nie vir gevalle waar die tweede konsonant l of r is nie:

rug-by af-rig-ter og-gend in-gooi ban-ger
as-jas sy-sjaal sy-tja-lie ba-klei pro-gram

As daar drie of meer konsonante is, moet jy die reëls in die AWS of die blog raadpleeg, want daar is ʼn klomp uitsonderings en wisselvorme. Kyk altyd eers of die beginsel van betekenisvolle dele jou nie dalk kan help nie:

yster-staaf aand-skoene sy-straat op-skryf fru-streer of frus-treer

By verkleinwoorde moet jy ook die beginsel van betekenisvolle dele toepas. Waar die stam nie op ʼn d of t eindig nie, breek ons voor die -tjie af. As die stam op d of t eindig, breek ons ná die stam af:

vrou-tjie tuin-tjie lui-tjie fout-jie mond-jie

Waar die verkleiningsvorm deur -kie gevorm word, skei ons tussen die n en die k:

ban-kie ko-nin-kie

Daar is ʼn verskil tussen ʼn lettergreep en ʼn woorddeel. ʼn Affiks is nie noodwendig ʼn nuwe lettergreep nie. Dit kan ʼn nuwe lettergreep wees as daar ʼn vokaal betrokke is:

le-wens-lank borg-skaps-aan-soek maan-haar-leeus le-de

Hoe stel ʼn mens lettergrepe voor?

Lettergrepe word gewoonlik met die letters van die alfabet voorgestel en die verdeling word met ʼn gewone koppelteken, sonder spasies weerskante, aangedui. Dit is nie nodig om hakies of enige spesiale lettertipe daarvoor te gebruik nie. (Dit is hier kursief gedruk omdat dit voorbeelde is.):

be-sproei-ing ver-kor-ting pro-se-du-re lid-maat-skap in-ter-sko-le
bui-ten-ge-wo-ne werks-win-kel toi-ing mos-kee aard-ver-war-ming
uit-saai-reg-te ko-nink-ryk spe-si-aal be-lof-te ge-hal-te
ver-mor-sing lek-ka-sie han-de bal-le bob-be-jaan-man-ne-tjie

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Gepubliseer op: 25 November 2021 | Bygewerk op 25 Junie 2023