Vinnige feite

  • Corné Mulder, sweep van die VF Plus, het in 2024 sy 36ste jaar as parlementslid gevier – hy is in 1988 vir die eerste keer tot die parlement verkies.
  • Die VF Plus se embleem het die volgende betekenis: die groen vlam simboliseer ʼn verbintenis aan Afrika, grond, en die natuur. Die oranje vlam simboliseer die verbintenis met vryheid. Die groen jubelende persoon simboliseer die party se Christengeloof in die Vader, Seun en Heilige Gees.
  • Die Vryheidsfront het hierdie nuwe embleem gekry in 2003 toe hulle met die Konserwatiewe Party en Afrikaner Eenheidsbeweging saamgesmelt het om die Vryheidsfront Plus te vorm.
  • Die 2019- algemene verkiesing was die verkiesing waarin die party die meeste setels tot nog toe in die parlement gekry het, naamlik 10.

 

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus) is ’n politieke party in Suid-Afrika wat bekend is vir sy Christelike, konserwatiewe standpunte en fokus op die regte van minderhede, veral Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

As ons sê ’n party is “konserwatief”, beteken dit hy hou gewoonlik van tradisionele maniere van doen en dink. Hy wil dinge beskerm, veral as dit kom by kultuur, taal, en hoe ’n land bestuur word. Dié denke plaas ook baie klem op die individu en gemeenskap se verantwoordelikhede – die regering moet met ander woorde nie alles vir sy burgers doen en gee nie!

Hoekom het die party ontstaan?

In die vroeë 1990’s was Suid-Afrika op die punt om groot veranderings te ondergaan. Die land was besig om van apartheid weg te beweeg na ’n nuwe, demokratiese bedeling. Dit was ’n tyd vol onsekerheid en spanning. 1

Dié tydperk is gekenmerk deur groot veranderings op politieke, sosiale en ekonomiese gebied. Baie Afrikaners en ander minderheidsgroepe was onseker oor wat die toekoms in die nuwe Suid-Afrika sou inhou – spesifiek in ʼn nuwe Suid-Afrika waar daar amper net individuele regte vir mense is, met baie min groepsregte vir kultuurgroepe.

Omdat Afrikaners hieroor bekommerd was, het hulle ʼn politieke party gesoek wat hul belange en regte sou beskerm en verteenwoordig.

Hoe het die party ontstaan?

Teen hierdie agtergrond is die Vryheidsfront (VF) op 1 Maart 1994 gestig, net voor die land se eerste demokratiese verkiesing.

Die party is deur ’n groep voormalige Suid-Afrikaanse Weermag-generaals en ander prominente Afrikaners gestig, insluitend die gerespekteerde genl. Constand Viljoen. Die VF wou die beskermer van Afrikaners se regte en belange wees, en het veral gefokus op selfbeskikking, ʼn federale stelsel, taalregte en kulturele vryhede. Omdat selfbeskikking vir die Vryheidsfront so belangrik was, het hulle ook ʼn volkstaat vir Afrikaners voorgestaan – ʼn eie kulturele gebied waar Afrikaners kan bly.

Die “Plus” van die VF Plus het in 2003 bygekom toe die party besluit het om met ander kleiner partye saam te smelt wat soortgelyke ideale en doelwitte gehad het. Die idee was om ’n sterker politieke krag te vorm wat ’n groter impak in die Suid-Afrikaanse politiek kon hê. Só het die Konserwatiewe Party en die Afrikaner Eenheidsbeweging met die Vryheidsfront saamgesmelt.

Met die “Plus” wou die party ook wys dat hulle ander minderheidsgroepe óók wil help beskerm, nie net Afrikaners nie.

Die leiers

Constand Viljoen

Die eerste leier van die Vryheidsfront (VF), genl. Constand Viljoen, was ook een van die stigters van die party. Hy het die party vanaf sy begin in 1994 tot 2001 gelei. Voorheen was hy die hoof van die Suid-Afrikaanse Weermag.

Sy leierskapstyl was gefokus op die soeke na ’n vreedsame toekoms vir die Afrikanervolk in die nuwe Suid-Afrika, en hy het sterk geglo in die idee van selfbeskikking. Viljoen het die party geposisioneer as ’n beskermer van Afrikaner- en minderheidsregte. Sy tyd as leier was belangrik in die vestiging van die party se rol in die Suid-Afrikaanse politiek.

Constand Viljoen, eerste partyleier van die VF.

Pieter Mulder

Dr. Pieter Mulder het in 2001 oorgeneem en was tot 2016 leier. In sy tyd as leier het die party gestabiliseer en geleidelik gegroei. Hy het spesifiek aandag gegee aan kwessies soos grondregte, die bevordering van meertaligheid, plaasmoorde en die beskerming van kultuurerfenis.

Onder Mulder se leierskap het die party ’n belangrike rol in nasionale debatte begin speel. Mulder het ook in dié tyd in oudpres. Jacob Zuma se kabinet as adjunkminister gedien, iets wat baie kritiek ontlok het. Mense was ontsteld omdat die leier van ʼn Afrikanerparty met Zuma wou saamwerk. Zuma is as een van die swakste en mees korrupte presidente ná 1994 beskou.

Dr. Pieter Mulder was tot in 2016 die leier van die VF Plus.

Pieter Groenewald

Dr. Pieter Groenewald het die leierskap in 2016 oorgeneem, en is steeds die partyleier. Tydens Groenewald se leierskap het die VF Plus sy beste verkiesingsuitslae nóg in die 2019- algemene verkiesing behaal. Daarna het die party baie meer op ander minderheidsgroepe begin fokus.

Die party het ook al meer begin fokus op sy rol as klein, maar belangrike koalisievennoot – hierdie was vroeër moeilik vir die party omdat koalisiepolitiek nog nie so ʼn groot rol soos nou in Suid-Afrika gespeel het nie.

Pieter Groenewald, die huidige leier van die VF Plus.

Wat dink en glo die VF Plus?

Die VF Plus is ’n party wat glo in Christelike en konserwatiewe waardes. Dit beteken dat die party idees soos die belangrikheid van beskerming van eiendom, die regte van minderheidsgroepe, en die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur sterk ondersteun. 2

Die party is sterk gekant teen rassediskriminasie, en glo ook dat alle regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging (SEB) gebaseer op ras moet stop. Die VF Plus wil moedertaalonderrig op soveel vlakke moontlik hê.

Die VF Plus fokus daarop om seker te maak dat die behoeftes van sy kiesers nagekom word deur beleide wat ekonomiese groei, veiligheid, en die bewaring van mense se kulturele identiteit aanmoedig. Die party werk voorts hard om die regte van minderheidsgroepe in Suid-Afrika te beskerm, veral dié van Afrikaners en Afrikaanssprekendes.

Die VF Plus meen gemeenskappe moet self kan besluit oor sake wat hulle raak. Afrikaanssprekendes moet kan besluit oor Afrikaanse skole, Zoeloe-sprekendes oor Zoeloe-skole, ensovoorts. Die party glo ook gemeenskappe moet self kan omsien na dinge wat vir hul kultuur belangrik is en hulle raak.

Die party ondersteun ’n vryemarkekonomie en is gekant teen die oormatige inmenging van die staat in die ekonomie.

Die VF Plus se rol in koalisiepolitiek

Dr. Corné Mulder, ’n senior lid van die VF Plus, het die afgelope jare ’n sleutelrol gespeel in die vorm en bestuur van koalisies op plaaslike en nasionale vlak in Suid-Afrika. 3

Sy betrokkenheid hier het die party se posisie op plaaslike vlak sterker gemaak. Omdat hy so goed kon onderhandel en samewerkingsverhoudings bou, het die VF Plus ʼn belangrike koalisievennoot geword.

Omdat dit so moeilik is om koalisies te vorm, het die VF Plus hier ʼn groot geleentheid om ʼn belangrike rolspeler in die politiek te word. As ʼn mens ʼn goeie koalisievennoot en -onderhandelaar is, maak dit nie saak dat jy ʼn klein party is nie.

Omdat koalisies al belangriker word, word die vaardigheid om ʼn goeie vennoot te wees ook al hoe belangriker. In die politiek moet jy weet hoe om saam te werk en toegewings te maak met ander partye waarmee jy nie 100% saamstem nie.

Woordbank

adjunkminister Amptenaar direk onder ‘n ander (meestal die hoogste) amptenaar, soos eerste minister/skoolhoof, ens.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in rassegroepe geskei is.
bedeling Die spesifieke wyse waarop die staat en regering saamgestel word.
debatte Besprekings op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisselings of redes, bv. in ’n parlement.
eiendomsregte Die wettige regte om besit en beheer te hê oor eiendom, insluitend grond en persoonlike besittings.
federale Verwys na ’n stelsel van regering waar mag tussen ’n sentrale regering en verskeie regerings op laer vlakke verdeel is.
geposisioneer Goed geplaas, in ʼn geskikte posisie.
groepsregte Regte wat aan spesifieke groepe binne die samelewing toegeken word, gewoonlik om kulturele of etniese identiteit te beskerm.
grondregte Regte wat individue toelaat om grond te besit of te gebruik.
koalisies ʼn Verbond of ooreenkoms tussen twee politieke partye/moondhede teen ʼn gemeenskaplike teenstander/vyand.
koalisievennoot ’n Politieke party of groep wat met ander saamwerk in ’n koalisie om ’n regering te vorm.
konserwatiewe Iemand wat tradisionele waardes en idees ondersteun, met ’n voorkeur vir bestaande ordes en gekant teen vinnige verandering.
korrupte Oneerlike optrede om jouself of ’n ander te bevoordeel; omkoop of die meedoen daaraan.
kulturele vryhede Die reg om jou kultuur, taal en tradisies te beoefen en te geniet.
kultuurerfenis Die tradisies, geskiedenis, kuns, en geboue wat van een generasie na die volgende oorgedra word, as deel van ’n gemeenskap se kulturele identiteit.
kultuurgroepe ’n Groep mense wat ’n gemeenskaplike kultuur deel, insluitend taal, tradisies, en sosiale norme.
meertaligheid Die gebruik van verskeie tale binne ’n samelewing.
minderhede Groepe in ʼn samelewing wat kleiner in aantal is as die hoofbevolkingsgroep, dikwels met minder mag of invloed.
minderheidsregte Die regte wat beskerming bied aan etniese, godsdienstige, of taalminderhede.
moedertaalonderrig Onderrig wat in die leerder se eerste taal gegee word.
onderhandel Om te praat en ooreenkomste te bereik in ’n poging om geskille op te los of voorwaardes vir ’n ooreenkoms te stel.
plaasmoorde Gewelddadige aanvalle en moorde wat op boere en plaaswerkers in landelike gebiede gemik is.
prominente Vooraanstaande, belangrike.
rassediskriminasie Onregverdige of ongelyke behandeling van mense op grond van hul ras of etnisiteit.
samewerkingsverhoudings Verhoudings waarby twee of meer partye betrokke is wat saamwerk tot wedersydse voordeel.
selfbeskikking Die reg van ’n volk of nasie om hulself te regeer sonder inmenging van buite.
standpunte Houding/posisie wat iemand ten opsigte van ʼn bepaalde saak inneem; uitgangspunt; gesigspunt; opvatting.
taalregte Die regte van individue en groepe om hul eie taal in private en openbare lewe te gebruik.
tradisionele Betreffende tradisies wat van geslag tot geslag oorgelewer word.
vestiging Begin, stigting.
volkstaat ’n Gebied of nasie wat vir ’n spesifieke kulturele of etniese groep gestig is.
vryemarkekonomie ’n Stelsel waarin die pryse vir goedere en dienste deur oop mededinging in ’n vrye mark bepaal word.

Lees dié artikel om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Pieter Mulder gesels oor oudpres. Nelson Mandela

Pieter Groenewald maak die VF Plus se plan bekend om Suid-Afrika te red

Individuele regte is nie voldoende nie

Waarom minderheidsregte so omstrede is

Hoe om minderheidsregte te beskerm

Foto: iStock
Gepubliseer op: 9 Mei 2024 | Bygewerk op 30 Mei 2024