Vinnige feite

  • Die DA is die amptelike opposisie van die ANC-regering.
  • Die DA regeer al sedert 2009 in die Wes-Kaap en gebruik die prestasies wat hy daar behaal as bewyse dat die party die land goed sal regeer.
  • Die party is aan die stuur van meer as 30 munisipaliteite reg oor die land.
  • Die DA se “bestuurspan” word die Federale Raad genoem.
  • John Steenhuisen, die DA se huidige leier, was net 22 jaar oud toe hy vir die eerste keer in 1999 verkies is as raadslid in Durban – hy het in hierdie stad grootgeword.
  • Die DA se lidmaatskapfooi is R10 per jaar en kan net vir vyf jaar op ʼn slag hernu word.

Die Demokratiese Alliansie (DA) was sedert 2000 een van Suid-Afrika se grootste politieke partye. Die party verwys na homself as die amptelike opposisie van die ANC-regering.

Die DA is in die middel van die politieke spektrum, maar leun effens na regs. Dit beteken dat hy van idees hou wat mense se vryheid en die gebruik van markte (soos winkels en sakeondernemings) belangrik vind. Die party glo ook sterk daaraan om dinge reg en eerlik te doen.

Hoe het die DA ontstaan?

Die DA is in 2000 gevorm deur die samesmelting van die Demokratiese Party (DP) as kernparty, die Nuwe Nasionale Party (NNP), en die Federale Alliansie (FA). Die DP is gestig as ’n liberale party wat gekant was teen die beleid van apartheid en ’n nierassige, demokratiese Suid-Afrika wou hê.

Die wortels van die DA lê nog verder terug in die stigting van die Progressiewe Party (PP) in 1959 – wat later die Progressiewe Federale Party (PFP) geword het en uiteindelik die Demokratiese Party (DP) in die laat 1980’s.

Al hierdie partye is gestig as liberale partye met ’n sterk fokus op die beskerming van individuele vryhede en die bevordering van ’n nierassige demokrasie. 1

Hoekom is die DA gevorm?

Die DA is gevorm as ’n reaksie op die oorheersing van die ANC in die politiek. Daar was ’n behoefte aan ’n sterk opposisieparty wat die ANC die stryd kon aansê. Die DA wou spesifiek liberaal-demokratiese waardes, soos individuele regte, die regstaat, en ’n markgebaseerde ekonomie bevorder.

Wat dink en glo die DA?

Sedert 2000 het die party verskillende ideologiese aanpassings gemaak om sy kiesers gelukkig te probeer hou. Die DA het nog altyd probeer om sy liberale kernwaardes te beskerm.

In sy vroeë jare was die DA sterk gefokus op dinge soos individuele vryheid, die regstaat, en ’n vryemarkekonomie. Dit het ’n duidelike teenstelling gevorm met die ANC se sosialistiese beleid. Die DA wil hê die ekonomie moet gelos word om sy deel te doen, daar moet wet en orde wees, mense moet nie teen mekaar diskrimineer nie, en die regering moet nie so baie by mense se lewe betrokke wees nie.

Mettertyd het die DA bietjie wegbeweeg van sy liberale waardes in ’n poging om meer kiesers te lok. Die party het byvoorbeeld meer erkenning gegee aan die rol van die staat in die verskaffing van dienste en die bevordering van sosiale geregtigheid.

Die party het begin om meer aandag te skenk aan beleid wat ekonomiese inklusiwiteit bevorder, soos die ondersteuning van klein besighede, beter toegang tot gehalteonderwys, en ʼn meer buigsame arbeidsmark. 4

Die DA het eers gesukkel om die idee te oorkom dat dit ’n party is wat hoofsaaklik die belange van ’n minderheidsgroep – spesifiek wit mense – verteenwoordig.

Om van hierdie “reputasie” ontslae te probeer raak, het hy begin fokus op die bou van “’n Suid-Afrika vir almal”. Die party het in daardie tyd probeer om meer divers en inklusief voor te kom, om meer kiesers te lok. Die party het byvoorbeeld vir die eerste keer ʼn swart leier gekry en baie meer begin fokus op rasgebaseerde beleid en transformasie. 2

Hóé die DA hierdie gedoen het, het baie mense kwaad gemaak vir die party. Daarom het die DA ná die 2019-verkiesing ondersoek ingestel en bevind dat hy eerder moet terugkeer na sy suiwer liberale waardes – weg van die fokus op ras en diversiteit.

Vandag fokus die DA hoofsaaklik op sy liberale wortels en goeie regering.

Die DA fokus veral op sy geskiedenis van goeie regering as rede hoekom mense vir die party moet stem. Die party beklemtoon sy verbintenis tot deursigtigheid, doeltreffendheid, goeie ekonomiese groei en die bekamping van korrupsie in die openbare sektor. 3

Wie was die leiers?

Die DA het al verskeie leiers gehad, elkeen met sy eie invloed en nalatenskap binne die party en die politiek.

Tony Leon (1999-2007)

Tony Leon se leierskap was in ʼn era van konsolidasie. Hy was die leier van die DP en het die DA gelei ná sy stigting. Onder Leon se leierskap het die DA homself gevestig as die hoof opposisieparty van die ANC. Hy was aggressief en uitgesproke, en het ’n sterk liberale agenda bevorder.

Leon was suksesvol, want in hierdie tyd het die DA se steunbasis gegroei en het in stede begin goed doen – en ook munisipaliteite gewen. 4

Tony Leon het die DA as sterk opposisieparty gevestig.

Helen Zille (2007-2015)

Hellen Zille het in 2007 die partyleier geword. Onder haar leierskap het die DA groot groei beleef – die party het meer stemme gekry en meer munisipaliteite gewen. In haar tydperk het die party sy reputasie as “goeie regering” begin vestig – veral in die Wes-Kaap waar hy ook die provinsie regeer.

Onder Zille het die DA vir mense gesê: “Stem vir ons, want ons kry goed gedoen, én doen dit goed”. Dit het gewerk, want die DA het die Wes-Kaap in die 2009- nasionale verkiesing gewen. Onder Zille se leierskap het die DA ook sy steun in groot metropole soos Johannesburg, Tshwane, en Nelson Mandelabaai uitgebrei.

Helen Zille se invloed binne die DA bly groot, selfs al is sy nie meer die leier nie. Sy het in 2019 voorsitter van die party se Federale Raad geword. In dié posisie kan sy oor die strategiese rigting van die party besluit. Zille se ervaring, vermoë om goed te kommunikeer en mense saam met haar te vat, maak haar steeds ‘n belangrike rolspeler. 4

Helen Zille speel as voorsitter van die DA se Federale Raad steeds ‘n groot strategiese rol.

Mmusi Maimane (2015-2019)

Onder Mmusi Maimane (2015-2019) het die DA baie uitdagings met die party se identiteit ervaar. Hy was die eerste swart leier van die DA en het probeer om die DA te diversifiseer en meer inklusief te maak. Onder Maimane het die DA probeer om na ander groepe, spesifiek swart burgers, uit te reik. Hierdie fokus op ras het gemaak dat daar interne spanning oor die party se identiteit ontstaan het. Hierdie fokus het ook die kritiek ontlok dat die DA probeer om ʼn “ANC Lite” te wees deur op ras te fokus en nie meriete nie.

Nadat die DA in die 2019- nasionale verkiesing swak presteer het, is Maimane as leier vervang.

Mmusi Maimane het probeer om na ander rasse uit te reik, wat interne spanning veroorsaak het.

John Steenhuisen (2019-hede)

John Steenhuisen moes ná Maimane seker maak die DA is weer stabiel en gefokus op sy liberale waardes. Steenhuisen het ook hard gewerk om die DA te vestig as ʼn volwasse opposisieparty en dalk selfs ʼn alternatiewe regering tot die ANC. Die DA doen dit deur te fokus op kwessies soos korrupsie, swak dienslewering en ekonomiese mislukkings.

Een van die grootste uitdagings wat Steenhuisen as leier gehad het, was die hantering van interne verdeeldheid en kritiek binne die DA. Baie prominente swart lede het die party verlaat en daar was spanning oor die party se benadering tot ras- en diversiteitskwessies.

Steenhuisen moes hard werk om al die kiesers wat die party in die 2019-verkiesing verloor het, weer terug te kry. 5

John Steenhuisen het die fokus teruggedraai na die DA se liberale waardes.

Kritiek op die DA

Nog ʼn manier hoe die DA stemme werf, is om vir mense te sê dat stemme vir kleiner partye ʼn “mors van stemme” is – daarom moet mense eerder vir die DA stem wat die amptelike opposisie van die ANC is. Dit is om kiesers aan te moedig om hul stem aan ’n groter opposisieparty te gee om die beste kans te kry om die ANC te wen.

Suid-Afrika het egter ʼn proporsionele kiesstelsel – dit beteken dat letterlik elke stem tel, maak nie saak vir wie jy stem nie.

Omdat koalisiepolitiek belangrik vir Suid-Afrika is, kan “kleiner partye” ook al hoe belangriker word. Partye met minder steun kan in koalisies gaan met groter partye, soos die DA, en net soveel seggenskap in die regering kry.

As die DA in ʼn provinsie byvoorbeeld net een stem kort om te kan regeer, kan ʼn kleiner party in koalisie gaan met die DA in ruil vir invloed en mag.

Suid-Afrika is ook ʼn veelpartydemokrasie. Dit beteken dat die land gemaak is om deur baie verskillende partye regeer te word. Nie net een party nie – of dit nou die ANC is en of dit die DA is.

Die DA het al baie kritiek van ander partye – soos ActionSA en die PA – gekry wat sê die DA is ʼn slegte koalisievennoot. Volgens hierdie partye dink die DA hy is belangriker as ander partye in die koalisie en kan ander partye voorsê. In ʼn koalisie is al die partye egter ewe belangrik en moet almal probeer om saam te stem en werk – maak nie saak hoeveel setels hulle het nie. 6

Veelpartyhandves

Die DA het ʼn belangrike rol gespeel in die stigting van die Veelpartyhandves vir die 2024-verkiesing. Dit is ʼn voorverkiesingsooreenkoms tussen verskillende partye – soos die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, ISANCO, UIM en die SNP – wat mik om die ANC uit regering te kry.

Met dié ooreenkoms sê partye vir mekaar dat hulle sal probeer om ná die verkiesing saam te werk om ʼn koalisie te vorm om te regeer. Die doel is uiteindelik net om seker te maak dat die ANC nié ná die 2024-verkiesing weer regeer nie.

Die DA het gesprekke vir dié samewerking in 2023 begin. Die beginsels van die handves is: ekonomiese groei, werkskepping, energiesekerheid, misdaadbekamping, bekamping van korrupsie, goeie onderrig, goeie infrastruktuur, goeie gesondheidsorg en minder armoede. 7

Woordbank

administratiewe vermoë Die vermoë van ’n regering of organisasie om doeltreffend te bestuur en sy beleid en programme uit te voer.
agenda Lys van sake wat op ʼn vergadering behandel/bespreek moet word; sakelys.
aggressief Aanvallend; bakleierig, veglustig.
alternatiewe ʼn Ander keuse/moontlikheid/opsie; ʼn plaasvervanger.
amptelike opposisie Die politieke party of groep in ’n parlementêre stelsel wat die tweede grootste aantal setels het, teenoor die regering.
bedelingsverandering Reëling of stelsel; staatsbestel.
bekamping Om ’n einde aan iets te maak of dit te bestry.
deursigtigheid Eienskap van ’n proses wat nie geheimsinnig of agteraf plaasvind nie.
diskrimineer Om onbillik onderskeid te tref in die manier waarop ’n mens teenoor verskillende persone of groepe optree.
divers Uiteenlopend/veelsydig; verskillend, veelsoortig.
diversifiseer Om ’n verskeidenheid van aktiwiteite of beleggings te hê om risiko te versprei of groei te bevorder.
era Tydperk.
goeie regering ’n Regering wat doeltreffend, regverdig, en deursigtig funksioneer.
ideologiese Wat verwys na die idees en sienings wat die basies vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
individuele vryhede Die reg van individue om hul lewens en optredes sonder onnodige inmenging van die regering te beheer.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
inklusiwiteit Iets wat almal insluit, sonder diskriminasie op grond van ras, geslag, of enige ander eienskappe.
interne verdeeldheid Verdeeldheid binne die party.
kernparty Die party wat die basis vorm; hoofparty.
koalisiepolitiek ʼn Verbond of ooreenkoms tussen twee of meer politieke partye/moondhede teen ʼn gemeenskaplike teenstander/vyand.
koalisievennote ’n Politieke party of groep wat met ander saamwerk in ’n koalisie om ’n regering te vorm.
konsolidasie Die proses om dele te verenig of te versterk.
liberale Iemand wat vryheid, individuele regte, en politieke en ekonomiese vryhede beklemtoon.
markgebaseerde ekonomie ’n Ekonomie waarin besluite oor belegging, produksie en verspreiding gebaseer is op markkragte.
meriete Om goed of uitstekend te wees in iets.
metropole ’n Baie groot stad, gewoonlik met ’n hoë bevolkingsdigtheid.
nalatenskap Dit wat vir die nageslag agterlaat word.
nierassige ’n Benadering of beleid wat nie op ras gebaseer is nie en alle rasse as gelyk behandel.
noot Saak, kwessie, onderwerp, besprekingspunt.
openbare sektor Die openbare sektor is die deel van ‘n land se ekonomie wat deur die regering beheer of finansieel ondersteun word.
partye ʼn Georganiseerde groep persone wat ten doel het om politieke mag te verkry en uit te oefen.
prominente Vooraanstaande, belangrike.
rasgebaseerde beleid Beleid/wetgewing gebaseer op ’n bepaalde identiteit, soos ras, nasionaliteit, godsdiens, geslag, seksuele oriëntasie, sosiale agtergrond, ens.
regstaat ’n Stelsel waarin almal, insluitend die regering, aan die wet onderworpe is en deur dit beheer word.
reputasie Dit waarvoor iemand/iets bekend is, hetsy goed of sleg.
sosialistiese Verwys na die ideologie of stelsel gebaseer op die kollektiewe, openbare eienaarskap en beheer van die hulpbronne wat gebruik word om goedere te maak en te versprei of dienste te verskaf.
stabiel Wanneer iets nie verander nie, of min of meer dieselfde bly.
strategiese Die fyn beplanning om ’n doel te bereik.
transformasie Gedaanteverandering, herskepping, verandering.           
uitgesproke Baie reguit, onomwonde, sonder om doekies om te draai; ʼn ding sê soos hy is.
Veelpartyhandves ’n Ooreenkoms of dokument wat die beginsels en beleid van ’n politieke alliansie tussen verskeie partye uiteensit.
vryemarkekonomie ’n Stelsel waarin die pryse vir goedere en dienste deur oop mededinging in ’n vrye mark bepaal word.

 Lees en kyk gerus dié

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Helen Zille se veldtogadvertensie voor die 2014-verkiesing

Die kontras tussen DA- en ANC-munisipaliteite – John Steenhuisen aan die woord

Steenhuisen se veldtog voor die 2024-verkiesing

Foto: iStock
Gepubliseer op: 3 Mei 2024 | Bygewerk op 17 Mei 2024