Vinnige feite

  • Nieu-Bethesda is naby die deel van die Karoo wat Die Vallei van Verlatenheid genoem word, naby die Kompasberg. 4 
  • Helen het die glas wat sy op die huis se mure geplak het, met ’n koffiemeul fyn gemaal. Die kinders van die dorp het vir haar glas en bottels aangedra. Sy het hulle daarvoor betaal met kleingeld of met tameletjie-lekkers wat sy met kwepers en suiker gemaak het. 4
  • Francie Lund, vriendin van Helen, het vertel dat Helen op ’n dag gesê het dit pas haar goed as die dorp se mense dink dat sy bietjie mallerig is, want dan los hulle haar uit en kan sy aangaan met haar werk. 5
  • Die bekende kunstenaar, Walter Battiss, het van die Uilhuis gehoor en het een dag spesiaal na Nieu-Bethesda gegaan om vir Helen te ontmoet en na haar werk te kyk. Maar omdat sy so skaam was vir mense, het sy nie oopgemaak toe hy geklop het nie. 5
  • The Road to Mecca is ’n toneelstuk oor die lewe van Helen Martins wat deur die Suid-Afrikaanse dramaturg Athol Fugard geskryf is. Daar is in 1991 ook ’n rolprent daarvan gemaak. 6
  • Anne Graaff het boeke oor die Uilhuis geskryf onder die naam Anne Emslie. 7
  • Die Uilhuis word bestuur deur die Uilhuis Stigting (The Owl House Foundation) wat in 1996 ontstaan het. 7

Dink ’n bietjie wat sal gebeur as daar iemand in jul straat kom bly wat vreemde standbeelde op die hele erf bou? En dan ook nog haar huis op allerhande ongewone maniere versier. Miskien sal die bure wonder oor so iemand en hulle sal dalk selfs stilletjies onder mekaar oor dié boheemse persoon stories vertel.

Dit is soos dit vir die grootste deel van Helen Martins se lewe vir haar was – sy was iemand wat heeltemal anders as die ander mense in die dorp was. Maar terwyl sy in haar lewe nie buite die dorp bekend was nie, het haar kuns bly voortleef en vandag is die Uilhuis en haar skeppings deur die hele land en selfs in die buiteland bekend.

Haar jong dae en familie

Helen Elizabeth Martins is op 23 Desember 1897 op Nieu-Bethesda gebore. Sy was die jongste van ses kinders. 1 Voor haar is nog ’n dogter gebore wat Helen genoem is. Hierdie kind het vroeg gesterf en toe haar ma weer ’n dogtertjie kry, het sy besluit om haar ook Helen te noem. 2

Helen was ’n intelligente jong meisie. Sy het onderwys gestudeer aan die Graaff-Reinet Onderwyskollege en het daar goed presteer – sy was die 12de beste student uit 76 studente. 3

Nadat sy die kollege verlaat het, is sy met ’n onderwyser, Johannes Pienaar, getroud. Hulle is egter ná twee jaar geskei. 3 Sy was ook vir ’n baie kort tydjie getroud met ’n man met die van Niemand. 4

Nadat sy op verskillende plekke in die land gewoon het, het sy in 1928 teruggekeer na Nieu-Bethesda om vir haar ouers te sorg wat toe al oud en verswak was.

Haar pa was ’n moeilike man met eienaardige gewoontes en hulle het nie goed met mekaar oor die weg gekom nie. Hy was onder meer uitermate bang vir kieme en dit het tot baie argumente tussen hom en Helen gelei. As sy brood gebak het, sou hy byvoorbeeld vir haar vra of sy met iemand gesels het terwyl sy die deeg geknie het omdat hy nie spoeg in sy brooddeeg wou hê nie. Hy het ook papier in die sleutelgat in sy kamerdeur gedruk om te keer dat kieme daar inkom. Wanneer sy kinders siek was, het hy selfs vir hulle briefies met ’n stok aangegee sodat hy nie nodig gehad het om naby hulle te kom nie! 2

Haar pa het later in ’n buitekamer gebly wat sy swart geverf het en die Lion’s Den genoem het. Haar ma is in 1941 oorlede en haar pa in 1945. 1

Helen was vir jare met Johannes Hattingh bevriend. Hy het haar baie gehelp met die beelde in die tuin. Dit was ook hy wat haar tuin met ogiesdraad toegespan het om die voëls, vir wie sy so lief was, binne te hou. Hy was ’n uitsonderlike lang man en daarom is een van die beddens in die huis spesiaal vir hom langer gemaak. Die Hattingh-gesin het in 1939 na Nieu-Bethesda verhuis en Helen en Johannes was groot vriende totdat hy in 1963 oorlede is. 4

Helen se kuns

Helen se kunswerke was nooit gedurende haar lewe regtig bekend nie. Dis eers ná haar dood dat mense werklik daarvan kennis geneem het.

Wanneer mens net bolangs na die kunswerke kyk – in die huis en ook buite die huis – lyk dit asof dit maar net ’n deurmekaar versameling beelde en ander kuns is. Maar wanneer mens dit bestudeer, is daar duidelike patrone in wat sy geskep het en hoe dit geplaas is.

Sy het nie enige formele opleiding in beeldhoukuns gehad nie. Sy het ook buitengewone materiaal gebruik om haar kunswerke mee te maak. Die belangrikste hiervan was sement, draad, glasbottels en gebreekte glas. Sy het nooit kunswerke gemaak met die doel om geld daaruit te maak of om erkenning te kry nie. Haar kuns was gebore uit ’n drang in haar om te skep en sy het haar hele lewe daaraan gewy.

Helen se kuns kan in twee dele ingedeel word – die kunswerke op die werf en die versierings in haar huis.

Lig was vir haar baie belangrik en sy het allerhande planne gemaak om lig in die huis te laat inkom. Sy het die huis se ou vensters laat vervang met groot vensters wat baie lig en ook gekleurde lig sou laat inkom omdat sommige van die nuwe glas gekleurd was. 1 Sy het buitengewoon baie spieëls in die huis gehad. Sy het die spieëls in spesiale vorms laat maak, onder meer in die vorm van harte. Hierdie spieëls is so geplaas dat dit die sonlig oral in die huis weerkaats het. Sy het ook vreeslik baie groot en klein lampe gehad wat sy in die aande aangesteek het. Tot in 1992 was daar nie elektrisiteit in die dorp nie, mense moes dus op ander maniere lig gemaak het in hulle huise. 4

Die bekendste deel van haar huis waaraan mense hulle tot vandag toe nog verwonder, is die glas waarmee sy haar mure versier het. Hiervoor het sy glas fyngemaal en die fyn glasstukkies dan teen die mure geplak. Sy het selfs glas teen die plafonne geplak! Teen die plafon van die kombuis is daar ’n son se gesig met glas gemaak. In die aand het die lamplig die son laat weerkaats sodat dit gelyk het asof die son in die aand ook skyn. 5

Die sementbeelde waarvoor die Uilhuis so bekend is, is nie deur Helen self gemaak nie. Maar die idees was haar eie en sy het helpers gehad aan wie sy presies beduie het hoe die beelde moet lyk. Hierdie helpers was Jonas Adams, Piet van der Merwe en Koos Malgas. Koos was die persoon wat die langste saam met haar gewerk het – vir 12 jaar – en wat ook ná haar dood by die Uilhuis betrokke was.

Terwyl ander mense in die dorp werkers in hul tuine gehad het wat die plante versorg het, het Helen se tuinwerkers haar met haar kunswerke gehelp. Koos het gesê dat sy beelde in haar tuin “laat groei” het soos ander mense plante laat groei het. 4

Op die werf is daar nie minder nie as 80 uile wat deur hulle gemaak is. Daar word dan ook vandag nog replikas van haar en Koos se uile by die Uilhuis verkoop. Daar is ook 49 kamele, verskillende weergawes van Mona Lisa, poue, piramides, lammers, voëls, sonne, mane en meerminne. 2

Haar persoonlikheid

Helen Martins was as volwassene baie menssku. Sy het soos ’n kluisenaar geleef en het net een keer per jaar regtig kontak met die dorpsmense gehad wanneer haar huis op Oukersaand oop was vir die mense om te kom kyk na alles wat sy daar gebou en gedoen het. Sy is baie selde op straat gesien en blykbaar was sy baie skaam vir wit mense. 3

Daar was net enkele mense in die dorp wat sy as haar vriende beskou het en vir wie sy die huis se deur sou oopmaak wanneer hulle daar gekom het. Van hulle was Francie Lund asook Peggy Delport en haar man Sean Archer wat dikwels op die dorp kom vakansie hou het. Peggy was ook ’n kunstenaar en sy het gedink dat Helen die dorp se mense vermy het omdat sy geweet het dat hulle haar as vreemd en eksentriek beskou het. 4

Daar was ’n paar mense vir wie Helen gereeld briewe geskryf het – onder andere haar twee susters asook Jill Wenman en Francie Lund. 4

Die ouer inwoners van die dorp het jare gelede vertel dat sy een van die mooiste vroue in die dorp was toe sy nog jonk was. Later het sy nie meer aandag gegee aan haar voorkoms nie en het nie omgegee hoe sy lyk of aantrek nie.

Al het sy nie omgegee oor hoe sy self lyk nie, was sy blykbaar baie netjies in haar huis. Iemand wat in ’n stadium haar huishulp was het vertel hoe netjies haar huis binne was. Sy het vertel dat die stoof soos ’n spieël moes blink. As sy die stoof klaar gepoleer het, moes sy dit nog borsel ook én dit verder met ’n kussing opvryf. 3

Haar resepteboek

Mens kan net na foto’s van haar spens kyk om te weet dat sy nie vreeslik baie kos daar gebêre het nie! Haar spens se rakke was vol glasbottels soos inmaakflesse, maar daar was nie ingelegde perskes of tuisgemaakte konfyt in daardie bottels, soos jy dalk in jou ouma se spens sien nie. Helen se glasbottels was vol fyngemaalde glas in verskillende kleure.

By die Uilhuis word ’n boekie met Helen se gunstelingresepte verkoop. Die resepte is in haar eie handskrif in die boekie opgeneem. Party is in Afrikaans en party in Engels. Meeste van die resepte is vir verskillende soorte nageregte – soos Last min. Pudding en Nationale Pudding. Haar resep wat as no. 27 in die boekie verskyn, is so neergeskryf: “Maak dik custard. Smeer jam oor. Vat wit van 2 eiers, klits droog. Gooi 1 pk. Jelly in en klits tot droog. Smeer oor jam.” 3

Sy het seker ’n lekker soettand gehad, want daar is ’n hele paar resepte vir kleinkoekies en sommer baie resepte vir terte. Daar is darem ook so ’n paar resepte vir vleisgeregte.

Saam met die resepte vir kos, is daar ook sommer nog twee resepte om haar huis in stand te hou: “Om vensters skoon te maak” en “To paint iron roof”. 3

Helen en haar finansies

Helen se familie vertel dat hulle moedeloos was oor hoe sy met geld gewerk het, sy het nie slim besluite geneem oor wat sy met haar geld gekoop het nie. Hulle het geweet dat dit nie eintlik help om vir haar geld te stuur nie omdat sy nie klere en kos daarmee gekoop het nie. Sy het dit liewer gebruik om dinge soos sement en draad te koop om nog beelde mee te maak. 3 Volgens Nicky Collins, die dogter van Helen se niggie, Betty Crous, het die familie Helen later begin behandel soos ’n eksentrieke kind en het sy haar familie baie bekommerd gemaak. 4 

Koos Malgas

Koos was eintlik ’n skaapskeerder en het eers geleer beelde maak nadat hy by Helen begin werk het.

Koos is die laaste persoon wat by Helen was voor haar selfdoodpoging. Sy was daardie dag van haar dood baie depressief en het hom dorp toe gestuur, onder meer om pos te gaan haal. Hy was onrustig oor haar en het by die polisiestasie langs gegaan en die konstabel gevra om by haar huis ’n draai te gaan maak. Die konstabel het dit nie ernstig opgeneem nie en het eers sy middagete gaan eet voor hy na haar huis toe is. Dit was te laat en hulle was toe reeds met haar op pad hospitaal toe. Sy was baie klein gebou en Koos het haar in ’n kombers toegedraai en na die motor gedra. Dit was die laaste keer dat hy haar gesien het. 4 

So het Koos die gebeure op daardie dag beskryf:

“Toe ek teruggaan na miss Helen, sien ek da by die agterhekkie vir mev. Hartsenberg. Sy sê my, mies Helen het nou ’n lelike ding oorgekom. En sy staan daar met die blou botteltjie… daai melk of Magnesia, met ’n stuk watte in die hand…

“Miss Helen… ai miss Helen… toe ek by ha kom, sien ek sy kan nie… sy kan nie vir my sê, Mirrag, nie.

Ek kry ’n bedspread, ’n kombers, laat ek miss Helen kan toedraai. Mev. Hartzenberg is om en loop haal haar kar, bring by die hek daar by die poort… die voordeur. Sy hou hom dar stil en ek draai vir Helen toe, daa teen die kombuistafel… op die stoel vat ek haar. Ek dra haar uit tot binne in die kar.

“Dis die laatse [sic] wat ek haar gesien hiet. Miss Helen was stil. Sy het diep begin slaap. Hulle sê, sy het so rustig gelyk, aangetrek met ’n mooi blou nightie, haartjies gekam en gesig stil.” 2

Ná Helen se dood het Koos as ’n tuinier in Worcester gaan werk. In 1989 het ’n groep met die naam The Friends of the Owl House hom gevra om terug te kom na Nieu-Bethesda en hulle het hom in diens geneem om die beelde te restoureer. Hy het ook vir baie jare standbeeldjies van uile gemaak om aan besoekers te verkoop. 4 

Koos is op 20 November 2000 oorlede. 1

Helen se dood

Haar oë het deur die jare baie verswak, baie mense dink dat dit moontlik was omdat sy vir soveel jare met die fyn glas gewerk het en dat van die glas in haar oë gekom en dit beskadig het. Sy het ook artritis gehad wat vir haar baie pyn veroorsaak het. Sy moes sekerlik daaraan gedink het dat sy nie meer vir lank sou kon aanhou met die werk waarvoor sy so lief was nie – die beelde en die glaswerk binne-in haar huis.

Dit was sekerlik deel van die rede waarom sy besluit het om wassoda te drink om ’n einde aan haar eie lewe te maak. (Sommige bronne sê dat dit bytsoda was en dit sou korrek wees aangesien bytsoda baie gevaarlik is wanneer mens dit sou insluk). 3

Marlene Zwiegers in Uilvrou toneelstuk
Toneelstuk 2005 Pierneefteater, Pretoria

In ’n brief aan haar vriendin Francie Lund het Helen vertel hoe haar gesondheid al hoe slegter word en ook hoe sy nie meer energie gehad het nie. Sy het ook gesê as die dokter vir haar sê dat sy nie meer met haar werk kon voortgaan nie, sy nie meer sal wil leef nie. 4 

Helen Martins het op 5 Augustus 1976 haar lewe geneem deur 3 teelepels bytsoda te drink. Sy is dadelik na ’n hospitaal in Graaff-Reinet geneem waar sy op 9 Augustus gesterf het. 2 (Sommige bronne gee haar sterfdag aan as 8 Augustus). 1

Sy was 77 jaar oud toe sy dood is. 3

Woordbank

artritis   Ontsteking in die gewrigte.
buitengewone Iets wat nie gewoon is nie, iets wat anders gedoen word as wat ander mense normaalweg doen.
boheemse Anders, uitheems, (volks)vreemd.
bytsoda Natriumhidroksied wat in nywerhede gebruik word om dinge soos seep en papier te maak.
dramaturg Iemand wat die teks vir toneelopvoerings skryf.
eksentriek Iemand wat anders is, leef en optree as ander mense.
formele opleiding Opleiding wat deur ʼn skool, universiteit, kollege of ’n kundige persoon verskaf word.
inmaakflesse Glasbottels waarin vrugte en ander kos gebêre word om dit langer te laat hou.
kennis geneem In iets begin belangstel, daarvan bewus word.
menssku Wanneer iemand nie graag in ander mense se geselskap wil wees nie en skaam is om te gesels.
presteer Om goed te doen met iets wat jy aanpak, soos studies, sport of kunste.
restoureer Om iets reg te maak en te verbeter sodat dit weer lyk soos die oorspronklike artikel/huis/boek, ens.
skaapskeerder Iemand wie se werk dit is om die wol van skape af te skeer.
soettand Iemand wat baie van soetgoed soos lekkers hou.
verswak Wanneer iemand se krag minder raak as gevolg van siekte, of wanneer ’n persoon baie oud is.
wassoda Soort sout met ’n onaangename seperige smaak.

Lees hier

Die geskiedenis van Helen Martins en haar Uilhuis

Kyk hier

Kyk die volgende video’s oor Helen Martins

Drie video’s oor die Uilhuis – binne en buite

Die Uilvrou van Nieu-Bethesda – lied deur Anton Goosen

Hoogtepunte uit die verhoogstuk oor Helen se lewe – The Road to Mecca.

Woord en kuns – so word Helen onthou

Lewcock, R. 1963. Early Nineteenth Century Architecture in South Africa. A.A. Balkema Kaapstad.7
Gepubliseer op: 31 Julie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023