Vinnige feite

  • Tretchikoff was die eerste skilder wat derduisende afdrukke van sy skilderye laat maak en verkoop het. 3
  • Hy was ’n bygelowige man en die twee getalle 13 in sy geboortedatum – 13 Desember 1913 – het hy vir die res van sy lewe as sy gelukkige nommer beskou. 3
  • Sy skilderye is gewoonlik in afdelingswinkels en nie in kunsgalerye uitgestal nie. 6
  • Hy het nie formele kunsopleiding ontvang nie en het homself geleer skilder. 4
  • Dit titel van sy biografie – Pigeon’s Luck – is gekies as gevolg van ’n duif wat op ’n dag in hul woonstel ingevlieg het en toe lank daar gebly het. In Rusland word dit beskou as ’n teken van goeie geluk wanneer ’n voël in jou huis invlieg. 14
Foto: iStock

Die lewe maak soms vreemde draaie met mense. Dit was veral waar van Tretchikoff wat vanaf ’n arm Russiese vlugteling tot ’n wêreldbekende en skatryk skilder gevorder het en boonop sy tuiste in Suid-Afrika gevind het.

Moeilike kinderjare

Vladimir Grigoryevich Tretchikoff is op 13 Desember 1913 in Petropawlofsk (nou Petropawl) in Rusland gebore. Hy was maar net vier jaar oud toe sy ouers met hul kinders na China moes vlug. 1

Tydens die groot Russiese revolusie, het die gesin na die verre ooste van Rusland getrek. 2

Hierdie revolusie het van 1917 tot 1922 geduur en het geëindig toe Wladimir Lenin in 1923 die Sowjetunie tot stand gebring het. 3

Lees gerus hier meer oor hierdie belangrike gebeurtenis in die wêreld se geskiedenis.

Toe daardie provinsie ook by die Sowjetunie ingelyf is, het die gesin in ongeveer 1922 oor die grens na China getrek. Hulle het geen identiteitsdokumente of paspoorte by hulle gehad nie en baie min besittings. Hulle het in Harbin in China gaan bly waar daar ook baie ander vlugtelinge uit Rusland was.

Tretchikoff was in 1925 nog maar net 11 jaar oud toe hy reeds moes begin werk. Hy het soggens by ’n teatermaatskappy gewerk waar hy allerhande los werkies gedoen het en in die middae het hy skool toe gegaan. Sy ma is in 1924 dood en sy pa het ook kort daarna net verdwyn. 3

Dit is nie bekend hoeveel broers en susters hy gehad het en wat van hulle geword het nie.

Sommer van jongs af ’n kunstenaar

Tretchikoff het vroeg in sy lewe reeds in kuns belanggestel. Hy was 14 toe hy in 1928 aan ’n kunskompetisie van die spoorweë deelgeneem het – en daar wen hy dit toe sommer! Hy wou sy prysgeld gebruik om in Parys kuns te gaan studeer, maar dit het nie gebeur nie. 3

In die vroeë 1930’s het hy in Sjanghai in China gewoon. Hier het hy werk gekry in die advertensiewêreld en hy het ook grafiese werk vir koerante en tydskrifte gedoen. Teen 1935 het hy in Singapoer gewoon waar hy steeds sy loopbaan in advertensies voortgesit het. Hy het ook illustrasies vir The Straits Times, ʼn Engelse dagkoerant in Singapoer, gedoen. In hierdie tyd het hy ook saamgewerk met die Britse departement van inligting wat hy gehelp het met teenpropaganda aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog. 4

Hierdie koerant het in 1845 begin as ’n koerant van net een bladsy wat weekliks verskyn het en dit bestaan vandag steeds! 5

Die een ongeluk ná die ander!

Die volgende deel van sy lewe klink eintlik soos iets uit ’n riller.

In 1940 is Tretchikoff getroud met Natalie Telpougoff wat ook ’n vlugteling uit Rusland was. Hulle was baie gelukkig getroud en was bekende lede van Singapoer se sosiale lewe. Hy het dikwels Natalie se rokke ontwerp.

Hierdie gelukkige tyd het ongelukkig nie lank geduur nie. Toe Singapoer in 1942 deur Japan ingeneem is, is Natalie en hul dogter Mimi met ’n skip uit die land ontruim. Wat baie erg was, is dat Tretchikoff nie geweet het waarheen hul skip gevaar het en of hulle nog leef nie. ’n Paar dae later is hy self met ’n skip weggeneem saam met ongeveer 300 ander mense. Ongelukkig het hierdie skip gesink toe dit deur ’n Japannese militêre skip aangeval is. Hy en ’n klompie ander van die oorlewendes het vir 21 dae lank na Java geroei en daar is hulle deur die Japannese weermag gevange geneem of geïnterneer soos mens dit noem tydens oorlogstyd. 3

Ná ’n paar maande en nadat hy te doen gekry het met die Japannese leier wat in bevel van die gevangenis was waar hy aangehou is, is hy vrygelaat. Hy het die res van die oorlog in die destydse Batavia (vandag Jakarta) gewoon en het sy tyd gebruik om te skilder. In hierdie tyd het hy ’n vrou met die naam Lenka ontmoet en ’n skildery van haar gemaak met die titel “Red Jacket”. Hierdie skildery sou in die jare hierna een van sy vrou Natalie se groot gunstelinge wees. 3

Suid-Afrika word sy nuwe tuiste

Nadat die oorlog verby was, het die Rooikruis vir Tretchikoff in 1946 met sy vrou en dogter herenig – hulle was toe al die tyd in Suid-Afrika! Dit het hom ’n hele jaar geneem om in Suid-Afrika te kom en hier het hy toe gewoon vir die res van sy lewe. 3

Die Rooikruis is ’n organisasie met takke in baie lande van die wêreld wat sonder winsoogmerk is en in noodgevalle of wanneer daar iets soos natuurrampe gebeur, hulp aan mense verskaf.

In 1948 het hy sy heel eerste solo-uitstalling in Kaapstad gehou en dit het wye aandag onder die publiek gekry. 1 In 1952 het hy by twee uitstallings in Kaapstad eers 120 000 besoekers gehad en daarna 420 000! 6

Hierna het hy nog uitstallings in die land gehou en daarna het hy sy werk ook in die Verenigde State van Amerika (VSA), Kanada en Engeland gaan uitstal. 1

In 1961 het meer as 200 000 mense een van sy uitstallings in die beroemde en eksklusiewe winkel Harrods in Londen besoek. 4

In Noord-Amerika het hy vir vyf jaar rondgetoer en ʼn rekordgetal besoekers by sy uitstallings gekry in plekke soos San José, San Francisco, Los Angeles, Dallas, Chicago, Seattle, New York, Montreal en Toronto. ’n Berig in die Seattle Post het vertel dat daar op ’n stadium ’n uitstalling van 25 beroemde skilderye in ’n kunsgalery was, maar dat mense verkies het om in groot getalle na ’n uitstalling van Tretchikoff te gaan kyk. Vir kunskritici was dit ’n bitter pil om te sluk. 6

Omdat dit so goed gegaan het met die uitstallings, het hy besluit om op groot skaal afdrukke van sy skilderye te begin maak sodat meer mense sy kuns kon koop. 1

Met hierdie besluit van hom het hy, terwyl hy nog geleef, het soveel skilderye verkoop dat hy een van die rykste skilders in die wêreld was. 4

Van die boeke wat oor Tretchikoff geskryf is

Pigeon’s Luck was die titel van sy outobiografie wat gesamentlik deur hom en Anthony Hocking geskryf is – dit is in 1973 gepubliseer. 3

Die boek – Incredible Tretchikoff: Life of an Artist and Adventurer – is in 2013 deur Tafelberg Uitgewers uitgegee en is geskryf deur Boris Gorelik. 7

In 1969 is die boek – Tretchikoff – in Londen gepubliseer, dit is deur Howard Timmins geskryf. 8

In 2012 het Andrew Lamprecht Tretchikoff: The People’s Painter geskryf, nóg ’n boek oor hierdie bekende skilder. 9

Kom ons kyk na ’n paar van sy bekende skilderye

‘Chinese Girl’, soms ook genoem ‘The Green Lady’

Hierdie skildery het hy in 1950 voltooi. Dit sou later sy bekendste skildery word en die blougroen kleur van die meisie se vel was wat dit veral baie bekend gemaak het. 3 Hierdie skildery was so gewild dat dit die skildery was waarvan die meeste afdrukke in die middel van die 20ste eeu verkoop is – in Suid-Afrika, maar ook in ander lande. 4

Die meisie wat die model was vir hierdie skildery, was Monika Pon-su-san. Sy vertel dat Tretchikoff haar in 1950 in haar oom se wassery in Kaapstad gesien het waar sy toe gewerk het. Hy het lank na haar gekyk en haar toe gevra of hy haar kan skilder. Hy was toe nog nie so beroemd nie, maar sy het toevallig net die vorige week in ’n koerant van hom gelees. Toe sy die skildery sien nadat dit klaar geskilder was, het sy niks gehou van die kleur van haar gesig daarop nie. Sy het ook gedink dat die naam wat hy vir die skildery gegee het – Chinese Girl – ’n vervelige naam was! Sy het darem van Tretchikoff self gehou en gesê hy was baie snaaks en dat hulle baie saam gelag het terwyl hy haar geskilder het. 10

Hier kan jy sien hoe die skildery lyk en hier kan jy die interessante storie lees oor die model vir die skildery.

‘Lost Orchid’

Die afslaers Bonhams het in 2024 beplan om hierdie skildery vir ongeveer R4 miljoen op ’n veiling van Afrika-kunswerke in Londen te verkoop! 11

Lost Orchid

‘The Dying Swan’

Hierdie is ’n olieverfskildery wat tussen 1949 en 1951 geskilder is. Die ander naam daarvan is Alicia Markova The Dying Swan – Markova het die beroemde rol van die sterwende swaan in hierdie balletvertoning vertolk. Hierdie skildery is in ’n privaat versameling en daarom kan mense nie op uitstallings daarna kyk nie. 12

Kyk hier na die skildery.

Anna Pavlova in Dying Swan

Sy loopbaan en lewe eindig

In 1998 het hy beroerte gekry. Dit het hom gedeeltelik verlam, maar hy het steeds voortgegaan met sy skilderwerk. Uiteindelik het hy in 2002 opgehou met skilder as gevolg van sy swak gesondheid.

Op 26 Augustus 2006 het hierdie man met die merkwaardige lewensverhaal in Kaapstad gesterf. Hy was 92 jaar oud. 3

Toe hy sterf, was hy die tweede rykste skilder in die wêreld – net die skilder Picasso het meer geld as hy gemaak. 13

Wat mense van sy skilderye dink

Die meeste kunskritici en ander skilders het Tretchikoff se kuns as kitsch beskou. 1

Hy het selfs as die “flambojante koning van kitsch” bekendgestaan. Sy werk is sterk gekritiseer en reeds sedert die 1950’s is hy nie in die Kaapse kunskringe aanvaar nie. 11

In die Cape Times is dit as “cheap sensation for the masses” beskryf. Sy skilderye is selfs tydens uitstallings beskadig en stukkend gesny. Tretchikoff self het hieroor gesê dat as die publiek nié in sy werk belanggestel het nie, dan sou daar nie soveel negatiewe reaksie daarop gewees het nie en sou hy selfs in kunskringe aanvaar geword het. 6

Hoewel hy graag in kunskringe aanvaar wou word en dit nooit gebeur het nie, kon die kritiek uit die kunstegemeenskap nie keer dat die publiek in Suid-Afrika en ook in die res van die wêreld sy skilderye en veral duisende van sy afdrukke gekoop het nie. Vra gerus vir jou oupa en ouma of daar ’n afdruk van Tretchikoff in húlle oupas en oumas se huise gehang het.

Sy werk het meer lof én kritiek ontvang as enige ander skilder van die 20ste eeu. In ’n dokumentêre program van 1974 op die British Broadcasting Corporation (BBC) met die titel The Green Lady, het ’n kunskritikus onder meer die volgende gesê oor Tretchikoff se bekendste skildery: “Let us examine this painting, arguably the most unpleasant work of art to be published in the 20th century. You’ve got flat form, hair that is not hair at all but is simply an opaque layer of dull and insipid paint. You have shoulders which have no substance, you have muzzy line work.” 6

In 2011 is daar by die Iziko SuidAfrikaanse Nasionale Kunsgalery (SANK)  in Kaapstad ’n herwaardering van sy werk gehou en is sy invloed op visuele kuns in Suid-Afrika erken. Andrew Lamprecht, dosent in skilderkuns, het onder meer gesê dat hy ’n belangrike figuur in die kunsgeskiedenis van Suid-Afrika en van die wêreld is en dat dit tyd is om sy regmatige plek in daardie geskiedenis te erken. 3

Woordbank

beroerte  Skielike vermindering/verlies van bewussyn wanneer are wat suurstof na die brein bring, bars of deur ‘n bloedklont verstop word.
bitter pil om te sluk  Iets wat moeilik is om te aanvaar.
bygelowige Wanneer mens glo dat tekens of voorwerpe vir jou geluk óf ongeluk kan veroorsaak.
eksklusiewe Net vir ’n sekere groep bedoel, of so duur dat nie baie mense dit kan bekostig nie.
grafiese werk Om grafieke, tekeninge of ontwerpe vir ’n maatskappy te maak.
identiteitsdokument  Dokument met jou foto in wat bewys wie jy is.
ingelyf Om iets deel te maak van ʼn groep of land, byvoorbeeld: Ná die oorlog is die gebied by die land van die oorwinnaars ingelyf.
geïnterneer As gevangene aanhou, veral in ʼn bewaakte kamp.
kitsch Wanneer mense glo dat iets minderwaardig is en nie die moeite werd is nie.
merkwaardige  Minder werd of van laer gehalte as ander.
natuurrampe  Dinge soos oorstromings, groot brande of sterk winde wat ernstige skade aanrig.
ontruim Om mense uit ’n onveilige gebied na ’n veilige plek te neem.
oorlewendes Mense wat na ’n ongeluk of ramp bly leef nadat ander mense rondom hulle sterf.
op groot skaal Baie op een slag; ʼn groot klomp.
paspoort  Dokument wat mens nodig het om na ’n ander land te reis.
sonder winsoogmerk Om iets te doen sonder om wins daaruit maak.
revolusie Wanneer mense teen ’n regering in opstand kom en daar ’n nuwe regering gevorm word.
teenpropaganda Om die ander kant van die storie te vertel of ander inligting te gee, gewoonlik het dit met politiek en regerings te doen.

Lees hier

Kyk hier

Video’s

Wie was die “Green Lady”?

 

Foto: iStock Foto: ImportitallFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 April 2024 | Bygewerk op 25 April 2024