Vinnige feite

  • Hoewel hy sy werk sedert tienjarige ouderdom net as Picasso onderteken het, is sy doopname ʼn behoorlike tongknoper, want dit bestaan uit 23 name: Pablo Diego José Francisco de Paula Juan Nepomuceno María de los Remedios Cipriano de la Santísima Trinidad Martelaar Patricio Clito Ruíz y Picasso. 21
  • Picasso se pa het besluit om op te hou skilder toe Picasso 13 jaar oud was omdat hy gevoel het sy seun was op dié jong ouderdom reeds ʼn veel beter skilder as hy. 22
  • Picasso het ʼn moeilike geboorte gehad en was baie klein en swak. Trouens, hy was só swak dat die vroedvrou gedink het hy is stilgebore. Sy het hom eenkant gelos om na sy ma om te sien. Sy oom, ʼn dokter genaamd Don Salvador, het besef hy is nie dood nie en het sy lewe gered. 23
  • Die Picasso-werk wat tot nog toe die hoogste prys op ʼn veiling behaal het, is Les Femmes d’Alger (Version O), wat in 2015 vir $179,4 miljoen deur Christie’s-afslaers in New York verkoop is. 24
  • Toe Leonardo da Vinci se bekende Mona Lisa in 1911 uit die Louvre-kunsgalery in Frankryk gesteel is, het die Franse letterkundige Guillaume Apollinaire beweer dat sy goeie vriend Picasso vir die diefstal verantwoordelik was. Da Vinci se meesterstuk, wat in werklikheid deur die Italiaanse nutsman Vincenzo Peruggia gesteel is, is in Desember 1913 teruggevind toe hy dit aan ʼn kunshandelaar probeer verkoop het. 25
  • Ironies genoeg is Picasso dié kunstenaar van wie die meeste werke tot nog toe gesteel is. Meer as 1 100 van sy kunswerke word as vermis of gesteel aangedui. 26
  • “Drink op my, drink op my gesondheid, jy weet ek kan nie meer drink nie.” Dié woorde van die 91-jarige Picasso voor sy dood was die inspirasie vir die liedjie Picasso’s Last Words (Drink to Me) deur die voormalige Beatles-sanger Paul McCartney. Picasso se woorde kan in die koorgedeelte (ook genoem die refrein) van die liedjie gehoor word. 27
  • Picasso, wat sy hand ook aan gedigte gewaag het, het op ʼn dag gesê: “My ma het vir my gesê: ‘As jy ʼn soldaat is, sal jy ʼn generaal word. As jy ʼn monnik is, sal jy die pous word.’ Pleks daarvan was ek ʼn skilder, en het Picasso geword.” 28
  • In Franschhoek in die Wes-Kaap woon ʼn vark genaamd Pigcasso. Toe haar eienaar Joanne Lefson ontdek het dat sy alles buiten verfkwasse vreet of verwoes, het sy die idee gehad om die varkie se moontlike talent te ontwikkel. Nou word Pigcasso se skilderye vir duisende dollar verkoop. 29

As ʼn kind se eerste woord piz is, die verkorting van die Spaanse woord lápiz wat “potlood” beteken, is die kans baie goed dat dié persoon eendag ʼn skrywer of ʼn kunstenaar gaan wees. In die geval van die Spaanse skilder en beeldhouer Pablo Picasso het dié woord die begin van ʼn lang en baie suksesvolle loopbaan ingelui waarin sy duisende unieke kunswerke hom as een van die grootste kunstenaars van die 20ste eeu sou vestig. 1

Kinderdae en die begin van sy kunsloopbaan

Pablo Ruiz Picasso is op 25 Oktober 1881 in Málaga, Spanje, gebore. Hy was die oudste en enigste seun met twee jonger susters, Lola en Concepción. Sy pa, José Ruiz Blasco, was ʼn professor by die Skool vir Kuns en Handvlyt. Pablo se ma was Maria Ruiz Picasso. Pablo het sy eerste kunswerke onderteken deur sy pa en ma se vanne te gebruik, maar vanaf ongeveer 1901 het hy net sy ma se van gebruik. 2

Hoewel sommige mense beweer dat Picasso kon teken voordat hy kon praat, het hy op agtjarige ouderdom sy eerste olieverfskildery genaamd Le Picador geskep. As kind het sy pa hom gereeld na stiergevegte geneem, en dié skildery was ʼn toneel van ʼn man op ʼn perd by só ʼn stiergeveg. 3

In 1891 verhuis die gesin na A Coruña, waar Picasso op veertienjarige ouderdom aan die kunsskool begin studeer. Met sy pa as sy leermeester by dié skool ontwikkel Picasso se kunstalent teen ʼn buitengewoon vinnige tempo. 4

Picasso as ‘n jong man.

Sy eerste groot skildery, Die eerste Nagmaal, was ʼn portret van sy pa en ma wat by sy suster staan wat voor ʼn altaar kniel. Picasso was 15 jaar oud toe hy dié werk geskilder het, en die skildery kan vandag in die Picasso-museum in Barcelona, Spanje, besigtig word. 5

Toe die gesin in 1896 na Barcelona verhuis, ná sy sussie aan witseerkeel sterf, 6 kry Picasso maklik toegang tot die La Llotja-kunsskool. ʼn Jaar later word hy toegelaat as ʼn gevorderde student by die Real Academia de Bellas Artes de San Fernando (die Koninklike Akademie van Beeldende Kuns van San Fernando) in Madrid, Spanje. Hy is só talentvol dat hy die toelatingseksamen op net een dag (pleks van oor die toegelate tydperk van ʼn maand) aflê. 7

Saam met sy sussie Lola, 1889.

Picasso het glad nie van skool gehou nie (veral nie die reëls nie!) en keer terug na Barcelona ​​waar hy historiese en kontemporêre kuns op sy eie begin studeer. Destyds was Barcelona die belangrikste kulturele stad in Spanje, en Picasso sluit by die groep digters, skilders en skrywers aan wat gereeld by die bekende kafee Els Quatre Gats (“Die vier katte”) bymekaargekom het. 8

Sy invloed, werk en styl

Hoewel Picasso grootliks deur die werk van Diego Velazquez en Francisco Goya (meesterskilders van Spanje) beïnvloed is, verhuis hy met die draai van die eeu in 1900 na Parys, Frankryk. Hy bring die grootste deel van sy volwasse lewe in Frankryk deur, met invloede van reg oor die wêreld, of dit nou die postimpressionistiese werk van Cézanne of Afrika-artefakte was. 9

Soos die kunswêreld en sy lewe verander het, het Picasso se werk ook verander. Studente en kunskenners het sy werk in ses hooftydperke ingedeel: Blou tydperk (1901), Roostydperk (1904), Afrika-tydperk (1906), Kubisme (1908), Neoklassieke tydperk (1917) en Surrealisme (1925). 10

Stanisław Lorentz lei Pablo Picasso deur die Nasionale Museum in Warskou.

Blou tydperk

In 1901 neem sy goeie vriend Carlos Casagemas sy eie lewe, en dit maak Pablo baie depressief. Kunskenners noem die volgende vier jaar Picasso se Blou tydperk, omdat blou tussen 1901 en 1904 die vernaamste kleur in sy werk was om sy hartseer uit te beeld. Baie van die onderwerpe was somber, en hy skilder veral uitgeputte ma’s en hul kinders, swerwers, bedelaars en blindes om (ook sy eie) eensaamheid, isolasie en wanhoop uit te beeld. Van sy skilderye uit hierdie tydperk sluit in Poor People on the Seashore (“Arm Mense op die Strand by die See”), Breakfast of a Blind Man (“Ontbyt van ʼn Blinde Man”), The Tragedy (“Die Tragedie”) en The Old Guitarist (“Die Ou Kitaarspeler”). 11

‘n Voorbeeld van Picasso se kuns tydens die Blou tydperk.

Roostydperk

Tussen 1904 en 1905 was Picasso minder depressief. Hy het selfs verlief geraak op ʼn Franse model. Sy kuns het op vroliker onderwerpe gefokus wat onder meer harlekynfigure en sirkusakrobate uitgebeeld het. Hy het warmer kleure in sy skilderye begin gebruik, insluitend pienk, rooi, oranje en beige. Kunshistorici noem hierdie tyd in Picasso se lewe die Roostydperk. Werke uit die Roostydperk sluit in The Peasants (“Die Plattelanders”), Girl Balancing on a Ball (“Meisie Balanseer op ʼn Bal”), The Actor (“Die Akteur”) en Mother and Child (“Moeder en Kind”). 12 Hy het in hierdie stadium ook met primitivisme begin eksperimenteer – ʼn styl wat hy uiteindelik in 1906 ten volle sou aangryp.

“La Madrilene” deur Pablo Picasso, 1901.

Afrika-tydperk

Vir drie jaar ná sy Roostydperk het Picasso inspirasie uit oseaniese en Afrika-kuns geput. Dit staan bekend as sy Afrika-tydperk en het die warmte van sy Roostydperk behou. Daar was egter ʼn verandering in sy styl en dít wat hy geverf het. Hy het nie meer op figure in die vermaaklikheidswêreld gefokus nie. Nou was sy figure abstrak; allerhande soort mense geïnspireer deur Afrika-maskers. Werke uit dié periode sluit in “Die Meisies van Avignon” en ʼn selfportret in 1907. 10

In dié tydperk begin hy ook met beeldhouwerk eksperimenteer. Hy wou met sy beperkte vermoë om beeldhouwerk te doen dieselfde vryheid bereik wat hy in Afrika-kuns bewonder het. Die grootste beeldhouwerk is Figurine (“Beeldjie”) in 1909. Picasso het ook die eeueoue tradisie van beeldhouwerk as ʼn weergawe van die natuurlike wêreld gebreek. Sy 1909-werk “Kop van ʼn Vrou” word as die eerste kubistiese beeldhouwerk beskou. 13

Kop van ʼn Vrou, die eerste kubistiese beeldhouwerk.

Pablo Picasso in sy Montmartre-ateljee met sy Afrika-beeldhouwerkversameling, 1908.

Kubisme

In 1907 begin Picasso om saam met die kunstenaar Georges Braque met ʼn nuwe skilderstyl te eksperimenteer. Teen 1909 spog hulle met ʼn splinternuwe styl genaamd kubisme. In kubisme word die onderwerpe (soos mense of voorwerpe) ontleed en in verskillende dele opgedeel. Dié dele word dan weer saamgevoeg en vanuit verskillende perspektiewe en hoeke geverf. 11

In 1912 begin Picasso om kubisme en collage te kombineer. Hy gebruik veral sand of gips in sy verf om tekstuur aan sy werk te gee. Hy het ook materiaal soos gekleurde papier, koerante en muurpapier op sy skilderye aangebring om dit ekstra dimensie en diepte te gee. Van sy kubismewerk sluit in Three Musicians (“Drie Musikante”) en Portrait of Ambroise Vollard (“Portret van Ambroise Vollard”). 11

Kubisme word beskou as een van die belangrikste kunsbewegings en word in twee primêre fases verdeel: analities en sinteties. Analitiese kubisme (1908-1912) is grootliks in die eerste vier jaar van die beweging gebruik. Dit word gekenmerk deur eenkleurige, onderstebo werke met geometriese vorms wat bo-oor mekaar geplaas word. Sintetiese kubisme (1912-1914) is anders as analitiese kubisme. Dié werke is eenvoudiger, het verskillende kleure en is geïnspireer deur collages. Albei fases is egter abstrakte werk. Dié deel van die periode het amptelik tot 1914 voortgeduur, maar Picasso het tot in die 1920’s daarvan gebruik gemaak. 10

Neoklassieke tydperk

Hoewel Picasso sou voortgaan om met kubisme te eksperimenteer, het hy omstreeks 1921 begin om meer klassieke werke te skilder. Hy het in 1917 met die neoklassieke styl begin eksperimenteer. Dit was kort ná sy eerste besoek aan Italië, 10 waar hy geïnspireer is deur die naturalisme in Italiaanse Renaissance-skilderye. Hy is veral geïnspireer deur Renaissance-skilders soos Raphael. Hy het kragtige karakters geskep wat byna driedimensioneel gelyk het, soos standbeelde. Sommige van sy werke in hierdie styl sluit in The Pipes of Pan (“Die Panfluit”) en Woman in White (“Vrou in Wit”). 11

Surrealisme

Omstreeks 1924 het Pablo in die surrealistiese beweging begin belangstel. Surrealistiese skilderye was nie veronderstel om sin te maak nie en het dikwels gelyk soos iets wat jy in ʼn droom of ʼn nagmerrie sou sien. Sommige mense noem hierdie periode Picasso se Monstertydperk. Voorbeelde van die surrealisme-invloed op Picasso se kuns sluit in Guernica en The Red Armchair (“Die Rooi Leunstoel”). 11

Die surrealistiese skildery “Guernica” deur Picasso.

In hierdie tydperk is sy figure se gesigte deurmekaar en sonder struktuur, en hul liggame is ook misvorm. Die surrealistiese kwaliteit word benadruk deur ʼn onnatuurlike gebruik van kleur – helder kleure en kleure wat met mekaar bots. 10

Picasso by sy skildery “The Aficionado” (Kunstmuseum Basel) by Villa les Clochettes, Sorgues, Frankryk, 1912.

Werk in later jare

Picasso het bly skilder ná sy surrealistiese tydperk tot en met sy afsterwe in 1973. In dié periode kan sy werk egter nie in ʼn spesifieke styl gekategoriseer word nie omdat dit verskillende elemente van sy vorige tydperke ingesluit het. Hierdie benadering het gelei tot ʼn omvattende versameling van skilderye as ʼn bewys van sy styl wat voortdurend verander het, asook van sy eindelose talent. 10

“L’Aubade”, Pablo Picasso, olie op doek, 4 Mei 1942. Centre Pompidou, Parys. Grenoble Museum, 2019.

Beeldhouwerk

Picasso is hoofsaaklik bekend vir sy skilderye, maar sy beeldhouwerk is van die radikaalste kunswerke van die moderne eeu. Die eerste omvattende uitstalling van Picasso se beeldhouwerk is egter eers in 1966 gehou toe hy 85 jaar oud was, waaronder sy plaatmetaalkonstruksie, Guitar (1914). 14

Hy was die eerste kunstenaar wat konstruktiewe standbeelde geskep het, waar vorm verkry word deur dinge bymekaar te voeg, eerder as om iets weg te kerf. ʼn Afrika-invloed was van vroeg af duidelik in sy beeldhouwerk, en dit was ʼn noodsaaklike deel wat gelei het tot kubisme. 15 Waar bekende beeldhouwerkers soos Henry Moore stadigaan elemente van ʼn groot stuk materiaal verwyder het, het Picasso begin om klein stukkies saam te voeg om ʼn abstrakte vorm van sy gekose voorwerp te vorm. 15

Pablo Picasso se “Dejeuner sur l’Herbe” (1962), by Skeppsholmen in Stockholm, Swede.

Pottebakkerswerk

Tussen 1946 en 1973 het Picasso ʼn groot aantal pottebakkerswerk geskep. Hy het in Julie 1946 vir die eerste keer Vallauris in die suide van Frankryk besoek. Dié klein kusdorpie is bekend vir pottebakkerswerk, en Picasso het vinnig belanggestel in dié kuns. 16

Dit het hom verstom hoe vinnig en goedkoop hy nuwe pottebakkerswerk kon skep. In ʼn era waar slegs ryk mense sy skilderye en beeldhouwerk kon bekostig, het hy die idee verwelkom dat sy pottebakkerswerk moontlik ná die Tweede Wêreldoorlog deur gewone mense bekostig kon word. 17

Hy was ook dol oor die idee dat sy pottebakkerswerk nie net mooi was om na te kyk nie, maar ook funksioneel was. Hy het gereeld sy vriende en familie bederf met sy potte, borde, bekers en bakkies as geskenke. 17

Dekor en kostuumontwerp

Picasso was een van verskeie kunstenaars wat kostuums, toneeldekor en gordyne ontwerp het vir die Ballets Russes, ʼn reisende balletgeselskap wat tussen 1909 en 1929 op toere dwarsoor Europa, asook in Noord- en Suid-Amerika opgetree het. 18

Ontwerpe van 1917.

Sy kubismestelle en -kostuums is deur Sergei Diaghilev in ses verskillende produksies gebruik. Picasso het in dié stadium van sy loopbaan kubistiese werk geskilder, en sekere kritici was van mening dat sy stelontwerp te veel afgewyk het van die dekoratiewe. Sy vroeër werk van harlekyne, akrobate en vermaaklikheidskunstenaars het egter ʼn diepte aan sy werk gegee wat geen illustreerder sou kon bereik het nie. 18

Sy werk saam met die Ballets Russes het hom die kans gebied om in verskillende style te werk, en dit het beteken dat hy nooit sy kreatiewe vryheid verloor het nie. Die teater het vir hom ʼn platform geskep waar hy met verskillende karakters, geskiedkundige periodes en style kon identifiseer. Hy het saam met Ballets Russes na Frankryk, Italië, Spanje en Engeland gereis. Hy het boonop in 1918 met een van die dansers, Olga Koklova, getrou. 18

Picasso se familie saam met lede van die Ballets Russes.

Nalatenskap

Pablo Picasso se gebruik van verskeie unieke, uiteenlopende kunsstyle maak hom gewis een van die meesters van die 20ste eeu. Terwyl ander kunstenaars soos Henri Matisse of Braque steeds binne sekere stilistiese grense (volgens ʼn spesifieke styl of tegniek) geskilder het, het Picasso in die laaste dekade van sy lewe voortgegaan om ʼn innoveerder te wees. 11

Picasso het twee vroue gehad (Olga en Jacqueline) en vier kinders by drie verskillende vroue. 17

In die laaste jare van sy lewe het hy ʼn aantal selfportrette geskilder. Een van sy laaste kunswerke was ʼn selfportret wat met vetkryt op papier gedoen is, getiteld Self-portrait Facing Death (“Selfportret van Iemand wat Deur die Dood in die Gesig Gestaar Word”). Hy is ʼn jaar later op 91-jarige ouderdom op 8 April 1973 oorlede. 11

Picasso hou die rekord vir die meeste kunswerke wat deur een persoon geskep is. Volgens Guinness-wêreldrekords het hy oor ʼn tydperk van byna 80 jaar sowat 13 500 skilderye of ontwerpe, 100 000 afdrukke of graverings, 34 000 boekillustrasies en 300 beeldhou- of pottebakkerswerke geskep. Dit is ʼn merkwaardige totaal van bykans 150 000 kunswerke! 19

Sentrum met van Piccaso se kunswerke.

Woordbank

abstrak Wat nie verband hou met die sigbare werklikheid nie.
analities Ontledend.
artefak Eenvoudige voorwerp wat deur mense in ʼn prehistoriese tyd gemaak is en wat argeologiese of historiese waarde het.
beeldhouer Kunstenaar wat beelde uitkap/uitsny/vorm uit marmer/klip/hout/metaal.
boheems Nie gebonde aan konvensionele norme nie (veral geassosieer met Paryse skrywers/kunstenaars van die negentiende eeu); onkonvensioneel.
collage Kunstige komposisie wat bestaan uit verskillende materiale, soos brokkies drukwerk, foto’s, stukkies hout, metaal, ens., vasgeplak op ʼn prentoppervlak.
toneeldekor Versiering, agtergrond, ens. op ʼn verhoog om die handeling in ʼn opvoering in ʼn sekere plek en tyd te plaas.
depressief Wat verband hou met depressie of depressiwiteit.
eksperimenteer Verskillende idees, metodes, ens. op die proef stel om vas te stel hoe doeltreffend elkeen is.
funksioneel Wat ontwerp is om ʼn bepaalde doel te dien en reg te werk, eerder as om net mooi te lyk.
geometriese Met lyne en/of vorms soos driehoeke/sirkels/vierkante in patrone gerangskik.
illustreerder Iemand wat deur middel van tekeninge iets illustreer, ophelder, verklaar; tekenaar vir boeke en tydskrifte.
impressionisme Weergawe van die algemene indruk van ʼn gebeurtenis/toneel/voorwerp soos dit die kunstenaar op die oomblik tref, waarin atmosfeer geskep deur ligeffekte belangriker is as uitwendige besonderhede.
innoveerder Uitvinder van nuwe produkte, idees en tegnieke.
kanker Kwaadaardige woekergeswel wat vinnig versprei.
kluisenaar Iemand wat alleen woon en hom/haar van ander mense afsonder.
konstruktief Wat betrekking het op ʼn konstruksie.
kontemporêr Eietyds; hedendaags.
kostuums Spesiale klere vir ʼn toneelstuk.
kritici Mense wat kritiek lewer deur die waarde of gedrag van iets of iemand te beoordeel.
kubisme Dit is ʼn Franse skilder- en beeldhoustyl wat vroeg in die twintigste eeu deur Pablo Picasso en Georges Braque ontwikkel is, gekenmerk deur reduksie en fragmentering van natuurlike vorms tot abstrakte, geometriese vlakke.
leermeester Persoon van/by wie ʼn mens iets leer.
metgesel Iemand wat ʼn ander vergesel, bv. op ʼn reis of vir ʼn tydperk in sy/haar lewe; maat.
muse Persoon of saak wat ʼn skrywer, kunstenaar, ens. inspireer.
neoklassieke Wat gegrond is op of geskep is volgens, of wat ʼn nuwe interpretasie of vorm gee aan die klassieke benadering, styl.
nutsman Persoon wat gehuur kan word om allerlei kleinerige praktiese take in en om die huis te verrig, soos om ʼn stukkende kraan/deur/venster/meubelstuk te herstel of verf- of teëlwerk te doen.
plaatmetaalkonstruksie Metaal in plaatvorm.
postimpressionistiese Dit is ʼn stroming of neiging in die skilderkuns van die laat 19de en vroeë 20ste eeu wat gekenmerk word deur ʼn afwysing van die naturalisme van die impressionistiese beweging en beklemtoning van die gebruik van kleur, volume, struktuur, vorm en ekspressionisme.
pottebakkerswerk Persoon wat uit pottebakkersklei erdewerk vervaardig.
primitivisme Dit is enigeen van verskillende bewegings of strominge in die beeldende of uitvoerende kunste wat geïnspireer word deur kuns uit die vroeë menslike geskiedenis of kinderkuns, en wat gebruik maak van temas en stilistiese elemente van prehistoriese tye en stamgebonde kultuurgroepe, wat veral gekenmerk word deur eenvoud en ‘n bepaalde naïwiteit van uitdrukking, of hoedanigheid, voorbeeld of geval daarvan.
radikaalste Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
realisme Kunsrigting wat daarna streef om die werklikheid met al sy besonderhede onopgesmuk weer te gee, sonder enige idealisering of verwringing.
Renaissance Herlewing van die kuns en letterkunde in Europa onder invloed van hernieude studie van die klassieke oudheid, omstreeks 1450 in Italië begin.
selfportret Portret deur ʼn skilder van hom-/haarself.
sinteties Verkry deur vereniging van verskillende bestanddele/elemente; chemies vervaardig; nie natuurlik nie.
stiergevegte Seremoniële geveg tussen ʼn matador en ʼn bul vir volksvermaak, soos in Spanje, Portugal en Latyns-Amerika.
stilistiese Van styl/stylleer of wat dit betref.
surrealisme Dit is ʼn kunsrigting, wat omstreeks 1924 ontstaan het, waarby kunstenaars deur onnatuurlike naasmekaarstellings en verbindings, sonder kontrole van die rede of morele of estetiese oorwegings, verbeeldingsvlugte en alles wat uit die onderbewuste by hulle opkom, fantasties en onsamehangend vergestalt.
tuberkulose Besmetlike bakteriële siekte gekenmerk deur die vorming van tuberkels/knoppies/knobbeltjies in verskillende weefsels, veral in die longe, wat vermoeidheid, koors, nagsweet, anemie, ens. veroorsaak; (veral longtering).
Tweede Wêreldoorlog Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het.
vernaamste Wat hoë aansien geniet; hoog aangeskrewe; belangrik.
vroedvrou Vrou wat verloskunde beoefen.
witseerkeel Kwaadaardige, aansteeklike keelsiekte wat ook in die neus, oog en slukderm voorkom.

Lees dié artikels om meer oor Picasso te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Sien hoe Picasso een van sy meesterstukke skep

Picasso se reaksie op en teenkanting teen oorlog kan gesien word in een van sy grootste skilderye, Guernica.

Hoe om Picasso se werk te verstaan

ʼn Versameling van 855 van Picasso se werke

Leer meer oor Suid-Afrika se eie Pigcasso

Gepubliseer op: 13 Junie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024