Vinnige feite

  • Hoewel heelwat van Bach se musiek verlore gegaan het, word daar vandag nog van sy komposisies gevind. Die mees onlangse is ʼn Koraalfantasie vir orrel wat in 2008 in Leipzig gevind is. 13
  • Heelwat van sy stukke is geskryf om mense te leer om die klawesimbel of orrel te speel.
  • Van die beste musiek wat hy vir tjello geskryf het, is eers in 1890 ontdek toe iemand dit per ongeluk in ʼn tweedehandse musiekwinkel uitgesnuffel het.
  • Bach het altesaam 20 kinders gehad! In 1707 trou hy met sy niggie, Maria Barbara Bach. Hulle het sewe kinders gehad. Toe sy onverwags in 1720 sterf, trou hy met die sangeres Anna Magdalena Wülcken. Saam het hulle 13 kinders. 1 ʼn Paar kinders het vroeg in hul kinderjare gesterf, maar van dié wat volwassenheid bereik het, was daar ten minste vier wat net soos hul pa musikante en komponiste in eie reg was. 14
  • Bach en Händel, die ander groot komponis van die Baroktydperk, het albei oogoperasies by dieselfde dokter ondergaan. Ná ʼn mislukte katarakoperasie het Händel se sig vir die laaste tien jaar van sy lewe net swakker geword. 15

In sy leeftyd het min mense geweet dat Johann Sebastian Bach ʼn komponis was. Vandag, meer as 270 jaar ná sy dood, kan Bach se meer as 1 000 briljante werke steeds in konsertsale, operahuise en kerke reg oor die wêreld gehoor word. Dit word as van die beste klassieke musiek in die geskiedenis beskou, en selfs die baie bekende komponis Mozart het na Johann Sebastian Bach as die “vader van harmonie” verwys. 1

Kinderjare en kennismaking met musiek

Die hele Bach-familie was reeds sinoniem met musiek teen die tyd wat Johann Sebastian Bach op 21 Maart 1685 gebore word. (Hy het in die voetspore van byna 300 jaar se generasies musikante voor hom gevolg!) 2 As jou van in daardie tyd Bach was, was die kans goed dat jy ʼn musikant was. 3 ʼn Mens kan amper sê dat die Bachs die grootste musikale familie is wat die wêreld ooit geken het. 4

Sy pa, Ambrosius, het aan die hof van Eisenach as musikant gewerk, en lede van sy familie was violiste, orreliste, stadsmusikante en kantors (die hoof van musiek wat in ʼn kerk gespeel word). 3 Bach se pa leer hom van kleins af om die viool en klawesimbel (die instrument wat die klavier voorafgegaan het) te speel. 3 Hy gaan op sewejarige ouderdom skool toe, waar hy onder meer onderrig in Latyn en godsdiens ontvang. Op tien sterf albei sy ouers en word Bach wees gelaat. Hy gaan woon by sy broer, Johann Christoph, wat ʼn kerkorellis was. Sy broer skryf hom by ʼn plaaslike skool in en leer Johann Sebastian om orrel, ʼn instrument waarvoor hy baie lief was, te speel. 2

Danksy sy mooi sangstem word Bach op 15-jarige ouderdom tot die St. Michael-skool in Lüneburg, Duitsland, toegelaat. 5 Sy stem breek egter kort daarna en hoewel hy nie meer in die skool se koor kon sing nie, gaan hy voort met sy studies in viool, klawesimbel en orrel. 6

Bach se luisterryke loopbaan

Deur die loop van sy lewe het Bach by drie verskillende plekke gewerk: eers vir ʼn hertog, toe vir ʼn prins en in die laaste gedeelte van sy lewe vir ʼn kerk en skool in Leipzig, Duitsland. 2

Hoogtepunte van Bach se bykans vyftig jaar lange loopbaan

 1703

Met sy eerste werk in Weimar vir Hertog Johann Ernst doen hy iets van alles, maar tree veral op as violis en orrelis.

1704

Teen 1704 was Bach ʼn baie talentvolle kunstenaar. Hy was oraloor bekend en word aangestel as die orrelis van ʼn kerk in Arnstadt. Hy word ook dikwels uitgenooi om by ander groot kerke in Duitsland uitvoerings te gee. Bach was hoofsaaklik verantwoordelik vir die musiek tydens die kerkdienste, maar hy moes ook musiekopleiding aan jongmense gee. Hy het nie baie geduld met sy studente gehad nie, en sy base haal hom oor die kole omdat hy nie genoeg saam met hulle oefen nie. In hierdie tyd gebruik hy nie net sy kennis en ervaring vir die bou van orrels nie, maar hy komponeer ook baie van sy orrelwerke. 7

1707

Sy tyd as orrelis vir ʼn kerk in Mühlhausen het nie so goed uitgewerk as wat hy gehoop het nie omdat hy en die priester nie saamgestem het oor hoe musiek tydens kerkdienste moet klink nie. Die priester het gevoel dat kerkmusiek eenvoudig moet wees, terwyl Bach se stukke vol verskillende melodieë was wat hy ineengevleg het.

1708

Ná skaars ʼn jaar in Mühlhausen, aanvaar Bach die pos van orrelis vir hertog Wilhelm Ernst in Weimar. In hierdie tyd skryf hy twee van sy bekendste werke, naamlik Toccata en Fuga in D-mineur en Jesu, Joy of Man’s Desiring. Ná nege jaar in die hertog se diens, bied ʼn prins hom ʼn werk aan, maar hertog Wilhelm wil Bach nie laat gaan nie. Hy kry dit reg dat Bach tronk toe gaan, maar selfs dít kon Bach nie keer om musiek te skep nie. In die tronk skryf hy 46 stukke wat vandag nog opgevoer word. 2

1717

In 1717 kry Bach die geleentheid om vir prins Leopold van Bavaria te gaan werk. Prins Leopold was ’n violis en het dikwels vir Bach bladmusiek (ʼn musiekstuk wat gedruk of met die hand geskryf word) van sy oorsese reise af saamgebring. Die orrel in Köthen was nie goed nie, en Bach skryf meestal instrumentele musiek soos concerto’s (ʼn musiekstuk waar een instrument saam met ʼn orkes gehoor word) en sonates (ʼn musiekstuk vir instrumente wat dikwels uit drie of meer dele bestaan). Die bekende Brandenburg-concerto’s word in hierdie tyd gekomponeer. Ongelukkig trou die prins met ʼn vrou wat nie so mal was oor musiek nie. Sy oorreed Leopold om die orkes te ontbind, en só eindig Bach se tyd in Köthen. 7

1723 tot 1750

Bach word in 1723 by die St. Thomas-kerk in Leipzig as orrelis aangestel en werk vir 27 jaar hier tot sy dood in 1750. Deel van sy pligte was om skool te gee by die St. Thomas-skool. Hy moes sorg vir musiek by elke kerkdiens, en in hierdie tyd skryf hy weekliks nuwe kantates (musiek wat bedoel is om gesing te word). Sy Kersfees-oratorium bestaan byvoorbeeld uit ses kantates. In sy vrye tyd dirigeer Bach ʼn groep musikante wat dikwels in ʼn plaaslike restaurant optree. Hy begin in 1733 aan sy meesterwerk, Mis in B-mineur, skryf, maar voltooi dit eers in 1749, ʼn jaar voor sy dood. Dit word vir die eerste keer ná sy dood uitgevoer. 2

Sy musikale nalatenskap

Teen 1740 het Bach begin sukkel om te sien, maar vir die volgende nege jaar was sy sig nog goed genoeg om te reis en op te tree. In 1747 besoek hy koning Frederik van Pruise (vandag deel van Duitsland) waar hy sommer nét daar en dan vir hom ʼn komposisie skryf. 1

In 1750 ondergaan hy ʼn oogoperasie in die hoop dat sy sig sal verbeter, maar kry infeksie in dié oog en word eindelik heeltemal blind. Op 28 Julie 1750 sterf hy op 65-jarige ouderdom in Leipzig aan ʼn beroerte en word in ʼn ongemerkte graf begrawe. 1

Bach se oorskot word eers 150 jaar ná sy dood gevind, en hy word in die St. John’s-kerk herbegrawe. Dié kerk word egter tydens ʼn bomaanval in die Tweede Wêreldoorlog beskadig. Bach se liggaam word gevolglik weer opgegrawe en herbegrawe in die St. Thomas-kerk, waar hy vir die laaste 27 jaar van sy lewe gewerk het. 7

Gedurende sy leeftyd het mense Bach geken as ʼn musikant wat instrumente soos die orrel baie goed kon speel. Omdat baie van sy stukke geskryf is om net een keer tydens byvoorbeeld ʼn kerkdiens uitgevoer te word, is bitter min van sy werk as bladmusiek uitgegee. Dis eers 100 jaar ná sy dood toe ʼn ander bekende komponis, Felix Mendelssohn, een van Bach se werke uitgevoer het, dat die publiek Bach as formidabele komponis leer ken. 3

Hoewel hy nie nuwe musiekvorme ontwikkel nie, het hy huidige musiekstyle uit Frankryk, Italië en Duitsland as inspirasie gebruik om van die ingewikkeldste, maar pragtigste emosionele musiek te skryf. Vandag bestudeer musici veral Bach te tegnieke wanneer hulle leer om musiek te komponeer. Boonop het hy vir só ʼn groot verskeidenheid instrumente komposisies geskryf dat sy invloed op musiek bykans onmeetbaar is. 4

Ondanks die groot en bekende werke van ander groot komponiste soos Vivaldi en Händel, word Johann Sebastian Bach steeds as die belangrikste komponis van die die Barok-musiekbeweging gesien. Trouens, sy dood dui die einde van hierdie musiekera in. Voorwaar ʼn merkwaardige musiekmeester met ʼn enorme nalatenskap! 3

Tien van Bach se gewildste en bekendste komposisies

  1. Toccata en Fuga in D-mineur
  2. Brandenburg-concerto’s
  3. Goldenberg-variasies
  4. Matteus-passie
  5. The well-tempered clavier
  6. 6 suites vir soloviool
  7. Mis in B-mineur
  8. Concerto vir 2 viole
  9. Fluitsonate in B-mineur
  10. Vioolpartituur nr. 2 8

Woordbank

barok Barok is die naam wat gebruik word om die kuns (en musiek) van die 17de en 18de eeu te beskryf. Die melodië van hierdie tyd is ineen gevleg en daar is baie kort nootjies (trillers) wat in die musiek gebruik word, amper asof dit die musiek met hierdie nootjies “versier”; gekenmerk deur beweeglikheid, swier en oorlading.
bladmusiek ʼn Musiekstuk wat gedruk of met die hand geskryf word.
clavier Die klawerbord van ’n musikale instrument; ʼn vroeë klawerbordinstrument.
concerto’s  ʼn Musiekstuk waar een instrument (ʼn soloinstrument) saam met ʼn orkes gehoor gaan word. Tussendeur is daar gedeeltes waar die instrument soos ʼn fluit of ʼn viool speel en deur die orkes begelei word.
fuga Dieselfde melodie word oor en oor in ʼn stuk gebruik deur dit te herhaal of op verskillende plekke in die stuk te gebruik.
kantates ʼn Musiekstuk bedoel om gesing te word. Bach het baie kantates vir die kerk gekomponeer.
komponeer ’n Musiekstuk toonset, musiek skryf.
komponis ʼn Persoon wat musiekstukke skryf of skep wat deur musikante (mense wat musiekinstrumente bespeel) en sangers opgevoer word.
melodieë Die wysie van ʼn liedjie of musiekstuk; deuntjie.
oorskot Die oorblyfsels van ʼn mens of dier wat gesterf het; wat oorbly nadat jy iets gebruik het; oorblyfsel; surplus.
oratorium  ʼn Groot godsdienstige werk; Bybelse musiekdrama vir solostemme, koor en orkes.
vioolpartituur Volledige notering van ’n koor- of orkeskomposisie.
sonates ʼn Musiekstuk vir instrumente, veral vir die klavier, wat dikwels uit drie of meer dele bestaan.
toccata ʼn Musiekstuk vir ʼn instrument met klawers (soos ʼn klavier of orrel) wat baie vinnig en moeilik is. Die stuk word geskryf om te wys of toets hoe goed ʼn musikant sy of haar instrument kan bespeel.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Johann Sebastian Bach

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Johann Sebastian Bach

Die beste en bekendste werke van Bach

10 interessante Bach-feite

Johann Sebastian Bach – die komponis van kerkmusiek

Agt goed wat jy van Bach moet weet, maar waarskynlik nie doen nie

Johann Sebastian Bach – ʼn dokumentêr

Hoor hoe klink die liedjie Beauty and the Beast as dit met ʼn klawesimbel gespeel word

Gepubliseer op: 25 April 2022 | Bygewerk op 20 Oktober 2023