Vinnige feite

  • Kant het in sy werk op etiek gefokus en op die morele dade van mense.
  • Kant was baie presies op roetine. Hy was so geroetineerd en presies op tyd dat die mense in Königsberg hul horlosies gestel het wanneer hulle hom op sy daaglikse staptog gesien het!
  • Hy was glo baie kort en skraal en sy een skouer was misvormd.
  • Salomo Friedlaender was ’n Duits-Joodse filosoof en digter en het ’n boek, Kant for Children, geskryf om vir jongmense meer oor Kant se filosofie te leer. 5
  • Daar is ’n universiteit in die stad Kaliningrad wat as die Immanuel Kant Baltiese Federale Universiteit bekendstaan.
Devlin, K. 1999. About time. Moraga, California, United States.

As mense praat oor filosofie en filosowe klink dit baie slim en belangrik, maar het jy geweet dat jy tien teen een ook al aan diep filosofiese vrae gedink het? Dit is wanneer jy aan vrae dink, soos “Hoekom is daar oorloë?”, “Wat is liefde?” of “Wat is ’n goeie vriend?”

Iemand wat baie diep oor vrae gedink het en antwoorde daarop gegee het, was Immanuel Kant (1724-1804). Hy was ’n baie belangrike filosoof in die laat 1700’s. Sy idees oor die verhouding tussen die verstand en die wêreld het menige filosoof in die 20ste eeu geïnspireer.

Grootwordjare, studies en loopbaan

Kant is as Emanuel Kant op 22 April 1724 in Königsberg gebore. Hy het later sy naam na Immanuel verander. Daar is ook al gespekuleer dat sy van aanvanklik Cant was en dat die familie Skotse wortels gehad het, maar dit is nie bewys nie.

In daardie jare was die dorp Königsberg deel van Pruise, maar dis vandag deel van die land wat ons as Rusland ken en word Kaliningrad genoem.

Kant was die vierde van nege kinders en sy ouers se name was Johann George en Anna Regina.

Sy pa het sale en harnasse vir perde gemaak. Die gesin het nie baie geld gehad nie. Sy ouers was ook baie streng en godsdienstig. Gelukkig het ’n plaaslike pastoor Kant se potensiaal raakgesien en hy het gereël dat Kant skool toe gegaan het. 1

Hy het by die Collegium Fridericianum skoolgegaan, waar hy veral Latynse klassieke werke geniet het. Hy het op die ouderdom van 16 aan die Universiteit van Königsberg begin studeer. Aanvanklik het hy teologie studeer, maar het gou meer in fisika en wiskunde belanggestel en dit studeer.

Sy pa het in 1746 gesterf en hy moes noodgedwonge die skool verlaat om te gaan werk om vir sy ma en sibbe te sorg. Hy het nege jaar lank as ’n privaat onderwyser gewerk, maar het ook in daardie tyd allerlei akademiese artikels geskryf. Hy kon uiteindelik weer teruggaan universiteit toe en het in 1755 sy doktorsgraad verwerf en ’n lektor aan die Universiteit van Königsberg geword.

Hy was 15 jaar lank in dié pos en het in daardie tyd sy groot werke oor filosofie gepubliseer. Die Universiteit van Königsberg het hom in 1770 as ’n professor van logika en metafisika aangestel. 2

Kant het nooit getrou nie en het ook nooit ver van Königsberg af gereis nie. Hy het sy tyd tussen skryfwerk, lesings, en daaglikse staptogte verdeel.

Kant se filosofie

Kant het sy filosofiese werk tydens die Verligting gelewer. Dit was ’n tydperk in Europa se geskiedenis waar mense met nuwe idees oor politiek, godsdiens en die lewe gedink het. Die filosowe David Hume en Jean-Jacques Rousseau het ’n groot invloed op sy werk gehad. 3

Hy het in 1784 ’n artikel naamlik “Wat is Verligting?” geskryf. Hy het voorgestel dat die groot kenmerk van sy tyd die groei van sekularisme was. Sekularisme is ’n leer of ideologie wat sê dat godsdiens nie betrokke moet wees by die gewone sosiale en politieke aktiwiteite van ’n land nie

Kant het dit verwelkom dat Christenskap afneem, maar hy was ook bekommerd, want hy het geglo dat godsdiens wel mense op die regte pad hou. Hy het geglo dat die mens van nature geneig was tot swak optredes, soos oneerlikheid of wetloosheid. Dit was sy lewenstaak om godsdienstige outoriteit met die outoriteit van menslike intelligensie te vervang en hy het verskeie boeke daaroor geskryf, soos Die kritiek van suiwer rede (1781), Inleiding tot enige toekomstige metafisika (1783), Die grondwerk van die metafisika van sedes (1785), Die kritiek van praktiese rede  (1788), Die kritiek van  oordeel (1793). 2

Hy het in sy boek Godsdiens binne die grense van rede (1793) geargumenteer dat hoewel historiese godsdienste se inhoud nie bewysbaar is nie, het hulle almal wel ’n behoefte om etiese gedrag te bevorder. Sy idee om godsdiens te vervang is die “kategoriese imperatief” genoem. Hy het dit die eerste keer in sy boek Die grondwerk van die metafisika van sedes bespreek.

Sy idee was dat mense só moet optree soos wat hulle wil hê ander mense teenoor hulle moet optree. Dit kom eintlik neer op iets wat baie gelowe, soos Christenskap, predik: Moenie iets aan ander mense doen wat jy nie aan jouself gedoen wil hê nie. 4

Kant se bekendste werk is die Kritiek van die suiwer rede wat in 1781 in Duits gepubliseer is. Hy het daarin probeer verduidelik hoe mense se rede en ervarings saam met hul gedagtes en begrip werk. Hy het vertel dat ’n mens se verstand jou ervarings organiseer om sodoende te kan begryp hoe die wêreld werk. 1

Hy het geskryf dat ons as mense byvoorbeeld slegs een of twee mure van ’n huis op ’n slag kan sien, maar die verstand besef daar is nog mure en dat dit ’n volledige huis is. Die huis word dan in die verstand geskep terwyl ons oë slegs ’n gedeelte sien.

Ons gedagtes moet dus op regte dinge gegrond wees, en suiwer rede sonder die buitenste wêreld is onmoontlik.

In sy Kritiek van praktiese rede, wat 1788 gepubliseer is, het hy geargumenteer dat daar iets soos ’n streng moraliteit moet wees.

Rasionalisme vs empirisme

Kant het geleef in ’n tyd toe filosowe verdeeld was. Daar was aan die een kant filosowe wat geglo het dat kennis uit ervaring spruit en dis die empirisme genoem, terwyl die ander groep gesê het dat menslike rede jou in staat stel om sin van die wêreld te maak, en dis rasionalisme genoem. Kant het probeer om die twee groepe met mekaar te versoen.

Hy het probeer om te verken hoe die verstand werk en wat realiteit eintlik is. Die gevolg van sy soeke is transendentale idealisme genoem.

Kant het geargumenteer dat niemand vir seker kon sê wat realiteit eintlik is nie. Hulle kan slegs seker wees van hoe realiteit vir hulle voorkom, want die menslike verstand vorm realiteit op ’n manier om sin daarvan te maak. Ruimte en tyd is slegs deel van die verstand se manier om dinge te organiseer.

Kant was ’n aanhanger van Martin Luther, die leier van die kerkhervorming en stigter van die Lutherse Kerk. Hy het geglo dat sedes noodsaaklik was om in God te glo, selfs al was dit onmoontlik om God se bestaan te bewys. Hy het gesê dat ’n universele morele wet alle mense regeer. 3

Kant het tot kort voor sy dood nog oor filosofie geskryf, tot geheueverlies dit te moeilik gemaak het. Hy het op 12 Februarie 1804 gesterf. Sy laaste woorde was: “Es ist gut”, wat “dit is goed” beteken. 1

Woordbank

empirisme Leer dat kennis op ervaring berus.
etiese Die reëls vir en beginsels van wat reg en verkeerd is en hoe mense hulle behoort te gedra.
filosofie Wetenskap wat die betekenis van die lewe ondersoek.
filosowe Iemand wat oor die lewe dink, die gedagtes neerskryf en aan ander mense leer.
fisika Die wetenskap van materie, beweging en energie; natuurkunde.
historiese Iets uit die geskiedenis, of wat deur die geskiedenis oorgelewer of gevestig is.
idealisme Die geloof dat jy volgens hoë standaarde en beginsels moet leef, hoe moeilik dit ook al mag wees.
ideologie Idees wat die grondslag vorm van ’n politieke of ekonomiese teorie of stelsel.
imperatief Die geloof of idee wat mense sterk beïnvloed en op ’n bepaalde manier laat optree.
kategoriese Onvoorwaardelik, sonder voorbehoud, sonder twyfel.
leer ’n Aantal reels of beginsels waarvolgens ‘n groep mense die lewe beskou.
logika Die wetenskap wat ‘n mens leer om helder en reg te dink, om oorsaak en gevolg korrek op mekaar te laat volg.
metafisika Filosofie wat nie deur eksperimentering bewys kan word nie, maar oor gesels moet word.
moraliteit Sedelike gedrag.
noodgedwonge Deur omstandighede genoodsaak.
outoriteit Mag of gesag.
pastoor ’n Predikant in sommige Christelike kerke.
potensiaal Die natuurlike vermoë of eienskappe wat nodig is om in die toekoms tot ʼn bepaalde soort mens/ding te ontwikkel.
rasionalisme Redegeloof; om kennis uit rede en nie emosies nie te bekom.
rede Die krag van die verstand om logies te dink, te verstaan en oordele te vorm/daaroor te redeneer.
sekularisme Leer wat alle godsdiens afsweer en godsdiensbeheer in alle lewensvorme teëstaan.
sibbe Broers en susters.
teologie Bestudering van godsdiens en geloofsoortuigings; godgeleerdheid.
transendentale Iets wat bo en buite die wêreld is en wat die grense van die ervaring oorskry.
Verligting Tydperk in Europa se geskiedenis waar mense met nuwe idees oor politiek, godsdiens en mense se lewens gedink het.
versoen Bymekaarbring.
verstand Die vermoë om dinge te verstaan en intelligent te dink.

Lees hierdie artikels om meer oor Kant te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor Kant te leer

Kant, die filosoof

Wat was die Verligting?

Kant en die Verligting

Roucoux, O. 2002. The oldest recorded mechanical clock. Devlin, K. 1999. About time. Moraga, California, United States.
Gepubliseer op: 25 April 2024 | Bygewerk op 25 April 2024