Vinnige feite

  • ’n Minder bekende weergawe van Valentyn se storie is dat hy in hegtenis geneem is omdat hy Christene gehelp het om uit wrede Romeinse tronke, waar hulle gemartel is, te ontsnap. 5
  • Die naam Valentyn word afgelei van die Romeinse woord valentinus wat in Latyn ‘waardig, sterk en magtig’ beteken. 4
  • Daar is 12 St. Valentyne op die Katolieke Kerk se lys van martelare, insluitende ’n vrou, wat in 308 dood is. 6
  • Buiten sy kopbeen in Rome is daar dele van St. Valentyn se skelet in Tsjeggië, Ierland, Skotland, Engeland en Frankryk. 6
  • Valentynsdagkaartjies beeld soms vir Kupido, die Romeinse god van liefde, uit. 7 Kupido was die seun van Venus, die Romeinse godin van liefde en skoonheid. Kupido het pyle na gode en mense geskiet wat hulle laat verlief raak het. Dit is nie seker wanneer hy deel van die Valentynsdagtradisie geword het nie. 8

Vir baie mense is Valentynsdag ’n kans om die liefde te vier. Hierdie mense gee aan hul geliefdes blomme, kaartjies en sjokolade. Ander mense, weer, dink Valentynsdag is een groot geldmaakspul, wat in elk geval net vir daardie mense is wat iemand spesiaals in hul lewe het.

Hoe jy ook al daaroor voel, het jy al ooit gewonder hoekom ons in die eerste plek Valentynsdag vier?

Die oorsprong daarvan is ’n raaisel. Nie net is ons nie presies seker wie die Valentyn van Valentynsdag is nie, maar ons kan ook net bespiegel oor waarom Valentynsdag op 14 Februarie gevier word, en wanneer dit begin het.

Wie was Valentyn?

Daar is ’n paar historiese figure wat moontlik die oorspronklike Valentyn kan wees, en daar is verskillende weergawes van hul stories…

Claudius II Gothicu

Die keiser van die Romeinse Ryk tussen 268 en 270 was Claudius II Gothicus, of Claudius die Wrede. Onder hom was die Romeine in ’n reeks bloedige oorloë betrokke. Claudius het soldate nodig gehad, maar jong mans wou nie by die weermag aansluit nie. Claudius het gedink die rede was omdat hulle nie hul families wou verlaat nie. 1 Hy het ook moontlik gedink die getroude lewe maak die mans swak soldate. 2 Ander bronne sê weer dat getroude mans nie diensplig hoef te gedoen het nie, en daarom het mans getrou om diensplig te vermy. 3 Wat ook al die rede, rondom die jaar 270 het Claudius alle verlowings en troues in die Romeinse Ryk verbied. 1

Valentyn, ’n biskop en moontlik ook ’n dokter van Terni, 3 ’n dorpie noord van Rome, het gevoel dat Claudius se reël onregverdig was en daarom het hy Romeinse soldate en hul vrouens in die geheim in die huwelik bevestig. 2 Toe Claudius hiervan uitvind, het hy beveel dat Valentyn in hegtenis geneem word. 4

In een weergawe van die verhaal het Valentyn gehoor van die bevel en by ’n edelman se huis gaan wegkruip. Hier het hy die edelman se dogter van blindheid genees en op haar verlief geraak. In ’n stadium het hy vir haar ’n brief geskryf wat geëindig het met die woorde: “Van jou Valentyn”. Hy is uiteindelik naby Rome gevang. 4

In die ander bekende weergawe is Valentyn in die tronk gegooi. In die tronk het hy die tronkbewaarder se dogter onderrig, of miskien is dit sy wat hy van blindheid genees het. 4 Hulle het verlief geraak en op die dag toe hy weggeneem is om tereggestel te word, het hy vir haar die brief geskryf met “Van jou Valentyn” onderaan. 2

St. Valentyn

In beide weergawes van die storie is Valentyn op 14 Februarie in die publiek doodgeslaan en toe onthoof. 4

Hoekom 14 Februarie?

Die Romeine het jaarliks Lupercalia gevier, ’n vrugbaarheidsfees wat opgedra is aan die Romeinse god van landbou, Faunus, asook aan Romulus en Remus, die stigters van Rome. 5 Die fees is gehou op 14 Februarie, omdat dit die eerste dag van die lente in Rome is. 2

Die Luperci, ’n groep Romeinse priesters, het by die heilige grot buite Rome – waar die wolvin volgens die Romeinse legende vir Romulus en Remus grootgemaak het – bymekaargekom. Die priesters het ’n bok, wat vrugbaarheid simboliseer, geoffer, toe die bok se vel in repe gesny en die repe in die bok se bloed gedoop. Die priesters het daarna deur die strate geloop en vroue liggies met die bloederige bokvel geslaan. Die vroue het dit verwelkom omdat hulle geglo het dit maak hulle meer vrugbaar. Later op dieselfde dag het alle jong ongetroude vroue hul name in ’n groot houer geplaas. Die jong ongetroude mans het ’n naam getrek en hierdie twee sou vir die volgende jaar ’n paartjie vorm. Baie van hierdie paartjies is later getroud. Hierdie fees het bekendgestaan as die Lupercalia-fees. 5

In die vyfde eeu het die Katolieke Kerk onder pous Gelasius I besluit om die viering van Lupercalia te verbied. Hy wou die Romeinse fees meer Christelike maak, 5 en hy het ook moontlik gevoel dat daar te veel bloed betrokke was by die viering van Lupercalia. 6

In ongeveer die jaar 496 het hy Lupercalia vervang met St. Valentynsdag, wat deels gebaseer was op die legende van Valentyn. 7

’n Ander moontlike inspirasie vir die viering van Valentynsdag kom uit Brittanje in die veertiende eeu. Die beroemde Engelse digter Geoffrey Chaucer het in 1375 in ’n gedig getiteld “Parliament of Foules” geskryf: “For this was sent on Seynt Valentyne’s day, Whan every foul cometh ther to choose his mate. Die gedig gaan oor die hofmakery van voëls en mense tydens die viering van St. Valentyn se feesdag. 4 Mense in Chaucer se tyd het geglo voëls se paarseisoen begin amptelik op 14 Februarie. Soos in Rome is 14 Februarie ook die eerste dag van lente in Brittanje. 6

Valentyn en die Rooms-Katolieke Kerk

Omdat Valentyn as martelaar (persoon wat doodgemaak word vir sy/haar oortuiging/geloof/saak) gesterf het, het die Rooms Katolieke Kerk hom as heilige erken. 8 Sy kopbeen word uitgestal in die Basiliek van Santa Maria in Cosmedin, ’n Rooms-Katolieke Kerk in Rome. 4 Dit word gereeld met vars blomme versier. 6

Omdat daar so baie onsekerheid is oor wie Valentyn werklik is, het die Katolieke Kerk in 1969 opgehou om hom amptelik as heilige te eer. 4 Hy is egter steeds op hul lys van martelare. 6

As heilige van die Katolieke Kerk het St. Valentyn baie “pligte”. Hy is die beskermer van verliefdes, verloofde paartjies en gelukkige huwelike. Daarby waak hy ook oor byeboere, mense wat flou word en epilepsielyers, beskerm mense teen plae, en word ook soms gesien as die beskermer van mense wat op reis gaan. 4

Die viering van Valentynsdag

Die idee om Valentynsdagboodskappe te stuur, het eers ná 1400 gewild geword.

Die oudste Valentynsboodskap waarvan historici bewus is, is in 1415 deur Charles, ’n Franse edelman, uit die Toring van Londen, ’n beroemde tronk, aan sy vrou geskryf. In die boodskap het hy die woord ‘Valentyn’ verskeie kere gebruik, en ook geskryf dat hy siek was van liefde vir haar. Sy vrou is ongelukkig oorlede voor sy die brief kon kry. Rondom dieselfde tyd het Koning Hendrik V van Engeland ’n skrywer gehuur om ’n Valentynsboodskap aan sy vrou, Catherine van Valois, te stuur. 6

Shakespeare, wat aan die einde van die 16de eeu geleef het, het ook bygedra tot die gewildheid van Valentynsdag. In die treurspel Hamlet, wat in ongeveer die jaar 1600 verskyn het, sing een karakter: “To-morrow is Saint Valentine’s Day | All in the morning bedtime | And I a maid at your window | To be your Valentine”. Dit was ’n verwysing na die bygeloof dat die eerste vrou wat ’n man op St. Valentynsdag gesien het, sy ware liefde was. 6

Die oudste Valentynsdagkaartjie is in York Castle Museum in Engeland te vinde. Dit is in 1797 gedruk, met die hand ingekleur, en is versier met blompatrone en voëls. ’n Versie al om die rand lui: “Since on this ever Happy day | All Nature’s full of Love and Play | Yet harmless still is my design | ‘Tis but to be your Valentine.” 6

Die stuur van kaartjies en geskenke het deur die eeue al hoe meer gewild geword. In Engeland is daar in 1835 omtrent 60 000 Valentynsdagkaartjies per pos gestuur. In die volgende paar jaar het posgeld goedkoper geword en teen 1840 het dit opgeskiet na 400 000 vir die jaar. 6

In die Verenigde State van Amerika het mense in 2022 omtrent $24 miljard aan Valentynsdag spandeer. Dit is sowat R417 miljard. 9

Woordbank

bespiegel Verskillende moontlikhede oorweeg, maar sonder genoeg gegewens om jou slotsom wetenskaplik te steun; om te gis; spekuleer.
biskop ‘n Priester van hoë rang, onder meer in die Rooms-Katolieke Kerk.
diensplig Verpligte krygsdiens vir weerbare manne wat vir ’n bepaalde tyd militêre opleiding ontvang en desnoods moet veg.
edelman Iemand van die adelstand; lord, sir, graaf, prins, koning, keiser.
epilepsielyers ’n Chroniese (gereelde) familiesiekte; iemand wat neerval en rukkings/stuiptrekking kry; vallende siekte.
heilige Iemand wat deur die kerk op grond van sy/haar lewe/wondere/ens. heilig verklaar is.
historici Geskiedkundiges.
hofmakery Baie aandag aan iemand bestee en te probeer om hom/haar van jou te laat hou.
keiser keiser
martel Iemand moedswillig baie seermaak.
martelaar ’n Persoon wat doodgemaak word vir sy/haar oortuiging/geloof/een of ander saak.
paarseisoen Daardie tyd van die jaar wanneer voëls en diere seksuele omgang het om kleintjies voort te bring.
repe ’n Lang, smal strook van iets.
simboliseer ’n Voorwerp/teken/ens. wat ’n bepaalde betekenis het of iets voorstel.
vrugbaarheidsfees ‘n Fees wat ten doel het om mense in staat te stel om (baie) kinders in die lewe te bring. 10

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Valentynsdag

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor Valentynsdag

Geskiedenis van Valentynsdag

Dinge wat jy dalk nie oor Valentynsdag geweet het nie

Hoe vier mense Valentynsdag in ander lande?

Gepubliseer op: 13 Februarie 2023 | Bygewerk op 6 Februarie 2024