Vinnige feite

  • James het as stemkunstenaar verskeie Cannes Lion-toekennings gewen.
  • Daar gaan na verwagting ’n opvolg van die Alexanders se lokettreffer Semi-Soet wees.
  • Alexander het baie van die aksieriller Killing Eve en die biografiese drama Chernobyl gehou. Hy het ook genoem dat Breaking Bad, Arrested Development, The Office en Dramedy Kidding van sy gunstelinge is.
  • James het daarvan gehou om met sy hande te werk en wou graag nog rolprent- en televisiestelle (dekor) bou.
  • Hy het baie daarvan gehou om te reis. 6
Foto: iStock

James Alexander was ’n gewilde Suid-Afrikaanse akteur, draaiboekskrywer en rolprentvervaardiger wat ook in die Verenigde State van Amerika (VSA) gewoon en gewerk het. In Suid-Afrika word hy veral vir sy rolle in Binnelanders en Trackers onthou. Hy het in die VSA as James Gracie bekendgestaan. Hy het sy ma se nooiensvan (Gracie) in die VSA gebruik om verwarring met ander akteurs (wat ook James Alexander genoem is) te vermy.

James was met die gewilde aktrise Anel Alexander getroud en kon net so goed in Afrikaans as in Engels toneelspeel. Hy is op die jong ouderdom van 45 op 28 April 2023 aan kanker oorlede.

James en Anel Alexander was die vervaardigers van die rolprent Semi-Soet. Hier is hulle saam met van die akteurs wat in dié rolprent gespeel het.

Sy lewe in ’n neutedop

James Alexander is op 8 Januarie 1978 in Boksburg gebore en het in Pretoria grootgeword. Sy ouers se name is Jim en Elsie, en hulle is van Skotse afkoms. Hy het ’n suster, wie se naam Claire is. Hy het van kleins af in toneel belanggestel en aan skoolopvoerings deelgeneem.

Hy het in ’n onderhoud vertel dat hy as kind die onsportiewe, snaakse outjie was. Hy was ’n storieverteller wat graag aan eisteddfods deelgeneem het. Hy wou ’n skrywer word en later ’n omroeper. Hy was in ’n stadium ’n omroeper by Impact Radio in Pretoria. 1

James en Anel Alexander was eggenote én vennote.

Alexander het in 2001 as akteur begin werk en selfs in lande soos Brittanje en die VSA gewerk.

Hy en Anel Alexander (née Flett) het mekaar in 2000 ontmoet toe hulle in ’n musiekblyspel by die Staatsteater in Pretoria opgetree het. Hulle is in 2003 getroud. Anel Alexander is bekend vir haar rolle in onder andere 7de Laan, Binnelanders, Semi-Soet, Faan se trein, en Mooirivier.

Die paartjie het in 2016 besluit om na Los Angeles, VSA, te verhuis om daar te werk en meer oor rolprente te leer.

James is egter in Januarie 2019 met kop-en-nek-kanker gediagnoseer. Die paartjie het in 2022 besluit om na Suid-Afrika terug te keer en het in 2023, kort voor James se dood, hul 20ste huweliksherdenking gevier. 2

Verhoog, kassie en silwerdoek

James het op die verhoog in onder andere Damsels in Distress: RolePlayDiscreetHedda GablerThe Unexpected Guest en Doubt verskyn.

Hy het ook verskeie rolle op die kassie en in rolprente vertolk. Reekse en rolprente waarin hy te sien was, sluit in Isidingo (1998-2005); Home Affairs (2005); Discreet (2008); Scandal! (2008); Leonardo (2011); The Wild (2011); Semi-Soet (2012); Donkerland (2013); Geraamtes in die kas (2013); Eye in the Sky (2015); The Book of Negroes (2015); en The Gamechangers (2015).

Alexander het die rol van dr. Rico Maartens in die TV-sepie Binnelanders tussen 2005 en 2008 vertolk. Dit is juis op dié sepie se stel waar hy geleer het om sy Afrikaans op te skerp. Hy het ook die rol van die voormalige weermagsoldaat Lemmer in die minireeks Trackers op M-Net vertolk. Dié reeks is ’n verwerking van die misdaadfiksieskrywer Deon Meyer se trefferroman Spoor, en handel oor georganiseerde misdaad, renosterstropers en smokkelary.

Hy het die laaste vyf jaar van sy lewe in Los Angeles gewoon en gewerk, en daar die kans gekry om saam met bekende akteurs soos Keanu Reeves, Benedict Cumberbatch, Clair Danes en Daniel Radcliffe voor die kamera te verskyn.

Vanaf 2016 het hy as James Gracie rolle vertolk in Black Sails (2016); Roots (2016); Madiba (2017); Siberia (2018); en Trackers (2019). 3 Hy het ook rolle in kortfilms soos ThoughtsLost en Voëltjie gespeel. Alexander was in 2004 die mede-aanbieder van die werklikheidstelevisieprogram Project Fame op M-Net. 4

Vervaardiger

James en sy vrou, Anel, het 2004 ’n produksiemaatskappy genaamd Scramble Productions op die been gebring. Dit was glo die naam van die eerste toneelstuk waarin hulle saam opgetree het.

Hulle het saam die rolprente Discreet, Semi-Soet en Sink vervaardig. Discreet is in November 2008 vrygestel en Semi-Soet in Februarie 2012. Dit het een van die Afrikaanse rolprente geword wat die beste nóg by die loket gevaar het. Die drama Sink is in Maart 2016 vrygestel. Sink het verskeie toekennings by internasionale rolprentfeeste verower. Sink is in 2017 by die Suid-Afrikaanse Rolprent- en Televisietoekennings met die prys vir die beste rolprent bekroon. 5

Woordbank

bekroon ’n Prys ontvang.
eisteddfods Kunswedstryde.
loket Die plek waar kaartjies by ’n rolprent(teater) verkoop word. As daar gepraat word van iets wat goed of sleg by die loket vaar, verwys dit na kaartjieverkope.
musiekblyspel Fliek- of teaterproduksie waarin die dialoog afgewissel word met sang en dans.
omroeper Persoon wat by ’n radiostasie programme aanbied.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

James en Anel Alexander op die program Top Billing

Die paartjie praat oor hul verskyning in Geraamtes in die kas

Net nadat hulle na Suid-Afrika teruggekeer het

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Maart 2024 | Bygewerk op 13 Maart 2024