Vinnige feite

  • Geelsug is een van die algemeenste toestande by pasgebore babas. 10
  • Na raming ontwikkel 6 uit elke 10 babas geelsug, terwyl 8 uit 10 babas wat te vroeg gebore is (voor die 37ste week van swangerskap) geelsug ontwikkel.
  • Slegs ongeveer 1 uit 20 babas se bilirubienvlak is só hoog dat behandeling nodig is.
  • Persone met sekere oorerflike toestande loop ’n groter risiko om geelsug te ontwikkel. Sommige toestande sluit in Gilbert se sindroom, talassemie, hemolitiese anemie en oorerflike sferositose. 11
Foto: iStock

’n Mens se liggaam verklap dikwels baie geheime oor ons gesondheid. Soms hoef ’n dokter net in ons oë of na ons velkleur te kyk om te weet dat ons ’n onderliggende siektetoestand het.

Een só ’n siekte is geelsug (Engels: jaundice), waar die wit van ’n mens se oë, jou velkleur en selfs jou urine se kleur wissel van geel tot selfs bruin in uiterste (ernstige) gevalle. Dit dui gewoonlik daarop dat daar probleme met jou lewer is. Hoewel geelsug meestal by babas voorkom, kan volwassenes ook geelsug kry.

Oorsake van geelsug

’n Mens kry geelsug as jou liggaam nie bilirubien (’n galkleurstof of galpigment) behoorlik verwerk en uitskei nie. Bilirubien is ’n geel afvalstof wat in die bloedstroom bly nadat die liggaam yster uit die bloed opgeneem het. 1

Die lewer se werk is om afval uit die bloed te verwyder. Wanneer bilirubien die lewer bereik, bind dit met ander chemikalieë. Die resultaat is ’n stof wat ons gekonjugeerde (saamgevoegde) bilirubien noem.

Die lewer produseer op sy beurt gal, ’n verteringsap, wat met die gekonjugeerde bilirubien meng en deur die liggaam uitgeskei word. Dit is bilirubien wat ontlasting sy bruin kleur gee. As daar egter te veel bilirubien in die liggaam is, kan dit in die omliggende weefsel beland. Dit staan bekend as hiperbilirubinemie, en dit veroorsaak die geel kleur van die vel en oë.

Ander oorsake van geelsug, veral by volwassenes, sluit in:

  • Hepatitis: Dit word meestal deur ’n virus veroorsaak. Dit kan van korte duur (akuut) of chronies wees, wat beteken dat dit minstens ses maande lank duur. Met verloop van tyd kan dit die lewer beskadig en tot geelsug lei.
  • Alkoholverwante lewersiekte: As jy oor ’n lang tydperk te veel drink, gewoonlik 8 tot 10 jaar, kan dit die lewer ernstig beskadig. Veral twee siektes, alkoholiese hepatitis en alkoholiese sirrose, verswak die lewer.
  • Geblokkeerde galbuise: Dit is dun buise wat gal uit die lewer en galblaas na die dunderm vervoer. Soms word dit geblokkeer deur galstene, kanker of skaars lewersiektes. Dit kan geelsug veroorsaak.
  • Pankreaskanker: Dit is die soort kanker wat die tiende meeste by mans en negende meeste by vroue voorkom. Dit gaan gewoonlik gepaard met die blokkering van die galbuis, wat geelsug veroorsaak.
  • Sekere medisyne: Middels soos penisillien, geboortebeperkingspille en steroïede word ook met lewersiekte verbind. 2

Soorte geelsug

Daar is drie hooftipes geelsug:

  • Hepatosellulêre geelsug kom voor as gevolg van ’n lewersiekte of besering; 1
  • Hemolitiese geelsug is as gevolg van hemolise, of ’n versnelde afbreek van rooibloedselle, wat lei tot ’n toename in die produksie van bilirubien; en
  • Obstruktiewe geelsug. Dit is wanneer daar ’n obstruksie in die galbuis is wat keer dat bilirubien deur die lewer uitgeskei word.

Simptome van geelsug

Soms toon iemand met geelsug geen simptome nie en word die siekte per ongeluk ontdek. Benewens ’n geel gelaatskleur en verkleuring van die wit van die oë, is daar ander, ernstiger simptome wat met geelsug gepaardgaan. Dit sluit in: 3

  • Vel wat jeuk
  • Naarheid en braking
  • Rektale bloeding
  • Diarree
  • Koors en kouekoors
  • Swakheid
  • Gewigsverlies
  • Verlies van eetlus
  • Verwarring
  • Maagpyn
  • Hoofpyn
  • Swelling van die bene
  • Swelling van die buik as gevolg van die ophoping van vloeistof. 4

Hoe word geelsug gediagnoseer?

Soms is dit maklik om die fisieke tekens van geelsug te sien, maar die onderliggende oorsaak word dikwels op verskeie maniere bepaal: 5

  • Daar kan verskillende bloedtoetse gedoen word. Dit sluit in ’n volbloedtelling, bloedkulture, lewerensiem- en hepatitistoetse.
  • Ultrasonografie (sonar) van die buik word gedoen om blokkasies in die galbuise op te spoor. ’n Gerekenariseerde tomografie (CT)-skandering, magnetiese resonansiebeelding (MRI) of ander toetse om die vloei van gal deur die lewer te evalueer, kan ook gebruik word.
  • As daar vermoed word dat die persoon virale hepatitis het, dwelms gebruik of aan ’n gifstof blootgestel is (of as ’n diagnose onduidelik is), kan ’n lewerbiopsie (waar ’n stukkie van die lewer verwyder en ontleed word) nodig wees.
  • ’n Laparoskopie word in uiterste gevalle uitgevoer. Hier maak die dokter ’n klein snytjie onder die naeltjie en gebruik ’n buis met ’n kamera (laparoskoop) om die lewer en galblaas te ondersoek.

Hoe word geelsug behandel?

Die behandeling van geelsug hang af van die onderliggende oorsaak. Die oorsaak pleks van die simptome word behandel. Behandeling kan die volgende insluit: 6

  • Geelsug wat deur bloedarmoede (anemie) veroorsaak word, kan behandel word deur die hoeveelheid yster in die bloed te verhoog deur ysteraanvullings te neem of meer ysterryke voedsel te eet. In uiterste gevalle kan ’n bloedoortapping nodig wees.
  • Vir geelsug wat deur hepatitis veroorsaak word, word antivirale of steroïedmedikasie deur ’n dokter voorgeskryf.
  • Indien die geelsug deur ’n obstruksie (blokkasie) veroorsaak word, kan die obstruksie chirurgies (tydens ’n operasie) verwyder word.
  • As die geelsug deur die gebruik van medikasie veroorsaak word, kan die dokter ander medikasie voorskryf.

Geelsug by babas

Geelsug is ’n algemene toestand by babas, veral by babas wat voor 38 weke gebore is (premature babas) en by sommige babas wat geborsvoed word. Geelsug by babas kom gewoonlik voor omdat ’n baba se lewer nie voldoende ontwikkel het om van die bilirubien in die bloedstroom ontslae te raak nie. By sommige babas kan ’n onderliggende siekte geelsug veroorsaak. 8

Babas word gewoonlik in die hospitaal ná geboorte vir geelsug ondersoek, maar dit is moontlik dat geelsug eers tuis, ’n paar dae ná geboorte wanneer die bilirubienvlakke op sy hoogste is, sigbaar is.

Risikofaktore vir geelsug by babas

Die belangrikste risikofaktore vir geelsug, veral ernstige geelsug wat komplikasies kan veroorsaak, sluit in: 8

  • Premature geboorte. ’n Baba wat voor 38 weke van die swangerskap gebore is, sal moontlik nie bilirubien so vinnig kan verwerk soos volwassenes nie. Premature babas drink dalk minder, wat weer tot verminderde uitskeiding van bilirubien lei.
  • Pasgeborenes wat tydens die bevalling gekneus word, kan hoër bilirubienvlakke hê as gevolg van die afbreek van meer rooibloedselle.
  • As die ma se bloedgroep van haar baba s’n verskil, het die baba moontlik teenliggaampies deur die plasenta ontvang wat abnormale vinnige afbreek van rooibloedselle veroorsaak.
  • Babas wat geborsvoed word, veral kinders wat sukkel om te suig om genoeg voeding tydens borsvoeding te kry, loop ’n groter risiko vir geelsug. Dehidrasie of ’n lae kalorie-inname kan bydra tot geelsug.

Hoe word geelsug by babas behandel?

Behandeling hang af van die oorsaak van die geelsug, die bilirubienvlakke in die bloed en die ouderdom van die baba. Ligte geelsug verdwyn gewoonlik ná ’n week of twee, aangesien die baba se liggaam self begin om van die ekstra bilirubien ontslae te raak. 9

By ’n pasgeborene met geelsug wat geborsvoed word, moet die ma haar baba meer gereeld borsvoed. As die baba nie genoeg borsmelk kry nie, kan die dokter aanbeveel om die baba se voeding met formulemelk aan te vul. Vir ernstiger gevalle van geelsug, moet die behandeling so gou as moontlik begin.

Dit kan insluit:

  • Bykomende vloeistof: Te min vloeistof (dehidrasie) sal die bilirubienvlakke in die bloed laat styg.
  • Fototerapie: Babas lê onder ligte of in die son sodat hul vel aan die lig blootgestel word. Die lig verander die bilirubien sodat dit makliker deur die liggaam uitgeskei kan word.
  • Bloedoortapping: Hierdie noodprosedure word uitgevoer as baie hoë bilirubienvlakke nie met fototerapie afneem nie. Die baba se bloed word vervang deur die bloed van ’n skenker om die bilirubienvlakke vinnig te verlaag.
  • Intraveneuse (binneaarse) immunoglobulien (IVIg): Babas met onversoenbare bloedtipes kan binneaarse behandeling ontvang om teenliggaampies te keer wat rooibloedselle aanval.

Woordbank

bilirubien
Oranjegeel pigment wat in gal voorkom.
gal
Bitter groenerige/geelbruin vloeistof wat deur die lewer afgeskei word.
geelsug Virussiekte waarby die weefsels van die liggaam geel gekleur is deur die aanwesigheid van ‘n groot hoeveelheid galkleurstof in die bloed.
komplikasies
Probleem/situasie/omstandigheid wat dit moeiliker maak om iets te hanteer/beheer/verstaan.
teenliggaampies Stof wat die werking van ‘n ander (dikwels skadelike stof) teengaan.

Lees hierdie om meer oor geelsug te wete te kom

Kyk hierdie insiggewende video’s oor geelsug

Waarom kry babas dikwels geelsug?

Die oorsake, tekens en simptome van geelsug

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Desember 2021 | Bygewerk op 13 Maart 2024