Vinnige feite

  • Volgens legende is Temujin met ’n bloedklont in sy hand gebore. In Mongoolse volksoorlewerings het dit beteken dat hy ’n groot leier sou word. 4
  • Genghis het nie toegelaat dat enigiemand hom teken, skilder of ’n beeld van hom maak nie. 1 Ons weet dus nie hoe hy regtig gelyk het nie – alle uitbeeldings van hom is ná sy dood gemaak, en meestal deur mense wat hom nie geken het nie. 3
  • Hy het blykbaar eenmaal aan ’n vyand gesê: “Ek is ’n wapen van God. As jy nie groot sondes gepleeg het nie, sou God nie ’n straf soos ek op jou laat kom het nie.” 4
  • Moderne DNS-toetse het bewys dat omtrent 8% van mans in Mongolië van dieselfde familie – omtrent verseker Genghis s’n – afstam. 2
  • Sy kleinseun, Kublai Khan, was die khan van Mongolië en ook die stigter van die Yuan-dinastie wat China tussen 1279 en 1368 regeer het. 9
  • “Pax Mongolica” kom van die term “Pax Romana” – ’n tydperk van vrede onder Romeinse beheer tussen omtrent 27 v.C. en 180. 10

In die laat 12de eeu het Genghis Khan – wat “allesomvattende regeerder” beteken – in 25 jaar dubbeld soveel grondgebied as enige ander mens in die geskiedenis verower. Op die grootste het sy ryk 20 moderne lande ingesluit!

Genghis Khan het dit reggekry deur idealistiese leierskap, buitengewone effektiewe organisasie, verpletterende militêre mag en die gewilligheid om, waar nodig, elke mens voor hom te vernietig.

Inligting oor Genghis Khan

Die Mongole het nie aan die begin van Genghis Khan se bewind ’n skryfstelsel gehad nie, en die bronne wat ons oor Genghis Khan se lewe het, is óf na sy dood óf deur buitelanders geskryf.

Die meeste inligting kom uit die boek Die Geheime Geskiedenis van die Mongole, die oudste bestaande werk oor Mongoolse geskiedenis en letterkunde. 1

Die wêreld waarin hy grootgeword het

Genghis Khan se naam by geboorte was Temujin (soms geskryf Temüjin of Temuchin). Hy is êrens tussen die jare 1155 en 1165 gebore, 2 naby die grens tussen die teenswoordige Mongolië en Siberië, op die sentraal Asiatiese steppe. 1

Die wêreld waarin Temujin grootgeword het, se mense was gewelddadig, onvoorspelbaar en bloeddorstig. 1 Mongolië was opgedeel tussen honderde verskillende stamgroepe, oftewel clans, wat mekaar oor en weer aangeval en beroof het. 3

Temujin se pa was Yesukhei (Yesükai of Tesüge), die leier van die Borjigin-clan. Die Borjigin-clan het uit 40 000 families, of tente, soos hulle dit genoem het, bestaan. 3 Die Borjigin was ’n onbelangrike clan wat gejag en nie geboer het nie. 2

Sy ma, Hoelun, is deur sy pa se clan ontvoer toe sy op pad was na haar troue toe met ’n ander man. 2 Dit was ’n algemene gebruik in daardie dae om ʼn vrou gevange te neem en haar dan te dwing om met die gevangenemer te trou. 3 Sy was Yesukhei se tweede vrou, en Temujin was sy tweede seun. 2

Oorlewing

Toe Temujin nege jaar oud was, het sy pa hom na ’n naburige clan geneem om te ’n bruid te kry. Sy toekomstige bruid se naam was Börte (ook Borte of Borje). 2

Op pad terug is sy pa deur ’n vyandelike clan, die Tatare, vergiftig. 4

Hulle ou clan het Yesukhei se familie – sy twee vroue en 7 kinders – verban om in die wildernis te gaan oorleef. Die familie het van wortels, knaagdiere en vis geleef. 2

Temujin het sy ouer halfbroer, Bekhter (ook Begter), in ’n dispuut oor die buit van ’n jagekspedisie doodgemaak. 3 Hy het daarna oorgeneem as hoof van sy brandarm gesin. 1

Hy is kort hierna gevang en tot slaaf gemaak, moontlik as straf vir hierdie misdaad. 2 Ná vyf jaar was hy weer vry, moontlik ná hy ontsnap het. 1 Daarna het hy vir Börte opgespoor en met haar getrou. 2

Temujin het Börte se bruidskat gebruik om ’n bondgenootskap met Ong Khan, die leier van die Kereyid (ook Kerait)-clan, aan te gaan. 2

Kort hierna is Börte ontvoer en aan ’n ander clan se hoofman as vrou gegee. 4 Temujin het ’n waaghalsige strooptog van stapel gestuur en haar gered. 1

Temujin begin sy mag opbou

Temujin se doelwit was om die Mongole onder sy beheer te verenig. 4

Hy het bondgenootskappe aangegaan, sy reputasie as krygsman gevestig, en gou volgelinge bymekaar gemaak. 1

Hy het aanvanklik ’n krygsmag gevorm met sy broers en ander stamgenote. Dit het gou gegroei na ’n weermag met 20 000 soldate! 4

Konsolidasie van mag

Temujin het ’n kombinasie van militêre oorwinnings, bondgenootskappe, diplomasie, ruimhartigheid en wreedheid gebruik om sy mag uit te brei. 5 Anders as wat die gebruik was, het hy verkies om bevoegde mense eerder as familielede in belangrike poste aan te stel. 1 Hy het dapperheid onder sy vyande beloon.

Hy het die clans wat hy verower het, ’n keuse gegee: sluit aan of word afgemaai. Soos wat sy reputasie versprei het, het meer clans by hom aangesluit. 5 Indien hulle weerstand gebied het, het hy begin om lede van die clan tereg te stel. Die res het gewoonlik daarna ingestem om deel van sy clan te word. 1

Op militêre vlak het hy sy krygers in eenhede van 10 ingedeel, ongeag van familiebande. Dit het hulle lojaliteit aan hom versterk. 1

Temujin word Genghis Khan

Teen 1205 het Temujin meeste van sy vyande verslaan. Die res het nie ’n keuse gehad om hom as leier te aanvaar nie. Die grootste deel van Mongolië was nou onder sy beheer. 4

In 1206 het die Mongole ’n kurultai, of stamraadsvergadering, gehou. 5 By hierdie geleentheid is die nasie van Mongolië gestig. Die ander leiers het vir Temujin die titel Chinggis Khan gegee. Hierdie naam het in die Weste Genghis Khan geword. Genghis beteken “universele” of “allesomvattende”, en Khan “leier” of “regeerder”. 1

Die titel was nie net polities nie, maar ook spiritueel. Volgens hul animistiese geloof was hy die verteenwoordiger van Mongke Koko Tengri (die Ewige Blou Lug), die opperwese van die Mongole. Genghis Khan was ’n goddelike figuur en dit was sy lotsbestemming om te regeer. Om hom te misken, was dus om die wil van god te misken. 4

Genghis Khan se veroweringsbeleid

Genghis Khan se sukses het op twee bene gerus: uitstaande militêre taktiek en onmenslike wreedheid.

Militêre taktiek

Die Mongoolse hordes, soos wat die weermag bekend was, was ’n ruitermag. Hulle was goed opgelei en bedrewe. Die opleiding het op jag gefokus, want dit het hulle gedwing om aan hul wapens en perde gewoond te raak. 3 Die krygers moes hul perde net met hul bene stuur, wat hul hande vry gelos het om te skiet. Hulle was dodelik vinnig en dit was blykbaar iets skrikwekkends om te aanskou. 4

Genghis Khan het ’n elite lyfwagkorps van om en by 10 000 man geskep. Hy het hul lojaliteit verseker met spesiale behandeling, soos eerste keuse by die opdeling van buit en belangrike, goed betaalde regeringsposte. 5

Hy het ’n groot spioennetwerk geskep om sy vyande te infiltreer. 4

Hy het nuwe vegmetodes by sy vyande oorgeneem en dan teen hulle gebruik. 4 Die Mongole het byvoorbeeld nie beleëringsoorlog geken nie, maar het gou geleer. Hulle het buskruitmissiele by die Chinese en katapults by die Afghane oorgeneem. 5

Khan het militêre aanvoerders uit die magte wat hy oorwin het, aangestel. Dit het hul lojaliteit verseker en die Mongole ook gehelp om die nuwe vegmetodes te bemeester. 5

Hy het seker gemaak sy soldate is goed toegerus met wapens, kos, toerusting en ekstra klere. 4 Om jou ʼn idee te gee hoe goed sy soldate toegerus was – en dit in die dertiende eeu – kyk ons na ’n paar dinge: Khan het ’n gesofistikeerde seinstelsel, oftewel kommunikasiestelsel, van rook en brandende fakkels gebruik. Die gerommel van groot tromme was byvoorbeeld die teken om aan te val, en verdere bevele is met vlagseine oorgedra.

Elke soldaat was ten volle toegerus met ’n boog, pyle, ’n skild, ’n dolk en selfs ’n lasso (vangriem). Elkeen het ook groot saalsakke vir kos, gereedskap en spaarklere gedra. Die saalsak was waterdig en kon opgeblaas word om as reddingsboei te dien wanneer diep en vinnigbewegende riviere oorgesteek word. En boonop het elke kryger tot 16 perde as reserwe gehad! 5

Bo en behalwe die toerusting van die krygers, was daar georganiseerde toevoerlinies wat kos vir mens en dier aangery het. 4

Khan het ook ander vorms van kommunikasie gebruik en ’n posstelsel geskep wat boodskappe vinnig van die een kant van sy ryk tot by die ander kon neem. 4

Wreedheid

Khan het enigiemand wat hom teëgesit of verraai het, genadeloos afgemaai.

Hy het sy pa se dood gewreek deur die Tataar-clan basies uit te wis. Elke manlike Tataar wat langer as omtrent ’n meter was, is doodgemaak.

Toe hy die Taichi’ut, die clan wat hom ontvoer het, oorwin het, het hy al hulle hoofmanne lewendig gekook! 4

In die Persiese stad Merv het hy almal (buiten 400 ambagsmanne) – mans, vroue en kinders – laat vermoor. Elkeen van sy soldate het ’n kwota gekry van die 300 of 400 mense wat hulle moes doodmaak. 6

Genghis Khan skep ’n ryk

Soos wat sy ryk in Mongolië gegroei het, het kos en ander natuurlike hulpbronne soos hout skaars geraak. Genghis Khan moes dus sy ryk se grense uitbrei.

Xi Xia (China)

Sy eerste veldtog was teen die Xi Xia-koninkryk (ook Hsi Hsia; deel van die Tangut-koninkryk) 7 in die noordweste van China in 1207. Ná twee jaar het hy hulle gedwing om oor te gee en hulle aan hom te onderwerp. 4

In 1215 het hy ’n tweede veldtog teen die Xi Xia van stapel gestuur. 5 Zhondu (vandag se Beijing) is deur die Mongole beset en het vir ’n maand lank gebrand. 7

Meer as tien jaar later het die Xi Xia in opstand gekom en geweier om troepe te stuur vir sy uitbreiding in die weste. 1

Khan se troepe het hulle dus weer ingeval, oorwin, en die hoofstad geplunder. Die koninklike familie is tereggestel. 4 Die Mongoolse aanval het die Xi Xia-kultuur basies vernietig. 6

Jin-dinastie

In 1211 het hy die Jin-dinastie (ook die Jurched-dinastie) 2 in die noorde van China aangeval, ná hulle daarop aangedring het dat hy homself aan hulle onderwerp. 1 Hulle was boonop ryk aan natuurlike hulpbronne en skatte. 4 Teen 1214 is hulle oorwin. 2

Die volgende jaar het hulle hul hoofstad suid geskuif. As ondergeskikte moes hulle hom daaroor geraadpleeg het. Hy het dit nie aanvaar nie, en hulle weer aangeval. 5

Dit was ’n bloedige veldtog. Een taktiek wat hulle gebruik het, was om ’n stad aan te val, te plunder, en dan weer terug te val. Wanneer die Chinese teruggekeer het om die stad op te bou, het hulle weer aangeval, en die proses soms drie of vier keer herhaal. 5

Die veldtog het amper 20 jaar geduur. 4 Die Jin-staat het uiteindelik in 1234 ineengestort. 5 Teen hierdie tyd was die bevolking van noordelike China sowat ’n derde van wat dit was voor die Mongole ingeval het. 3

Khwarezm-ryk

Genghis Khan wou met die Khwarezm-ryk (ook Khwarazm of Khwãrezmiam) handel dryf. Dié ryk het gestrek oor die teenswoordige lande van Turkmenistan, Oesbekistan en Afghanistan, 1 met die middelpunt in Iran (of Persië, soos dit vroeër bekend was). 3

Genghis Khan het handelaars na die sultan van die ryk gestuur. Die sultan het hulle egter nie vertrou nie, en hulle is vermoor en hul goedere gebuit. Die sultan het ook Mongoolse ambassadeurs vermoor. 1

Genghis Khan was woedend, en het in 1219 oorlog verklaar. Hy het self die veldtog beplan. 4

Altesaam 200 000 Mongoolse soldate het teen die Khwarezm-magte opgetrek. 4 Selfs teen Genghis Khan se standaarde gemeet, was dit ’n bloedige veldtog. 7 Op party plekke is geen lewendige ding gespaar nie – mense en diere is voor die voet doodgemaak. 4 Stede is geplunder en landerye en besproeiing is vernietig. Waar die inwoners nie onmiddelik doodgemaak is nie, is hulle as menslike skilde gebruik. 7 Die Mongole het van stad tot stad gegaan tot hulle uiteindelik die sultan gevind het. Hy en sy seun is vermoor. 4

Pax Mongolica

Die tydperk van Genghis Khan se bewind staan soms as die Pax Mongolica bekend. 4

Vir die miljoene mense wat deur sy hordes aangeval en verower is, was hy die duiwel self. Die inwoners van Mongolië en sy ryk in Sentraal-Asië het hom egter aanbid. 2

Toe hy gebore is, het die Mongole nie ’n skryfstelsel gehad nie, soos reeds genoem. Ná hulle met die Uyghur Turke (in die noordweste van waar China vandag is), in kontak gekom het, het Genghis daarop aangedring dat die Mongoolse taal in die skrif van die Uyghurs omgesit moet word. 5

Die Yassa

Noudat hulle kon skryf, kon hulle hul regskode, die Yassa (of Yasa), neerskryf. 5 Die Yassa was ’n versameling van:

  • Mongoolse gemene reg, met ander woorde die bestaande wette wat clans gebruik het; 4
  • Mongoolse sjamanisme, met ander woorde reëls wat deur hul geloof voorgeskryf is; 3
  • Genghis se eie wette om die oorsake van stamoorloë te keer. 1

Die Yassa het byvoorbeeld die volgende verbied:

  • Bloedvetes
  • Egbreuk
  • Diefstal
  • Om bewustelik leuens te versprei 4
  • Die ontvoering en verkoop van vroue
  • Die verknegting van enige Mongoolse burgers
  • Marteling 6

Die meeste oortredings van die Yassa is verreweg met die doodstraf gestraf. 1

Hervormings

Buiten die aanneming van ’n skryfstelsel, was Genghis ook ’n baanbreker op ’n paar ander gebiede:

  • Sensusse. Dié is gereeld uitgevoer sodat Genghis kon weet wat in sy ryk aangaan.
  • Diplomatieke immuniteit. Buitelandse ambassadeurs is vrygestel van sekere Mongoolse wette.
  • Godsdiensvryheid. Die regte van alle gelowe is beskerm en mense kon vry hul eie geloof beoefen. Sy troepe is verbied om gelowige leiers soos priesters of mollas dood te maak. 2
  • Berede koeriers is op strategiese plekke geplaas sodat hulle boodskappe vinnig van een kant van die ryk na die ander kon neem.
  • Handel is aangemoedig en handelaars is beskerming gegee.

In baie gebiede wat hy oorgeneem het, is die plaaslike regeerders toegelaat om aan te hou regeer. Hulle moes net hulself aan die Mongole se oppergesag onderwerp. 5

Genghis het die Mongole se sosiale struktuur totaal hervorm. 2 Posisies in regering en die weermag was volgens verdienste, nie op oorerflikheid of etnisiteit nie, gebaseer. 4 Enigiemand met talent kon dus tot ʼn hoë posisie bevorder word. 2

Genghis wou ’n ryk van vrede en vooruitgang te skep. Hy het dit tot ’n groot mate reggekry. Sy hervormings het ’n tydperk van kulture ontwikkeling en opbloei van kuns ingelui. 8

Dood

Daar is nie eenstemmigheid oor hoe Genghis gesterf het nie.

Een weergawe is dat hy gedurende ’n veldtog teen die Xi Xia in 1227 van ’n perd afgeval het. 4 Hy is beseer, maar het met die veldtog voortgegaan. Hy het egter nie herstel nie en op 18 Augustus 1227 gesterf. 1

Ander bronne beweer hy het aan ’n longsiekte gesterf, 4 en nog ander sê weer aan die builepes. 3 Daar is ook ’n storie dat hy deur ’n Chinese prinses, wat hy gevange geneem het, vermoor is. 6

Ogedei, sy seun en opvolger, het volgens een oorlewering 40 slawemeisies en 40 perde geslag en geoffer om hom ná sy dood na die volgende lewe te vergesel. 5

Niemand weet waar hy begrawe is nie. Almal wat naby die plek waar hy begrawe is, vertoef het, is ná die tyd vermoor. ’n Rivier is selfs verlê om oor sy graf te loop, sodat dit onmoontlik was (en steeds is!) om sy laaste rusplek te vind. 4

Persoonlike lewe en opvolging

Khan het in 1178, toe hy omtrent 16 was, met Börte getrou.

Saam met Börte het hy vier seuns en ’n onbekende aantal dogters gehad. 1 Haar seun, Jochi, was moontlik nie syne nie, omdat die seun gebore is ná Genghis ontvoer is. Genghis het hom egter as sy eie aanvaar en grootgemaak.

Hy het ook baie ander vroue en kinders gehad. Slegs sy manlike erfgename met Börte kon hom egter opvolg. 4

Leierskap van die Mongole is aan sy derde seun, Ogedei (Ögedeu of Ögodei), 3 gegee. 5

Onder Ogedei het die ryk meer uitgebrei: na Oos-Europa, die Midde Ooste en die Balkan. Die Mongole het amper tot by die hekke van Wene in Oostenryk gevorder toe Ogedei gesterf het. Hulle het teruggedraai en nooit weer so ver gevorder nie. 4

Nalatenskap

Genghis Khan het in 25 jaar ’n ryk geskep wat groter was, met meer mense in, as wat die Romeine in vier eeue kon regkry! 3 Dit is die grootste aangrensende ryk ooit, 1 en die tweede grootste ryk van alle tye, naas die Britse Ryk van die vroeg 20ste eeu. 4

Sy ryk het grondgebied in die volgende teenswoordige lande ingesluit: China, Mongolië, Rusland, Azerbeidjan, Armenië, Georgië, Irak, Iran, Turkye, Kasakstan, Kirgistan, Oesbekistan, Pakistan, Tadjikistan, Afghanistan, Turkmenistan, Moldawië, Suid-Korea, Noord-Korea, en Koeweit. 6

Mongoolse verowering het ’n reuse-impak op daardie gebiede se geskiedenis gehad:

  • In die eerste plek was daar meer direkte kontak tussen Oosterse en Westerse beskawings. 1
  • Miljoene mense het as ’n direkte gevolg van Genghis se beleid gesterf. 5 Daar het na raming 40 miljoen gesterf, of omtrent 11% van die wêreld se bevolking in daardie tyd. Vergelyk dit met Tweede Wêreldoorlog, waar 3% van die wêreld se bevolking gesterf het. 6
  • Ghenghis en sy troepe het ontelbare vroue verkrag. 6 Moderne DNS-toetse het gewys dat 1 in 200 mans wêreldwyd van die Mongole afstam. 7

Woordbank

aangrensende Naburig, net oor die grens; naasliggend, aanliggend.
afgemaai In groot getalle laat sterf.
afstam Iemand se nakomeling.
ambassadeurs Verteenwoordiger van ’n land in ’n ander land.
animistiese Geloof waar jy glo alle voorwerpe in die natuur het ’n siel.
baanbreker Iemand wat nuwe terreine ontsluit; voorloper; pionier.
Balkan Die gebied in die suidooste van Europa.
beleëringsoorlog Oorlog waar jou leër/weermag stede omsingel met die doel om tot oorgawe te dwing.
bemeester Om iets baas te raak; om te leer om dit goed te doen.
berede Te perd: ’n berede soldaat; berede polisie.
beskawings ’n Gemeenskap met ’n hoë vlak van organisasie en ontwikkeling.
besproeiing Stelsel waardeur water afgelei word en voorsien word aan verskillende gedeeltes, soos in ’n tuin of landerye.
bevoegde Iemand wat bekwaam of in staat is om iets te doen.
bloeddorstig As iemand graag wil moor/wreed is.
bloedige Met baie bloedvergieting; moorddadig, wreed.
bloedvetes Vyandskap tussen families wat oor lang jare hou en tot bloedvergieting kan lei.
bondgenootskap Vereniging of verbond tussen mense/volke.
builepes Dit is ʼn dodelike pessiekte wat etterswere op die liggaam laat uitkom. Dit staan ook bekend as die Swart Dood vanweë die swart kolle wat op ’n slagoffer se vel verskyn.
buit Om voorrade soos wapens, ammunisie, kos en klere in ’n oorlog by die vyand af te neem.
buskruitmissiele Missiele met ’n plofbare mengsel wat afgevuur word en dan ontplof.
diplomasie Wanneer jy op taktvolle wyse met iemand kan onderhandel.
diplomatieke immuniteit Wanneer ambassadeurs nie aan die wette van die land waar hulle werk, ondergeskik nie.
dispuut ’n Geskil of twis.
dolk Lang, skerp steekmes.
duiwel self Iemand wat vrees inboesem.
effektiewe Doeltreffend en geslaagd.
elite Die keur; uitgesoek, die beste.
etnisiteit Volkekundige verwantskap/eiesoortigheid.
gemene reg Wette wat nie op wetboeke staan nie, maar in informele howe gebruik word.
geoffer Wanner jy iets aan God of ’n godheid gee, soos ’n dier, voedsel, drank of ’n kosbare voorwerp, om daarmee dankie te sê, lof te betuig of jammer te sê.
geplunder Roof of steel.
geraadpleeg Om iemand se raad te vra.
hordes Woeste bendes, troep barbare.
idealistiese Iemand wat hoë standaarde het dit probeer uitleef.
infiltreer Om stil en onopgemerk iets binne te gaan.
ingelui Die begin van ’n gebeurtenis, tydperk, ens. aankondig.
katapults Krygsmajien waarmee mens groot klippe of spiese na die vyand toe gooi.
knaagdiere Diersoort gekenmerk deur twee skerp voortande aan elke kakebeen (bewer, rot, ens.)
koeriers Iemand wat boodskappe of goedere van een plek na ’n ander neem.
konsolidasie Iets wat versterk of verenig is.
krygsmag Oorlogsmag; volledige militêre mag.
krygsman Soldaat/kryger, stryder, vegter.
kwota Die deel wat ’n mens kry as goed uitgedeel word of die deel wat jy tot iets moet bydra.
lojaliteit Om lief te wees vir of getrou aan byvoorbeeld jou skool, ’n leier of jou land.
lotsbestemming Wanneer jy glo dat dit wat met jou gebeur, so bedoel is.
lyfwagkorps ’n Groep wag wat verantwoordelik is vir die persoonlike veiligheid van ’n belangrike persoon.
marteling Iemand moedswillig baie seer maak.
menslike skilde Om ’n mens te gebruik om te keer dat die vyand se spiese of pyle jou tref.
misken Om nie iets se waarde te eer nie.
mollas Onderwyser en uitlêer en van die wette en leerstellings van die Islamitiese geloof.
Mongole ’n Groot groep Mongoolssprekende stamme wat in die dertiende eeu onder die heerskappy van Genghis Khan verenig is.
nomadiese Rondtrekkend, swerwend.
ondergeskikte Om aan iemand onderwerp te wees en dus moet doen wat hulle sê.
onderwerp Om iemand se gesag te erken, veral wanneer jy geen keuse het nie.
oorerflikheid Iets wat jy kry by jou ouers of grootouers.
opbloei Goed ontwikkel en kragtig en suksesvol word.
oppergesag Die hoogste gesag wat daar is, gewoonlik ’n goddelike figuur.
Pax Mongolica Tydperk van vrede en vooruitgang onder Mongoolse beheer.
polities Staatkundig
priesters Godsdienstige leier.
regskode Die dokument wat al die wette van ’n land bevat.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
ruimhartigheid Mededeelsaamheid, vrygewigheid.
ruitermag Weermag waar al die soldate op perde ry.
sentrale regerings Wanneer ’n gebied een regering en een stel reëls het, in plaas daarvan dat elke klein dorpie of ’n paar plase byvoorbeeld sy eie regering het.
sensusse ’n Land hou ’n sensus om die inwoners van die land te tel en allerhande nuttige statistiek saam te stel.
sjamanisme Geloof waar die sentrale figuur ’n spirituele leier is wat met onsigbare kragte en geeste verbind is.
sosiale struktuur Die manier hoe ’n samelewing aanmekaargesit word.
steppe Uitgestrekte grasvlakte.
strategiese Plekke wat goed geleë is.
strooptog Die ander woord vir strooptog is rooftog. Dit word gewoonlik gebruik wanneer ’n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal) uitvoer.
sultan Moslemkeiser, opperheer, gebieder in die Ooste.
teenswoordige Die huidige naam van iets.
tereg te stel Met die dood te straf.
toevoerlinies Die handeling van iets iewers te lewer in lyne.
van stapel gestuur Iets begin; aan die gang kry.
verlê Om die rivier se gang te verander.
verdienste Volgens die gehalte van jou werk.
vergesel Om saam met iemand iewers heen te gaan.
verknegting Om iemand ’n slaaf te maak.
verpletterende Vernietigend.
verraai Om terug te gaan op ’n belofte.
verteenwoordiger ’n Persoon wat aangestel is om iemand anders te verteenwoordig, om namens hom op te tree.
voor die voet Alles, sonder onderskeid of uitsondering; sommer net so.
vrygestel Om aan iemand vryheid te gee.
waaghalsige Waag maklik kanse; loop risiko’s.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Genghis Khan

Video’s oor Genghis Khan

Die Mongoolse Ryk

Wie was die Mongole?

Die storie van Genghis Khan (animasie)

Khan, die grootste oorwinnaar in die geskiedenis?

Khan se oorlogstrategie

10 verstommende feite oor Genghis Khan

Dinge oor Genghis Khan wat jy dalk nie geweet het nie

Foto: ShutterstockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2024 | Bygewerk op 20 Februarie 2024