Vinnige feite

  • Die eerste lynskepe is vanaf 1840 in die Noord-Atlantiese Oseaan gebruik.
  • Die Titanic was 11 verdiepings hoog.
Foto: iStock

Skepe is baie eeue gelede reeds gebruik om mense en goedere op water te vervoer.

Die Egiptenare was moontlik die eerste mense wat skepe so op die see gebruik het – reeds teen ongeveer 1500 v.C. Die Grieke en Romeine en ander volke het ook van watervervoer gebruikgemaak.

In Asië het Chinese skepe teen 200 v.C. voedsel oor water na hul groot stede vervoer. 1

Definisie van ’n lynskip

’n Lynskip vaar met ’n vasgestelde skedule of reisplan tussen vasgestelde hawens. Hierdie skepe word gebruik om vrag en passasiers heen en weer te vervoer. 1

Eerste lynskepe

Die eerste lynskepe is vanaf 1840 in die Noord-Atlantiese Oseaan gebruik. Hierdie eerste skepe het aan Samuel Cunard van Brittanje behoort.

Later het lynskepe van Frankryk, Duitsland en die VSA ook op hierdie roete begin vaar. Die verskillende lande het gekyk wie se skepe die vinnigste kon vaar, die grootste kon wees en die beste geriewe vir hul passasiers kon bied. Die skepe van die Cunard-skeepsredery was vir baie jare steeds die beste van al hierdie skepe.

Die hoogtepunt van hierdie lynskepe se bestaan was vanaf die 19de eeu tot ongeveer die middel van die 20ste eeu.

Enkele voorbeelde van bekende en beroemde skepe uit hierdie jare is die volgende

  • RMS Mauretania, RMS Lusitania, RMS Aquitania, RMS Queen Mary en RMS Queen Elizabeth (almal Britse skepe van die Cunard-skeepsredery).
  • SS Vaterland (Duitsland).
  • SS Normandie (Frankryk).
  • SS United States (VSA). 1

 

White Star Line-skeepsredery

Nog ’n Britse maatskappy het begin skepe bou om kompetisie te wees vir die Cunard-skeepsredery. Hierdie maatskappy se naam was die White Star Line. Hulle wou liewer passasierskepe bou wat baie weelderig was in plaas van skepe wat net baie vinnig kon vaar.

White Star Line wou die Noord-Atlantiese skeepsroetes probeer oorheers. Met hul luukse skepe, wou hulle ryk en beroemde mense lok om op hul skepe te vaar. 2

Die eerste skepe van hierdie maatskappy, was die RMS Olympic, RMS Titanic en HMHS Britannic.

Olympic

Toe die Olympic in 1911 klaar gebou is, was dit waarskynlik die mees luukse skip in die hele wêreld. Dit was toe die langste skip met ʼn lengte van 269 meter. Die skip kon 2 300 passasiers vervoer.

RMS Olympic

Titanic

Die Titanic is moontlik die heel bekendste skip in die geskiedenis van skeepvaart. Die verhaal van die reuseskip wat gebou is om nooit te kon sink nie – en toe wel gesink het – was groot nuus in die wêreld. En die bekende rolprent (Titanic) oor die Titanic se ongeluk het verder daarvoor gesorg dat meeste mense van hierdie skip weet.

Daar was ook immigrante aan boord van die Titanic. Soos ander lynskepe, wou die Titanic immigrante wat tussen 1900 en 1914 vanaf Europa na die VSA wou verhuis, vervoer omdat hierdie passasiers ’n belangrike inkomste vir die skeepsrederye was.

Konstruksie van vlak C van die Titanic

Britannic

Die Britannic is nooit as ’n lynskip gebruik nie en is gedurende die Eerste Wêreldoorlog as ’n hospitaalskip ingerig. Die skip het in 1916 gesink.

Enkele feite oor die Titanic

  • 10 April 1912: Die Titanic vertrek uit Southampton in Engeland op pad na New York in die VSA.
  • 11 April: Die skip laai nog passasiers by Cherbourg in Frankryk op en ook by Queenstown (wat vandag Cobh genoem word) in Ierland. Van daar begin die skip sy reis oor die Atlantiese Oseaan.
  • 14 April: Teen ongeveer twintig voor twaalf daardie nag tref die Titanic ’n ysberg. Die ysberg maak ’n groot skeur in die kant van die skip en water begin daar instroom.
  • 15 April: Daardie oggend om 02:20 sink die Titanic.  Daar was nie genoeg reddingsbote vir al die passasiers en bemanning nie en die seewater was ysig koud. Ongeveer 1 500 mans, vroue en kinders het daardie nag gesterf. Daar was 705 oorlewendes.
  • 1985: Die wrak van die Titanic word deur Robert D. Ballard kilometers diep in die Atlantiese see opgespoor.
  • Die Titanic was 269,1 m lank en was in daardie stadium die grootste bewegende voorwerp wat nog ooit gemaak is. Die skip se hoofanker het 15,5 ton (15 500 kg) geweeg en die skip was so hoog soos ’n gebou van 11 verdiepings.

Die vyf grootste lynskepe ter wêreld in 2023

Wonder of the Seas (Royal Caribbean)

Die grootste lynskip wat tans in diens is, is Wonder of the Seas, ’n Oasis-klas vaartuig wat deur Royal Caribbean bedryf word. Die skip is soortgelyk in ontwerp as sy susterskip Symphony of the Seas, maar meer modern en met bykomende kenmerke. Die Wonder of the Seas weeg ʼn massiewe 236 857 ton met ʼn gastekapasiteit van 5 734!

Die nuwe vaartuig is by die Chantiers de l’Atlantique-skeepswerf in Saint Nazaire, Frankryk gebou.

Symphony of the Seas (Royal Caribbean)

Symphony of the Seas is die vierde Oasis-klas en 25ste vaartuig van Royal Caribbean en is effens groter as sy susterskepe.

Symphony of the Seas is ook by die Chantiers de l’Atlantique-skeepswerf in Saint Nazaire, Frankryk gebou.

Harmony of the Seas(Royal Caribbean)

Harmony of the Seas was die eerste in die klas met die 10-verdieping hoë Ultimate Abyss-glybaan. Die glybaan is sedertdien ’n groot aantreklikheid op nuwe Oasis-klas vaartuie en is bygevoeg tydens opknappings.

​ Hierdie skip is ook by die Chantiers de l’Atlantique-skeepswerf in Saint-Nazaire, Frankryk gebou

Oasis of the Seas (Royal Caribbean)

Dit is die skip wat gehelp het om plesiervaart tot nuwe hoogtes te neem. Oasis of the Seas was die eerste van sy soort toe hy aan die einde van 2009 sy verskyning gemaak het. Die Oasis of the Seas spog ook met aantreklikhede soos die Zipline en die AquaTheater.

Dié pionierskip is by die STX Europe Turku-skeepswerf in Finland gebou.

Allure of the Seas (Royal Caribbean)

Hierdie skip is groot en die tweede in die rekordbrekende Oasis-klas vir Royal Caribbean. Allure of the Seas verskil van ander groot skepe in die vaartbedryf en spog met aantreklikhede soos die Zipline en die AquaTheater.

Hierdie skip is ook by die STX Europe Turku-skeepswerf in Finland gebou. 4

Woordbank

HMHS His Majesty’s Hospital Ship.
hospitaalskip ’n Skip wat spesiaal of uitsluitlik gebou, omskep of toegerus is met die doel om gewondes, siekes en skipbreukelinge by te staan, te behandel en te vervoer.
immigrante Mense wat in ’n land inkom en permanent in die land woon.
luukse Weelderig.
lynskip  Passasierskip, oseaanboot.
RMS Royal Mail Steamer.
SS Steamship (stoomskip).
skeepsredery Maatskappy wat skepe bou en wat die eienaar is van dié skepe.
slawehandel Handel in slawe; gebruik van slawearbeid.
ysberg Hoogdrywende ysgevaarte in die see waarvan daar gewoonlik net die spits/bopunt uitsteek.

 

Lees hier om jou kennis oor lynskepe uit te brei

Video’s

So lyk die grootste passasierskip van 1850 – die SS Great Britain

ʼn Voorstelling van die oomblik toe die Titanic die ysberg getref het (uittreksel uit die fliek Titanic)

Hoe het die Titanic op die bodem van die see beland?

Frank Prentice, een van die oorlewendes van die Titanic, vertel sy storie

Lynskepe – die omskakeling van steenkool na olie as aandryfmiddel

Lynskepe wat spoorloos verdwyn het

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024