Vinnige feite

  • Anne Frank se dagboek is in meer as 70 tale vertaal. 8
  • Daar het om en by 28 000 mense in Nederland geskuil om te probeer die Nazi’s ontsnap. Omtrent ’n derde van hulle is deur die Nazi’s opgespoor en na kampe gestuur. 10
  • Margot Frank het ook ’n dagboek gehou, maar dit is nooit gevind nie. 1
  • In 1957 stig Otto die Anne Frank Foundation waar hy met jongmense werk en opvoed teen onverdraagsaamheid en diskriminasie. 11
  • Miep Gies het in 1995 die hoogste eer by die Yad Vashem Memorial ontvang en is later tot ridder geslaan deur koning Beatrix van Holland. 11
  • Anne se dagboek, Het Achterhuis, is naas die Bybel die niefiksieboek wat die meeste ter wêreld gelees word.
Foto: iStock

Die mense in die geskiedenis wat ons verbeelding aangryp, is nie altyd leiers of heersers nie. Dit is soms gewone mense, wat met wilskrag en deursettingsvermoë moeilike tye tegemoet gaan.

Anne Frank was ’n gewone tienermeisie. En tog is sy vandag een van die bekendste slagoffers van die Joodse volksmoord, ook bekend as die Holocaust.

Grootwordjare

Annelies Marie Frank, oftewel Anne Frank, is op 12 Junie 1929 in Frankfurt, Duitsland, gebore. Haar ouers was Edith Hollander Frank en Otto Frank, ’n suksesvolle besigheidsman. 1 Otto Frank was ’n offisier in die Duitse weermag gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918). 2

Anne het een suster, Margot, gehad, wat drie jaar ouer as sy was. 1 Die Franks was ’n normale Joods-Duitse familie uit die hoër middelklas, wat in ’n stil, gemengde woonbuurt in Duitsland gewoon het. 2

Toe Anne vier jaar oud was, het Adolf Hitler se Nazi-party in Duitsland aan bewind gekom. Hulle het onmiddelik wette ingestel wat Joodse Duitsers se regte beperk het. 1

Adolf Hitler

Otto en Edith het besluit om Duitsland te verlaat. Hy het later gesê: “Alhoewel dit my diep seergemaak het, het ek besef dat Duitsland nie meer my land was nie, en ek het dit dus vir ewig verlaat.” 2 Die familie het na Amsterdam in Nederland getrek. Anne het eers by haar ouma in Aachen in Duitsland agtergebly, en in Februarie 1934 by haar familie aangesluit. 1

In Amsterdam het Otto ’n maatskappy gestig wat pektien, ’n produk waarmee mens konfyt maak, verkoop het. 2 Die besigheid het aanvanklik swaargekry, maar nadat hy ook ander produkte soos speserye begin verkoop het, het die maatskappy floreer. 3

Anne het eers die Amsterdam se Sesde Montessori-kleuterskool bygewoon, en toe in 1935 met graad 1 begin. 1 Vir die res van die 1930’s het sy gelukkige, normale kinderdae gehad. 2 Sy het gou tuis geraak in Nederland. Sy het die taal aangeleer, 3 en vriende gemaak met Duitse, Nederlandse, Joodse en Christen- kinders. Anne was ’n slim, nuuskierige student, 2 en is deur mense wat haar geken het, as gewild en energiek beskryf. 1

Inval in Nederland

Duitsland het Pole op 1 September 1939 ingeval en die konflik wat vandag as die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) bekendstaan, afgeskop. Op 10 Mei 1940 het Duitsland Nederland ingeval. Nederland het vyf dae later oorgegee, waarna die Duitse besetting van Nederland begin het. 2

Anne was 10 jaar oud. Sy het later in haar dagboek geskryf: “Ná Mei 1940 was die goeie tye aan die afloop: eers die oorlog, toe die kapitulasie, die inmars van die Duitsers en die begin van die ellende vir ons Jode.” 4

 

Die Duitsers het in Oktober 1940 anti-Joodse maatreëls afgekondig. Dit het onder meer die volgende ingesluit:

  • Klokreëls;
  • Joodse mense is verbied om besighede te besit;
  • Joodse kinders is in gesegregeerde skole geplaas; 2
  • alle Jode moes ’n geel Dawidster vir identifikasie dra; 5 en
  • Jode mag nie parke, rolprentteaters of nie-Joodse winkels besoek het nie. 3

Anne se pa het beheer van sy maatskappy aan sy twee Christelike vennote, Johannes Kleiman en Victor Kugler, oorgedra. Hy het egter steeds die besigheid agter die skerms bestuur. 2

Skuiling

In Julie 1942 het Margot ’n brief ontvang wat gesê het dat sy by ’n werkkamp in Duitsland moes aanmeld. 1

Haar ouers was agterdogtig, 3

en het die volgende dag besluit om “onder te duik”. ’n Onderduiker is iemand wat gaan wegkruip het. Die term is tydens die Tweede Wêreldoorlog gebruik om Jode en ander mense aan te dui wat weggekruip het om deportasie na die Duitse konsentrasiekampe te vermy.

Hul skuilplek was ’n dakkamerwoonstel agter Otto se besigheid. Die enigste ingang was ’n beweegbare boekrak. Om opsporing moeilik te maak, het hulle die polisie om die bos gelei. Hulle het naamlik leidrade gelaat wat dit laat lyk het of hulle na Switserland gevlug het.

’n Week later het ’n Joodse besigheidsvennoot van Otto, Herman van Pels, sy vrou, Auguste, en hul 15-jarige seun Peter, ook by hulle aangesluit. In November 1942 het ’n Joodse tandarts, Fritz Pfeffer, ook daar kom skuil. 1

Lewe in die Agterhuis

Anne het na hul skuilplek as die Agterhuis verwys. Otto se werknemers, insluitend sy Oostenryk-gebore sekretaresse, Miep Gies, haar man, Jan, asook Kleiman, Kugler en Bep Voskuijl, ’n jong sekretaresse, het vir die onderduikers kos, voorrade en nuus oor die buitewêreld ingesmokkel. 2 Dit was natuurlik lewensgevaarlik. 6

Die Agterhuis was klein en beknop. Dit het uit ’n paar piepklein kamers, een badkamer en ’n kombuisie bestaan. 7

Die stemming in die Agterhuis was meestal gespanne. Die inwoners het in vrees geleef. Hulle moes deur die dag stil wees, sodat die werkers in die pakhuis onder hul skuilplek hulle nie kon hoor nie. 1

Om die tyd te verwyl, het hulle gelees, Engels geleer en studiekursusse gedoen. 7

Op die ou end het hulle vir twee jaar daar gewoon, en nooit hul voete buite die donker, beknopte woonstelletjie gesit nie! 2

Anne se dagboek en ander skryfwerk

Anne het vir haar 13de verjaarsdag – ’n maand voor hulle gaan skuil het – ’n dagboek ontvang.

Sy het inskrywings in die dagboek aan Kitty, ’n denkbeeldige vriendin, gerig. 1 Op 2 Junie 1942 skryf sy: “Ek hoop dat ek alles aan jou (Kitty) sal kan toevertrou soos ek dit nog nooit aan iemand kon doen nie, en ek hoop dat jy ’n groot steun vir my sal wees.” 4

Sy het oor alles geskryf: haar waarnemings en indrukke van die ander mense in die Agterhuis, haar frustrasie oor haar gebrek aan privaatheid, seuns van wie sy gehou het, en haar soms moeilike verhouding met haar ma en suster.

Die inskrywings wys skerp insig en volwassenheid, veral haar skrywe oor dieper sake, soos oorlog, menswees en haar eie identiteit. 1

Dit wys voorts ’n meisie met groot kreatiwiteit en wysheid, diep emosie en goeie skryftalent. 2

Daar was natuurlik oomblikke van diep depressie. Op 3 Februarie 1944 skryf sy: “Ek het sover gekom dat dit my nie veel skeel of ek doodgaan of bly leef nie. Die aarde sal ook sonder my verder draai en ek kan my teen wat gebeur, tog nie verset nie.”

Om te skryf, het haar egter opgewek gehou en haar gehelp om haar gees gesond te hou: “Deur te skryf, raak ek alles kwyt, my verdriet verdwyn, my moed herleef!” skryf sy op 5 April 1944. 4

Buiten die dagboek het sy ook kortverhale en opstelle geskryf, 1 en aan ’n roman begin werk.

In Maart 1944 het ’n Nederlandse minister op die radio gevra dat mense ʼn dagboek oor die oorlog moes hou en die verhale daaroor moes neerskryf en bewaar. Dit het haar geïnspireer om haar dagboekinskrywings in een verhaal, getiteld, Die Agterhuis, bymekaar te sit.

Sy was besig om dit te doen, toe hulle gevang is. 3

Inhegtenisneming

Op 4 Augustus 1944, ná 25 maande, is die onderduikers in die Agterhuis deur die Gestapo, die Duitse geheime staatspolisie, opgespoor. 1

Tot vandag toe weet niemand hoe die Gestapo hulle gevind het nie. 1 Vir jare is daar geglo dat hulle deur ’n anonieme wenk verraai is. Daar was onlangs ’n teorie dat dit eintlik per ongeluk was: die polisie het ondersoek ingestel na rantsoenbedrog. In die proses het hulle op die onderduikers afgekom. 6

Westerbork

Anne-hulle is na Westerbork, ’n deurgangskamp in die noordooste van Nederland, geneem. Hulle het op 8 Augustus 1944 daar aangekom. 2

In die middel van die nag van 3 September 1994 is hulle na die Auschwitz-Birkenau-konsentrasiekamp in Pole oorgeplaas. 2 Hulle is saam met duisende ander mense op beestrokke vervoer, met min water en kos en slegs ’n emmer vir ’n toilet. 3

By Auschwitz is die mans en vroue onmiddellik verdeel. Dit was die laaste keer dat Anne-hulle haar pa gesien het. Hulle is deur die dokters ondersoek om te sien of hulle kon werk of nie. Sommige mense is direk na die gaskamers toe geneem. Anne, Margot en haar ma is na die werkkamp geneem.

Maande van dwangarbeid het gevolg, waartydens die susters onder meer swaar klippe en grasmatte rondgedra het. 2

Vroeg in November 1944 is die susters weer op ’n vervoertrok gelaai. 3 Hulle ma het in Auschwitz agtergebly. Anne en Margot is na die Bergen-Belsen-konsentrasiekamp in die noorde van Duitsland gestuur. 1 Hulle het in die winter daar aangekom. Dit was koud en nat, daar was te min kos, 3 die sanitasiegeriewe was afgryslik en siektes het verwoesting gesaai. 2

In Februarie (of Maart 1945) het Anne en Margot op twee opeenvolgende dae aan tifus gesterf. Hul liggame is in massagrafte gegooi. ʼn Paar weke later, op 15 April 1945, is die kamp deur Britse magte bevry. 1

Anne was 15 jaar oud toe sy dood is. Sy was een van meer as 1 miljoen Joodse kinders wat in die Joodse volksmoord dood is. 2

Die lot van die res van die Agterhuis-inwoners

Anne se ma, Edith, het op 6 Januarie 1945 aan hongersnood en uitputting in Auschwitz-Birkenau gesterf. 2 Hermann van Pels het in Oktober 1944, kort ná hul aankoms in Auschwitz, in ’n gaskamer gesterf. Sy vrou, Auguste, het waarskynlik vroeg in April of Mei 1945 in die Theresienstadt-konsentrasiekamp in vandag se Tsjeggië gesterf.

Peter van Pels het die uitmars uit Auschwitz oorleef, maar is in die Mauthausen-konsentrasiekamp in Oostenryk in Mei 1945 dood – drie dae voordat die Amerikaanse troepe dié gevangenes bevry het. Fritz Pfeffer het aan siekte in die Neuengamme-konsentrasiekamp in Duitsland in Desember 1944 gesterf.

Anne se pa, Otto, is die enigste een wat oorleef het. Hy is reeds op 27 Januarie 1945 deur Sowjetsoldate uit Auschwitz gered. 1

Anne Frank se dagboek

Ná die Agterhuis-inwoners se inhegtenisname het Miep Gies notaboeke en papiere uit die Agterhuis gered en in haar skryftafel weggesteek. Toe Otto ná die oorlog teruggekeer het Amsterdam toe, het sy dit vir hom gegee. 1

Otto was stomgeslaan deur wat hy gelees het. Hy het aan sy ma geskryf: “’n Heeltemal ander Anne as die kind wat ek verloor het, is aan my openbaar … Ek het geen idee gehad dat sy sulke diep gedagtes en gevoelens gehad het nie.” 2

Haar dagboek het hom laat besef dat sy ’n skrywer of joernalis wou word, en dat sy haar storie wou laat publiseer. Eers het hy gehuiwer, maar sy vriende het hom oortuig om dit wel namens haar te doen. 3

Die dagboek is in 1947 in Nederland gepubliseer onder die titel Het Achterhuis. Hulle het eers net 3 000 kopieë gedruk. Amerikaanse uitgewers het aanvanklik geweier om dit te publiseer omdat hulle gedink het dit is ontmoedigend en vervelig. Dit is uiteindelik in 1952 daar gepubliseer as The Diary of a Young Girl. 1

Die dagboek se gewildheid het hierna ontplof. Teen 2021 was daar wêreldwyd meer as 30 miljoen kopieë verkoop! 8

Die oorspronklike manuskrip is aan die Nederlandse Instituut vir Oorlogsdokumentasie bemaak. 9

Museum: Die Anne Frank Huis

Die plek waar sy die dagboek geskryf het, Prinsengracht 263, Amsterdam, het in 1970 ’n museum geword wat aan haar lewe opgedra is. 1

Dié huis was eintlik op ’n lys van geboue wat gesloop sou word. ’n Groep mense het gelukkig ’n suksesvolle veldtog begin om die gebou te red. Dié veldtog het ’n organisasie, die Anne Frank House, gestig, om die gebou te onderhou. 2

Dit is een van die drie gewildste museums in Amsterdam, 2 en ontvang miljoene besoekers elke jaar. 6

Aanhalings uit die dagboek

Anne se dagboek word jaarliks deur miljoene mense gelees. Dit is nie net histories gesproke ʼn baie interessante en belangrike boek nie, maar dit is bowenal Anne se lewensmoed wat ’n blywende indruk laat.

’n Paar van die meer onvergeetlike aanhalings uit die dagboek is ’n bewys van hoe sterk ’n mens se gees kan wees.

23 Februarie 1944: “Maar ek het ook uit die oop venster oor ’n groot stuk van Amsterdam uitgekyk, oor die dakke tot aan die horison wat so ’n ligte blou was dat die skeiding tussen lug en land byna onsigbaar was. Solank dit nog bestaan, het ek gedink, en ek dit mag beleef, dié sonskyn en dié hemel waarin daar geen wolk is nie, solank kan ek nie treurig wees nie.” 7

7 Maart: “Dan dink ek nie aan die ellende nie, maar aan die mooi wat nog steeds oorbly… Gaan na buite, na die velde, die natuur en die son en probeer om die geluk in jouself te herontdek; dink aan al die mooie wat daar in jouself en om jou heen groei en wees gelukkig.”

17 Maart 1944: “Al is ek net veertien, weet ek tog heel goed wat ek wil, ek weet wie reg en wie verkeerd is, ek het my mening, my opvattings en my beginsels…”

15 Julie 1944: “Dit is vir my ten ene male onmoontlik om alles te bou op die basis van dood, ellende en verwarring. Ek sien hoe die wêreld steeds al hoe meer ’n woestyn word, ek hoor die donder steeds harder aanrol; die donder wat ook ons sal dood, ek voel die leed van miljoene mense, en tog, as ek na die hemel kyk, dink ek dat daar nog ’n ommekeer na die kant van die goeie sal kom, dat ook hierdie wreedheid sal ophou, dat daar weer rus en vrede in die wêreldorde sal kom. Intussen moet ek tog my ideale hoog hou; in die komende tye kan hulle dalk nog verwesenlik word.”

15 Julie 1944: “Tog hou ek [aan my ideale, drome en mooi verwagtinge] vas, ondanks alles, want ek glo nog steeds aan die innerlike goedheid van die mens.”

Woordbank

afgeskop

Begin.
afgryslik Aaklig, afskuwelik, weersinswekkend, ontstellend.
agter die skerms Dit wat gebeur wat ander nie noodwendig raaksien nie.
anonieme Iemand wie se naam nie bekend gemaak word nie.
beginsels Die morele beskouings of oortuiging waarvolgens ’n mens optree.
beknop Beklemmend, opmekaar, vasgedruk.
besetting Met geweld oorneem/inneem; in besit neem.
bewind Dis die bestuur of regering.
dakkamerwoonstel ’n Woonstel wat vlak onder ’n huis se dak is en binne-in die dakgeraamte lê.
Dawidster Stervormige simbool van Judaïsme.
deportasie As iemand uit sy streek/land verban word.
deurgangskamp Kamp waar mense aangehou is tot hulle na ’n konsentrasiekamp toe geneem kon word.
deursettingsvermoë Vermoë om vol te hou met iets; deur te druk totdat iets uitgevoer/afgehandel is.
dwangarbeid As mense gedwing word om vir iemand te werk.
floreer Vooruitgaan, welvarend word, voorspoedig wees, groei, uitbrei, ontwikkel.
gesegregeerde Om iets volgens ras te skei.
gaskamers Kamers met dodelike gas gevul om mense te vergas, om die lewe te bring.
gesloop Om iets heeltemal af te breek.
ingesmokkel Iets skelmpies inbring.
insig Om iets mooi duidelik te verstaan, veral as dit iets ingewikkeld is.
Joodse volksmoord Die grootskaalse uitwissing van of moord op mense van Joodse herkoms, veral in Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog.
kapitulasie Om oor te gee.
klokreëls Reël waarvolgens dit verbode is om tydens sekere tye buite jou huis of op die straat te wees.
konflik Stryd/botsing/rusie tussen mense/groepe/partye/lande.
konsentrasiekampe ʼn Kamp waar gevangenes in ʼn oorlog deur die vyand aangehou word.
maatreëls Handeling met ʼn bepaalde doel om sake te reël.
massagrafte Waar baie liggame saam begrawe word, sonder kiste.
middelklas Deel van die samelewing tussen die hoë stand en die werkersklas.
offisier Persone wat in die leër bevel voer.
om die bos gelei Kul, mislei, bedrieg; iemand vir die gek hou.
onder te duik Om gedurende ’n oorlog weg te kruip om uit die hande van veroweraars te bly.
onderhou Van die nodige kos, klere en skuiling voorsien om te oorleef.
ontmoedigend Dit was jou moedeloos/neerslagtig maak; neerdukkend, mistroostig.
ontplof Só vinnig gebeur, dat mens dit met ʼn ontploffing kan vergelyk.
rantsoenbedrog Wanneer jy te lieg of iemand kul om meer rantsoene te kry, oftewel, die afgemete hoeveelhede basiese benodigdhede wat mense kry gedurende ’n oorlog.
regte Regverdigheid wat betref hoe mense behandel word en wat hulle mag doen.
roman ’n Lang prosaverhaal met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing.
sanitasiegeriewe Geriewe waar jy ontslae kan raak van (menslike) afval en riool en wat jy kan gebruik om jouself skoon te hou.
sekretaresse ’n Vrou wat die administrasie van ’n kantoor behartig, soos briewe skryf, telefone antwoord en dokumente liasseer, organiseer.
skeel Pla (dit kan my nie veel pla nie).
staatspolisie Polisie wat politieke vyande van die regering moet beheer.
tifus Benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan; luiskoors; rotkoors.
veldtog ʼn Georganiseerde optrede teen iets.
verset Weerstand/teenstand/opstand teen iets.
verwesenlik ’n Werklikheid geword het.
werkkamp Konsentrasiekamp waar die gevangenes gedwing word om te werk.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Anne Frank

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Anne Frank

Wat is anti-Semitisme?

Vyf feite oor Judaïsme

Die storie van Anne Frank

Museum, die Anne Frank Huis

Hier kan jy die volledige rolprent The Diary of Anne Frank (2009) sien

Anne Frank – Die hele verhaal (rolprent). Die gebeure hierin word meer volledig beskryf/uitgebeeld.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 April 2024 | Bygewerk op 4 April 2024