Vinnige feite

  • Die ontwikkeling van die drukpers het daartoe bygedra dat Luther se Hervormingsidees vinnig versprei het. Dit was baie makliker vir mense om pamflette, plakkate en boeke te druk, en die Bybel was vir die eerste keer ook vir gewone mense toeganklik. 4
  • Luther het die Nuwe Testament in slegs elf weke na Duits vertaal. Hy het omtrent gemiddeld 1 800 woorde per dag vertaal. 5
  • Katharina von Bora was ʼn voormalige non wat in 1523 aan Luther geskryf het. Sy het hom gevra om haar en ʼn paar ander nonne uit die klooster te red, en hy het gereël dat hulle met ʼn waentjie uit die klooster gesmokkel word. Katharina wou met hom trou, en omdat hy reeds besef het dat daar geen Bybelse rede was vir kerklui om nie te trou nie, het hy met haar getrou. Die besluit het ook die weg gebaan vir ander Protestantse kerklui wat getrou het. 4
  • Die arbeiders van Wittenberg het in ʼn stadium ʼn reeks opstande gelei wat deur Luther se skrywes geïnspireer is, maar hy was gekant daarteen en het hom sterk daarteen uitgespreek. 5
  • Luther was baie lief vir musiek en het geglo dat musiek ʼn mens kan help om jou geloof te ontwikkel. Hy het in sy leeftyd verskeie gesange in Duits geskryf.
Foto: iStock

Kan jy dink dat ʼn man deur ʼn weerligstraal se toedoen ʼn monnik geword het? Dit is inderdaad wat met Martin Luther gebeur het. En as jy nie weet wat ʼn monnik is nie: Dit is ʼn man wat hom aan die wêreld onttrek en hom saam met ander in ʼn klooster heeltemal aan sy godsdiens toewy. 1

Die 95 leerstellings wat hy neergeskryf het en waarin hy homself sterk teen die Rooms-Katolieke kerk uitgespreek het, het van hom ʼn bekende naam gemaak en een wat ons nou nog onthou en oor praat.

Martin Luther het ʼn geweldige invloed op die moderne kerk gehad; inteendeel, dit was dié Duitse leraar wat in 1517 met die Hervorming begin het. Die Hervorming was ʼn tydperk van godsdienstige veranderinge in die 16de eeu in Europa wat die Protestantse kerke tot stand laat kom het. 2

Luther is ook bekend vir sy Duitse vertaling van die Bybel uit Latyn wat die Bybel vir meer mense toeganklik gemaak het. 3

Die beweging se doel was om die Rooms-Katolieke kerk te verander of hervorm, maar dit het toe tot die stigting van Protestantisme, een van die hoofvertakkings van Christenskap, gelei. Die Protestantse kerkvertakking Lutheranisme is op Luther se leerstellings gegrond, veral die stelling dat verlossing alleenlik deur geloof bewerkstellig kan word.

Luther se agtergrond

Luther is op 10 November 1483 in Eisleben, Sakse, gebore. Daardie tyd was Sakse deel van die Heilige Romeinse Ryk, maar vandag is daardie omgewing deel van Duitsland. Die Luther-gesin was nie baie ryk nie, en hulle is as deel van die sogenaamde “laer werkersklas” beskou, al het sy pa ʼn paar kopermyne besit. Sy pa se naam was Hans en sy ma se naam was Margaretta. Hulle was godsdienstige mense en harde werkers. 4

Luther was die oudste kind, en sy ouers wou graag gehad het dat hy regte moes studeer. Luther het aan die Universiteit van Erfurt studeer, maar het al op 17-jarige ouderdom opgeskop. Hy het nie van die regte gehou nie en gevoel dat dit sinneloos is. Hy het meer in filosofie belanggestel, maar het ook nie regtig sy plek daar gevind nie.

In Julie 1505 verander dinge vir hom. Hy was in ʼn hewige storm op die pad, en ʼn weerligstraal het ʼn boom naby hom getref. Hy was so vreesbevange dat hy uitgeroep het dat hy ʼn monnik sou word as hy gered word. Hy het dit natuurlik oorleef, en was so ernstig oor hierdie belofte dat hy sy handboeke verkoop en hom by ʼn klooster ingeskryf het. Sy pa was baie ontevrede hieroor, maar Luther het met sy plan deurgedruk. Dit was nie ʼn maklike lewe by die klooster nie. Dit was ʼn baie streng dissipline van vas, studies, gebede en belydenis van sondes.

Hy was ʼn ywerige student en het in 1505 ʼn gevorderde graad verwerf. Hy het sodoende ʼn Rooms-Katolieke monnik en priester geword en het so goed met sy studies gevaar dat hy later klasse in Bybelstudies aan die Universiteit van Wittenberg gegee het.

Luther se studies en begrip van die Bybel het hom anders oor geloof en God laat dink. Hy het besef dat dit wat die Bybel sê en dit wat die destydse Rooms-Katolieke kerk gedoen het, twee verskillende dinge is. Hy was baie bekommerd daaroor, veral omdat die destydse kerk mense se geld gevat het in ruil vir die “vergifnis” van hul sondes. Dit terwyl die Bybel mense presies vertel hoe God sondes kan vergeef.

Hy het besef dat die kerk verkeerd was en dat dinge anders moes wees. Luther het geglo dat jou geloof in God as vergifnis vir sondes sou dien en dat geld jou nie in die hemel kon bring nie. Hy het gesien dat daar baie korrupte kerkmense was, en hy het besef dat hulle hopeloos te veel mag gehad het. Dit het hom gedryf om iets te doen wat tot groot konflik met die Rooms-Katolieke kerk gelei het.

In 1517 het Luther ʼn lys van 95 leerstellings oor geloof geskryf. Historici is nie seker of dit werklik gebeur het nie, maar volgens oorlewering het hy dit teen ʼn kerk in Wittenberg se deur vasgespyker. Hierdie dokument het kritiek teen die Rooms-Katolieke kerk en amptenare bevat. Hy het dit in Latyns geskryf, maar dis sommer gou deur sy volgelinge in Duits vertaal en toe versprei, selfs na Engeland en Frankryk. Dit het die Hervorming aan die gang gesit. 4

Dit het die leiers van die Rooms-Katolieke Kerk egter baie kwaadgemaak. Verhore het gevolg, en hulle het daarop aangedring dat hy sy woorde moes terugtrek. Hy het geweier en voet by stuk gehou dat dit wat hy gesê het, die waarheid is.

Die pous het hom geëkskommunikeer, met ander woorde verban uit die kerk. Luther is vervolgens in 1521 uit die kerk geskop. Hy is selfs as voëlvry verklaar, wat beteken dat hy nie meer deur die wet beskerm was nie. Hy kon basies deur enigiemand vervolg word en is van alle burgerlike regte gestroop.

Hy het gevolglik na ʼn kasteel naby Eisenach gevlug en terwyl hy weggekruip het, het hy die Nuwe Testament in Duits vertaal sodat meer mense dit kon lees en verstaan. Hy het eers in 1522 na Wittenberg teruggekeer. 4

Hy het die res van sy lewe geskryf, gepreek en die Hervormde kerk in Sakse bestuur. Hy is op 18 Februarie 1546 op sy geboortedorp, Eisleben, dood. 3

Woordbank

filosofie  ʼn Wetenskap wat die bestaan en betekenis van die lewe ondersoek.
geëkskommunikeer  As ʼn mens uit die kerk verban word. 1
klooster   ʼn Gebou waar monnike of nonne woon. 1
leraar    ʼn Dominee of predikant in sekere Christelike kerke. 1
Lutheranisme   Die geloof of praktyke van die Protestantste kerkvertakking, gegrond op die leerstellings van Martin Luther, veral die geloof dat verlossing deur geloof alleen bewerkstelling kan word. 2
monnik     Dit is ʼn man wat hom aan die wêreld onttrek en hom saam met  ander in ʼn klooster heeltemal aan die godsdiens wy. 1
Protestantisme ʼn Christelike kerk wat uit die Hervorming van die 16de eeu ontstaan het. 1
Rooms-Katolieke Kerk   Christelike Kerk wat onder die gesag van die pous van Rome staan.
voëlvry  Wat nie meer deur die wet beskerm word nie, van alle burgerlike regte gestroop word en deur enigiemand vervolg kan word. 1

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Martin Luther en die Hervorming

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Martin Luther en die Hervorming

Wie was Martin Luther?

Animasie oor Martin Luther

Nog ʼn animasie: Luther en die Hervorming

Foto: iStock
Gepubliseer op: | Bygewerk op 1 November 2023